My Afrikaanse stuiwer in die taalarmbeurs

  • 6

Foto: Pixabay

Willem de Swyger (Menings 21-05-17) sê ons moet nie meer oorlogsmetafore inspan vir ons taal nie, moet ophou stry en veg daarvoor, eintlik maar die ander wang draai en ... swyg.

’n Ruk terug, verlede jaar, so al tussen die virus deur en in die omgewing van 09:00, sit ek my beurt en afwag voor die “firearm licence”-kantoor. Voorheen het dit “Vuurwapenlisensies/firearm licences” in swart en wit op A4 gedruk en sommer windskeef op die deur geplak gelees. Oor die jare heen het die aanduiding baie verweer.

Sedert die verengelsing van die polisie, hang daar nou ’n windmakerige en goudkleurig gedrukte aanwysing - “Fire Arms Licence” soos ’n sinjaal bo aan die kosyn. In elke gang af pryk eenderse sinjale wat verskillende kantore in Engels aandui en in die meeste kantore is daar geen beamptes daarin teenwoordig nie.

Na my in die ry, in die beurt-afwaggedeelte, sit daar onder andere twee manne wat mekaar klaarblyklik goed ken, is Afrikaans en wat weens die beklappe - en hul middeljarigheid, nie in ’n gedempde toon hul gesprek kan voer nie.   

Die een in die grys oorpak waarop daar  “xxxzzz Removals”, “local/longdistance” pryk, vertel dat hy “laasweek ’n trip gedoen het” met mense wat Afrikaans praat, maar dat dit nie Afrikaans is nie, maar tog verstaan hy goed. “Daar’s amper niks verskil nie.”

Met ’n “Ja ... ag man, dis seker Vlaams” het sy pêl beterweterig geantwoord en van oorkant af oor sy masker na my geloer, “iewers in ’Belgium’... praat hulle daardie Afrikaans” (’n oomblik gewonder waarom hy ’n bevestiging van sy stelling van my af sou verwag, maar ek het nie gereageer nie).  

Terwyl ek later op die internet rondkarring, kom ek af op ’n Afrikaans/Vlaams-aanlynwoordeboek (af.glosbe.com). Verdere inligting het ek by - af.wikipedia.org/wiki/Vlaams, raakgelees (terloops, sien my kleinkind in graad 4 mag nie sy take vanaf wikipedia doen nie, maar ander internet inligting is ok). Ek het rondgeblaai en gelees wat ’n ou wat klaarblyklik daar oorkant woonagtig is van Vlaams sê en dit geknip, dit lees:

“So wat is Vlaams dan? Belge erken so ’n bietjie verleë dat hulle met hul ouers, broers, susters, ooms en tannies soms ’n dialek praat – wat hulle ’Vlaams’ noem. Dikwels is hulle skaam daarvoor – dit word gesien as ’n kombuistaal en meeste moderne en opgevoede mense praat dit nie meer met hul eie kinders nie. Hulle is bang dat ’n dialek, of ’n verkeerde aksent, hulle kinders eendag in ’n professionele werk kan belemmer. Hulle probeer dus hulle Nederlands so suiwer hou as wat hulle kan.”  

Ek het hierdie houding vele maal teenoor Afrikaans hier ter plaatse gehoor, dis mos woord vir woord wat die teenstanders van suiwer Afrikaans /as standaardtaal/ standaardafrikaans, te sê het. Is dit ook waarom Engels deesdae onder baie Afrikaners voorkeur kry, geregverdig deurdat “dit beter is vir my kind se toekoms”?

Ek kan geen klip, nevermaaind die eerste, gooi nie. My eie bestaan is deurspek met, sal ek maar sê, “kulturele vermenging”. Oupa aan moederskant was Afrikaanssprekend en Ouma Engels, maar hul huistaal, Afrikaans – Oupa en Ouma aan vaderskant Afrikaans. My een dogter en my seun het altwee Engelse huweliksmaats. Hul huistaal is nou Engels, daardie kleinkinders s’n ook, die rede – dat dit kwansuis beter vir hulle in die toekoms sou wees. 

Ek het probeer wal gooi, maar dit lei net tot “gevoelens” en dan smaak die bier vrot. Ook elke keer wat ek ge- “úúpa” word, raak die wyn suur. My oudste dogter en haar man is Afrikaanssprekend, uit en uit, het selfs by ’n ge-akkrediteerde private onderwysinstelling (hulle doen tuis-onderrig) beswaar aangeteken teen die vereiste dat hul kinders Engels en dan nog ’n derde taal móét aanleer én daarin ge-eksamineer word!

