Bacchus tot Bekker by die Vrystaat Kunstefees 2025: ’n onderhoud met Amore Bekker

  • 0

Een van die ligter vertonings by vanjaar se Vrystaat Kunstefees wat van 15 tot 19 Julie in Bloemfontein gehou word, is Bacchus tot Bekker, met die nimlike radiopersoonlikheid van RSG-faam, Amore Bekker. Sy kuier ook die afgelope paar maande in ons sitkamers met die VIA-program Volksvreemd.

Die beskrywing van Bacchus tot Bekker laat my sommer glimlag: “Is dit moontlik om iemand te vertrou, wat nie wyn drink nie? Miskien … Hoekom sal jy nooit weer ’n glas rooiwyn met ’n muggie in drink nie?”

Ek kan sommer Amore se stem hoor.

Die kort beskrywing gaan voort: “Dit is meer as net ’n gewone teaterproduksie wat teater, leefstyl en storievertelling kombineer. Die vertoning is Leftfoot Theatre Productions se nuwe produksie en kan aangepas word en is perfek vir wynproeë, wynveilings, restaurante, fondsinsamelings, damesoggende, feeste en teaters.

“Dit beloof om die gehoor op ’n reis te neem deur die geskiedenis (en stories) van wyn deur middel van vertellings en musiek. Die vertoning is ’n kombinasie van geskiedenis en interessante feite van wyn, wat nie alombekend is nie, asook staaltjies en sketse. Na dese sal die gehoor met nuwe oë na wyn kyk.

“In hierdie viering van die druppels van die druif ontmoet jy Bacchus wat hierdie nektar mildelik met ons deel. Van Papsak tot Pinotage, Chardonnay tot Chenin Blanc, hierdie vertoning is ’n viering van die vreugde van wyn en goeie geselskap. Of jy nou ’n wynkenner is, bloot iemand wat ’n goeie glas waardeer, of net meer wil weet, Bacchus tot Bekker is ’n vermaaklike en vreugdevolle ervaring, wat jou met ’n nuwe waardering vir die kuns van wynmaak sal laat kyk. Kom deel ’n glasie (of twee). Prost!”

Amore Bekker (foto: verskaf)

Hoe het jy op die idee gekom van hierdie vertoning? Het jy die teks alleen geskryf of met iemand in die wynbedryf gekonsulteer?

Ek en Johan en Ignatius van Leftfoot Productions het ’n dinkskrum gehou einde 2024 oor idees vir ’n eenvrouvertoning.  Johan het met die idee gekom, en dit het dadelik aanklank gevind by my. Die teks was ’n groot uitdaging – ek het nie geweet waar om te begin nie, ek het dit maar soos ’n radioprogram aangepak … interessante feite oor wyn, byvoorbeeld jy moet nooit ’n glas meer as 30% met wyn vul nie; daar is ’n wetenskaplike rede daarvoor (ek vertel dit); interessante geskiedenis oor wyn, byvoorbeeld dat daar al in die jaar 1700 vyf swart wynboere in Jonkershoek was, en wat het van hulle geword? Ek gaan maak ’n draai by die Joodse bruilof waar water in wyn verander is. Ek doen iets van die AA (Alkoholiste Anoniem), deurspek met humor, ironie, frustrasie en hopelik ongemaklike oomblikke. Ek het wenke gekry van Emile Joubert, die  wynskrywer, Bennie Howard, die groot wynkenner, en een van die eerste Kaapse wynmeesters. Ek het met wynboere gesels ... Die inligting was in oorvloed.

Jou gunstelingwyn?

Somer: sauvignon blanc; winter: enige rooiwyn, algar met baie ys. Want ek wil nie te gou getrek raak nie. Ek het ook biodinamiese wyn ontdek deur my navorsing. Biodinamiese wyn gaan ’n stap verder as organiese wyn deur die hele wingerd as ’n selfonderhoudende ekosisteem te beskou. Dit volg ’n holistiese benadering wat astrologiese kalenders en natuurlike preparate insluit, soos die begrawe van koeihorings vol gefermenteerde mis om die grond te voed. Koeie en ganse wei tussen die wingerde.  Ons het tans 10 sulke boerderye in die land, meestal in die Boland, en een in die Swartland. Reyneke Wyn is die pionier. Dit is baie gesond. Jou babelas is minder.

.......
Sjoe, dit was ’n vuurdoop. Teater gaan oor dissipline en konsentrasie – dit het my drie maande gevat om die woorde te leer. 
.......

