My pad met Breyten – op die taalspoor

  • 1

Francis Galloway is deur die Vrystaatse Werkgemeenskap van SAAWK genooi om ’n praatjie oor Breyten Breytenbach te lewer. Die geleentheid het op 13 Maart 2025 by NALN plaasgevind. LitNet is bevoorreg om die teks hiervan te mag publiseer. Lees dit hier onder.


Ek gaan nie vanaand ’n oorsig gee van Breyten se loopbaan as skrywer-kunstenaar-intellektueel en openbare figuur, en van sy uitgeegeskiedenis (plaaslik en in die buiteland) nie. Sy openbare loopbaan in Suid-Afrika strek oor 60 stormagtige en vreeslose jare. Sy plaaslike uitgeegeskiedenis van byna 50 titels is ’n rondomtalierit tussen hoofstroom en grensverskuiwende onafhanklike en anti-establishment uitgewerye.

Wat ek wel onderneem, is om aan te doen by ’n paar stilhouplekke langs die pad wat die wegwyser “taal” dra. So in die loop sal ek aandui hoe my pad as leser en navorser ’n voetpaadjie langs sy pad was.1

Die voortronk-apartheidera

Debuut, bekroning en visumdebakel

Breyten, wat vanaf die vroeë 1960’s in Parys gewoon het, maak sy dubbele skrywersdebuut teen die einde van 1964 by die Afrikaanse Pers Bpk (APB) met Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes. Die literêre establishment was oorwegend positief oor die radikale vernuwing wat veral Ysterkoei bring, omdat hulle meen dat dit die funksie van die literatuur is om nuwe insigte te bied in ons ervaringswerklikheid en dat dit ’n “outonome woordwêreld” skep. Die algemene leserspubliek was (volgens briewe in die pers) egter geskok en ontsteld omdat hulle meen kuns moet mooi en ordelik en ’n afbeelding van die bekende werklikheid wees.

Die APB-prys word aan Breyten toegeken. Die geldwaarde daarvan sou hom in staat stel om na sy geboorteland te reis en sy vrou aan sy ouers voor te stel. Maar daar word nie ’n visum aan sy vrou van Viëtnamese afkoms toegestaan nie. Ingeligte lesers spreek hulle uit téén ’n verstarde nasionalistiese en apartheidsideologie en sien die letterkunde as “verhewe” bo die politieke werklikheid, as “outonoom”, en die skrywer en die mens as “aparte entiteite”. Die publiek, daarenteen, is teen Breyten se skryfwerk én sy huwelik gekant, en hulle ondersteun in lesersbriewe die visumweiering, want hy is “liberaal” en het ’n landswet oortree. Hy is dus nie ’n “volkskrywer” nie.

Breyten se eerste openbare standpuntinname was ’n koerantbrief in Die Burger (2/6/65) waarin hy ontsteld reageer op die visumweiering. Hy stel dit onomwonde dat hy “apartheid met al sy implikasies haat”. Sy siening van die Afrikaner (en van Afrikaans) sou ontplooi in ’n tweespalt van liefde en haat, vereenselwiging en verwerping, en sy sosiale kritiek is sedertdien ’n mengeling van kritiese afstand en kritiese verbintenis. Reeds van heel vroeg in sy loopbaan vervloei die grense tussen menswees en digterskap, tussen privaat en openbaar, en word sy persoonlike geskiedenis intiem verweef met die politieke geskiedenis van Suid-Afrika.

........
Sy siening van die Afrikaner (en van Afrikaans) sou ontplooi in ’n tweespalt van liefde en haat, vereenselwiging en verwerping, en sy sosiale kritiek is sedertdien ’n mengeling van kritiese afstand en kritiese verbintenis. Reeds van heel vroeg in sy loopbaan vervloei die grense tussen menswees en digterskap, tussen privaat en openbaar, en word sy persoonlike geskiedenis intiem verweef met die politieke geskiedenis van Suid-Afrika.
........

Persoonlik

Vir my was 1964, die jaar van Breyten se debuut, die Jaar van die Sneeu. Dit was die eerste (en laaste) keer dat ek ’n wit winter op ons plot buite Bloemfontein beleef het; dié jaar toe my ma my laatlamboetie huis toe gebring het en “die winter ons toegemessel het in ons huis”, met die reuk van baba en stronke in die koolstoofvuur. Die hele openbare debakel oor die visumweiering wat in 1965 in die pers afspeel, gaan by my verby. Ek het my tienerjare in my eie “gemoedelike lokale realisme” deurgebring.

Ek bly “onskuldig” oor die mens/politieke figuur Breyten Breytenbach. En ek ontdek eers die digter toe een van my dosente aan die UOVS, Jack Verster, in 1969 vir my Ysterkoei leen met die opdrag om my leesindrukke neer te skryf. Die bundel het ’n totale aanslag op my gemaak. Dit het die bekende en veilige “werklikheid” omgedop en ’n ander polsende werklikheid daarágter blootgelê. Dit het die mat van idees oor wat die poësie “is” (of behoort te wees) onder my uitgeruk. Dit het my opvattings oor die hiërargie van reg en verkeerd, mooi en lelik, ondermyn. Sommige van die beelde was nagmerrieagtig en het my sekerhede uitgedaag. Terselfdertyd is ek verruk deur die speelse en die fantastiese, deur die ryk sintuiglikheid, die “sap van die lyf”, die sáámbestaan van lewe/dood, groei/ontbinding.

Jack Verster het die eerste meestersgraad oor Breyten se werk behaal – spesifiek oor sy beeldgebruik, wat die sleutel tot die digter se werkswyse is. Aan Verster se knie leer ek  om die voorskrifte  van die destyds heersende akademiese literatuuropvatting, die stilistiek op linguistiese grondslag, toe te pas op Breyten se gedigte en dit sodoende te stol tot “outonome”, in sigself geslote “gehele”. Terwyl die gedigte self die grense tussen “teks” en die omringende “werklikheid” ophef. Die “mens agter die boek”, en in hierdie geval ook die eksentrieke dosent “voor die boek”,  is buite rekening gelaat. My pad het hierna wel op interessante maniere met dié van die later omstrede Verster gekruis.