Met my rondkarring op die web word ek herinner aan Vlaamse woorde soos: boot, stoom, hoogte, droom, leen, been, geen, twee, skoot, deesdae, vlek, stert, iewers, skip, skaap, skeermes, miskien, verniet, stasie, wêreld, lankal, asem, baklei, inkopies, veral, verseker, deur, waardeer, deurdat en voetsek en was half verras toe ek opnuut besef dat ’n Afrikaanssprekende gemaklik amper ’n volledige gesprek in Afrikaans met ’n Vlaming sal kan voer. 

Is my Afrikaans ’n kombuistaal?

Gedurende Erfenismaand laasjaar, deur middel van die media gesien en gehoor van erfenisfeestelikhede wat iets en almal vereer en erken behalwe Afrikaans. Darem op Erfenisdag (24/09/20), geluister hoedat RSG (“Praat saam”) se professor(e) en doktor(e) dit eens is dat daar erkenning¹ verkry moet word vir die verskillende variëteite van Afrikaans in ’n “groter Afrikaanse huis”.

“Afrikaans in ’n groter Afrikaanse huis?”

Is my (en sy) Afrikaans ’n variëteit waarvoor erkenning verkry moet word?

Dis weliswaar ’n “verbetering” op ’n jaar of meer gelede se stelling op “Monitor” tydens ’n gesprek oor Afrikaans daardie oggend, toe een van haar gespreksgenote aangevoer het dat daar nie so iets soos Standaardafrikaans is nie en sy toe met dié nuus vreeslik ingenome was. 

Tydens my vormingsjare het ek geleer dat Afrikaans uit Nederlands (Hollands) ontstaan het met hier en daar (erkenning van) invloede vanuit die (Maleier?) Kaapse Vlakte – iets wat ek baie interessant gevind het.

Nou wonder ek, soos dit deesdae hardnekkig aan die verstand gedoen word dat Afrikaans hoofsaaklik uit Arabies op die vlakte ontstaan en deur “eerste nasiesprekers” ontwikkel is, waarom praat die meeste eerste nasiesprekers op die Vlakte in 1924 dan Engels? ² (Bl 343)   

My gedagtes dwarrel oor die Kaapse Vlakte se “Kaaps” wat in Rapport belig was heen en dit laat my wonder wanneer boeta J [tydens die jaarlikse die NP van Wyk gedenklesing by die UJ (LitNet en Rapport, Jun-Jul 2020)] sê:

“Ek is wys dat daa is dié van julle wat vedag hie sit wie se gatte nou kriewel oo hoekô ek by soe ’n laanie biesagheid in Kaaps skiet. En oek miskien wonne, kaantie wies djy, om hie te kô soek en vra, soese ou boer virre dompaslyn. Oppie kriewelgat – saak, yt respek vi my taalburgerskap, vekies ekkie stamtaal vannie vlaktes – Kaaps. Stamtaal oommat dié wat julle ken as Standaardafrikaans is in my boek maa Kaaps se verlore seun.” ³

Hê ... mý Afrikaans - Kaaps se verlore seun?

Ek lees Prof Herman Gilomee sê:

“’n Besondere taal het van vroeg af aan die Kaap wortel geskied. Reeds in 1658 het ’n hoë amptenaar, HA van Reede tot Drakenstein, dit nodig geag om teen ’n korrupsie van die Hollandse taal te waarsku. Sy vrees was dat die Nederlandse koloniste se nabootsing van die inboorlinge en slawe se geradbraakte Hollands  ’n ’gebroke taal’ sal laat ontstaan wat nie uitgeroei sou kan word nie” ² ( bl 41).

Die koloniste was dus hier tegemoetkomend, hoeveel van vandag se teenstanders van Afrikaans kan dieselfde sê.

As Kaaps die stamtaal is, hoe het die Khoi en San se taal van voor 1652 dan gelyk en waarheen het dit in die 143 jaar sedertdien tot 1795 verdwyn toe die Engelse baas geword het. Het die “eerste nasie” sy taal versaak vir ’n geradbraakte Hollands en toe later Engels aangegryp?

