LitNet Akademies-onderhoud: Frederik van Dyk oor grond, grondhervorming en grondonteiening

  • 0

Frederik van Dyk (foto verskaf); erkenning van die ander twee foto’s: Pixabay

Frederik van Dyk, ’n regsnavorser en LLM-kandidaat in die Departement Sakereg aan die Universiteit Stellenbosch, praat met Naomi Meyer oor grondhervorming en grondonteiening.

..........

Die idee is enersyds terugblikkend: Grond wat vanaf 1913 met die Wet op Swart Grond weens rasgebaseerde maatreëls afgevat is, word deur restitusie teruggegee, of vergoeding word betaal. Andersyds is die grondhervormingsreëling ook toekomsgerig: Dit poog om ongelyke grondbesitspatrone regverdiger te maak, en het hiermee dan ’n sosio-ekonomiese funksie deur toegang tot grond as hulpbron aan te help en sodoende ’n geleentheid vir maatskaplike opheffing daar te stel.

...........

Frederik, kom ons praat oor grond en oor Menseregte. Hoe maak dit sin dat grondhervorming deur die Handves van Menseregte ondersteun word, terwyl dit teenstrydig klink?

Grondhervorming is allermins in stryd met die Handves van Menseregte soos vervat in hoofstuk 2 van die Grondwet, 1996. Inteendeel, die meganismes vir grondhervorming word juis in artikel 25(5)–(9) van die Grondwet vervat. Die regstellende gees van die Handves kan ook in die gelykheidsklousule, artikel 9, gesien word. Die idee is enersyds terugblikkend: Grond wat vanaf 1913 met die Wet op Swart Grond weens rasgebaseerde maatreëls afgevat is, word deur restitusie teruggegee, of vergoeding word betaal. Andersyds is die grondhervormingsreëling ook toekomsgerig: Dit poog om ongelyke grondbesitspatrone regverdiger te maak, en het hiermee dan ’n sosio-ekonomiese funksie deur toegang tot grond as hulpbron aan te help en sodoende ’n geleentheid vir maatskaplike opheffing daar te stel.

Grondhervorming vind steeds binne die raamwerk van artikel 25 plaas vir sover dit eienaarskap van grond en ander eiendom teen arbitrêre ontneming en onteiening beskerm.

Sou jy die begrip grondonteiening anders definieer as grondhervorming, en wat sou die verskil wees?

Die twee begrippe is in regsterme beslis nie dieselfde nie, al vermeng mense dit in die omgangstaal. Grondhervorming is ’n grondwetlike program wat grondrestitusie, grondbeheerhervorming en herverdeling uitstip as die drie wyses waarop ’n grondbestel wat strook met die doelstellings van die Handves, nagestreef word.

Onteiening is weer ’n regsmeganisme, vervat in die eiendomsklousule in artikel 25(2), wat die staat magtig om onder sekere omstandighede ’n eienaar van enige eiendom se eienaarskap te beëindig en daardie eienaarskap in die staat te vestig. Die Grondwet magtig slegs onteiening vir ’n openbare doel of in die openbare belang, wat ook die praktyk in die meeste ander wêrelddele is. Verder stipuleer artikel 25(2) dat vergoeding aan ’n eienaar betaal moet word.

..........

Die Grondwet magtig slegs onteiening vir ’n openbare doel of in die openbare belang, wat ook die praktyk in die meeste ander wêrelddele is. Verder stipuleer artikel 25(2) dat vergoeding aan ’n eienaar betaal moet word.

.............

Indien grondhervorming as deel van ’n program in die openbare belang uitgevoer word, is onteiening as metode om grond te bekom vir doeleindes van grondherverdeling of restitusie sekerlik moontlik. Die teks en gees van die Grondwet dui daarop dat grondhervorming wel in die openbare belang en vir ’n openbare doel kan wees, en die steeds staande Onteieningswet 63 van 1975 definieer openbare doel as “enige doel wat verband hou met administrasie van die bepalings van enige Wet deur ’n bepaalde staatsorgaan”. Sover dit die administrasie van grondhervormingswetgewing betref, sal die Onteieningswet ook grondhervorming omvat. Artikel 25(4) van die Grondwet beskryf openbare belang so dat dit grondhervorming insluit.

............

Die jongste nuus draai rondom die Onteieningswetsontwerp, wat oop was vir openbare kommentaar tot einde Februarie. Daar word beoog om die 1975-Onteieningswet met die nuwe wetsontwerp te vervang.