Eerste openbare optrede

Breyten kry in 1973, met die Sestiger-somerskool by die Universiteit van Kaapstad, die eerste keer die kans om hom in persoon op ’n plaaslike gehoor te rig. Hy maak van die geleentheid gebruik om sy siening oor die rol van die Afrikaanse skrywer en letterkunde, asook sy houding teenoor Afrikanerskap en Afrikaans, uit te spel. Hy verwerp die “gewaande stamidentiteit”, gebaseer op “suiwerheid”, van die Afrikaner en verklaar: “Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so.” Hy lewer ’n pleidooi vir die Afrikaanse skrywers se betrokkenheid by ’n stryd om die verruiming van “ons menslikheid en ons taal”, want: “Dan sal ons nie meer gevang sit in die strikke van Apartaans nie, maar Afrikaans kan praat: een van die baie tale van Afrika!”

Breyten se toespraak is hartlik deur die gehoor ontvang. Hierdie reaksie is deur  joernaliste van die tyd toegeskryf aan ’n ontplooiende verset onder Afrikaners teen kleurpolitiek en aan ’n verbreding van die Afrikaner-laer. Briefskrywers in die pers staan egter afkerig teenoor die “kultureel verbasterde” se oproep om die verruiming van “ons menslikheid en ons taal”.

Inhegtenisname en verhore

In 1975 kom Breyten met ’n vals paspoort na Suid-Afrika om lede te probeer werf vir die ondergrondse (wit) anti-apartheidsorganisasie Okhela. Hy word in hegtenis geneem en summier verhoor onder die Wet op die Onderdrukking van Terrorisme. Hy word skuldig bevind aan aktiewe ondersteuning van die verbode ANC en dade van “terrorisme” asook “geweldpleging”. Laasgenoemde was ’n klag wat veronderstel was om uit die klagstaat verwyder te word volgens ’n ooreenkoms van sy regspan met die staat dat die verhoor nie in ’n “politieke verhoor” sal ontaard nie.

Voor die vonnis uitgespreek is, het die verdediging getuienis ter versagting aangebied – insluitend Breyten self wat die geleentheid kry om oor sy lewensverloop en optrede te praat. Hy verwys na sy bemoeienis met “die voortbestaan van ons volk, ’n voortbestaan in geregtigheid” en ook na hoe sy “táál enersyds ’n naelstring en andersyds die wapen [was] waarmee [hy] daardie naelstring probeer afsny [...] [het]”.

Hy word teen alle verwagtinge in nege jaar gevangenisstraf opgelê. Na twee jaar in die maksimumsekuriteitsafdeling van die Pretoria-Sentraal-gevangenis (waartydens Afrikaans die lont by die kruitvat in Soweto is en die onrus van daar versprei) volg daar ’n tweede verhoor in 1977. Hierdie keer word hy onskuldig bevind aan klagte van dade van terrorisme. Hy word slegs beboet vir die smokkel van briewe na sy vrou en vriende deur ’n jong bewaarder wat as tussenganger deur die Veiligheidspolisie “geplant” is. Na die tweede verhoor word hy na die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad oorgeplaas.  

Die verhore vind in ’n klimaat van toenemende swart verset en die onderdrukking van dissidensie asook toenemende introspeksie onder Afrikaner-intellektuele plaas. Die Afrikaanse letterkunde word uit sy ivoortoring van “outonomie” geruk en in die strydperk van ideologiese oortuigings geplaas. Die gevolg is die opkoms van nuwe literatuuropvattings wat op radikaler wyse rekenskap van die verband tussen “teks” en “werklikheid” sou gee.

Persoonlik

In 1972, in die vroeë era van “verantwoordelike verligtheid”, word ek met ’n goeie skoot naïewe idealisme en voortvarendheid, asook bewapen met die opvatting van die “outonomie” van die Afrikaanse letterkunde, aangestel as jong dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die eertydse Universiteit van die Noorde, bekend as Turfloop, naby Pietersburg. Hier, waar die Broederbond en die Swartbewussynsbeweging intiem skouers skuur, sou my oë oopgaan vir die politieke werklikheid van die land en ander sienings oor die aard van die letterkunde en die rol van die intellektueel/skrywer.

Tydens my eerste gradeplegtigheid as dosent is ek aan die diep kant ingegooi. Ongkopotse Ramothibi Tiro, president van die studenteraad, lewer in sy toespraak kaalvuis kommentaar op die bestaande “Bantoe Onderwys”-stelsel en doen ’n beroep: “We black graduates, by virtue of our age and academic standing, are being called upon to great responsibilities in the liberation of our people.” Tiro word geskors en dit lei tot massaprotes deur die studente. Nie lank daarna nie sterf hy in Botswana aan die hand van ’n pakketbom. Ook in my klas sit daar polities bewuste studente soos Matthews Phosa (wat toe reeds Afrikaanse gedigte skryf) en Daniel Tjongarero (later deel van die leierskap van Swapo).

In 1973 reis ek en kollega Piet Roodt na Kaapstad vir die Sestiger-somerskool. Ek sit blinkoog en oop vir oortuiging wanneer Breyten aan die beurt kom. Ek word weer met my eie opvattings gekonfronteer: oor Afrikanerskap, die aard en rol van my taal asook van die Afrikaanse letterkunde, die funksie van die skrywer, die verhouding mens/digter. Ek spits my ore vir sy waarskuwing oor die “vure van nasionalismes” wat aangeblaas gaan word.

Op Turfloop vlam die vure inderdaad weer op met die pro-Frelimo-saamtrekke van 1974. In 1975 hoor ons oor die radio die nuus dat Breyten in hegtenis geneem is. Ons volg die verhore deur die koerantberigte. In Julie 1976 spoel die brande van Soweto ook oor tot by die Turfloop-kampus.

Ek werk in hierdie tyd aan ’n teksgerigte M-verhandeling oor die sinestetiese beeld in Breyten se poësie, onder leiding van prof Gerhard Beukes van die UOVS. Ek stiplees Breyten se digbundels tot op daardie stadium op spoor van die voorkoms en die funksie van die “metafore van die sintuie” daarin. Sommige “verkrampte” wit kollegas verdink my van heul met ’n volksvyand en “terroris”. Van my polities bewuste studente sien my navorsingsfokus as “ontvlugting”.

