Mites oor die Afrikaner en Afrikaans

  • 7

’n Konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog (Foto uit privaatversameling: verskaf)

Mites oor wit Afrikaners en hulle heldedade is legio – soos daar stories in elke kultuur is. Máár ... wat sê die geskiedenis oor dié mense en “die Taal” in ’n land waar gelyksoortigheid nog nooit bestaan het nie?

Óf daar is halwe waarhede aan beide kante, óf daar is feite waaroor daar geswyg word.

Dit was tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) waar veral talle wolhaarstories ontstaan het, seker maar soos in elke oorlog, maar baie van dié mites klou steeds soos kakiebos. Natuurlik het stories aan beide kante ontstaan – onder meer as deel van propaganda – maar uiteindelik het baie van die mites sulke hardnekkige lewens gekry dat dit “feite” geword het.

Neem maar die Boerekryger as skerpskutter en gedissiplineerde vegter, en selfs die opvatting dat álmal diep gelowig was. En wie se oorlog was dit nou eintlik?

Fransjohan Pretorius, ’n bekende geskiedkundige oor die ABO, sê die oorlog het swart mense aan beide kante betrek. Aan die een kant was die verhouding tussen die Boere en hulle agterryers, hoewel dié nie gewapen was nie, gebaseer op ’n paternalistiese meerderwaardigheid, en in die meeste gevalle ’n onderdanigheid.

........
Die oorlog het swart mense aan beide kante betrek. Tussen 15 000 en 25 000 swart vroue en kinders was in konsentrasiekampe. 
........

Aan die ander kant is swart mans toenemend in die Britse leër teen betaling opgeneem. Die Boere het ook swart verkenners wat die Britte gehelp het, tereggestel. Daarom is daar wapens aan swart mense wat blokhuislinies bewaak het, uitgereik.

Tussen 15 000 en 25 000 swart vroue en kinders was in konsentrasiekampe. Dit is die konserwatiewe skatting, waarvan die sterftesyfer net so hoog was, indien nie hoër nie, as in die kampe vir wit vroue en kinders.

Daar kan nie aangeneem word elke Boer was ’n goeie skut nie. Ná die Jameson-inval in 1896 het dit geblyk 41% van die mans in die Transvaal het nie gewere besit nie, terwyl die res meestal met verouderde gewere bewapen was.

Twee en ’n halwe maande ná die begin van die oorlog het hulle reeds 40 miljoen patrone weggeskiet. Groot oorwinnings ten spyt was die 1 000 tot 2 000 gesneuwelde Britte teen dié tyd nie ’n aanduiding van baie skerpskutters aan die Boerekant nie, sê Pretorius.

........
Dat almal navolgers van Christus was, is nie waar nie.
........

Volgens hom was die stand van godsdiens op kommando op ’n spektrum van uiterse vroomheid tot onverskilligheid. Dat almal navolgers van Christus was, is nie waar nie. Hy wys daarop dat Jan Celliers in sy dagboek skepties was oor die godsdiensbyeenkomste, omdat dit as roetine beskou is en geen heilsame uitwerking gehad het nie. Sondae is dit bygewoon, maar die res van die week het mense hulle vry gevoel van die band van godsdiens.

Gedissiplineerd was die Boere ook nie. Sommige het soms in die laer bly lê eerder as om stelling in te neem vir ’n geveg. Ander het geweier om van hulle waens ontslae te raak wat hulle beweeglikheid ingeboet het.

Nog ’n voorbeeld, sê Pretorius, is verlof en afwesigheid sonder verlof. Die Boere kon bloot nie verstaan hoekom hulle nie kon huiswaarts keer ná ’n paar maande in die veld nie. En indien hulle nie verlof kon kry nie, het hulle dikwels eenvoudig huis toe gegaan. En ja, van hulle het ook geplunder en by mekaar gesteel.

