
Amore Bekker (foto: aardklop.co.za)
Yolanda du Toit praat met Amore Bekker oor die produksie Bacchus tot Bekker, wat binnekort by Momentum Aardklop 2025 op die planke is.
Amore, van (radio-) persoonlikheid tot (televisie-) produksies, skrywer tot seremoniemeester en nou te sien by Aardklop in die produksie Bacchus tot Bekker. Jy het vele talente! Hoe het jy aan dié idee gekom?
Ek het 40 jaar gelede BA Drama studeer aan die PUK en kon nog nooit ’n oudisie slaag as aktrise nie. Toe besluit ek, ek gaan my eie “drama” skryf, en die hoofrol vertolk! Ek het teatervervaardigers van Leftfoot Productions gaan sien. Ons het ’n dinkskrum gehou en besluit op wyn as ’n tema.
Hoe het jy jou navorsing gedoen en verwerk tot ’n bekkige produksie?
Dit was ’n helse uitdaging. Ek het nie geweet of ek ’n drama of ’n dokumentêr of ’n tragedie of komedie moet skryf nie. Ek het begin navorsing doen en op die wonderlikste inligting afgekom. Daar was so baie inspirasie! Byvoorbeeld, ek sit een aand die TV aan en die historikus, Hermann Giliomee, seg dat daar teen 1700 al vyf swart wynboere in Jonkershoek was. Tussendeur seg Tobie net heeltyd vir my: “Amore, bly net bekkig!”
Wat is die uitdagings tussen ’n gehoor op radio en ’n gehoor op die verhoog?
’n Radiogehoor kan gedurig insette lewer en jou ook vinnig via sosiale media kapittel. Die applous van ’n teatergehoor is baie lekker, maar hulle laat jou gou weet as hulle verveeld is, of ongemaklik is. Byvoorbeeld, ’n gehoorlid het verlede week in die voorste ry tydens ’n vertoning haar foon uitgeruk en begin Solitaire speel.
Waarna kan die gehoor uitsien?
Daar is geen gewroeg in die vertoning nie. Dit is vrolik, informatief, ironies en gevul met ’n bietjie patos. Ek doen ’n ritueel op die verhoog wat nog by geen konsert al ooit in Suid-Afrika gedoen is nie.
........
Daar is geen gewroeg in die vertoning nie. Dit is vrolik, informatief, ironies en gevul met ’n bietjie patos. Ek doen ’n ritueel op die verhoog wat nog by geen konsert al ooit in Suid-Afrika gedoen is nie.
........
Is jy ’n wynkenner of -liefhebber dat jy op dié onderwerp besluit het?
Johan van der Merwe van Leftfoot Productions het gekom met die idee. Dit het onmiddellik met my geresoneer, want ek het in die Boland grootgeword en is vroeg al blootgestel aan die lekkerte van wyn.
Jy is verantwoordelik vir die teks, maar die produksie spog onder meer met regie van Tobie Cronje. Waar kom jy aan die idees vir jou kwinkslae?
Yolanda, ek lewe ook nou al lank en het al baie alternatiewe ervarings gehad. Ek het baie vry grootgeword, baie gelees, gereis, gelag en getjank. Tobie is seker die ordentlikste mens met wie ek al ooit saamgewerk het in my lewe.
Vir 70 minute gaan jy die gehoor boei. Hoe onthou jy alles?
Nie maklik nie. Dit het my drie maande geneem om die woorde te memoriseer. Onthou, daai ratte van memorisering moes van voor af geolie word. Dit was omtrent ’n storie.
Bacchus tot Bekker was al by verskeie feeste. Hoe het jy dit ervaar en hoe was die ontvangs?
Dit was vir my vreesaanjaend, opwindend en betekenisvol! Die gehore het dit ook geniet, dink ek.
Ek verstaan jy stel ook jou sangtalent ten toon? Jy is omtrent ’n dame met baie talente! Hoe het dit gebeur dat dit deel uitmaak van die produksie?
My medevervaardigers het gevra dat ek ’n lied moet sing, want as dit ’n eenvrouvertoning is, moet mens darem ’n liedjie insit. Ek kan glad nie sing nie en het vir sangklasse na Hanlee Louw toe gegaan. Sy het my gehelp; ek is nie die volgende Maria Callas nie, maar ek kom naby ... Lol!
Lees ook:
Bacchus tot Bekker by die Vrystaat Kunstefees 2025: ’n onderhoud met Amore Bekker
Momentum Aardklop 2025: ’n onderhoud oor The incredible journey of Tinkerbell van Tonder
Persverklaring: Momentum Aardklop stel sy program vir 2025 bekend

