Persverklaring: Momentum Aardklop kyk terug en vereer ...

  • 0

Die program vir 2025 se Momentum Aardklop-fees, #DieKunsVanFees, is pas bekendgestel. Vanjaar word daar hulde gebring aan twee groot geeste in die Suid-Afrikaanse kunste wat ons albei onlangs verlaat het, naamlik Breyten Breytenbach en Athol Fugard, met opnames van Breyten se eie voorlesings, ’n keur van sy gewilde gedigte, sowel as besondere toonsettings, waarvan sommige nuut en ander nuwe verwerking is. Ook aan die woord, by wyse van spreke, is sy dogter, Daphnée Breytenbach, in gesprek met haar pa – aan die hand van haar voorlesing vroeër vanjaar by die huldigingsbyeenkoms by die Breytenbach-sentrum in Wellington.

Van SA se voorste kunstenaars (onder andere Rolanda Marais, Ilse Klink, Schalk Joubert en Laurinda Hofmeyr) nooi die gehoor saam op reis om die beste te beleef van Breyten – die allemansdigter wat tot die menigte kon spreek in gedigte soos “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif”, “Mag die bome groen bly” en “Slaap klein beminde”. Ondanks al die verwikkeldheid rondom sy wêreldwye roem (en sommige sal sê omstredenheid) en aktivisme, is Belofte van vere in diepste wese ’n intieme blik op die verhouding tussen ’n pa en dogter. Die artistieke regisseur is die bekroonde Anna Davel.

Verwelkingslied is weer die laaste toneelstuk uit Breytenbach se pen, en is kort voor sy dood verlede jaar voltooi. Die veteraan-akteur Dawid Minnaar vertolk die rol van Breyten, wat in hierdie produksie homself by sy eie begrafnis voorstel. (Ouer teatergangers sal onthou dat Minnaar ook in die hoofrol van Breyten se heel eerste toneelstuk, Boklied, te sien was, wat in 1998 by die KKNK debuteer het. Dit is daarom gepas dat hy ook hier die hoofrol vertolk.) In Verwelkingslied tree in gesprek met ’n ouer verhoogaktrise (Antoinette Kellermann). Die gesprek is sowel bewussyn-verruimend as intiem. Die meester wil vir oulaas álles opweeg, maar die vraag is: kan die aktrise sy laaste woorde na waarde vertolk?

Die regie is behartig deur Marí Borstlap, en is ’n koproduksie tussen Momentum Aardklop en die Suidoosterfees. Dit het in April in die Kunstekaap-teater in Kaapstad debuteer, tot groot lof van kritici.

Dan is die bekroonde Athol Fugard ook oorlede – in Maart vanjaar in die ouderdom van 92 jaar.

“Sy ikoniese Boesman en Lena is in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim,” sê Alexa Strachan, die feesdirekteur. “Dit is ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige, en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. Christo Davids as regisseur volg sy veelbekroonde Laaitie mettie biscuits met hierdie debuutproduksie op.”

Die rolle word vertolk deur Lee-Ann van Rooi, Brendon Daniels en Wiseman Sithole.

... en kyk vorentoe en innoveer

“Dis van gróót KUNSskierigheid oor wat Momentum Aardklop gaan aanvang en aanvuur!” sê Strachan in ’n mediaverklaring. “Nataniël en Charl du Plessis is só KUNSdriftig hieroor dat hulle spesiaal vir ons die produksie Nataniël + Charl: 25 skep.”

Die geliefde Nataniël is volksbesit – en al so te sê ’n instelling by Aardklop, en vanjaar is geen uitsondering nie. Sanger en storieverteller Nataniël en die pianis Charl du Plessis lewer vanjaar twee galakonserte van Nataniël + Charl: 25 by Momentum Aardklop. Hiermee vier hulle nie net die afgelope kwarteeu se mylpale nie, maar wys hoe die toekoms lyk en klink, waarmee hulle tans besig is, kyk na mekaar se individuele projekte, gee ’n blik op die jaar se nuutste uitreikings en bring ook splinternuwe stories, musiek en kostuums. Dié produksie is eenvoudig onmisbaar.

Besoek aardklop.co.za vir meer inligting en die volledige feesprogram. Kaartjies vir Momentum Aardklop 2025 word vanjaar deur Webtickets verkoop.

Individuele besonderhede:

Belofte van vere
Totiussaal
Datums en tye: 7 Okt. 10:30, 8 Okt. 14:00, 9 Okt. 13:00, 10 Okt. 16:00, 11 Okt. 10:00.
Kaartjies: R200, R180 (Hartsvriende)
Tydsduur: 80 min.
Ouderdomsperk: ouerbegeleiding 

Verwelkingslied
Elgro Hotelsaal
Datums en tye: 7 Okt. 09:30, 8 Okt. 19:30, 9 Okt. 09:30, 10 Okt. 14:00, 11 Okt. 14:30.
Kaartjies: R220, R200 (Hartsvriende)
Tydsduur: 80 min.
Ouderdomsperk: Geen o.12 (ouerbegeleiding)

Boesman en Lena
Elgro Hotelsaal
Datums en tye: 7 Okt. 19:30; 8 Okt. 09:30, 9 Okt. 14:00, 10 Okt. 19:30, 11 Okt. 09:30.
Kaartjies: R220, R200 (Hartsvriende)
Tydsduur: 85 min.
Ouderdomsbeperking: geen o.14

Nataniël + Charl: 25
Ouditorium
Datums en tye: 7 Okt. 19:00, 8 Okt. 10:00
Kaartjies: R300, R280 (Hartsvriende)
Tydsduur: 90 min.
Ouderdomsperk: geen o.14

Momentum Aardklop
7-12 Oktober
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top