Dit blyk dat ’n klein presentasie van die Boere seksueel losbandig was. Dit is te sien uit die notules van die kerkraadsvergaderings en gemeentelike verslae by ringsittings van die NG Kerk, hoewel verreweg die meeste geskrifte van Boere daaroor swyg.

Pretorius sê die gevalle was na alle waarskynlikheid meer as dié wat ná die oorlog deur kerksensuur bekendgemaak is. Dit was omdat dit eers ná ’n “ongewenste” swangerskap bekendgemaak is.

Boere by Spioenkop tydens die Anglo-Boereoorlog (Foto uit privaatversameling: verskaf)

Daar is natuurlik in die Britse geledere verwys na die Boere as dom, vuil en ongeletterd. Lord Herbert Kitchener het onder meer na die Boerevroue verwys as “savages with only a thin white veneer”.

Was die Boere ongeletterd of nie? Beide. Daar was rykes, armes, mense met grade, regsgeleerdes, medici, klerke en onderwysers. Daar was mense wat nie kon skryf nie en ander wat vlot Engels, en selfs ander Europese tale, kon praat.

........
Seker die grootste mite uit dié oorlog is die kamstige bestaan van die “Krugermiljoene”.
........

Seker die grootste mite uit dié oorlog is die kamstige bestaan van die “Krugermiljoene”. Staatsprokureur Jan Smuts het op 4 Junie 1900 – die dag voor die Britse besetting van Pretoria – die staafgoud en gemunte goue Krugerponde ter waarde van tussen £500 000 en £750 000 in twee kratte gelaai en dié is met die trein na die Transvaalse regering op Machadodorp, sê Pretorius.

Spoedig het dit bekend geword dat daar goud op die trein is, en krediteure het van oral gekom om betaling te kry vir hul lewering van middele vir die kommando’s, soos kos en klere. Die twee regerings en kommandant-generaal Louis Botha en hoofkommandant Christiaan de Wet het ook iets gekry om vorentoe middele vir hul kommando's aan te skaf waar dit beskikbaar is. Teen April 1901 was die goud en geld alles op.

Maar sedert Paul Kruger in September 1900 met die trein Lourenço Marques toe is, het die mite ontstaan dat hy die goud en geld saamgeneem het Europa toe, of dat dit in die berge van die destydse Oos-Transvaal begrawe is.

Die pakkasie saam met Kruger was egter nie goud en geld nie, maar die Transvaalse staatsargief (wat WJ Leyds in Europa bewaar het en wat in die 1930's teruggekom het en as die Leyds-Archief in die Staatsargief berus).

Jy kan nie hierdie mite dat die “Krugermiljoene” iewers begrawe is, dood kry nie, want skatgrawers hou nie op om te soek nie, sê Pretorius.

Afrikaner-nasionalisme

Daar is geen homogeniteit oor hoe mense dink en optree nie. Veral nie wanneer die ideologie van Afrikaner-nasionalisme bespreek word nie. “Dit het eers begin ontstaan met die eerste Anglo-Boereoorlog van 1880, nie voor dit nie,” sê die historikus Albert Blake, na wie se jongste publikasie ek hier onder verder af verwys.

.......
Afrikaner-nasionalisme was nie daar tydens die Groot Trek nie. En boonop was die redes vir die trek legio.
.......

Afrikaner-nasionalisme was nie daar tydens die Groot Trek nie. En boonop was die redes vir die trek legio: die onveilige omgewing en talle skermutselinge aan die Oos-Kaapse grens, die ontevredenheid met die Engelse bewind, beter ekonomiese omstandighede en die vrystelling die verknegte mense (slawe). Die trekkers wou hulle saamneem en hulle het ook. “Maar die Groot Trek was nié om nasionalistiese redes nie,” sê Blake.

Pretorius sê die Tweede Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 het as ’n voedingsbron vir Afrikaner-nasionalisme gedien. ’n Regstreekse uitvloeisel van die oorlog was die Tweede Taalbeweging; daarna het die Rebellie van 1914 en die Eerste Wêreldoorlog verdere stukrag daaraan verleen.