.............

Waarom is grondonteiening nou (weer) in die nuus?

Sedert die ANC se 2017 Nasrec-resolusie wat dit tot onteiening sonder vergoeding verbind het, en die EFF se parlementere mosie in 2018 om artikel 25 van die Grondwet ter wille van onteiening sonder vergoeding te wysig, is onteiening pal in die nuus. Die wysigingsproses duur al baie lank soos wat die ANC se faksiegevegte, die koronavirusmaatreëls en parlementere politieke prosesse voortgaan.

Die jongste nuus draai rondom die Onteieningswetsontwerp, wat oop was vir openbare kommentaar tot einde Februarie. Daar word beoog om die 1975-Onteieningswet met die nuwe wetsontwerp te vervang.

Daar was ook verdere parlementere prosedures rakende die wysiging van artikel 25 van die Grondwet met betrekking tot die veelbesproke nominalevergoedingsklousule. Hierdie bepaling beteken dat die staat ’n eienaar R0,00 kan aanbied vir sy of haar eiendom. Die eienaar sal altyd aldus die Onteieningswetsontwerp die nulbedrag kan betwis en kan aanvoer dat R0,00 nie billike en regverdige vergoeding is nie, en sodoende is daar steeds sprake van vergoeding.

Ek wil jou vra oor die aspek wat baie mense vrees: As een eiendom onteien word, sit dit die bal aan die rol dat geen eiendomsreg meer gewaarborg is nie? Hoe raak grondonteiening die hele regstelsel van eiendomsreg en wie s’n is wie s’n? As jy aan een draadjie trek, roer die hele web?

Solank onteiening binne die raamwerk van die oppergesag van die reg plaasvind en dit volgens regverdige, nie-arbitrêre en weloorwoë prosedure plaasvind, behoort dit nie iets gevaarliks te wees nie. Soos ek bo vermeld het, is onteiening nie ’n nuutjie nie; dit is gevestig in feitlik alle liberale demokrasieë wêreldwyd. Eienaarskap is nêrens absoluut nie, maar dit word wel deur gevestigde regsbeginsels teen magsmisbruik en arbitrêre optrede beskerm.

...........

Dit sou verregaande wees om te beweer dat een onteiening die deur oopmaak vir alle ander eienaars se eiendom om afgeneem te word. Onteiening in ons reg is nie grootskaalse nasionalisering nie, want dit vereis dat elke voorgenome onteieningsproses afsonderlik aan die regsbeginsels in die Grondwet getoets moet word, soos die vereistes van openbare doel of openbare belang. 

.............

Dit sou verregaande wees om te beweer dat een onteiening die deur oopmaak vir alle ander eienaars se eiendom om afgeneem te word. Onteiening in ons reg is nie grootskaalse nasionalisering nie, want dit vereis dat elke voorgenome onteieningsproses afsonderlik aan die regsbeginsels in die Grondwet getoets moet word, soos die vereistes van openbare doel of openbare belang. Boonop moet daar regverdige en billike vergoeding betaal word, al kan die staat volgens die voorgenome wysiging van artikel 25 die proses met ’n nominale bedrag begin.

Daarby sal die staat onteiening in die openbare belang (dikwels geag die vaer standaard te wees as openbare doel) ingevolge magtigende wetgewing moet uitvoer. Dit sal die staat nie voor die howe baat om vir doeleindes van byvoorbeeld “ekonomiese ontwikkeling” te onteien met verwysing na openbare belang of doel nie, juis omdat dit te vaag is sonder magtigende wetgewing.

Onteiening vind dus al vir jare plaas sonder dat dit tot ’n onkeerbare stroom onteienings na links en regs gelei het. Dit is so omdat die vereistes van openbare belang en doel, wetsvoorskrifte van algemene toepassing asook billike en regverdige vergoeding die omstandighede en metode van onteiening afbaken en aan die oppergesag van die reg onderwerp. Al wat ’n mens moet hoop, is dat korrupsie en staatskaping nie die mat onder ons uitvreet nie. Almal sal die goeie stryd moet help stry teen misdadige politici.

Jy doen lankal navorsing oor hierdie onderwerp. En jy lees ook baie literatuur wat onregte van die verlede blootlê en uitwys (ek dink aan jou onlangse resensie van The lie of 1652). Dink jy dat iets soos grondonteiening sekere onregte van die verlede sal aanspreek of selfs sal uitwis?