........
Ek werk in hierdie tyd aan ’n teksgerigte M-verhandeling oor die sinestetiese beeld in Breyten se poësie, onder leiding van prof Gerhard Beukes van die UOVS. Ek stiplees Breyten se digbundels tot op daardie stadium op spoor van die voorkoms en die funksie van die “metafore van die sintuie” daarin. Sommige “verkrampte” wit kollegas verdink my van heul met ’n volksvyand en “terroris”. Van my polities bewuste studente sien my navorsingsfokus as “ontvlugting”.
........

Die posttronk-apartheidera

Vrylating

In die era van “hervormingspolitiek” word Breyten onverwags op 2 Desember 1982, na sewe van sy nege jaar tronkstraf, vrygelaat. Hy vertrek na Parys en ’n jaar later verkry hy Franse burgerskap – en ’n paspoort wat hom deur die wêreld kon laat reis en hom ’n internasionale kultuurfiguur op wêreldverhoë gemaak het. In hierdie era ontwikkel ook sy internasionale skrywersloopbaan met talle oorspronklike publikasies en vertalings.

Een van sy vroegste openbare optredes was in April 1983 by ’n Hollandse PEN-byeenkoms in Amsterdam. Op daardie stadium was sy verbondenheid met Afrikanerskap en Afrikaans op ’n laagtepunt. In sy toespraak, getitel “The writer and his responsibility”, voer hy aan: “The Afrikaans language doesn’t belong to the Afrikaners. I have no anguished feelings either way about its survival or its disappearance or its mutation. I recognise that it is fatally tainted and classified as the voice of the master; [but] I also know that it is a means of awareness and expression of astonishing beauty.”

Nuwe politieke bedeling

Elf maande na sy vrylating stem wit stemgeregtigdes in ’n referendum “ja” vir ’n “Nuwe (politieke) Bedeling” en in September 1984 kom die driekamerparlement tot stand. Breyten meen dat die ja-stem rampspoedig is, want dit sal tot verdere wettiging van wit oorheersing en diskriminasie lei. In dieselfde maand breek die laaste fase van die stryd teen apartheid aan met die uitbreek van gewelddadige onluste in swart woonbuurte. Tussen 1986 en 1990 heers nasionale noodtoestande.

Rapportprys

Te midde van hierdie onrus word die nuut ingestelde Rapportprys in 1986 in die Staatsteater, Pretoria, aan Breyten toegeken vir sy tronkbundel (‘Yk’). Die toespraak, “Uit die hart”, wat hy lewer, is sy eerste openbare optrede in die land sedert sy vrylating. Hy striem die Afrikaner-establishment “wat nie die immanente transformering van ons gemeenskap inisieer, begelei of gedoog nie”. Hy lewer ’n pleidooi vir saamwerk aan die nodige transformasie na ’n demokratiese staat en vir die rol van die taal in die ideologiese strydperk vir demokrasie: “Sonder enige twyfel sal die Afrikaners, hierdie witterige en aweregse stam Afrikane, en Afrikaans, ons lieflike bastertaal, ons soepel tong van die liefde, so ’n belangrike rol kan speel. Moenie julle rûe draai nie. Moenie maak dat dit te laat is nie. [...] Moenie maak dat Apartheid net nog in bloed gesmoor kan word nie.” Vir die aanhangers van die “Nuwe Bedeling” in die gehoor en die nou “verligte” Afrikaanse pers is die toespraak ’n verleentheid, omdat Breyten nie erkentlik is oor die “vordering tot  verandering” wat al gemaak is nie.

“Ondergrondse” aksies

Breyten inisieer, saam met Frederik Van Zyl Slabbert en Alex Boraine van Idasa, ’n andersoortige “ondergrondse” aksie as dié waarby hy vroeër betrokke was. In Julie 1987 vind daar ’n geheime ontmoeting tussen lede van die ANC-in-ballingskap en ’n groep progressiewe Suid-Afrikaanse meningsvormers in Dakar, Senegal, plaas. Breyten lewer die afsluitingstoespraak, “Die hond en sy wind”.

Hy stel dit dat hy dit sou verkies om sy toespraak in Afrikaans aan te bied. “Waar kom ek vandaan? [...] I am tempted to say ‘van soentoe tot hiertoe’. All history starts with a story. The language, of necessity, is my earth. […] The language stays with me as a shadow, a runner, a reminder, and thereby it is imagination.” Hy sluit sy bydrae – op die drumpel van ’n nuwe politieke bedeling – af met die aansporing: “Keep moving, way beyond liberation. Nothing is gained or established forever; no solution or form can be permanent, so remain vigilant.”

In die pers beskou talle volksgenote die Dakar-byeenkoms as verraad teenoor die apartheidstaat én die Afrikanerdom. Die openbare reaksie is ook negatief ná ’n tweede beraad by die Victoriawaterval in Julie 1989 waar ’n groep Suid-Afrikaanse en uitgeweke skrywers en letterkundiges byeenkom.

Persoonlik

Ek word  in 1981 as navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se pas gestigte Sentrum van SA Letterkundenavorsing (Sensal), met dr Charles Malan as hoof, aangestel. Destyds was die formalisties-strukturele benadering, met klem op die teks in isolasie, gangbaar. Sensal sou ’n belangrike rol in die opkoms van “nuwe paradigma”-benaderings speel. My groot projek in hierdie tyd was as samesteller van ’n jaaroorsigreeks (SA Literature/Literatuur) wat al die plaaslike letterkundes betrek het.  

My doktorale studie is onder die Sensal-vaandel onderneem, onder promotorskap van prof Jan Senekal (UOVS) en medepromotorskap van my afdelingshoof, Charles Malan. My aanvanklike idee was om ’n resepsiestudie van die ontvangs van Breyten se digbundels te onderneem, met klem op die neerslag daarvan in resensies. In die proses van argivale bronverkenning het my fokus verbreed om ook ander reaksies in ag te neem, naamlik Breyten se (omstrede) openbare uitsprake en optrede, asook die hewige openbare reaksie wat hy uit die geledere van die Afrikanerpubliek ontlok het. Hierdie soort literatuursosiologiese en sisteembenaderings was in hul kinderskoene en ek moes dikwels my sienings en bevindinge verdedig en vasskop teen die afwatering daarvan.

