Het die DA of John Moodey se waardes en beginsels verander?

  • 2

Jason Lloyd (foto: verskaf)

In my vorige lewe as ’n joernalis het ek op ’n dag ’n politieke party se mediakonferensie bygewoon wat plaasgevind het omdat dié party ’n aankondiging gemaak het dat ’n aantal prominente lede van ’n ander party by hulle aangesluit het.

’n Invloedryke figuur van die party wat die nuwe lede van die ander party verwelkom het, het ’n belangrike opmerking gemaak wat my altyd sal bybly.

Hy het gesê daar behoort slegs twee vername redes te wees waarom ’n persoon uit ’n politieke party bedank: wanneer die party se waardes en beginsels verander het, of wanneer jou waardes en beginsels verander het.

Dit is dié opmerking wat in my kop bly opkom nadat die voormalige DA-leier in Gauteng, John Moodey, onlangs uit die party bedank het. Hy was ook een van drie kandidate vir die DA-leierskap wat binnekort op die DA se virtuele federale kongres verkies gaan word.

Toe Moodey sy bedanking aankondig, het hy versuurde verhoudings tussen verskillende rasse in dié party as rede vir sy bedanking aangevoer. Hy is ongelukkig omdat hy voel die DA tree nie vinnig genoeg op teen Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, oor haar omstrede twiets nie.

Volgens Moodey is hy ook ongelukkig oor die manier waarop die voormalige DA-leier, Mmusi Maimane, uit die DA gewerp is.

Moodey se vernaamste beswaar is dat die DA "te veel na binne gefokus is" en meer omgee vir die belange van wittes as vir dié van sy meerderheid ondersteuners, wat swart is.

Die DA het teruggekap en Moodey daarvan beskuldig dat hy oneerlike redes vir sy bedanking aanvoer en dat hy gerieflik die rassekaart speel. Hy het glo volgens die DA die skip verlaat voordat hy deur "verwoestende aanklagte" in die gesig gestaar moes word.

Volgens die DA het Moodey glo twee jong DA-raadslede aan die Oos-Rand "geïntimideer" om die loopbaan van Mike Waters, senior LP en een van drie DA federale ondervoorsitters, met valse klagtes van seksuele toenadering te vernietig. Dié bewerings word vervat in ’n vertroulike verslag van die DA se federale regskommissie (FLC).

Dié verslag, saam met transkripsies van die klankopnames wat die twee jong raadslede gemaak het van hul gesprekke die afgelope nege maande met Moodey, asook met Philip de Lange, Ekurhuleni-koukusvoorsitter, en ’n derde, ongenoemde Ekurhuleni-wyksraadslid, is in die media se besit.

Waters gaan Moodey glo weens beweerde naamskending dagvaar.

Die vraag wat instinktief by my opkom, is: Sou Moodey bedank het as hy nie "verwoestende aanklagte" in die gesig gestaar het nie? Ook het hy luidkeels gedreig dat indien die DA dit verder sou voer, hy meer "things" oor die DA gaan "expose". Wel, die DA hét dit toe verder gevoer, maar tot op hede het hy niks "expose" nie. Hoekom nie?

Die bostaande vrae moet ongelukkig gevra word, omdat die Suid-Afrikaanse medialandskap tans oorheers word deur swak ontledings deur sommige joernaliste en kommentators wat nie lees nie, nie ’n sin vir geskiedenis het nie, of wat te kleinlik is om die politiek, die ekonomie of wat ook al vanuit ’n ander raamwerk as hul eie kleinsielige en verstikkendende ideologiese raamwerk te ontleed.

Hulle weier, of is bloot te lui, om buite bestaande raamwerke te dink deur hulself sover moontlik in ander se skoene te plaas. Reeds daarom word ons gedwing om denkruimtegrense verder uit te daag, te verskuif of selfs af te breek. Die "thought police" moet verhinder word om ons denkruimtes aan bande te lê.

