Kom plant ’n boom vir Afrikaans

  • 32

Foto: Pixabay

.......

Ek was nou die dag, taamlik teësinnig, weer deel van een van daardie “Sal Afrikaans oorleef?”-gesprekke. Dit is vir my interessant dat hierdie tipe gesprekke, wat oënskynlik steeds wyd en algemeen voorkom, dikwels oorlogsmetafore inspan. Dit gaan oor ’n taalstryd of daaroor dat ons moet veg vir die voortbestaan van die taal.

........

Ek was nou die dag, taamlik teësinnig, weer deel van een van daardie “Sal Afrikaans oorleef?”-gesprekke. Dit is vir my interessant dat hierdie tipe gesprekke, wat oënskynlik steeds wyd en algemeen voorkom, dikwels oorlogsmetafore inspan. Dit gaan oor ’n taalstryd of daaroor dat ons moet veg vir die voortbestaan van die taal.

Ek moet bely dat ek keelvol is vir sulke gesprekke.

Laat ek net ter aanvang duidelik maak dat elke spreker se verhouding met Afrikaans seker eiesoortig en uniek-persoonlik is. Ten dele word dit beïnvloed deur elke spreker se persoonlikheid en leefwêreld. As ’n bepaalde spreker dus homself/haarself, om welke rede ook al, geroepe voel om vir Afrikaans te veg, het ek daarteen nie in beginsel beswaar nie. Ek wil ook nie die rol wat my strydende taalgenote vir Afrikaans vervul, gering ag of verkleineer nie. Hulle het menige noodsaaklike en nodige bres vir Afrikaans geslaan. Ek kan in die finale instansie net uit my eie lewensbeskouing en staanplek praat. Vir my lyk dit, op die keper beskou, egter asof daar té veel van my taalgenote is wat glo dat stryd die beste of, erger nog, die enigste pad is wat daar bestaan. Stryd het oënskynlik, in die konteks van Afrikaans, ongelukkig, by verstek, die uitgangspunt geword.

........

Ek wil die taalstrydbyl nou vir eens en altyd begrawe en eerder ’n boom plant vir Afrikaans. ’n Inheemse boom. Dalk ’n outeniekwageelhout. ’n Kalander.

.........

Ek wil die taalstrydbyl nou vir eens en altyd begrawe en eerder ’n boom plant vir Afrikaans. ’n Inheemse boom. Dalk ’n outeniekwageelhout. ’n Kalander. Ek wil ’n dieperige gat grawe in Afrika se vrugbare aarde en die boompie staan maak in dié rooibruin grond. Op my eie manier wil ek die boompie voortdurend natlei deur my aksies. My hoop is dat die boom mettertyd sal groei en sy kroon sal span teen die hemel se wye blou boog. Dat dit die storms, reën en wind sal oorleef. Dat dit vasgeanker sal bly staan deur die snikhete-kurkdroë somers, dat voëls sal nesmaak in sy takke en mens in die somer in sy skadu se koelte sal kan sit. Miskien is ek dan nie eers meer hier nie. Maar dit maak nie saak nie.

Vir my is die antwoord, met eerste oogopslag en op die vlak van intuïsie, heel voor die hand liggend: Afrikaans sal gedy of sterf in die mond van haar sprekers. Dis werklik vir my so eenvoudig. Maar in dié stelling, ofskoon dit moontlik korrek is, lê daar ook die saad van onsekerheid en selfs verwarring. Dit is té generies, té gemeenskaplik, en dalk gewoon net té maklik.

Die waarheid is eerder dit: Afrikaans sal gedy of sterf in my mond. In die eerste plek is die natlei van die kalander wat Afrikaans is, mý verantwoordelikheid, vreugde en selfs plig. Daar sal hopelik ander wees wat die saak soortgelyk as ek beskou, maar ek durf nie my verantwoordelikheid afskuif op ’n naamlose kollektief nie. Dit sal nie deug nie. As almal verantwoordelik is, is niemand verantwoordelik nie.

........

Die waarheid is eerder dit: Afrikaans sal gedy of sterf in my mond. In die eerste plek is die natlei van die kalander wat Afrikaans is, mý verantwoordelikheid, vreugde en selfs plig. Daar sal hopelik ander wees wat die saak soortgelyk as ek beskou, maar ek durf nie my verantwoordelikheid afskuif op ’n naamlose kollektief nie. Dit sal nie deug nie. As almal verantwoordelik is, is niemand verantwoordelik nie.

..........

Afrikaans sal lewend, gesond en veerkragtig bly vir solank as wat ek Afrikaans (ten minste in my hoekie) praat met my familie, vriende en kollegas. Solank ek Afrikaans met my kind praat. Solank ek Afrikaans ondersteun en voortdurend daarmee bemoeienis maak. Gelukkig is dit ’n wilsbesluit en maklik vir my om te doen.

