Persverklaring: Momentum Aardklop stel sy program vir 2025 bekend

  • 0


Feesprogram 2025

Die Aardklop-kunstefees spog vanjaar met ’n nuwe naamborg. Die vorige naamborg was Momentum Beleggings, maar die fees staan nou as net Momentum Aardklop bekend. Die naamsverandering is ’n bewys van die vertroue wat die Momentum Groep stel in dié fees, wat as’t ware die laaste jare soos ’n feniks uit die as verrys het.

“Aardklop het momentum opgebou gedurende hierdie laaste drie jaar en met hierdie nuwe verwikkeling gaan Momentum Aardklop net daarop voortbou,” sê Franzö Friedrich, bemarkingshoof van Momentum Beleggings. “Ons sien uit daarna om ons kollegas aan almal hier voor te stel gedurende die fees en te bou op die diep verhoudings wat reeds bestaan.”

Die fees, wat vanjaar van 7–12 Oktober (Feesterrein 7–11 Oktober) oudergewoonte in Potchefstroom plaasvind, het pas sy program vir 2025 bekend gestel, en te oordeel aan die inhoud daarvan, klop Momentum Aardklop se kunstehart sommer baie sterk. Daar is komedie, drama, tragikomedie, musiek in bykans elke denkbare genre van klassiek tot voetestamp, en vermaak vir die jonger geslag. Daar is gesprekke, laatnagkuiers, kos te kus en te keur, tienertoneel, rondleidings en boeke vir Afrika. Daar is legendariese name, en nuwe name waarvan kennis geneem moet word. Daar word teruggekyk en vereer, en vorentoe gekyk en geïnnoveer.

Charl du Plessis Trio: Bach & Beatles (foto: verskaf)

Vanjaar se tema is #DieKunsVanFees, en dit is presies wat feesgangers te wagte kan wees: Feesvier wat tot ’n kunsvorm verhef is, soos net die span by Momentum Aardklop kan. Saam met natuurlik lojale gehore wat jaar ná jaar terugkeer – ’n mens kan amper sê hulle is ’n “KUNSTErnasie”.

“Dis die jaar van Momentum Aardklop 2025, die jaar van gróót KUNSskierigheid oor wat ons gaan aanvang en aanvuur!” sê Alexa Strachan, die feesdirekteur.

Sy lig ook enkele programhoogtepunte uit.

“Nataniël en Charl du Plessis is só KUNSdriftig hieroor dat hulle spesiaal vir ons NATANIËL + CHARL: 25 skep.

Boesman en Lena met Lee-Ann van Rooi, Brendon Daniels en Wiseman Sithole (foto: verskaf)

“Dis ook die jaar waartydens ons gepas hulde bring aan van Suid-Afrika se grootste dramaturge en digters. Athol Fugard is in Maart in die ouderdom van 92 oorlede. Sy ikoniese Boesman en Lena is in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim. Dit is ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige, en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. Met Lee-Ann van Rooi, Brendon Daniels en Wiseman Sithole. Christo Davids as regisseur volg sy veelbekroonde Laaitie mettie biscuits met hierdie debuutproduksie op.

Rolanda Marais in Belofte van vere (foto: verskaf)

“Die geliefde Breyten Breytenbach word gevier in ’n musiekteaterdebuut, Belofte van vere. Ook aan die woord, by wyse van spreke, is sy dogter, Daphnée Breytenbach, in gesprek met haar pa. Dit is ’n intieme blik op die verhouding tussen ’n pa en dogter, te midde van al die verwikkeldheid rondom sy wêreldwye roem, berugtheid, aktivisme en taaldebatte. Met onder andere Rolanda Marais, Ilse Klink, Schalk Joubert, David Klassen, Leon Gropp en Laurinda Hofmeyr. Anna Davel is die artistieke regisseur, met spelleiding deur Philip Rademeyer.

Droomsindroom (foto: verskaf)

“Soos altyd is daar ook allerlei nuwighede, soos Charl du Plessis se Surf & turf, ’n vergrote aanbod vir kinders, vanaf meer kinderteater tot die LAPA-LEKKERlees-minuut by die kinder-area op die feesterrein.

“En dan moet mens seker die minder geesdriftige (manlike?) kunstefeesganger ook naderhark. Ons nuwe motorsportgesprekke met onder andere Voetspore se Johan Badenhorst en renjaer Paige Lindenberg (wat sommer die opvattings oor vrouens se bedenklike bestuursvermoë verkeerd bewys) behoort die ding te doen!

Heuwels Fantasties (foto: verskaf)

“En vir die feesterreingangers: Julle kan uitsien na onder andere Elandré, Die Heuwels Fantasties, Bernice West, Prime Circle en Die Piesangskille. Ricus Nel kom deel ’n hardekool, so laat die feesvure hoog brand! En onthou: wees liefs ’n Early B, en koop jou kaartjies gou.

“Sien jou by Momentum Aardklop, want niémand fees wat óns fees nie!”

Ter afsluiting moedig ons feesgangers aan om die program op die webblad by aardklop.co.za te bestudeer en te begin lysies maak van wat gesien moet word. Kaartjies word vanjaar deur Webtickets verkoop. Hartsvriende en plaaslike Potchefstroom-inwoners kan vandag (13 Junie 2025) begin kaartjies koop, terwyl kaartjieverkope vir die algemene publiek op Maandag 16 Junie open.

Gaan na die feesprogram.

Momentum Aardklop | 7–12 Oktober 2025

Webblad: aardklop.co.za
Facebook: Aardklop Nasionale Kunstefees
Instagram: @aardklopkunstefees
#DieKunsVanFees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top