En: “Die swak soort Hollands waarna Fischer verwys het, is genoem Kaaps-Hollands, Kaaps en Boere-Kaaps en sou eers vroeg in die twintigste eeu algemeen bekend word as Afrikaans. Afrikaans was in sy kern ’n Hollandse dialek wat mettertyd ’n beperkte mate van kreolisering of afwyking van die basiese Hollandse struktuur ondergaan het” ¹  ² (bl 42)

 En “Kom ôs praat oore velore laaitie wat ôs moet losmaak vannie taalsnoere. Hy wat gan mang het onne apartheid. Hy wat gelêrit innie taalkettangs wat Breyton Breytenbach soe innie nientientagtags oo geklarit - gee my die lekker bokkem-en-biltong bruintaal, proletêr en mens!” ³

“Hoo nou, Boeta NP, hy kô huis toe. Af vannie hoegene taalberge, daa waa hy gelê et oorgroei met gras, voorie mooi strome net daa waa hy velief geraak et op sy eie vookoms soes Narsissus”. ³

Nee ... a, boeta J.

Boeta NP was nie verlief op sy voorkoms (witheid) nie, en hy het dit immers teen die ideologie van sommige van die Afrikanersprekers van die Taal van destyds gehad, en nie teen die Taal self nie (Duitsland het nie na 1945 sy taal versaak nie).

Die “hoegene taalberge”?

Indien die atoom in Kaaps verduidelik sou word, sal die kinders van die Vlakte, al beskik hulle ook oor ’n kognitiewe vermoë, insig in en in die werkinge van die atoom verkry en so behoorlik begryp?

“Die atoom herinner ’n mens aan ’n son met planete. ’n Atoom is net ’n kern met ’n stofwolkie wat daarom sweef. Die elektrone is so te sê gewigloos en is elektries negatief gelaai. Dit omsweef ’n piepklein kern wat saamgestel is uit protone, deeltjies wat positief gelaai is en neutrone, deeltjies wat elektries neutraal is. Protone en neutrone word gesamentlik die nukleone genoem.

Die aantal protone in ’n atoom bepaal watter soort element dit is. As daar net een proton is, is dit waterstof. As daar twee is, is dit helium. As daar ses is, is dit koolstof. Uraan het 92 protone.

Atome se elektriese lading is altyd neutraal. Daarom het elke atoom presies dieselfde aantal elektrone wat om die kern slinger as die aantal protone wat in die kern is. Die positiewe protone en die negatiewe elektrone se ladings kanselleer mekaar uit.

Waterstof met sy enkele proton het dus ook ’n enkele elektron wat daarom sweef. Helium het twee protone en twee elektrone, en koolstof het ses van elk. Uraan het 92 protone en 92 elektrone”. (Die Groot Gedagte, Gideon Joubert, bl 184, Tafelberg 1997 en 1998 Insig Prys vir Afrikaanse Nie-fiksie)

“Daai bring my by Boeta NP se Afrikaans virrie tyte van nou. Hy skiet soe hieoo in 1960 ’Voorwoord tot die opkoms van ons derde stand’: Wél het ek ’n innige begeerte – nee, ’n hartsogtelike wil – dat my volk, Blank en Bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan”. ³

Giliomee sê van NP van Wyk Louw: “Hy het sy hele hoërskool- en universiteitsopleiding hoofsaaklik in Engels ontvang, in 1934 lid van die Broederbond geword, was nie lus vir die Nasionaalsosialisme wat dit beïnvloed het nie en dit weer in die laat 30’tigers laat vaar. Hy was ’n digter en dramaturg van besondere formaat. As skrywer van essays oor die kultuurpolitiek het hy tot vandag geen gelyke nie. Die twee bundels essays Lojale verset en Berigte te velde wat in 1939 verskyn het, het lank ’n groot invloed op die Afrikaanse intellektuele debat uitgeoefen. Terselfdertyd het hy sy bydraes tot die Afrikaanse jeugtydskrif Die jongspan met groot erns benader en helder en indringende artikels oor die wêreldpolitiek geskryf” ² (bl 381).