Verskeie mites en stories het uit die ABO ontstaan om die arms van Afrikaner-nasionalisme te versterk.

Die mitiese Emily Hobhouse

Emily Hobhouse (Foto uit privaatversameling: verskaf)

Een so ’n figuur wat gebruik en ook misbruik is, is Emily Hobhouse. Hoewel dit nie dadelik gebeur het toe sy haar verslag en boeke geskryf het nie, het dit later al hoe sterker geword. Van die verdraaiings, ontkennings van die ware intensies en boodskap van Hobhouse bestaan egter steeds. (Dit is buiten die feit dat sy in Engeland gesien is as ’n verraaier en histeriese alleenlopervrou.)

Ná 11 jaar se navorsing wat ek oor Hobhouse gedoen het, is dit kristalhelder dat sy nié “aan die Boere se kant” was nie. Haar saak was ook nóg polities nóg godsdienstig gedrewe.

Afrikaner-nasionalisme het baie, en verkeerdelik, daartoe bygedra om net een deel van wie Hobhouse was, voor te hou. Daar is byna ’n tipiese  “Engelse volksmoeder” van haar gemaak.

........
Hobhouse was egter eerder ’n radikale pasifis, wie se anti-oorlog sienings met die jare al hoe sterker geword het. Haar missie was toegewyde steun aan vroue en kinders in ’n oorlogsone. 
........

Sy was egter eerder ’n radikale pasifis, wie se anti-oorlog sienings met die jare al hoe sterker geword het. Haar missie was toegewyde steun aan vroue en kinders in ’n oorlogsone. 

By herhaling kritiseer sy die mans, politici en regerings aan beide kante. Oor die algemeen is haar uitsprake teen en oor mans se vermoëns hewig feministies.

Sy het hierheen gekom “in obedience to the solidarity of our womanhood”. Dit sê sy in briewe en in haar toespraak by die opening van die Vrouemonument in 1913 op 16 Desember, waar sy dié dag verklaar as ’n “Vrouwen-dag” en waar sy vra dat die dag ’n Nasionale Vrouedag moet wees eerder as “Dingaansdag”.

Die toespraak was gerig op vroue, gelyke regte, vergifnis en die misbruik van mag. ’n Boodskap wat in wese bo die koppe van 20 000 mense was.

Dit is ook op dié dag dat sy pleit dat die Afrikaners moet uitreik na swart mense. “Do not open your gates to those worst foes of freedom – tyranny and selfishness. Are not these withholding from others in your control, the very liberties and rights which you have valued and won for yourselves?”

En: “Liberty is the equal right and heritage of every child of man, without distinction of race, colour or sex.” 

Hierdie punte, asook haar werk vir stemreg vir vroue, skrywes vir feministiese joernale en tydskrifte, en haar liberale sosialisme is deur die Afrikaner-nasionaliste geïgnoreer. Vreemd, omdat haar ploeg-en-plant-plan van 1903 ’n sterk gemeenskapsgebaseerde sosialistiese inslag het.

.......
[Hobhouse] se werk vir stemreg vir vroue, skrywes vir feministiese joernale en tydskrifte, en haar liberale sosialisme is deur die Afrikaner-nasionaliste geïgnoreer. Vreemd, omdat haar ploeg-en-plant-plan van 1903 ’n sterk gemeenskapsgebaseerde sosialistiese inslag het.
.......

Maar die Afrikaner-nasionalisme verskuif Hobhouse se nalatenskap en fokus  na  die “vyand” se vrou wat “aan ons kant” was.

Gerieflik vergete is haar vriendskap met Gandhi en haar politieke ingreep in 1913–1914, die bywoning in 1916 van die Tweede Zimmerwald-konferensie saam met Wladimir Lenin, die jare in Duitsland, die amok wat sy daar gemaak het en haar voedingskemas daar.

