Momentum Beleggings Aardklop 2024: Nabetragting – ’n huldeblyk aan twee legendes

  • 0

Amanda Strydom in Hoe ons voel en Jakkie Louw in Koos Doep, die redakteur by Momentum Beleggings Aardklop 2024. Foto’s via aardklop.co.za

Met Aardklop hierdie jaar het ek die voorreg gehad om twee produksies te sien wat aan twee van Afrikaans se grootste musieklegendes hulde bring: Koos du Plessis en Ralph Rabie, beter bekend as Johannes Kerkorrel. Albei produksies het gefokus op die lewens van hierdie ikone, hul tragiese afsterwe en die tydlose nalatenskap van hul musiek op die Suid-Afrikaanse kultuurlandskap. Tog was my belewing van hierdie onderskeie stukke wêrelde uitmekaar.

Die eerste vertoning, Koos Doep, die redakteur, was ’n eenmanvertoning deur die sanger Jakkie Louw. Alhoewel ek baie hoopvol was toe ek die kaartjies aangeskaf het, het die vertoning ongelukkig nie aan my hemelhoë verwagting voldoen nie. Uit die staanspoor het die kunstenaar die teks afgelees, wat ’n afstand tussen hom en die gehoor geskep het. Hoewel sy eie verwerkings van Koos du Plessis se liedjies seker bedoel was om nuwe lewe aan dié treffers te gee, het die veranderinge aan die melodie en die lirieke my vervreem. In plaas daarvan om waarde by die vertoning te voeg, het hierdie veranderinge afbreuk gedoen aan die siel van Koos se musiek.

........
Hoewel sy eie verwerkings van Koos du Plessis se liedjies seker bedoel was om nuwe lewe aan dié treffers te gee, het die veranderinge aan die melodie en die lirieke my vervreem. In plaas daarvan om waarde by die vertoning te voeg, het hierdie veranderinge afbreuk gedoen aan die siel van Koos se musiek.
........

Hier moet ek erken dat ek met groot liefde vir Koos du Plessis se musiek grootgeword het. Sy plate, tapes en later CD’s was deel van die klankbaan van my kinderjare. Ons het “Herbergier” en “As almal ver is” heelpad see toe en terug geluister. In 2012 het ek Erfdeel aangeskaf en in een aand verslind. Miskien het hierdie persoonlike band met sy musiek my oordeel oor Jakkie Louw se vertoning beïnvloed, maar vir my het dit nie reg laat geskied aan Koos se nalatenskap nie.

Die tweede produksie was Amanda Strydom se Hoe ons voel. Hier was ek van die begin af emosioneel betrokke, selfs nog voordat Amanda die verhoog betree het. Haar vertelling, wat sy deur ’n brief aan haar oorlede vriend Ralph aangebied het, het die hele saal geraak. Dit het my herinner aan iets wat PG du Plessis tydens my derdejaar-skryfkunsklasse gesê het: “Om ’n gehoor emosioneel te betrek, moet jy hulle laat huil. Om hulle te laat huil, moet jy hulle eers laat lag.” Amanda het meesterlik hierin geslaag. Sy het die gehoor nie net laat lag nie, maar ook laat huil. Haar sielvolle vertolkings van Kerkorrel se treffers, wat deur die jare volksbesit geword het, het my ’n hele pakkie snesies laat deurwerk.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat hierdie nie ’n resensie van die twee produksies is nie, maar ’n besinning oor waarom ek dink die twee produksies my so verskillend geraak het. Amanda Strydom het vir Ralph geken. Haar liefde en respek vir hom as mens en kunstenaar was tasbaar in elke woord en elke gebaar. Hierdie persoonlike verbintenis het haar vertoning ’n unieke emosionele diepte gegee wat vir my as toeskouer onmiskenbaar was.

.......
Verder het Amanda se jare lange ervaring op die verhoog haar beslis ’n voordeel gegee. Sy is ’n meester in haar kuns, ‘n sanger en toneelspeler wat verstaan hoe belangrik die gehoor se ervaring vir die oorlewing van die teater is
.......

Verder het Amanda se jare lange ervaring op die verhoog haar beslis ’n voordeel gegee. Sy is ’n meester in haar kuns, ‘n sanger en toneelspeler wat verstaan hoe belangrik die gehoor se ervaring vir die oorlewing van die teater is. Haar vermoë om emosionele nabyheid te skep het haar produksie van Ralph Rabie se lewe en musiek ’n aangrypende ervaring gemaak.

Jakkie Louw is ook ’n bekwame kunstenaar, maar sy vertoning het nie dieselfde impak op my gehad nie. Miskien lê die verskil in die persoonlike verhouding wat Amanda met Ralph gedeel het – ’n element wat sy met die gehoor kon deel op ’n manier wat mens nie self kan uitdink nie.

Aardklop het weer gewys hoe diep Afrikaanse musiek in ons kulturele bewussyn ingebed is. Koos du Plessis en Ralph Rabie het vir altyd hul merk op ons gelaat, en al was die ervaring van die stories van hul lewe verskillend, het albei produksies my herinner aan die blywende krag van hul musiek.

Lees ook:

Aardklop: die hartsfees wat nog altyd klop met betowering en uiteenlopendheid

Cliff-hanger: "Afrikaanse boeke is net so goed soos Engelse boeke"

Momentum Beleggings Aardklop 2024: Laaitie mettie biscuits, ’n kort resensie

Momentum Beleggings Aardklop 2024: Reünie, ’n kort resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top