In 1986 was ek in die gehoor in die Staatsteater toe Breyten die Rapport-prys vir sy grootse tronkbundel ontvang en ook sy openbare beeld ge-“yk” het. Soos in 1973, kasty Breyten ons in die gehoor – hierdie keer oor ons illusies dat enigiets sedertdien ten goede verander het. My kollega Johann Lodewyk Marais het my tydens hierdie geleentheid aan Breyten voorgestel en hy het kennis geneem van die navorsing waarmee ek besig was. Hy was ondersteunend en het my na bronne verwys waartoe ek nog nie toegang gehad het nie. Ek voltooi die proefskrif die einde van daardie jaar. Op die bedankingsbladsy moes ek aandui: “Menings in hierdie werk uitgespreek of gevolgtrekkings waartoe geraak is, is die navorser s’n, en nie bedoel as ’n weergawe van die menings en gevolgtrekkings van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing nie.”

In 1988 het ek in Amsterdam en Den Haag navorsing gedoen oor die resepsie van Breytenbach in Nederland. Tuis het die noodtoestande talle nuwe beperkings aan die versetbeweging opgelê, en in die Nederlandse pers was daar gereeld berigte daaroor.  Aan die einde van my verblyf het ek met ’n kloppende hart al die honderde fotostate wat ek gemaak het (ook van tekste in bronne wat destyds in Suid-Afrika verbode was) in pakkies opgemaak wat per seepos huis toe versend is, met die hoop dat alles veilig sal aanland en nie deur die doeane gekonfiskeer sal word nie. Alles het wel veilig aangekom.

Terwyl ek in Nederland was, is die produksie aan die aanvanklike manuskrip van die boek wat op my proefskrif gebaseer is, gestaak op aandrang van my departementshoof by Sensal. Hierdie ontwikkeling was deel van ’n ingewikkelde stukkie institusionele geskiedenis. Alhoewel dit ’n groot skok was, het ek die geleentheid gebruik om my argumente te verstewig en om die manuskrip aan te vul met nuwe navorsing oor ontwikkelinge wat nie in die proefskrif en aanvanklike manuskrip gedek was nie. Die bygewerkte manuskrip is in 1989 deur HAUM-Literêr vir publikasie aanvaar en het in die volgende jaar in produksie gegaan.

Die reënboognasie-era van postapartheid

Persoonlik

Die boek Breyten Breytenbach as openbare figuur verskyn op 14 September 1990. Die bekendstellingsfunksie is op 13 November by Exclusive Books in die Sunnypark-inkopiesentrum in Pretoria gehou. In die boek word uitgegaan van die vertrekpunt dat ’n skrywer se openbare optrede/bekendheid ’n faktor word binne die ervaring van sy skeppende werk. Breyten staan in die kollig, maar met verwysing na figure, beweginge en die ontwikkelende historiese situasie rondom hom. Die sisteme van die literatuur, die politiek en die joernalistiek vorm die konteks van die ondersoek. Die boek is vandag nog elektronies beskikbaar op die platform van die Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren (DBNL).

Die politieke konteks het ná die aankondigings op 2 Februarie 1990 verander en ’n uitwerking op semistaatsinstellings soos die RGN gehad. Die organisasie maak ’n dramatiese koersaanpassing ten einde groter legitimiteit te verkry. In my voorwoord tot die boek hoef ek nou geen vrywaringsklousule aan te bring nie, maar kan ek my dank en waardering uitspreek vir die benutting van die kosbare dokumentversameling van die instansie. Die kunstesentra van die RGN het kort hierna ophou bestaan en die dokumentversameling is na die Nasionale Argief in Pretoria oorgeplaas. Ek het na groener loopbaanweivelde vertrek. Van 1994 tot 1999 was ek ’n akademiese uitgewer by Van Schaik-Uitgewers en daarna dosent in uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria.

Na die boek verskyn het, het ek ’n eksemplaar daarvan aan Breyten in Parys gestuur. In 1991 tree Breyten by die Weekly Mail Book Week (in Johannesburg) op en ek woon die geleentheid by. Breyten gesels waarderend met my oor my boek. Hy teken my eksemplaar van sy nuutste eie klein publikasie, Hart-Lam: “Vir Francis – Wat kan ek sê? Dat jy my beter ken as ekself? (En dit beny ek jou nie.) Met dank.” Daarna korrespondeer ons met mekaar en kruis ons paaie gereeld. Hy het my ook as sy “argivaris” beskou.

........
Breyten gesels waarderend met my oor my boek. Hy teken my eksemplaar van sy nuutste eie klein publikasie, Hart-Lam: “Vir Francis – Wat kan ek sê? Dat jy my beter ken as ekself? (En dit beny ek jou nie.) Met dank.” Daarna korrespondeer ons met mekaar en kruis ons paaie gereeld. Hy het my ook as sy “argivaris” beskou.
........

Breyten bring vroeë waarskuwings

Sedert die vroeë 1990’s aanvaar Breyten verskeie uitnodigings vir openbare optredes in die land, waartydens hy waarsku teen die gevolge van ’n oorwinning oor apartheid wat te maklik gewen is, teen ’n vals konsensus in plaas van ’n vrye debat oor die pad vorentoe.

Hy lewer op 16 Augustus 1990 die afsluitingstoespraak op Stellenbosch by ’n konferensie met die tema “Die rol van die Afrikaner in die bou van ’n nuwe Suid-Afrika”. Die byeenkoms is georganiseer deur die gesprekskring SAAK, gestig deur Johan Degenaar. Volgens hom loop Suid-Afrikanerskap “deur die afbreek van apartheid en die help bou aan die groot Andersmaak”.

In Julie 1993 vind die Winterskool van Wits se “Afrikaans uit die doofpot”-seminaar plaas. Ek neem aan die program deel en ervaar Breyten se deelname aan verskillende gespreksessies met ’n oop gemoed vir nuwe insigte. Hy verwys na die onderhandelinge by Kodesa, veral rondom die voorsiende taalbeleid: “Julle moenie skaam wees om vir Afrikaans te veg nie” – daar moet nie verwag word dat “die ANC dit gaan beskerm nie”. Ná die aankondiging oor die 11 amptelike tale noem Breyten aan ’n joernalis dat dit ’n “skelm” besluit is en dat daar “uit die mengelmoes van tale net een taal sal uitkom, naamlik Engels”.