In 1908 is ’n portret van haar deur Hugo Naudé geskilder. Hobhouse het dit so verpes, tipies van haar dwarsheid, dat sy dit in Suid-Afrika agtergelaat het en gevra het dat dit nie gebruik moet word nie. Die Afrikaners, wat lief was vir Hobhouse, maar nie omgegee het vir wié sy regtig was nie, het die portretbeeld in 1976 op ’n posseël gebruik, 50 jaar ná haar dood.

Insgelyks het die nasionaliste besluit om ’n duikboot na een van die grootste pasifiste waarmee hulle nog ooit te doen gekry het, te vernoem.

As Hobhouse tóé geleef het, sou sy dit met die grootste minagting verwerp het. Sy sou een van haar kwetsende briewe in Victoriaanse Engels geskryf het om haar daarvan te distansieer.

........
Helde ontstaan omdat mense sonder kritiek weens bepaalde sentimente na gebeure kyk. 
........

Die probleem kom in wanneer daar politieke motiewe is vir die skep van sulke stories, sê Blake, uit wie se pen al vele historiese boeke gevloei het.

’n Jong Jopie Fourie (Foto in die openbare domein op Wikipedia, kopieregtermyn verstreke.)

Sy jongste boek, Jopie Fourie – Besinning, wat binnekort verskyn, vertel dat Fourie se teregstelling hom só erg as ’n onsterflike held verewig het dat hy steeds op sosiale media verhef word tot ’n byna onaantasbare figuur. Maar Fourie se verhaal is baie meer kompleks as waarin sy legende ontwikkel het.

Histories gesproke kan daar nie bloot na hom gekyk word as blote held van Afrikaners se lojaliteit en nasionalisme nie. Aan die ander kant van die munt is daar mense wat hom weer sien as ’n verraaier omdat hulle Jan Smuts verafgod het.

In Blake se nuwe boek wy hy ’n hele hoofstuk aan mitevorming in sosiale media en hoe daar gesukkel word om ’n mite nek om te draai. Natuurlik ook oor Fourie wat nie “aanpasbaar was nie, en voortgegaan het met futiele aksies”, en verskeie ander onwaarhede oor dié rebel.

Daar bestaan nie iets soos ’n held nie, sê Blake. Helde ontstaan omdat mense sonder kritiek weens bepaalde sentimente na gebeure kyk. “Hulle sal nooit na argiewe of behoorlike bronne gaan nie en glo wat hulle glo. Só word die geskiedenis verdraai.”

Wie se Afrikaans?

Die bekende Afrikaanse taalkenner Ernst Kotzé sê Afrikaans is nie ’n dialek van Nederlands nie, is nie kunsmatig deur wit kolonialiste geskep nie, en is nie net deur wit mense gepraat nie.

“Hierdie mites sien die beduidende bydraes van gemeenskappe van kleur tot die ontwikkeling en evolusie van Afrikaans oor die hoof. Bruin gemeenskappe in die Wes-Kaap het ’n deurslaggewende rol in die vorming van die taal gespeel, en Afrikaans is deur verskeie etniese groepe gepraat, insluitend inheemse Khoisan-mense en slawe wat na die Kaapkolonie gebring is.”

Die woord kombuistaal is dikwels pejoratief gebruik om Afrikaans te beskryf, wat impliseer dat dit ’n taal was wat hoofsaaklik in huishoudelike of informele omgewings gepraat is eerder as in meer formele of gesogte kontekste. Hierdie aanname was gewortel in historiese en sosiopolitieke faktore, veral die marginalisering van Afrikaanssprekende gemeenskappe tydens koloniale en apartheidstydperke in Suid-Afrika.

Afrikaans het ontstaan as ’n groep variëteite wat verskillende taaltipes verteenwoordig, onder andere ’n kreoolse variëteit wat deur slawe, inheemse Khoisan-mense en ander gemarginaliseerde groepe in die Kaap gepraat is, maar ook deur verskeie ander komponente van die breë taalgemeenskap. Die vroeë assosiasies met die werkersklas en mense wat nie wit was nie, het bygedra tot persepsies daarvan as ’n “lae” of  “informele” taal.

