
Amanda Strydom tree op in The incredible journey of Tinkerbell van Tonder by Momentum Aardklop hierdie jaar. (Foto: www.aardklop.co.za)
Yolanda du Toit vra vir Amanda Strydom oor Amanda se optrede in The incredible journey of Tinkerbell van Tonder – binnekort by Aardklop.
Amanda, jy vertel as Nella Petersen die aangrypende storie van ’n meisie met ’n groot naam, Isabella Dolorosa van Tonder. Jy vertolk verskeie karakters in die mini-musiekblyspel. Kan jy ons meer vertel van die karakters, asook waaroor die produksie handel?
Dis die storie van ’n weeskind, Isabella Dolorosa van Tonder (maar haar ouma het haar Tinkerbell genoem), se soeke na ’n tuiste, na haar komvandaan, haar ontdekking van haar eie mense se geskiedenis op ’n reis vol kinkels en kabels en magiese gebeure. My karakter, Nella Petersen, was in beheer van die kombuis by die Toevlugsoord Kinderhuis waar Tinkerbell beland het na haar ouers en haar ouma oorlede is. Nella het die kind onder haar vlerk geneem en vertel die ongelooflike verhaal van Tinkerbell se reis deur die lewe. En nou mag ek nie verder vertel nie ...
Hoe verskil ’n mini-musiekblyspel van ’n gewone musiekblyspel?
Dis net ek en my pianis, Coenraad Rall, op die verhoog. Ek vertel ’n storie en weef dit saam met musiek. ’n Musiekblyspel het ’n groot geselskap en orkes.
Hoe het dit gebeur dat die teks verwerk is vir ’n musiekblyspel? En vertel ook hoe jy en Coenraad Rall se paaie gekruis het?
Die teks was van die begin af geskryf met liedjies tussenin. Dit is nie verwerk om ’n musiekblyspel te word nie. Ek skryf al my eenvrouvertonings so. Coenraad was die verhoogbestuurder vir die toneelstuk Voor ek vergeet, met my en Hannes van Wyk in 2012. In daardie jaar het my vaste pianis van bykans 18 jaar, Janine Neethling, en haar man, Deon Opperman, na Onrus verhuis. Ek was verlore sonder haar en kon nie dink aan iemand wat haar skoene sou kon vul nie. Toe noem Hannes een dag dat ek moet onthou dat Coenraad eintlik ’n pianis is. Ek het vir Coenraad ’n boodskap gestuur en gevra of hy bereid sou wees om vir my te speel. Net ’n paar sekondes daarna kom sy antwoord: “Ja, Miss Mandy, ja!” Die res is geskiedenis. 😊
Die produksie is bekroon met die Woordtrofee vir beste prestasie in kontemporêre musiekteater by 2024 se Woordfees. Het julle twee al vantevore saamgewerk?
Sien antwoord hierbo – ons werk vanjaar al 13 jaar saam en het al ’n horde musiekproduksies saam aangebied.
.......
Minder is meer. Dis ook baie makliker om te toer met net ’n paar goed. Die storie is die belangrikste. My gunstelingaspek is die uitvoering daarvan.
.......
Behalwe die vertolkings, is jy ook vir die teks, regie en stelontwerp verantwoordelik. Hoe uitdagend vind jy dit om by soveel aspekte betrokke te wees? Wat sou jy sê is jou persoonlike gunstelingaspek hiervan?
Die skryf van die teks is die belangrikste; dis die fondasie, dit neem die langste en voel soms asof ek turksvye kraam, maar as die teks eers geslyp is en die musiek wat dit bind gekies is, kom die res maklik. Ek kies altyd eenvoud – soms net ’n stoel, ’n tafeltjie en ’n kapstok, of soms net ’n kroegstoeltjie. Minder is meer. Dis ook baie makliker om te toer met net ’n paar goed. Die storie is die belangrikste. My gunstelingaspek is die uitvoering daarvan.
Daar is verskeie teksmedewerkers: Ismail Mahomed, Frazer Barry, Jacques Avril du Toit, Ilse Klink en Saartjie Botha. Hoe word die hele proses verweef tot ’n produksie waar jy die enigste verteller op die verhoog is?
........
Die karakters ontlok ’n deernis – ons is almal gelyk en het stories te vertelle wat ander mense nie ken nie.
.......