Enersyds omdat ek Afrikaans is. Ek hoef nie te veg om dit te word of te bly nie. Ek ís dit gewoon, dit is deel van my aard. Ek het niemand se toestemming of goedkeuring nodig vir my Afrikaans-wees nie. Dit is die taal waarin ek dink, die taal waarin ek droom. Dis die taal waarin ek bid, lief het, haat, hoop, huil, bly is, vier, musiek maak, kuns skep, ’n bestaan maak en leef. Saam met Amanda Strydom kan ek sê dat ook ek kan rock en amok maak in my taal. Ek weet nie hoe om al hierdie goed so volledig in ’n ander taal te doen nie. Afrikaans is deel van my, dit is onlosmaaklik verstrengel in my wêreldbeskouing. Miskien sou ek kon leer om dieselfde in ’n ander taal te doen, maar ek is bevrees, selfs al sou dit moontlik wees, raak die aanloopbaan vir my om dit nou te leer doen gewoon te kort.

Andersyds lê Afrikaans, vir soveel jare al, gemaklik op my tong. Dis amper soos ’n goedpassende en geliefde kledingstukke of ’n paar goed-ingeloopte skoene. Afrikaans is wyd genoeg om my leefwêreld te omvat, te verwoord, te verduidelik, uit te druk, te benoem. Afrikaans is wyd genoeg dat ek vrylik daarin kan asemhaal. Ek vind altyd weer ’n manier waarop ek ’n gebeurtenis of ’n droom in Afrikaans opnuut onder taal kan bring.

Afrikaans is ’n breë kerk. Soos wat dit met die Vaderhuis is, is dit ook met Afrikaans – dis ’n huis met baie wonings. Afrikaans behoort aan almal wat haar praat. Sy bewoon en bewandel die monde van haar sprekers. Ek het nog altyd gemeen dat die taal nooit as ’n swaard gebruik moet word wat uitsluit, verwond of verdeel nie. Veel eerder moet die taal, as dit dan iets moet wees, ’n skild wees. Eerder as om laer te trek rondom die taal moet ons juis die taal oopmaak, bevry en blootstelling gee. Afrikaans moet dalk gereeld belug word. Ek wil ’n goeie ambassadeur en advertensie vir Afrikaans wees. Ek wil ’n ligdraer vir haar wees. Ek wil haar saad wyd en syd saai. Ek wil mense blootstel aan haar skoonheid, aan haar vermoë om raak te vat, raak te sê. En vir hulle wys dat hulle niks van haar hoef te vrees nie, dat sy (en die meeste van haar sprekers) oor die algemeen goedgesind, gesellig en welwillend is. Ek wil nie Afrikaans vir myself hou nie, ek wil haar eerder so wyd deel as waartoe ek in staat is.

Ek gun elke mens dieselfde liefde en passie vir hulle taal as wat ek myself verwerdig. As hulle passievol is oor hulle taal, verstaan ek dit goed, want ek is passievol oor my taal. Ek is gedagtig daaraan dat die gedwonge gebruik van Afrikaans vroeër verwond en seergemaak het. Ek is jammer hieroor. Ek is sensitief hiervoor. Ek sal nie my taal in enigiemand se keel af probeer forseer of my waarheid aan enigiemand wreek nie. Ek sal almal, maar in besonder hulle wat daardeur verwond is, eerder met eer, respek en sagtheid probeer oorwen deur my liefde vir Afrikaans. As dit nie werk nie, sal ek gewoon gebalanseerd Afrikaans wees en bly. Ek hoop Afrikaans sal haar stem vind, haar plek volstaan, en dat haar toekoms helderder sal wees as haar onlangse verlede. Ek hoop haar toekoms is vry van beperkinge.

Dit is, in hoofsaak en kortweg, hoe ek my verantwoordelikheid teenoor Afrikaans sien en beleef. Dalk was Van Wyk Louw reg toe hy gesê het dat ons taak lê in die gebruik wat ons maak en sal maak van hierdie glansende werktuig wat Afrikaans is.

Sal jy saam met my die strydbyl begrawe en eerder ’n boompie van jou eie vir Afrikaans plant? Wees tog gedagtig daaraan dat jy, soos ek, ’n ambassadeur is vir hierdie taal, ’n advertensie. Laat jou aksies dit weerspieël en gestalte daaraan gee. Wees oordeelkundig-wys; laat jou woorde en jou dade waterstrome word wat lewe bring en wat jou boompie natlei en laat groei. Daar is genadiglik plek vir baie verskillende bome onder die Afrika-son.

Lees ook:

Afrikaans as a language of reconciliation, restitution and nation-building

A vision for Afrikaans

  • 32

Kommentaar

  • Avatar
    Calvyn Hamman

    Uitstekende skrywe! Ons moet elkeen ons taal praat, sing, dig daarin en elke dag lééf!

  • Avatar
    Danie Dorfling

    Jy vat raak Willem! Afrikaans leef op die tong en in die pen van elkeen wat dit gebruik. Kom ons plant daardie kalander in ons voortuin wat ons elke dag bewandel.