........
“Die gebruik van Arabiese skrif in hierdie konteks beklemtoon die komplekse linguistiese en kulturele interaksies wat die vroeë ontwikkeling van Afrikaans gevorm het,” sê Ernst Kotzé.
........

Tydens apartheid is Afrikaans as administrasie- en onderwystaal bevorder deur die Nasionale Party-regering, wat probeer het om die status daarvan as simbool van Afrikaner-nasionalisme te verhoog. Hierdie beleid het egter ook stereotipes oor Afrikaans versterk as ’n taal wat hoofsaaklik deur wit Afrikaners in huishoudelike of “kombuis”-omgewings gebruik word.

Die eerste gepubliseerde Afrikaanse teks is in Arabiese skrif geskryf. Dit staan bekend as die “Bayaan-ud-Din”-manuskrip, geskryf deur Abu Bakr Effendi in die vroeë 19de eeu. Abu Bakr Effendi was ’n Moslem-geestelike en ‑geleerde wat gedurende die vroeë 1800’s in die Kaapkolonie was.

Die Bayaan-ud-Din-manuskrip is in Arabiese skrif geskryf, maar die taal wat gebruik is, was ’n vroeë vorm van Afrikaans, en spesifiek soos dit deur Moslems in die Kaap gebruik en uitgespreek is.

“Effendi se manuskrip is betekenisvol omdat dit een van die vroegste bekende geskrewe voorbeelde van Afrikaans verteenwoordig, wat die taal se ontwikkeling en die diverse kulturele invloede wat gedurende daardie tydperk in die Kaapkolonie teenwoordig was, demonstreer. Die gebruik van Arabiese skrif in hierdie konteks beklemtoon die komplekse linguistiese en kulturele interaksies wat die vroeë ontwikkeling van Afrikaans gevorm het,” sê Kotzé.

Die geskiedenis is stories van mense, van waar ons vandaan kom en waarheen ons gaan. Om naïef na die verlede te kyk, of met ’n moderne bril, is om dié mense se stories buite die konteks van hulle ervarings te sien.

Lees ook:

Die mite van Afrikaner-eenheid en hoe dit inspeel op die hede

Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap

Tuan Guru en die aartappelboer – oor Afrikaans en versoening

Afrikaans: the language of dissent

Afrikaner, wie is jy?

Die Derde Afrikaner – ’n reaksie op die "Afrikaner Verklaring"

Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"