Ek het hierdie stuk geskryf in 1995, vir die opening van die heel eerste KKNK. Dit is 30 jaar gelede. Ek het dit nie weer opgevoer nadat iemand vir my gesê het dis nie polities korrek vir ’n wit vrou om ’n bruin vrou te vertolk nie. Coenraad en Saartjie Botha het twee jaar gelede begin karring dat ek dit weer moes opvoer. Ek was eers huiwerig; al die wokeness deesdae het my laat twyfel. Toe stuur ek die teks vir Ismail, Frazer en Jacques. Ismail is ’n Indiër, Frazer en Jacques is bruin – al drie hierdie mans is bekend en briljant in hulle onderskeie beroepe en het nie geskroom om vir my terugvoer te gee nie. Dit was só positief en ek het vir Frazer gevra om my ook Khoisan-woorde te leer. Hy het gehelp en so het ek die teks uitgebrei. Jacques het, tipies akademikus, die teks gemerk by woorde waar ek tog so polities korrek wou wees en dit vervang met regte Kaaps. Soos “meire” in plaas van “meisies”, soos ek aanvanklik geskryf het. Ismail se terugvoer was wonderlik. Hy gesê dat hierdie stuk ons bruin bevolking eer en in die lig plaas. Nêrens in die stuk word daar ’n bespotting gemaak nie. Die karakters ontlok ’n deernis – ons is almal gelyk en het stories te vertelle wat ander mense nie ken nie. Ek het Ilse Klink een oggend genooi vir koffie en die hele stuk vir haar op die stoep opgevoer. Sy het gelag, gehuil, was diep ontroerd en het my verseker dat ek nie vir ’n sekonde moet twyfel om dit op te voer nie. Al hierdie mense het my oortuig dat ek op die regte pad is en daarvoor is ek só dankbaar. En Saartjie se gekarring het toe mooi en lekker vrugte afgewerp – ek kan haar nie genoeg bedank nie.
Wat spesifiek van hierdie produksie het jou aangegryp om dit tot uitvoer te bring?
Dis geskryf vir elke mens se soeke na identiteit; elke verlore, vergete mens wat al deur hel is in hulle lewe. Dit gaan oor oorlewing en hoop en oplaas tuiskoms.
........
Alles in hierdie stuk is vir my heerlik. Ek kan regtig nie hoogtepunte uitsonder nie. Die gehoor moet van begin tot einde vasgenael wees. Dit lê in my hande as verteller om hulle vasgenael te hou. Daar is diep ontroerende én skreeusnaakse oomblikke in die stuk – dis mos maar hoe die lewe is.
........
Wat is die hoogtepunt vir jou? Enige dele wat jy as moeilik in hierdie produksie ervaar?
Alles in hierdie stuk is vir my heerlik. Ek kan regtig nie hoogtepunte uitsonder nie. Die gehoor moet van begin tot einde vasgenael wees. Dit lê in my hande as verteller om hulle vasgenael te hou. Daar is diep ontroerende én skreeusnaakse oomblikke in die stuk – dis mos maar hoe die lewe is. Soos Nella sê: “Die lewe gaan sy pad met jou loop. Wie’s jy nou om die transport te question?”
Is dit makliker/moeiliker om in ’n toneelstuk met jou as die enigste vertolker te speel? Hoe verskil dit van sing – waar jy ook alleen voor die gehoor staan, net jy en jou stem?
Ek is eerstens aktrise (het my BA-graad in Drama aan Tukkies verwerf), ’n sanger (ek het geen sangopleiding nie en kan nie note lees of skryf nie) en ’n skrywer. Daarom is kabaret die perfekte platform vir my – ek kan al hierdie vaardighede gebruik. Ek staan nooit net en sing nie, ek bind altyd my musiekproduksies met poësie of kort stories. Dis uiteraard vir my heerlik om ’n rol te vertolk én te kan sing. Beide is vir my om ’t ewe.
Dink jy die gehoor gaan maklik met die produksie kan identifiseer? Of is dit die soort produksie wat eerder die gehoor sal laat nadink as wat hulle gaan identifiseer?
Ek glo daar is ’n kind in elkeen van ons. ’n Kind hou van stories wat hulle wegvoer na ’n ander wêreld in die verbeelding. Ek hoop die produksie sal die gehoor laat identifiseer én nadink. Dit was tot dusver die reaksie by elke vorige opvoering van Tinkerbell.
Lees ook:
Momentum Beleggings Aardklop 2024: Nabetragting – ’n huldeblyk aan twee legendes
Aardklop: die hartsfees wat nog altyd klop met betowering en uiteenlopendheid
Persverklaring: Momentum Aardklop stel sy program vir 2025 bekend