Boeta J draai sy rug:

“Boeta NP se pa speel-kak oo bryn mense oppie stokkie; die pluimsaad het oekie rêrag innie politiek van sy tyd en gedagtes verdere as sy Afrikanervolk gewaai nie. Maa hy is nogal reg oorie messe van sy eie môre tien sy taal. Tien sy Afrikaans, en nie my Kaaps nie. My Kaaps was ’n moerstaal wat van slawerny deu apartheid tot nou allie pad die op vannie grond af gekhoeza het.” ³

Oor sy pluimsaad – Boeta NP was nederig oor sy Afrikanerskap, g’n heroïse heldhaftigheid teenoor ander nie.

Van messe gepraat, hoeveel is daar net nie, Boeta J?

“Maa wie se okapi’s stiek nou die diepste? Ôs s’n. Van ôs sit vi Standaardafrikaans net soes Ingels oppe wit klip en vihiemel it as dié tale met ’hoërordefunksies’. Soe hoeg en vê weg vannie grond lat ’standaarafrikaans’ starag wegvrek van hoogtesiekte. Soe hoeg dat ôs die grond ontstem. Ampe soes met Afrikaanse letterkunde en literatuur, as ôs ie nou vinnag beginte walgooi nie”. ³

Walgooi boeta J ... onder andere hierteen?

Wenners van die Arabies-Afrikaans-kompetisie bekend - Izak de Vries Menings 2020-12-04

“Op 3 Desember 2020 het die Afrikaanse Taalmonument en -museum tydens ’n herdenkingsbyeenkoms vir die vrylating van die slawe aan die Kaap die wenners aangekondig van die kompetisie om Afrikaans se Arabiese herkoms ¹  te vier”.

Tot nou toe, sover ek weet, is daar nie iemand wat ’n, sal ek sê, “akkolade” omhang aan diè feestelikheid nie.

Is Afrikaans in al sy fasette rêrig van Arabiese herkoms?

Ek wil ook die okapi nader trek en vermeld dat Kaaps na my oorkom as ’n kreolisering of afwyking van die basiese Afrikaanse struktuur.

In boeta NP se tweede konsep van Lojale verset skryf hy en dink ek ek kan veral die eerste sin van hierdie stelling op hulle aan die anderkant van die (taal)draad jukstaponeer:

“Die gevaar vir die intellektueles vandag is nie dat hulle ver van die volk af staan nie, maar dat hulle te veel binne in hom staan, deel van hom is, deurtrek is van sy vooroordele, sy waardes, daarop ingestel is om sy guns te verwerwe. Ons moet onwrikbaar glo dat daar waardes bokant die volk of die gemeenskap is, eers waardes soos liefde, gesondheid, spel, kragtige lewe – en om hierdie dinge te kan geniet sonder die verwyt van ander oë wat hulle nie besit nie; en dan waarheid en sosiale geregtigheid en skoonheid. En die beste wat ’n mens dus kan behou in hierdie geweldige tyd, is die klein kern van menslikheid..” ² (bl 382).

Soos reeds gesê, dis nie die Taal op sig self wat aanstoot gegee het (en volgens baie, nog gee) nie.                               

In my boek is Afrikaans in my hart, mý Taal, ek praat hom.

Soos Jan Rabie dit stel: “Sonder Afrikaans is ek niks.”

Raed-na-Gael

¹  Skuinsdruk myne

²  Aanhaling uit Die Afrikaner, Gilomee, Tafelberg, 2004.

³  Aanhalings in Kaaps - Gedenklesing, Rapport Weekliks, 21 Junie 2020.

Lees ook:

Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap

Wenners van die Arabies-Afrikaans-kompetisie bekend

 

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    My Fok Raed-na-gael, met fok uit Nederlands...
    As ek sou sê span die Fok en Fokker, sou Nederlandse matroos geweet dis seile.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Angus, duidelik het jy al klaar koloniale inslag daar in Natal en sing seker "God safe the queen?" Vir behoud van uitlandse "steaks en whiskey"?
    Nou ja, ons ploeter aan op onse stukkie grond....

  • Hans, nie alleenlik wil ek die queen safe nie, maar daar is sommer heelwat ander wat ek ook in 'n brandkluis wil indruk en die sleutel weggooi. Die Japannese steaks wat ek eet, is eg Suid-Afrikaans van die Vrystaat bestel, en die whiskey betaal ek met my eie geld. Natal is afgebrand; is daar nie so 'n plekkie vir my in Orania nie? Ek gaan Sondae kerk toe, maar die dominee weet ek glo nie 'n woord wat hy sê nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top