
Foto: Gerd Altmann | Pixabay
Dit is tyd vir bestekopname na aanleiding van die Demokratiese Alliansie (DA) se binnerevolusie. Vir baie kommentators was dit diep betekenisvol dat daardie DA-faksies wat ’n klassieke vorm van Westerse liberalisme aanhang en rasgebaseerde regstelling verwerp, sedertdien ’n sterker posisie in die amptelike opposisie losgewikkel het. DA-leiers het blitsig tot die DA se verdediging getree, en soms met moeë steun en frustrasie die logika van armoedegebaseerde regstelling probeer verduidelik. In die middel van die debat lê daar grootskaalse troebelheid oor die betekenis van die sentrale Suid-Afrikaanse begrip nierassigheid.
Wat ras en identiteit betref, laat die DA se liberale politiek dit blykbaar aan gemeenskappe oor om self die betekenis, gewig en dinamika van groepslewe te bepaal. Nierassigheid blyk te beteken dat die waarskynlikheid dat jou groepsidentiteit historiese benadeling of bevoordeling aandui, onbelangrik is vir die staat se verhouding met die individu vir doeleindes van burgerregte en sosio-ekonomiese opheffing.
Dit klink eenvoudig genoeg. Kommentators vra egter steeds of die DA voldoende gewig aan die belangrikheid van groepslewe in Suid-Afrika heg.
Waarheen met identiteit?
Ons praat dikwels in Suid-Afrika oor diversiteit en nasiebou, maar daar is min gesprekke oor watter rol die staat moet speel om groepsidentiteite as hulpbronne van samewerking en opheffing aan te wend. Ten spyte van die grondwetlike waarborge om kulturele groepslewe, word die politiek van die dag dikwels so bedryf dat ’n alleen-Suid-Afrikaanse identiteit aangeprys word as plaasvervanger van verskillende geleefde kulturele ervarings. Suid-Afrikaans-wees word dus voorgehou as ’n neutrale identiteit wat uit die som van talle dele saamgestel word.
Suid-Afrikaans-wees kan nooit volkome neutraal wees nie. Hetsy uit die DA se meer individualistiese benadering, soms met ’n sweempie historiese Brits-kolonialiteit, of die ANC se swart-geleide nasionalisme (wat herinner aan China se nasiebouery, al wentelend om die paternalisme van die Han-Chinese meerderheid), is daar identiteitselemente wat met mekaar stoei om dominansie, verpak onder lagies pragmatisme of regstelling. Die dominerende identiteitsopvatting van die dag, leer die filosoof Antonio Gramsci ons, sal vir die res dikteer wat die “behoorlike” inhoud van Suid-Afrikaans-wees is, en elemente van die oorheerser neig om Suid-Afrikaans-wees eensydig in te kleur. Onder die Nasionale Party is aanvanklik Afrikanerdom en later Afrikaanse en Engelse witheid as die bepalers van Suid-Afrikaans-wees gepropageer. ’n Plaasvervanger-hegemonie word blykbaar onder die ANC voortgesit, wat verklaar waarom eiename en openbare gedenkwaardighede soos monumente spesifiek die ANC-nalatenskap in Suid-Afrikaans-wees vooropstel. Suid-Afrikaans-wees is allermins neutraal.
Die naaste wat ons aan ’n inklusiewe nasionale identiteit kan kom, is deur die unieke Suid-Afrikaanse vormingsgeskiedenis van die 1990’s as hoofsaak te koester, soos ek elders al geskryf het. Die uitstaande kenmerke van die Suid-Afrikaanse 1990’s is die opbou van ’n grondwetlike demokrasie deur plaaslik-onderhandelde oorgang, gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Ook in multikulturele demokrasieë soos Indië, die VSA en (by analogie) die Europese Unie word oorhoofse identiteit rondom die unieke gees van die demokrasie in daardie veelkleurige samelewings gekweek. Bevolkingsgroepe verbind hul aan die demokratiese instellings van die dag en aan die figure wat dit moontlik gemaak het, in parallelle saambestaan met onderlinge kulturele identiteit.
...
Gesonde samewerking tussen die staat, kultuurorganisasies, taaldrukgroepe, tradisionele leiers en opvoeders kan juis help dat Suid-Afrikaners mekaar verstaan, verken en ondersteun.
...