Op 14 Februarie 1994 lewer hy die Walter Battiss-lesing, getitel “Dog’s bone”, by Unisa, waarheen sy eerste kunsuitstalling vanuit Kaapstad verskuif het. Ek het die lesing bygewoon waarin hy ongemaklike vrae vra oor die hantering van verskille binne die voorsiende nuwe nasionale eenheid: “When all is said and done and despite the mutually transformative influences with the coming about of new identities, despite the change of regime [...] we will still encounter the existence of discernibly separate cultural groups (identified by languages, customs, perhaps skin colour, or by their stubbornly singular hierarchy of values). How will the differences be fitted into a larger pattern?”

Die eerste demokratiese verkiesing vind op 27 April 1994 plaas. Breyten bring sy stem uit in Jamestown, Stellenbosch, en gebruik die identiteitsdokument wat in die gevangenis aan hom uitgereik is om homself te identifiseer. Hy lewer in twee artikels in Die Burger sy positiewe en hoopvolle indrukke van die stemdag.

Die beginjare van die demokratiese era was vir hom ’n era van verhoogde kreatiwiteit én bemoeiing met en inisiëring van plaaslike skrywers- en ander kulturele aktiwiteite. Hy en Yolande koop selfs in hierdie tyd ’n huis op Montagu wat hulle gereeld besoek (maar in 2008 opgee).

Verskuiwende horisonne

Breyten word van 1995 tot 1998 as ’n besoekende professor aan die Universiteit van Natal (Durban) aangestel. Hier is hy medestigter van die Centre for Creative Arts. Vanaf hierdie platform bied hy sy tweeledige Fernando Pessoa openbare lesings aan waartydens hy sy begrip middelwêreld, wat die Sentrum beveg, bekendstel: “The first effect of that centre […] is to stultify language, to make it ‘official’, […], to make of it an exclusive means of ‘communication and record’ – thus order and authority – to repress the contestation and creativeness of uncertainty.” Die Centre for Creative Arts loods in 1997 die internasionale Poetry Africa-fees waaraan genooide plaaslike en buitelandse digters jaarliks deelneem (en wat later uitloop op die huidige Time of the Writer-fees). Ek het hierdie inisiatiewe ondersteun en dit was geleenthede waartydens daar ontmoetings en gesprekke met Breyten kon plaasvind. Hy het my aangemoedig om aansoek te doen vir die direkteurspos van die Sentrum toe dit vakant raak, iets waarteen ek besluit het.

Na die opheffing van die Nederlandse akademiese en kultuurboikot teen Suid-Afrika speel Breyten ’n sleutelrol in ’n baanbrekende plaaslike skrywersgebeurtenis. In samewerking met die Nederlandse Taalunie en die Stichting Poetry International in Rotterdam vind die “Rondreis Nederlandse en Vlaamse Schrijvers” gedurende Maart-April 1996 plaas.

Ek word via Breyten deur die Nederlandse organiseerders van die “rondreis” genooi om die binnelandse organiseerder daarvan te wees. Hierdie besoek aan verskillende sentra het voorleesfeeste, lesings en werkswinkels ingesluit en is met die hulp van plaaslike skakelpersone gereël. Dit was ’n besonderse voorreg om persoonlik betrokke te wees by die deelnemers en die program en ek het spesiale vriendskappe gesluit.

Later in 1996 is ek genooi om as Suid-Afrikaanse waarnemer die 27ste Poetry International-fees in Rotterdam by te woon. Ek is toe betrek by die vertaalwerkswinkel rondom ’n keur uit Breyten se gedigte. Talle digters het vir vier oggende daaraan deelgeneem terwyl ek en twee buitelandse kenners van sy werk, asook Breyten self, hulle bygestaan het. Sy gedigte was in Afrikaans, maar daar was ook “tussenvertalings” in Engels, Nederlands, Duits en Frans beskikbaar. Van die digters het verkies om met die oorspronklike tekste te werk – met behulp van woordeboeke en verduidelikings wat ons aan hulle verskaf het. Die fees is afgesluit met ’n program waartydens die vertalings in 29 tale voorgelees is.

In April 1997 is die Breytenbach-egpaar in Suid-Afrika vir bekendstellingsvertonings (ook by die KKNK) van die Switserse filmmaker Richard Dindo se dokumentêre film gebaseer op die drieluik A season in paradise, Confessions en Return to paradise. Ek het tydens die verfilming hiervan navorsingsinsette gelewer. Daar was verskeie ontmoetings met die filmspan en Breyten en Yolande (vir wie ek nou leer ken het en met wie ek bevriend raak). In November 1997 word ’n uur lange dokumentêr, Breyten Breytenbach, the artist, wat geskep is deur die ondersoekende joernalis Hennie Serfontein, op ’n plaaslike Engelse TV-kanaal uitgesaai. Ek was in raadgewende hoedanigheid by die maak van hierdie dokkie betrokke.

Breyten brei sy kreatiewe repertoire uit as dramaturg met drie toneelstukke op nasionale kunstefeeste (1998, 1999, 2001). In 2001 raak hy ook ’n bekende gesig op televisie, met die aanbieding oor digters en digkuns, Ja-nee poësie, saam met Ampie Coetzee. Hy maak ook sy buiging as stemkunstenaar toe Human & Rousseau en Rhythm Records twee CD-publikasies uitgee: Mondmusiek (2001) en Lady One (2002).

Platforms en inisiatiewe rondom minderheidsregte

Breyten benut platforms en neem deel aan inisiatiewe (soos die kortstondige “Oorlegplatform vir Afrikaans”) wat op minderheidsregte en taalkwessies fokus.

Hy tree in Maart 1998 in Johannesburg op by ’n taalberaad met die toespraak “Andersheid en andersmaak (rondom taal)” waarin hy die rol van taal in identiteitsvorming belig. Later in die jaar raak hy in ’n toespraak op Zanzibar die (kontensieuse) kwessie van moedertaalonderrig in Afrika en in die nuwe Suid-Afrika aan: “Taking the difficult road of promoting mother-tongue education [...] will suggest that the potential of language is more than just being the lowest common denominator of communication and record among diverse groups: it is, as well, a tool of inventiveness and renewal […] enabling citizens to develop a critical stance to the state.”

