Hier is die foutlyn in die DA

  • 3

Jason Lloyd

Die DA se fundering as amptelike opposisie is in komplisiteit en bontpratery gedompel, selfs ná hul onlangse beleidskonferensie om eenstemmigheid onderling te bewerkstellig oor veral ekonomiese beleid en ras as ’n bepalende beleidsoorweging.

Gwen Ngwenya, DA-beleidshoof, is ’n gedrewe openbare beleidskenner en ’n idealis par excellence. Sy is jonk, welsprekend en in alle opsigte haar tyd ver vooruit.

Net soos die ekonoom en intellektueel, oudpres Thabo Mbeki, die ANC ver vooruit was toe hy in 2007 sy rieme styfgeloop het teen die opkoms van die tradisionalis en populis, Jacob Zuma, en die destydse militante ANC-jeugliga.

’n Bekende politieke ontleder het haar onlangs die "intellektuele tour de force van die DA" genoem. "Sy het ’n goeie teoretiese verstaan van beleid."

Ná afloop van die DA se beleidskonferensie verlede maand het sy gesê dié party is bereid om stemme op te offer in volgende jaar se verkiesing ter verdediging van die beginsel van nie-rassigheid. Ngwenya het ook gesê beleid word nie geskryf om stemme te trek nie, maar om beginsels te verwoord.

Dis waar dat beleid ’n uitvloeisel van die waardes en beginsels van ’n politieke party moet wees, maar Ngwenya verstaan praktiese politiek verkeerd as sy dink dis goed om stemme te verloor. ’n Politieke party verloor bestaansreg as die kiesers sy openbare beleid verwerp en gevolglik teen die party stem. Dis soos ’n maatskappy wat se winsmarges onophoudelik val totdat dit nie ’n ander keuse het as om sy deure te sluit nie.

Kom ons veronderstel dit is waar dat die DA nie omgee om steun te verloor nie. Hoekom sou Ngwenya so iets sê? Want geen ervare politikus sou so iets in die openbaar sê nie. Dit is politieke selfmoord.

Maar Ngwenya is nie ’n seasoned politikus nie, net iemand – soos sy self in ’n onlangse onderhoud met Rapport gesê het – "met die neus in die boeke".

Wat as ’n duidelike illustrasie dien dat die DA-leierskap bewus is van Ngwenya se onervarendheid in praktiese en straatpolitiek, is John Steenhuisen, waarnemende DA-leier, se verduideliking dat sy nie die persoon sal wees om aan gemeenskappe die DA se nuwe beleid te verduidelik nie. Dit sal liewer gedoen word deur DA-aktiviste en openbare verteenwoordigers op grondvlak.

Dit is nadat Ngwenya verlede jaar in November weer aangestel is as DA-beleidshoof nadat sy in Januarie 2019 na bewering uit protes uit dié pos teen die DA se sosiaal-demokratiese benadering onder Mmusi Maimane, vorige DA-leier, bedank het.

In ’n uitgebreide artikel in Julie 2019, het sy die DA se geleidelike afwatering, volgens haar, van sy verwerping van ras as die bepalende faktor in sy beleid, gekritiseer.

Steenhuisen moes bontstaan om vrae deur joernaliste te beantwoord omdat Ngwenya op verskeie maniere deur verskillende mense binne en buite die DA ervaar word. Sy is al beskryf as "robot, cold, highly effective, libertarian, likeable and smart".

Joernaliste wou weet hoe Ngwenya met haar "Ikeys-Engelse-aksent" en haar "Europese uitkyk" op die lewe sou aanklank vind by verarmde swart township en plattelandse gemeenskappe, wat nie gemaklik met Engels omgaan nie.

In Hanlie Retief se onlangse Rapport-onderhoud "Om die gif van ras weg te kan dink" met Ngwenya, ’n produk van ’n Durbanse swart middelklas gesin, word haar veronderstelde "wit wêreldbeskouing" verder uitgebou deur foto’s saam met veral net wit mense op skool, op universiteit (in Suid-Afrika en Europa) en in haar gewone sosiale omgang met mense.

Ngwenya se omstrede-uitlating dat die DA bereid is om stemme te verloor oor hul beleid van nie-rassigheid, vlieg vermoedelik in die gesig van Steenhuisen se mening dat die DA liewer "grootpolitiek" as "kleinpolitiek", "streekpolitiek" of "minderheidspolitiek" moet bevorder.

In ’n onderhoud "Zille is bedreigde, onseker mans se swartskaap" met Murray la Vita, wat in Die Burger en op Netwerk24 gepubliseer is, het Steenhuisen hom soos volg uitgedruk:

"Ek wil nie altyd ’n party lei wat vir tweede plek baklei nie of daarvoor baklei om die amptelike opposisie te wees nie. Ek wil die party lei na ’n posisie waar hy op nasionale vlak regeer en die kern is van ’n nuwe meerderheid in Suid-Afrika. Die DA gaan dit nooit regkry deur ’n klein kampie of ’n laer te word nie".

As jy fyn tussen die lyne lees, kan bogenoemde uitlating van Steenhuisen gesien word as ’n indirekte repudiëring van Ngwenya, maar hy kan dit vermoedelik nie hardop sê nie. Indien wel, sou hy miskien die gramskap van die klassieke liberaliste, soos Nqwenya en Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, op die hals haal en sy kanse beduiwel om as die DA se leier verkies te word.