Grondonteiening sal niks van die soort aanspreek of uitwis nie, want grondonteiening is bloot een meganisme waarmee die staat die grond van privaat eienaars kan bekom.

...........

Grondhervorming en grondgebruiksbeplanning spring nou weer in om ’n rol te speel in die aanspreek en uitwis van die nalatenskap van onreg in ons land se verlede. Grondonteiening kan dalk meer grond as hulpbron aan individue en gemeenskappe beskikbaar stel, maar slegs as die tussenganger – die staat – werklik daarop ingestel is om grond te herverdeel en sodoende armoede en skreiende ongelykheid aan te spreek deur aan mense materiële selfstandigheid en agentskap te gee.

............

Grondhervorming en grondgebruiksbeplanning spring nou weer in om ’n rol te speel in die aanspreek en uitwis van die nalatenskap van onreg in ons land se verlede. Grondonteiening kan dalk meer grond as hulpbron aan individue en gemeenskappe beskikbaar stel, maar slegs as die tussenganger – die staat – werklik daarop ingestel is om grond te herverdeel en sodoende armoede en skreiende ongelykheid aan te spreek deur aan mense materiële selfstandigheid en agentskap te gee. Die Rakgase-saak het ons geleer dat die staat met die howe gedwing sal moet word om grond aan voordeelnemers soos opkomende boere te gee.

...........

Die ware vraag is wat die staat ná onteiening met grond doen. Wanneer grond onteien gaan word, moet die staat vermeld waarom hul die grond wil onteien, want dit is alles deel van die maatstaf van onteiening as slegs in die openbare belang of doel.

.............

Die ware vraag is wat die staat ná onteiening met grond doen. Wanneer grond onteien gaan word, moet die staat vermeld waarom hul die grond wil onteien, want dit is alles deel van die maatstaf van onteiening as slegs in die openbare belang of doel. ’n Regsprobleem duik op wanneer die staat na afloop van die onteiening van plan verander oor die grond wat onteien is.

Daar is nie tans sprake van ’n tipe ommekeer van die onteieningsproses nie, want die onteiening geskied volgens ’n regsvoorskrif wat nêrens so ’n ommekeer oorloof nie.

Daar is ook geen vrywillige kontrak tussen die onteiende party en die staat nie; onteiening is juis nie ’n vrywillige transaksie nie. Dus sal ’n onteiende party nie op ’n kontraksbepaling kan staatmaak wat lui dat eienaarskap opgegee word solank die grond slegs vir bepaalde doeleindes geoormerk word nie.

Wanneer grond onteien word, gaan eienaarskap oor na die staatsorgaan wat met onteieningsgesag beklee is in die gegewe onteiening. Die vorige eienaar het dus nie meer regte tot die grond oor nie. Eienaars ontvang ook vergoeding, daarom sal hulle nie geneig wees om op te volg indien die staat “gelieg” het oor die doel of belang van die onteiening nie.

Die staat sal waarskynlik deur administratiefregtelike stappe aan hul aanvanklike onteieningsoogmerk gebonde gehou kan word, siende dat daar ’n legitieme verwagting onder voornemende begunstigdes geskep word, na gelang van die geval.

Van ’n afstand gesien, sonder om te kyk wat behoort aan wie en om te dink aan ’n land se beste belang: Wat sou ’n regverdige manier wees om met iets so kosbaar soos ’n land se grond om te gaan?

Dit is ’n ingewikkelde vraag, maar oplaas is daar tog leiding in die Grondwet.

...........

Grond is fundamenteel aan al hierdie menseregte, en ’n mens kan nie volhoubare toegang tot voedsel, behuising of ’n gesonde omgewing bewerk sonder grond nie. Ek dink gemeenskappe dra die beste, geleefde kennis van die presiese aard van hul materiële tekortkominge en behoeftes. Dit maak dus sin dat grondgebruik en -hervorming gedesentraliseer moet word sodat gemeenskappe die staat volgens hul behoeftes kan rig.

..............