  • 7

Kommentaar

  • Connie Kerkmuis

    'n Mens het waardering vir die feit dat die artikel van kundiges se opinies gebruik maak. Hopelik kan dit die norm word in alle media. En veral in die grootste demoon, sosiale media. Nasionalisme is 'n verskynsel wat gewoonlik met mites gepaardgaan. En dit is glad nie uniek aan Afrikaners nie. En dis ook geneig om selfkorrektief te wees. Dink aan NP van Wyk Louw, wat vir Verwoerd omgekrap het met sy kuns. Oor Afrikaans moet daar nog heelwat bygenoem word. Soos die artikel aandui, was Afrikanernasionalisme tot so mate suksesvol, dat Afrikaans vandag nog as wit taal beskou word deur sommige. So het dit gebeur dat die Afrikanasionalisme lank geweier het om Afrikaans as 'n taal van Afrika te erken. Dit is vandag nog daaroor verdeeld, maar waar daar toegegee was deur sommige, het dit dikwels ook van die een ekstreem na die ander gespring. Volgens die nuwe ekstreem het witmense geen rol in Afrikaans se ontwikkeling gespeel nie en is gewoon gesteel by ander groepe. Baie mense wat so redeneer het gewoonlik dan ook duidelik geen formele linguistiese opleiding nie, en argumenteer gewoonlik dat meeste Afrikaanse woorde na Afrikatale terugherlei kan word. Die teendeel is natuurlik waar. Meeste van Afrikaans se woordeskat is van Europa. Dit maak dit nie 'n Europese taal nie. Tale word op verskillende maniere gekategoriseer, onder meer genealogies en geografies. Nasionalisme, soos genoem, is dikwels selfkorrigerend. Navorsing wat deur wit Afrikaners onderneem was in die 1970's en 1980's op die variante van Afrikaans, het tot die gevolgtrekking gekom dat Afrikaans nie een taal is nie, maar drie. Daar is drie bree variante. Griekwa-Afrikaans. Oosgrens-Afrikaans. En Kaapse Afrikaans. Ook was bevind dat swartmense 'n kritiese belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van Afrikaans. Afrikaans is dus eintlik 'n verwarrende konsep. Die standarisering van Afrikaans is hoofsaaklik deur witmense gedryf, omdat swartmense nie as gelykes beskou was nie. Toe die taalmomument in 1975 opgerig was, het die argitek reeds besef daar is drie groot invloede op Afrikaans, Europa, Afrika en Asië. Groepe wat vandag gekant is teen die 100-jarige herdenking van die wetlike aanvaarding van Afrikaans, vertel graag hulle weier om dit te vier, want "Afrikaans is veel ouer as 100 jaar". Dis hulle eie mite. Oor nasionalisme is daar eindelose stories. Die NP het gesterf. En die ANC is ook skynbaar sterwend. Die mites sal altyd maar onstaan en weer taan. Met die 2023 rugbywereldbeker se oorwinning, het ons ook gehoor dat rugby toe nooit in Europa ontstaan het nie, maar in Afrika. Historici stry lustig oor die geskiedenis van die Kaap. Was daar reeds voor Van Riebeeck 'n hawe? Klomp details in Dalene Mathee en Dan Sleigh se boeke word gereeld gekritiseer en bevraagteken.

    Hierdie aanwending van geskiedenis as wapen, maak dat mens totaal jou smaak vir die geskiedenis verloor.

  • Hanno Visagie

    'n Manifes vir Afrikaans - deur Johannes Comestor
    Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat
    ons trots is op wat in Afrikaans tot stand gebring is
    ons groot waarde heg aan Afrikaans as ’n volwaardige taal
    ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom
    ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is
    ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
    ons daarop aandring dat skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees
    ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
    ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak
    ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester
    ons die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans aanvaar
    ons Kaaps, in soverre dit Engels is, as ’n bedreiging vir Afrikaans beskou.
    https://www.litnet.co.za/n-manifes-vir-afrikaans/

  • Connie Kerkmuis

    Die sogenaamde 'Manifes vir Afrikaans' is 'n goeie voorbeeld van 'n niksseggende stukkie skryfwerk. Net 'n klompie vae stellings wat so verskillend gelees en interpreteer kan word as wat gelowiges die Bybel lees. Vat byvoorbeeld die stelling: "ons Afrikaans so suiwer moontlik hou". Hoeveel van Afrikaans se sprekers het 'n AWS ingesluk? Mense wissel hulle kodes na gelang van die situasie. Hulle besef nie eens dat hulle dit doen nie.

    Of die stelling: "ons die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans aanvaar". Afrikaans is genealogies Germaans maar geografies van Afrika. Die punt wat in die artikel gemaak word, is juis dat swartmense en Afrika 'n sentrale rol in Afrikaans se ontwikkeling gespeel het.

    Natuurlik heg ons waarde aan Afrikaans. Alle tale is kosbaar.

  • Hanno Visagie

    Connie Kerkmuis, Johannes Comestor wat bg artikel 'Manifes vir Afrikaans' geskryf het, is die skuilnaam van Johan Bekker, 'n emeritus-prof in letterkunde en filosofie. Jy kan gerus ook van agter jou skuilnaam uitklim.