Ngwenya is ’n onervare politikus, maar sy bevorder na bewering die klassieke liberale agenda van ’n ervare politikus soos Zille. Haar lawaaierigheid dat die DA bereid is om stemme op te offer, word vermoedelik gerugsteun deur ’n klassieke, liberale faksie wat haar ’n sterk vrou maak. Dié faksieverskynsel verswak die DA deur interne teenstrydighede. Dis hier waar die foutlyn in die DA lê.

Ná die DA se rampspoedige vertoning in Januarie in ’n tussenverkiesing in die Mamusa-munisipaliteit (wat Schweizer-Reneke insluit), het die DA twee soorte reaksies gekry. In 'n meningstuk ("Geen genade vir DA") in Beeld (21 Januarie) het Zille hierdie reaksies só verduidelik:

  • Die eerste is: Wat die DA ook al doen, moenie weer ’n party vir minderhede word nie.
  • Die tweede is: Keer terug na ’n fokus op minderheidskiesers. Die DA sal nooit swart stemme wen nie en sy pogings om dit te doen, het slegs minderhede vervreem.

Zille het teen albei hierdie reaksies betoog, maar ironies genoeg het hul besluit om ras as beleidsoorweging waarmee sosiaal-ekonomiese probleme aangepak kan word te verwerp, hul outomaties die tweede moontlikheid laat kies. Kommentators is van mening dit dra by tot die gebrek aan eenstemmigheid in die DA.

Alhoewel swart provinsiale leiers van die DA, soos Andrew Louw (Noord-Kaap), Joe McGluwa (Noordwes), Patricia Kopana (Vrystaat) en Zwakele Mncwango (KwaZulu-Natal), besluit het om hul nie weer verkiesbaar te stel nie en ook nie enige negatiewe uitlatings jeens die DA gemaak het nie, het dié skielike aankondigings enkele politieke kommentators se wenkbroue laat lig.

Die tweede moontlikheid staan ook lynreg teenoor Steenhuisen se ambisie – soos hierbo verwoord – dat die DA nie ’n "klein kampie of ’n laer" moet word nie.

Ngwenya het ongetwyfeld "’n goeie teoretiese verstaan van beleid", maar boekkennis is nie genoeg om jou werklik in die sukkelbestaan van miljoene voorheen benadeeldes te kan indink nie. Die regerende party se mislukkings met dienslewering maak ook nie die morele gronde vir regstelling ongedaan nie. Trouens, dit versterk dit.

Gerekende ekonome en politieke kommentators is dit eens dat korrupsie en staatskaping met nuwe ywer beveg moet word. Terselfdertyd moet ’n nuwe ekonomiese model ondersoek word, wat voldoende ekonomiese groei en belegging in menslike kapitaal verseker.

Dié kommentators is ook van mening dat die vryemarkstelsel ’n swak geskiedenis met die oplos van maatskaplike probleme het. Dis om dié rede dat daar, volgens ’ kommentator, geen land ter wêreld is waar absolute armoede nie sonder die sterk teenwoordigheid van die staat aangespreek is nie.

Dié kommentator het ook gesê: "Die DA kan nie sistematiese diskriminasie onder die tapyt van nie-rassigheid invee nie".

’n Ander politieke ontleder het gesê die DA se beleid van nie-rassigheid is niks nuuts nie en bied ook geen nuwe uitdagings of moontlikhede nie. Al wat dit doen is om die bestaande en uitsluitendende koloniale en apartheidsraamwerk van die ekonomie te herbevestig, uit te bou en te verskans.

  • 3

Kommentaar

  • Henning Janse van Vuuren

    My gunsteling aanhaling uit Hanlie Retief se onderhoud is: “Maar as sy so slim is, sê ek vir Ngwenya, hoekom hou sy aan om haarself met die politiek te bemoei?”

    “Ek het ʼn liefde-haat verhouding met politiek. Dit was nooit my plan om politiek toe te gaan nie.”

  • Mnr Lloyd, dalk kan u 'n paar perspektiewe saamslaan in 'n artikel op die volgende aspekte:
    - die snelle groei van die afgelope 26 jaar se benadeelde deel vd bevolking dmv wetgewing en grootskaalse plundering deur die ANC (swart sowel as wit)
    - die feit dat grootskaalse korrupsie nie net onder Zuma hoogty gevier het nie, maar alive en well is onder sy adjunk van destyds, nou die staatshoof
    - openlike rassediskriminasie teen wit en bruin mense
    - die feit dat ander opsies soos sosialisme ook liederlik gefaal het (as jy dan sê die vryemarkstelsel het gefaal)
    - die feit dat die regering in hierdie land nie in staat is om armoede te verminder nie, want hulle beleid is verkeerd - hulle glo jy kan armoede ophef deur maatskaplike toelaes - jy kan nie, jy kweek groter afhanklikheid
    - verduidelik ook sommer hoe op dees aarde nie-rassigheid kolonialisme en apartheidsraamwerke uitbou en verstewig - sê jy dan dat sterk rassisme nodig is om wit mense te onderdruk en leeg te melk, of hoe? Het jy al gehoor vd Grondwet?
    - die feit dat daar al vir 26 jaar mislukkings is op alle vlakke v regering en jy meen dit versterk die gronde vir regstelling? Regstelling vd regering se beleid dalk, ja.

    Jou artikel begin met mooi ontledings oor die DA maar eindig redelik lammerig ne gaan mank aan kritiek vir die ANC. Kom wys ons, jy kan 'n goed deurgronde kritiese ontleding vd ANC doen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top