Ook moet daarop gelet word dat ’n onderhoud met Moodey op 26 Augustus deur die joernalis Heindrich Wyngaard vir Beeld gedoen is. Dié onderhoud sou later gepubliseer word, maar Beeld is toe onkant betrap met Moodey se skielike bedanking op 2 September. Dit is toe dieselfde dag as Moodey se bedanking in ’n verkorte weergawe onder die opskrif "Mashaba, Maimane & Moodey Ingelyf" op Netwerk24 gepubliseer.

Dit is treffend dat Wyngaard die volgende opmerking tydens die Moodey-onderhoud maak: "Wanneer Moodey dan wel ’n geleentheid kry om sy kandidatuur aan Beeld se lesers te bemark, praat hy só lank oor die DA se verlies aan Maimane én die voormalige burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, dat die onderhoudvoerder hardop begin wonder of Moodey se kop nie uiteindelik na een van dié twee se onderskeie nuwe politieke bewegings toe staan nie."

Is dit omdat Moodey alreeds lankal besluit het dat hy by Mashaba of Maimane se onderskeie politieke bewegings sou aansluit? Of is dit omdat hy besef het dat die aanklagte wat hy in die gesig staar te "verwoestend" is? Dat hy geen kat se kans staan nie en dat hy een of ander tyd voor sy verhoor sou begin het, uit die DA moes bedank om homself die vernedering te spaar?

Die DA het op 5 en 6 September hul virtuele beleidskonferensie gehou. Dit is presies drie dae nadat Moodey bedank het. Kon hy nie tot na die beleidskonferensie wag voordat hy bedank het nie? Dié party het immers hul konsepbeleidsdokumente wat in Maart uitgereik is, bespreek en op dié konferensie bekragtig. Dié is al twee jaar gelede deur hul beleidshoof, Gwen Ngwenya, opgestel, het ek Sondag tot my verbasing in Rapport gelees.

Hoekom vroegtydig spring en ’n gaping laat sodat hy daarvan beskuldig kon word dat hy van die aanklagte teen hom weggehardloop het? Hy kon tog net die DA se algehele gebrek aan eenstemmigheid (dit bestaan nog steeds, selfs na die beleidskongres) oor die belangrikste beleidsbepalers waarmee sosio-ekonomiese probleme aangepak moet word – soos ras as beleidsoorweging – as ’n verskoning misbruik het en ná die beleidskonferensie bedank het. Dit sou na ’n meer geloofwaardige bedanking geklink het.

Dit laat die vraag ontstaan oor wie – die DA of John Moodey – se waardes en beginsels verander het. As jy dié vraag vir jouself uitgeklaar het, moet jy asseblief tog ook die volgende vraag deur ’n Franse filosoof (wat hy in ’n ander konteks gevra het) beantwoord: Wie is meer skuldig? Die een wat in die donkerte struikel en val of die een wat die donkerte veroorsaak het?

  • 2

Kommentaar

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Dankie Jason! Weereens in die kol! Net die tyd sal leer! Moodey sal aanstons 'n besluit moet neem en die volk wys waar hy staan. Jy's nie net 'n slim en uitgeslape joernalis nie maar een wat defnitief lees en op hoogte bly! Dankie Jason jy's soos 'n ingenieur wat die lewe vir ons dom mense malkliker maak! Gee my drama enige tyd maar politiek en piliticie ... nee wat dit is soos Willem Wikkelspies gesê het, “It's a tale told by an idiot, full of sound and fury... signifying... NOTHING!"

  • J. Dippenaar.

    As jou waardes en beginsels verander het, moet jy in die eerste plek waardes en beginsels hê. Vir baie politici gaan dit nie daarom nie, maar wel oor persoonlike belange. Die filosoof se vraag is nie ter alle tye relevant nie. Veral nie as jy jouself gepootjie het of self die lig afgeskakel het nie. As ’n mens daardie korrekte feite het,sal ’n mens die korrekte gevolgtrekking kan maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top