Die verhoog is ’n heeltemal ander situasie as praatjies – al het jy drama geswot. Hoe berei jy voor en hoe ervaar jy elke aspek van jou werk?

Sjoe, dit was ’n vuurdoop. Teater gaan oor dissipline en konsentrasie – dit het my drie maande gevat om die woorde te leer.  Ek het 40 jaar laas woorde gememoriseer.  Dit het my heeltemal uit my gemaksone geneem.

Tobie Cronjé en Amore Bekker (foto: verskaf)

Die regie is deur Tobie Cronjé. Wat bring hy na die produksie wat uniek en besonders is?

Hy het sy hele menswees na die produksie gebring, en dit was ’n voorreg om onder so ’n meester se hande deur te loop. Hy was geduldig en sag. Hy het my ook tegnieke geleer, maar die belangrikste van als, hy het in my geglo.

Wil jy voortaan meer tyd op die verhoog deurbring of hou Volksvreemd jou te vas?

Volksvreemd was ’n reeks van 13 episodes, en ons het dit al in 2024 klaar geskiet. Ons sal moet sien of daar nog ’n reeks gaan wees. VIA sal besluit. Ek gaan nou vir die volgende ses maande op die verhoog wees. Dit is ’n eksperiment; die tyd sal leer.

Vertel ‘n bietjie van jou ervaring voor die kameras vir dié VIA-program? Wat geniet jy daaraan?

Dit was ’n baie goeie ervaring, veral om weer met ’n span saam te werk, en dit was ’n klomp jongmense, en hulle energie is aansteeklik. Hulle is entoesiasties, vol idees, en besorgd, en dis goed om te weet Suid-Afrika het sulke jongmense.  

En wat geniet kykers daaraan?

Jong, ek dink die vreemdheid, en omdat ons mense laat dink oor al die verskillende alternatiewe idees, wat mense kan doen om sin te maak van hul lewe.

Jy doen baie praatjies en seremoniemeesterwerk. Hoe voel dit om nie agter die mikrofoon te sit nie? Hoe hanteer jy die blootgesteldheid aan die publiek wat voorheen gesigloos was?

Ja, ek is ’n raakprater – mense nooi my, en dan praat ek dinge raak. Ek geniet dit geweldig en ek wou nog altyd my luisteraars se gesigte sien en kontak maak. Onthou ’n ateljee kan ’n baie eensame plek wees.

.......
Onthou, ek is ’n omroeper en raakprater – ek wil diep en prettig praat. Ek is nie ’n seremoniemeester nie – dit verveel my.
.......

Jy is nie net omroeper en seremoniemeester nie. Jy is ook die skrywer van ’n hele paar boeke. Hoe daag skryf jou anders uit as gesels?  

Onthou, ek is ’n omroeper en raakprater – ek wil diep en prettig praat. Ek is nie ’n seremoniemeester nie – dit verveel my. In my boeke het ek maar nog net meestal ander mense se stories bymekaargesit. Ek het begin met my memoires; dit verg dissipline en baie sit – ek moet nog gewoond raak daaraan.

Wanneer het jy ontdek dat jy kan skryf en dat mense wil hoor wat in jou hart omgaan?

Ag, ek dink as ’n mens ’n storie kan en wil vertel, dan kan mens seker skryf.

Mis jy jou gereelde gleuwe op radio? Jy het verskeie ATKV-mediaveertjies vir jou radio-onderhoude ontvang en is geliefd onder luisteraars.

Ek mis dit nie; ek het genoeg gehad van roetine. Dit was 33 wonderlike jare, veral die laaste 20 by RSG. Ek hou van verandering. Ek hou daarvan om myself bang te maak; dit laat my lewendig voel.

MR: Jy het in Februarie vanjaar 60 geword. Hoe voel jy oor ouer word?

Dit was nie so lekker nie, want op 60 het ek besef, ek is nog steeds ’n “people pleaser” en dat ek sukkel om my pyn te verwoord. Dalk gaan dinge nou verander – ek luister na goeie potgooie.

  • Bacchus tot Bekker speel op 17 Julie om 17:00 en 19 Julie om 13:30 by die Odeion-ouditorium op Bloemfontein. Kaartjies kos R200 vooraf en R220 by die deur. Die vertoning is 75 minute lank. Geen 0/13’s.
Lees ook:

’n Begin: in gesprek met Cintaine Schutte en Carel Nel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top