Die menseregte in die Handves gee ons maatstawwe en doelwitte om ’n beter Suid-Afrika te skep. Dink aan die reg op behuising, of voedsel en water. En ook, in die geval van my huidige navorsingslyn, die omgewing. Kultuur- en taalgemeenskappe tel ook hierby. Grond is fundamenteel aan al hierdie menseregte, en ’n mens kan nie volhoubare toegang tot voedsel, behuising of ’n gesonde omgewing bewerk sonder grond nie. Ek dink gemeenskappe dra die beste, geleefde kennis van die presiese aard van hul materiële tekortkominge en behoeftes. Dit maak dus sin dat grondgebruik en -hervorming gedesentraliseer moet word sodat gemeenskappe die staat volgens hul behoeftes kan rig. In Skotland het gemeenskappe byvoorbeeld ’n voorkoopsreg op grond sodat maatskaplike welsyn en ontwikkeling eerste kom. Afgeleë en ongeërgde ontwikkelaars, afwesige grondeienaars en die sentrale staat het dus nie ’n oordrewe invloed op grondbestuur in daardie land nie.

Die ANC-geleide staat stel blykbaar nie juis in so ’n model belang nie; dit lyk of daar eerder ’n versugting na sentrale bevelsrade en meesterbeplanning is. Dit is ondoeltreffend, en teen dié tyd ’n skending van mense se waardigheid om met dieselfde ontmagtigende sentralisme voort te gaan. Die feit is dat die menseregte wat as bloudruk vir ’n beter samelewing dien, nêrens kom nie, omdat die staat se doen en late met grond nie mense bemagtig om hul eie agente te wees nie.

............

Die feit is dat die menseregte wat as bloudruk vir ’n beter samelewing dien, nêrens kom nie, omdat die staat se doen en late met grond nie mense bemagtig om hul eie agente te wees nie.

..............

Grondhervorming en gesprekke daaroor begin al by iets soos die afbakening van heinings rondom Die Tuine in Kaapstad. Dis ’n ou onderwerp – wie was eerste hier, aan wie het wat behoort? Oud-MK-lede is ’n simbool van protes teen die bestel van die verlede, en daarom is die oorhandiging van grond in hierdie geval ’n politieke gebaar. Stem jy saam? Of is die hele gesprek in ieder geval polities?

Die bevoordeling van oud-MK-lede in grondherverdeling is nie uitdruklik in die Grondwet geoorloof nie, en moreel onregverdigbaar in ’n land waar snelgroeiende armoede met ’n rassegeur ’n enorme probleem is. MK-veteraanskap behoort beslis nie ’n maatstaf te wees vir bevoordeling terwyl daar mense is wat geen volhoubare inkomste of selfs geredelik kos op die tafel het nie.

Ek het ook in Rapport van 7 Februarie gelees van die geval van Ivan Cloete, ’n bevoordeelde van grondhervorming, wat van die staatsplaas Colenso in Darling afgesit is ten gunste van ’n MK-veteraan. Die verhouding van MK-veterane en hul leiers, soos Carl Niehaus en Kebby Maphatsoe, met ondermyners van die Grondwet soos Jacob Zuma en Ace Magashule, is die spyker in die doodskis van enige gewaande morele regverdigbaarheid om aan die MK ’n skaars maatskaplike hulpbron soos grond oor te dra.

...........

Hoewel Suid-Afrika en Zimbabwe belangrike en deurslaggewende verskille het, herinner die bevoordeling van MK’s ongelukkig aan hoe ZANU-PF grond aan hul veterane uit die Rhodesiese Bosoorlog uitgedeel het. Dit lyk soos ’n verdagte lojaliteitskopery.

............

Hoewel Suid-Afrika en Zimbabwe belangrike en deurslaggewende verskille het, herinner die bevoordeling van MK’s ongelukkig aan hoe ZANU-PF grond aan hul veterane uit die Rhodesiese Bosoorlog uitgedeel het. Dit lyk soos ’n verdagte lojaliteitskopery.

In Juanita Pienaar se onlangse artikel oor grondonteiening skryf sy dat grondonteiening eintlik ’n proses is wat 30 jaar lank aan die gang is. Wil jy vanuit jou perspektief iets hieromtrent sê?

Grondhervorming in Suid-Afrika  het al ’n langer geskiedenis as wat die meeste mense dink. Soos prof Pienaar vermeld, was die vroegste roerings al tydens die De Klerk-administrasie daar, met die Witskrif op Grondhervorming en die Wet op die Afskaffing van Rasgebaseerde Grondmaatreëls.

..........