Breyten en die sakeman Nic Barrow nooi in Mei 1999 ’n gesprekgroep na Oudtshoorn om moontlikhede rondom die idee van ’n “vrye” Afrikaanse universiteit in Kannaland te bespreek. Ek reis per bus daarheen en word deel van ’n verkenningskomitee wat met voorstelle vorendag moes kom. In November organiseer die redaksie van die nuwe filosofietydskrif Fragmente ’n opvolggesprek by Hammanskraal. Hierdie inisiatief het uiteindelik nie op dreef gekom in die formaat wat aanvanklik voorsien was nie.

In hierdie tyd rig ’n groep Afrikaanse intellektuele, insluitend Breyten, ’n ope brief aan president Thabo Mbeki. Daarin word gevra dat die Grondwet aangevul word met ’n handves vir minderheidsregte in ooreenstemming met heersende internasionale denke daaroor. Toe die brief in die media gepubliseer word, lok dit uiteenlopende reaksie uit. Breyten erken later teenoor Max du Preez (in ’n onderhoud in De Kat) dat enige verwysing na minderhede, kultuurverskille of diversiteit ou apartheidspoke oproep. Maar noudat Afrikaners nie meer in die magsposisie is nie, is dit makliker om ’n saak uit te maak vir die skep van “kulturele ruimtes, van interaksie, van deel en verantwoordelikheid aanvaar vir mekaar, van wedersydse verryking en toegevoegde waardes, van die erkenning van (taal-) vaardighede”.

Verering

In Breyten se bedankingstoepraak op 19 November 1996 tydens die toekenning van die Helgaardt Steyn-prys vir Nege landskappe van ons tye [...] by die UOVS sê hy: “Ek is bly Afrikaans het haar verskanste status verloor, dat ons nie meer staatsmaaiers is nie.” Maar dit beteken nie dat die Afrikaner en die taal terminaal besmet is nie: “Ons gaan droom en veg” vir Afrikaans, “onse produk en werktuig van omvorming.”

........
In Breyten se bedankingstoepraak op 19 November 1996 tydens die toekenning van die Helgaardt Steyn-prys vir Nege landskappe van ons tye [...] by die UOVS sê hy: “Ek is bly Afrikaans het haar verskanste status verloor, dat ons nie meer staatsmaaiers is nie.” Maar dit beteken nie dat die Afrikaner en die taal terminaal besmet is nie: “Ons gaan droom en veg” vir Afrikaans, “onse produk en werktuig van omvorming.”
........

Toe die Akademie in 1999 besluit om Breyten met die Hertzogprys te bekroon vir Oorblyfsels: ’n roudig en Papierblom, besluit hy om dit te aanvaar, omdat dit nou tyd is om “hande te vat”. Hierdie establishmenttoekenning volg nadat Breyten se boeke in die 1960’s en 1970’s om ideologiese redes nie bekroon is nie en hy die toekenning in 1984, met motivering, van die hand gewys het. Hy noem aan ’n joernalis, na die oorhandiging in die Aula van die Universiteit van Pretoria, dat die Akademie op daardie stadium heers oor “the memory of a dungheap” en dat “other, perhaps more potent, hegemonies have appeared on the national scene.”

Ek was by albei hierdie geleenthede teenwoordig.

Beroering en onttrekking

Teen die aanbreek van die nuwe millennium was Breyten op ’n hoogtepunt van plaaslike en internasionale erkenning. Hy is aangestel as besoekende professor by die Universiteit Kaapstad  (2000 tot 2002) en in die program vir kreatiewe skryfwerk aan die New York University (1999 tot 2011).

Die eerste drie jaar van die 2000’s het egter ook groot beroeringe in sy loopbaan gebring. Sy kritiese waarnemings van die ontvouende “nuwe” Suid-Afrika en sy deelname aan inisiatiewe en platforms (soos aangedui) sorg vir nuwe etikette om sy nek: óf as kampvegter vir taal- en minderheidsregte óf as nuwe regse verkrampte (selfs “taalbul”). Die tydgenootlike Afrikanerbinnekring raak vir hom al knellender en hy verset hom ook teen die nuwe konstruk wat die “volk” en die media van hom wil maak.

Hy aanvaar wel in 2000 die uitnodiging om die openingsreferaat van die toe onlangs gestigte LitNet se eerste aanlyn skrywersberaad te lewer. Die bydrae, getiteld “Die bobbejaan agter die bult”, deel klappe uit na alle kante en ontlok wye reaksie, onder andere ’n ope brief waarin hy daarvan beskuldig word dat hy deelneem aan die “nimmereindigende gesanik” dat Afrikaans se status besig is om in te kalwe en dat hy ’n “vryskutrevolusionêr” is wat nou die saak van Afrikaans opneem waarvan die  bevoorregte status liefs opgeoffer moet word in die nuwe demokratiese bestel. Die brief sit ’n polemiek op LitNet en in die pers aan die gang. In ’n elektroniese omskrywe onttrek Breyten hom hierna aan openbare aanwesigheid in groepe, omdat die debat ’n laagtepunt bereik het en omdat daar geen “linkse” teenhanger vir die regse houding ontwikkel het nie.

In 2002 lok die opvoering van sy derde verhoogwerk, Die toneelstuk, by die KKNK – net soos die eerste, Boklied (in 1998) – weer ontstelde reaksie en uitstappery deur teatergangers uit. Daar is egter ook ’n gevoel dat hierdie reaksie van die Afrikaners hom kan “vervreem”. Laasgenoemde mening gee aanleiding tot ’n opportunistiese stukkie joernalistiek aan die kant van Die Burger wat ’n aanlyn “volkstemming” van stapel stuur waarin die meerderheid deelnemers stem dat Breyten “vervreem” moet word. Breyten reageer op beriggewing hieroor met ’n Engelse brief aan die koerant. Hy vra om verskoning indien die verkeerde indruk ooit geskep is dat hy deel van die “volk” is. Sy stem word nou stil in openbare gesprekke waarmee die Afrikanervoorpraters hulle besig hou.

Die wil tot kreatiwiteit is egter vir Breyten soos onafwendbare stromende water en van middel-2002 stuur hy nuwe verse elektronies aan vriende. Hierdie private verspreidingskultuur word hom egter nie gegun nie, en wanneer dit in ’n skinderbrokkie op LitNet aan die groot klok gehang word, ontaard dit in nóg ’n “herrie” in die ongemaklike verhouding tussen Breyten en die “volk”.