  • Hans Richardt

    Hanno Visagie, ten spyte van al die lojaliteit, was daar sanitêre probleme onder grootste deel van Boere bevolking.
    Die staaltjie van eenmaal per week op naweek bad in kombuis of waar ookal, word gou vergeet.
    In Afrika son en stof was die mense nie juis perfeksie van persoonlike higiëne nie. Sonder die vrylike beskikbaarheid van rolpapier en sanitêre doeke, was daar ook onaangename reuke, amper soos ou bokkoms.
    My eie pa wie in era na ABO gebore was, het ook net destydse standerd vyf gehad. Die staatsskole was hoofsaaklik in groter dorpe bv Bloemfontein en Pretoria. Destyds was daar tussen arm wittes op plotte in Pretoria se buite-wyke en die dorpenaars of plaasboere verskille. Daar was vele wie "takhare" genoem was uit arm gemeenskappe, want almal was nie boere op plase nie. Daar was ook vlakke van spraak en lees vaardighede wat volgens klas verskil het. Ek glo ook daar was toe reeds vele anglisismes en woorde uit ander tale volgens streke, wat standaard tipe Afrikaans nodig gehad het, soos deesdae HAT of Groot Woordeboek. Daar is vele Afrikaanse woorde wat in onbruik is of nie meer in daaglikse gebruik nie.
    Hier in die Bo-Karoo probeer ons Afrikaans so suiwer as moontlik hou, maar daar is sekere terme in Engels wat nie maklik ver-Afrikaans nie, veral tegniese terme.
    Net soos daar verskille in klas was voor, tydens en na ABO, so is dit nog steeds.
    Connie 'kerkmuis' is Connie Prinsloo in werklike lewe.

  • Connie Kerkmuis

    Nee maar mooi, ek is bly vir hom. Letterkundiges en filosowe is egter nie noodwendig kenners van die linguistiek nie. Titels se ook nie iets nie. Daar is mense sonder titels wat veel meer weet as baie ander met titels. Daar is 'n sekere soort mens wat deur titels beindruk word. Hulle is gewoonlik in die vorige helfte van die vorige eeu gebore. En hulle gedagtes sit in die verlede vas. Watse verskil gaan dit aan jou maak om te weet wie ek is? Ons kerkmuise stam maar af van die huismuise en so aan. Mense het eers so 10 000 jaar gelede of so gode en permanente huise begin kry, tydens die eerste groot landbouomwenteling. En kerke het eers nog later bygekom. Voor daai tyd het al die mense animisme beoefen. Ons is ook verwant aan die veldmuise. En dan ook verlangs aan mense. 65 miljoen jaar gelede, had ons en mense 'n gemeenskaplike voorsaat gedeel.

    Ek het al die dinge geleer by Mickey Muis Universiteit, ek was in Huis Geelkaas, voor dit gesluit was weens protesaksies.

  • Dit is baie maklik om feite te manipuleer en verdraai en wanneer dit uit die pen van 'n bekende vloei, is dit natuurlik waar. Emily Hobhouse word nie vereer of hoog aangeslaan agv haar politieke siening nie, maar omdat sy hulp verleen het, gedurende en ook na die oorlog en ook omdat sy bereid was om die hele stelsel te ontmasker, ens.
    Wat ‘die Taal’ betref, sal enige leser wat al in die buiteland was, opgemerk het dat die spreektaal in verskeie lande nie ooreenstem met die geskrewe (gestandardiseerde vorm) nie. Dit is ook aangeteken (deur 'n Brit nogal) dat hoofde van swart stamme in die Noordweste in ‘Cape Dutch’ met mekaar gekommunikeer het, indien hulle nie 'n ander gemeenskaplike taal geken het nie, wat natuurlik verander het na die aankoms van Britse sendelinge.
    Die mees ekstreme vorm van nasionalisme was uitgedruk as ‘imperialisme’, tesame met sy ‘wortel’ van rassemeerderwaardigheid (‘eugenics’) en dit het ook oorgedra na die veel nuwer Afrikanernasionalisme wat as gevolg daarvan ontstaan het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top