Terwyl daar ’n mate van vordering was met restitusie, vergoeding vir afgeneemde grond sedert 1913 en grondbeheerhervorming, is daar steeds ’n grondbesitsongelykheid volgens raslyne. Daar is weinig sukses wat grondherverdeling betref, weens korrupsie en politieke onwilligheid om opkomende boere met proaktiewe steunprogramme by te staan.

...........

Intussen is die program in die Grondwet van 1996 ingeskryf en talle wette is al gepromulgeer. Terwyl daar ’n mate van vordering was met restitusie, vergoeding vir afgeneemde grond sedert 1913 en grondbeheerhervorming, is daar steeds ’n grondbesitsongelykheid volgens raslyne. Daar is weinig sukses wat grondherverdeling betref, weens korrupsie en politieke onwilligheid om opkomende boere met proaktiewe steunprogramme by te staan.

Juanita Pienaar skryf ook in hierdie artikel dat ’n nuwe onteieningswet nodig is om sake duidelik te omlyn. Hoe staan sake op die oomblik in die wetboeke en hoe sou nuwe wetgewing sake verbeter (of versleg)? As jy hierdie wet moes skryf of hersien, wat sou vir jou die belangrikste van die nuwe wetgewing wees?

Soos bespreek, is die Onteieningswet van 1975 nog op die wetboeke, en die nuwe Onteieningswetsontwerp het ten doel om wetgewing daar te stel wat strook met die grondwetlike voorskrifte rondom onteiening soos in artikel 25(2) vervat.

..........

Die Onteieningswet is hoofsaaklik prosedureel, en ek sou gevolglik ten gunste wees van ’n klousule wat duidelik uitstip wat gebeur indien die staat nie die rede vir die onteiening gestand sou doen nie. ’n Tipe statutêre reg op ’n ommekeer van die onteiening wat die grond teruggee aan ’n onteiende eienaar.

...........

Die Onteieningswet is hoofsaaklik prosedureel, en ek sou gevolglik ten gunste wees van ’n klousule wat duidelik uitstip wat gebeur indien die staat nie die rede vir die onteiening gestand sou doen nie. ’n Tipe statutêre reg op ’n ommekeer van die onteiening wat die grond teruggee aan ’n onteiende eienaar. Indien vergoeding betaal is, sal die eienaar dan ’n keuse hê om die grond terug te neem en die vergoeding terug te betaal, of om nie die grond terug te neem nie. Dan behoort die grond aan ’n plaaslike gemeenskapstrust of onafhanklike grondhervormingstrust oorgedra te word, sodat die staat nie die grond misbruik of die herverdeling en ontwikkeling daarvan vertraag nie.

Pienaar skryf dat wysiging van artikel 25 alleen nie die enkelvoudige oplossing is nie. Watter ander aspekte van die wet verdien nog alles aandag?

..........

Soos feitlik alle ander aspekte van staatsadministrasie: implementering. Wetgewing en beleid word swak geïmplementeer, of selfs nooit nie, omdat ons nie ’n geprofessionaliseerde staatsdiens het nie, maar een wat op kaderontplooiing en patronaatskap gebaseer is.

............

Soos feitlik alle ander aspekte van staatsadministrasie: implementering. Wetgewing en beleid word swak geïmplementeer, of selfs nooit nie, omdat ons nie ’n geprofessionaliseerde staatsdiens het nie, maar een wat op kaderontplooiing en patronaatskap gebaseer is. Die staat stel nie daarin belang om grondhervorming ten gunste van die armes en gemarginaliseerdes van die samelewing uit te voer nie.

As wetgewing aangepas word, sal ons “staat” as toepasser en administrateur moet verstaan as mag wat aan gemeenskappe behoort, nie aan sentrale politieke figure nie. Ek sou reken ’n gemeenskapsgebaseerde grondhervormingsprogram wat mag afwentel, is ons beste hoop om dringende ongelykheid en materiële behoeftigheid deur middel van grond as hulpbron aan te spreek.

Lees ook:

Grondhervorming: Is onteiening sonder vergoeding die magiese “silwer koeël” of is dit ’n (berekende) skoot in die donker?

LitNet Akademies Weerdink: Grondhervorming, onteiening en artikel 25 ‒ stand van sake

’n Hervoorstelling van die begrip Grond tydens ’n ondersoek na die rol van Grondgebaseerde onderwys in Suid-Afrika

LitNet Akademies Weerdink: Grond

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top