  • Avatar
    Marius Kilian

    Wat 'n wonderlike perspektief! Dit is werklik 'n bemagtigende benadering vol eenvoudige, maar kragtige wysheid. Afrikaans gedy in ons harte, gedagtes en woorde. Dankie vir hierdie tydige kommentaar Willem.

  • Avatar
    Gerhard Du Toit

    Willem maak n baie belangrike punt hier: Totdat Afrikaans nie los kom van die taal van die onderdrukker/onderdrukte en baas/kneg wat heeltyd moet veg vir oorlewing nie, en transformeer 'n taal wat net “is” nie, sal die bagasie van sy slawe en onderdrukker hom/haar bly versmoor en tipeer.

  • Beautiful piece, especially for those of us who live abroad. Encouraging to continue speaking Afrikaans even if our children speak it through symbols (lief -- they remember as 'leaf') and broken fragments of understanding (very familiar with - 'My magtig!' - that's code for 'mommy is really upset'). Lekker om nog my Pierneef-boompie te groei, al het die lewe my na die Colorado Rockies toe gelei. Wonderlike boodskap, dit laat vir my aan die woorde 'hoop' en 'blymoedigheid' dink, die asem van Afrikaans.

  • Avatar
    Riaan Esterhuyse

    Willem, jy het die bal mooi raakgevat en inderdaad 'n wendrie gaan druk. Ons sukses as Afrikaanse mense is inderdaad om dit te praat. Dit is net deur Afrikaans te praat dat ons (die bal) vir geslagte hierna aangee om ook wendrieë te gaan druk. Willem, dankie vir jou bydrae tot Afrikaans en die wyse waarop jy dit doen - dit bemoedig en versterk.

  • Baie dankie, Willem, vir jou verfrissende perspektief wat mens intrek in jou persoonlike verhouding met Afrikaans en vir 'n oomblik laat vergeet van die nodigheid om te baklei vir Afrikaans.

  • Uitstekende siening en skryfwerk, Willem! As jong Afrikaner moedig jou skryfwerk my aan om my boompie goed gewater te hou!

  • Avatar
    Ronelle Rademeyer

    Solank as wat daar mense is wat so passievol met ons mooie moedertaal omgaan soos jy, Willem, sal sy gedy. Jou essay/meningstuk is 'n vars bries, en jou insig betekenisvol.

  • Avatar
    Melanie Thiart

    Uitstekende skrywe, Willem! Ons kan trots daarop wees om Afrikaners te wees. Ons het die mooiste, mooiste taal.

  • Fantasties geskryf, Willem! Mag meer mense Afrikaans vanuit jou perspektief sien. Ek plant ook ‘n boom vir My Taal!

  • En so is ons gewoond daaraan dat Afrikaans gereeld deur die gesin geklap word en dan maar gedwee die ander wang draai.

    Soos die kreef, hy raak mos gewoond daaraan.

  • Hoe ongelooflik mooi gestel! Ek is dol oor die idee dat ons taal insluitend moet wees en dat enige iemand wat ook droom en leef in die taal welkom is! Ons hoef nie te baklei vir ons taal nie, ons hoef dit net te praat en met oorgawe te geniet.

    Willem, jou vermoë om jou gedagtes in Afrikaans uit te spreek is inspirerend. Jou poësie en musiek los my verstom en vol hoop. Wel gedaan!

  • Welgedaan Willem. Jy kyk mooi na jou Kalander. Hy gee al lekker koelte en nesmaakplek. Hy skiet saad my maat! Kyk net al die klein boompies wat jy klaar geplant het.

  • Diep woorde reg uit die hart, Willem! Ons plant saam met jou die Kalander, lei haar nat, en oes haar vrugte!

  • Avatar
    Kobus Visagie

    Saam met jou Willem de Swyger
    Plant ek 'n boom in ons straat
    Saam met jou, Willem die Kryger
    Vier ek die Taal wat ons praat
    Jou insig en wysheid my Vriend
    Stig vrede in klakkeloos debat
    En amper geheel en ongesiend
    Bewaar jy so ons kosbare skat.

    Baie mooi verwoord my Vriend!

  • Avatar
    Johannes Hamman

    Willem, soos jy weet deel ek jou standpunt. Ek praat en skryf so veel moontlik IN Afrikaans, en so min as moontlik OOR Afrikaans. Nou in verband met my boom: Ek plant en maak nat, maar God laat groei.

  • Ja nee, hierdie woordeboekskrywers, onderwysers, dosente ens. wat so baie moeite doen om hierdie boompie so te snoei... te keer om ‘natuurlik’ te groei. Laat Afrikaans eerder organies groei sonder instansies! Kom ons kyk hoe draai dit uit (ignoreer gerus wat met ander tale gebeur wat hierdie roete volg).

  • Avatar
    Hans Richardt

    Interresant, maar nikseggend.
    In Orania plant ons vele bome vir Afrikaans, maar dis nie goed genoeg vir Bolanders se "woke" idees nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top