Die staat en groepslewe
Die staat, selfs soos dit binne die DA-raamwerk bestaan, kan nooit passief in die versoeningsproses en die bou van verhoudinge staan nie. Slim en betrokke staatsleiers sal aan strategieë moet werk om die verdelingslyne van die verlede op ’n konkrete wyse aan te spreek. In hierdie opsig sal die staat wel as ’n fasiliteerder van verhoudinge ’n rol kan speel. Gesonde samewerking tussen die staat, kultuurorganisasies, taaldrukgroepe, tradisionele leiers en opvoeders kan juis help dat Suid-Afrikaners mekaar verstaan, verken en ondersteun.
In hierdie opsig sou dit problematies wees as die DA nierassigheid interpreteer as die staat se kleurblindheid oor die algemeen. Dit sou kunsmatig wees, en ’n mens kan opreg vra watter kulturele opvatting in so ’n DA-beleid sou oorheers. Maar indien die DA nierassigheid verstaan en konkretiseer as die onbelangrikheid van ras en herkoms vir doeleindes van ekonomiese opheffing, sodat behoeftigheid en materiële tekortkoming eerder die maatstaf vir opheffing is, raak dit moeilik om die voortgesette belang van ras en herkoms as vernaamste materiële opheffingsmaatstaf te regverdig. As ’n DA-regering beleide skep wat mense uit armoede probeer ophef, sal die begunstigdes by verre oorwegend swart en bruin wees. In hierdie opsig is die DA se maatstaf baie sinvol, omdat armoede in Suid-Afrika ’n welvaartsprobleem met ’n rassemerker is, eerder as ’n rasseprobleem met welvaart as merker.
....
Die DA sal dwaas wees om die sosiale element van maatskaplik-ekonomiese opheffing ook met ’n maatstaf van kleur-irrelevansie te hanteer. Vir duisende Suid-Afrikaners lê ’n groot deel van hul menswaardigheid in die regstelling van ’n verlede wat hul menswees op grond van hul etniese herkoms afgetakel het.
...
Die kritiek wat wel geopper kan word, is dat ekonomiese opheffing onlosmaaklik met sosiale realiteite soos etniese verskille verbind is. Die DA sal dwaas wees om die sosiale element van maatskaplik-ekonomiese opheffing ook met ’n maatstaf van kleur-irrelevansie te hanteer. Vir duisende Suid-Afrikaners lê ’n groot deel van hul menswaardigheid in die regstelling van ’n verlede wat hul menswees op grond van hul etniese herkoms afgetakel het. Daarom sal die DA se sosiale beleide daarop toegespits moet wees om benadeelde bevolkingsgroepe te help om hul eiewaarde deur hul taal, geskiedenis, toekomsstrewes en kulturele erkenning te vind. Die DA se verbintenis tot moedertaalonderrig en veeltaligheid is ’n belowende voorbeeld van vordering in hierdie opsig. By die beleidskonferensie is juis die mosie oor veeltaligheid in drie amptelike tale voorgestel. Die DA staan ook agter Leon Schreiber LP se veldtog teen die kruipende hegemonie van Engelstaligheid aan die Universiteit Stellenbosch. Daar is onteenseglik ’n positiewe impetus in die rigting van diep kulturele en ekonomiese regstelling in DA-geledere, maar soos met alle politieke partye sal die kiesers die DA hieraan verantwoordbaar moet hou.
Die DA se interne revolusie is in tipies Suid-Afrikaanse styl met ’n kritiese rasbril bestudeer. Aan die een kant moet ons die kommentators se kritiese inslag teen Suid-Afrika se rassige agtergrond verstaan: Ons land het beleef hoe ras in die verlede ’n meganisme van diskriminasie was, en tot vandag toe voel ons die sistemiese nagevolge van ’n rassige verlede. Tog moet ons oplossings vir hierdie spoke uit ons verlede soek, en om die DA se beleidsoriëntering te verwerp sonder om ’n grondige ontleding van die sosio-ekonomiese sinvolheid daarvan te onderneem, is om moedswillig en kieskeurig oor die relevante feite te wees.
Niemand kan stry dat die DA ’n beleid na die tafel toe gebring het wat ook regstelling en opheffing teweeg wil bring nie. Ons kan wel stry of die DA se maatskaplikeregstellingsplanne genoeg erns met groepsidentiteit maak, omdat dit relevant is vir ons land se verlede, hede en toekoms. Die tyd sal leer.