Hierdie keer onttrek Breyten hom in alle erns van die sukkelende “reënboognasie”-toneel. Hy spits hom toe op die buitelandse projekte waarby hy betrokke is aan die New York University en die Gorée-instituut (waarvan hy van 2002 tot 2010 die uitvoerende direkteur is).

Die postreënboognasie-era

Die US-taaldebat

Eers in 2005 keer Breyten weer terug in die plaaslike kollig toe hy inwillig om sy naam te voeg by dié van Frederik Van Zyl Slabbert en Herman Giliomee in ’n ope brief in Die Burger waarin hulle kritiek lewer op die US se besluit om parallelmedium- met dubbelmedium-onderrig in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe te vervang. Hierdie brief gee aanleiding tot ’n jare lange taaldebat aan hierdie histories eerste Afrikaanstalige universiteit. Oor die jare word verskillende taalbeleide aanvaar en toegepas, wat uiteindelik uitloop op die agteruitgang van Afrikaans as medium van onderrig en administrasie aan die inrigting. Tot in 2018 bly Breyten op een of ander manier betrokke in die debat.

Hy tree in 2016 as gasspreker op tydens die jaarlikse Konvokasievergadering. Ek is een van ’n paar vriende wat as sy gaste genooi is. In sy toespraak, getitel “Die koei in die bos”, stel hy sy mening oor die taalbeleid, die ware taak van die universiteit, en die rol van wittes en Afrikaners in die snel veranderende omgewing, want “ons is almal saam verantwoordelik vir ’n gedeelde toekoms”.

In Maart daardie jaar word ’n nuwe konseptaalbeleid, wat Engels op alle vlakke bevoordeel, vir kommentaar vrygestel. Breyten reageer in die vorm van ’n ope brief aan die rektor op LitNet en konstateer dat dit die dood in die pot van veeltaligheid sal wees. Die brief lok reaksie uit – ook in die vorm van ’n persoonlike aanval op hom deur ’n politieke kommentator. Op 12 April 2016 word Gelyke Kanse, onder leiding van Breyten, op Stellenbosch gestig as drukgroep vir die behoud van Afrikaans en spesifiek vir ’n “gelyke kans” met Engels op US. Op 22 Junie stem die raad van die US ten gunste van die voorgestelde beleid. Op 30 September dien Gelyke Kanse ’n saak by die Hooggeregshof in om US te dwing om die nuwe taalbeleid te hersien en om te verklaar dat Afrikaans nie meer ’n gelyke kans aan die instansie het nie. Op 25 Oktober 2017 word die aansoek met koste van die hand gewys. In 2019 handhaaf die Konstitusionele Hof die uitspraak.

In 2018 word die genooide spreker van daardie jaar se US-Konvokasievergadering se toespraak op LitNet gepubliseer. Volgens hierdie spreker gaan die taalstryd “net oor die red van ’n sekere soort Afrikaans: die sogenaamde standaard-een wat as norm bo ander inheemse tale en variëteite verhef word”. Hy vat ook vir Breyten aan wat volgens hom “geskuif” het van sy inspirerende opvattings oor Afrikaans in die apartheidsjare tot wat hy beskou as Breyten se huidige standpunt dat US Afrikaans móét beskerm. In sy reaksie op 19 November 2018 hierop onttrek Breyten hom van die gesprek oor die taalkwessie op US en wens die spreker en ander wat soos hy voel, die beste toe.

Openbare optredes/uitlatings

Alhoewel hierdie fase van Breyten se openbare loopbaan oorheers is deur die lotgevalle van Afrikaans, is hy by ander ontwikkelinge en debatte betrek en het hy op verskeie platforms opgetree. Ek verwys net vlugtig na enkele hiervan.

In Maart 2008 lewer hy die openingstoespraak by die 11de Time of the Writer-fees in Durban. Sy nogal pessimistiese boodskap fokus op die verslegtende toestand van  demokratiese opsie wêreldwyd, en in Afrika en plaaslik.

In hierdie jaar word Breyten se digbundel Windvanger met verskeie pryse bekroon – ook met die Hertzogprys. Die oorhandiging vind plaas in die HB Thom-teater op Stellenbosch. In sy ontvangstoespraak, getitel “O volk, meneer” (sy “report to the academy”), voer hy aan dat nasionale en individuele bevryding verraai is en dat die stryd voortgesit moet word. Hy bely ook sy lewenslange paradoksale verhouding met sy moedertaal, “die bastertaal wat met verloop van tyd besmet geraak het”. Hy en ander het “so hard baklei vir die bevryding van Afrikaans, vir die ontkoppeling van omskeppende waardes met dié van die behoudende heersende establishment”. Maar “terwyl jy in jou taal afskeid geneem het van jou mense en hulle rigtende ideologieë en jy deur hulle verwerp is, het hulle en jy op dié manier jou verweefdheid bekragtig”. En dit bring hom by hierdie insig: “As ek my taal sou onteien, sou dit beteken dat ek die wewing van my bestaan probeer vernietig.”

Na die selfdood van die joernalis Chris Louw, wat hom sterk uitgespreek het oor toenemende geweld, verskyn ’n artikel van Breyten, “Die reënboog is ’n spieël aan skerwe”, op 6 Desember 2009 in Rapport. Hierin maak hy ’n saak uit vir gesprekke rondom ’n nuut geformuleerde Suid-Afrika.

In Maart 2013 spreek hy ’n groot plaaslike (en jong) gehoor toe in die Odeion-teater van die UV. Hy lees voor uit ’n tweetalige brief aan sy dogter waarin hy ’n gesprek met haar voer oor die toestand van die wêreld en die “realiteit van die menslike penarie”, naamlik dat ons nie bewustelik die weg inslaan van “inklusiewe verbeelding en versinnebeelding” nie.

In Maart 2015 lewer hy ’n huldeblyk aan André P Brink tydens ’n gedenkdiens vir Brink by die UK. Hy stel ’n uitdaging (in vraagvorm) aan medeskrywers: “Wat word van die skrywer as openbare intellektueel? [...] Is ’n figuur soos Brink denkbaar in ons huidige tydsgewrig?” In reaksie op Brink se afsterwe en Breyten se uitdaging word daar ’n klimaat van selfondersoek en vraagstelling op verskeie platforms geskep.

In Junie 2017 neem Breyten deel aan die 30-jarige herdenking van die Dakar-ekspedisie wat op die Spier-landgoed plaasvind. Kontensieuse onderwerpe oor sosiokulturele aangeleenthede, soos versoening en maatskaplike samehorigheid, word in die laaste sessie sterk aangeroer en dit ontaard in ’n “vuurwarm debat”. Breyten word onder andere “aangevat” oor sy siening dat die land se krag in sy diversiteit lê en dat veral minderheidsgroepe nie moet stilbly nie, want watter taal jy ook al praat, “ons almal hoort hier”. Die byeenkoms eindig ongedurig en geen verklaring word uitgereik nie.

Op 3 April 2019 word sy digbundel Op weg na kû in ’n volgepakte Book Lounge in Kaapstad vrygestel. Later die jaar word sy 80ste verjaardag tydens die jaarlikse Digterstuin by die Breytenbach Sentrum gevier. Na die Covid-era van afsondering was daar enkele plaaslike openbare optredes. Op 4 Maart 2022 gesels hy met Johann Rossouw tydens ’n FilosofieKafee-geleentheid met die tema “Waar is ons [nou]”. Op 22 Maart is hy by SASNEV in gesprek met Yves T’Sjoen. Sy laaste openbare optrede was tydens die Digterstuin van 2023 in die vorm van ’n voorlesing-en-sang item op die program saam met Dominique Botha en Rian Malan.

Ander ontwikkelinge

Ongelukkig is daar nie tyd om ander kwellende asook feestelike sake hier toe te lig nie. Aan die een kant was daar die gerugte van sensuur en die konsolidering van mag (wat aanleiding gee tot die stigting van ’n nuwe skrywersvereniging, PEN Afrikaans, waarin Breyten ’n sleutelrol gespeel het). Aan die ander kant was daar feestelike geleenthede soos verjaardagvieringe (vir sy 70ste, 75ste en 80ste verjaardae); die totstandkoming van die Breytenbach Sentrum asook die jaarlikse Tuin van Digters-fees; die inisiëring van nog ’n internasionale platform vir plaaslike en internasionale digters in die vorm van die Dancing in Other Words / Dansende Digtersfees; asook binnelandse en buitelandse pryse en vererings.

Persoonlik

Gedurende die 2000’s is my jare lange professionele verhouding met Breyten vasgelê. Hy het my vertrou, argivale inligting aan my verskaf vir bewaring in my groeiende Breyten-argief, en my in navorsingsprojekte ondersteun.

In 2015 kon ek lang ure saam met hom deurbring tydens die samestelling van Parool/Parole, ’n keur uit sy toesprake en ander openbare uitsprake tot op daardie stadium. Tussen die eerste en laaste openbare redes wat in hierdie bundel opgeneem is, het die grond as ’t ware verskuif. Die bundel karteer hierdie grondverskuiwing deur die herskepping van die topografie van Breyten se betrokkenheid by Suid-Afrika en sy mense, sy denke oor die rol en plek van die skrywer en sy pleidooi vir taal/moedertaal.

’n Hoogtepunt in my jare lange navorsingsreis met Breyten was dat ek genooi is om as samesteller van die Breyten-uitgawe van die Akademie se reeks huldigingsbundels vir skrywers wat met die Hertzogprys bekroon is, op te tree. Ek moes Breyten in ’n vroeë stadium van die boekprojek van die waarde van die onderneming oortuig. Die projek het groot uitdagings gestel, en in die proses moes ek ongemaklike besluite neem (gegrond op streng keurverslae) oor die insluiting al dan nie van gewerfde bydraes. Die gekeurde medewerkers aan die boek het daarvoor gesorg dat die veelsydigheid van Breyten as woordkunstenaar belig kon word. Ek lewer self twee bydraes. Die eerste is ’n hoofstuk waarin ’n oorsig van sy loopbaan as skrywer en openbare figuur van die 1960’s tot 2019 aangebied word. Die tweede is ’n hoofstuk waarin ek fokus op Breyten en die Hertzogprys vir Poësie sedert die 1960’s.

Die huldigingsbundel Breyten Breytenbach, woordenaar, woordnar is op Breyten se 80ste verjaardag by die jaarlikse Tuin van Digters vrygestel. Breyten se inskrywing in my eksemplaar is: “Vir Francis, liewe Francis – so ver, so lank, en so wonderlik om te weet jy is daar, die saamloop. Dankie, dankie, dankie.”

Ten slotte

Ek het probeer om “taal-wegwysers” te volg en stil te staan by ’n paar bakens op Breyten se pad as openbare figuur (en my voetpaadjie daarnaas). Ek hoop dat die enkele stilhouplekke waarby ons kon talm, ’n indruk kon skep van Breyten se ontplooiende denke rondom taal. Dit behoort duidelik te wees dat sy “betrokkenheid” oor dekades gestrek het.

Ek sluit af met twee uitsprake oor Breyten se “taalpolitieke projek”.

Andrew Nash meen: “It is possible that Breytenbach’s most important contributions to SA politics were [...] in his critique of the negotiated settlement and his seminal role in establishing a new politics of Afrikaans.”

Desmond Painter skryf: “Vir Breytenbach kan taal nie gereduseer word tot kommunikasie en identiteit nie; dis nie bloot medium of merker nie. Hierdie oortuiging [...] is ’n radikaal-demokratiese stellingname [...] gesentreer op taal as [...] voortdurende revolusie. [...] Hy kom in opstand teen ’n beslaglegging en reïfisering [konkreetmaking] van betekenisruimtes en produksiemiddele wat die kreatiewe en omvormende moontlikhede wat taal en taaldiversiteit bied, inkort en opskort.”

Die politieke kommentator wat destyds so giftig was oor Breyten se “taalstryd”, het intussen tot ander insigte gekom: “Dis 'n cliché-argument, maar dalk is Afrikaans nie bestand teen die aandagafleibaarheid van ons gebroedsels nie. [...] Mooi loop, Breyten, jy was destyds reg, is steeds reg, en sal in die toekoms ook reg wees.”

Baie dankie vir hierdie geleentheid.

13/3/25

1 Hierdie teks is bedink en aangebied as ’n praatjie. Dit is nie bedoel as ’n akademiese ondersoek in die trant van die outo-etnografiese of soortgelyke benadering nie.

Lees ook:

Breyten Breytenbach – aanhou beweeg en geraas maak ...

"'n Skande wat onthou sal word": Die diktaat van Open Stellenbosch

US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top