Foto van Catrina Wessels: Hilde Franzsen
Dit was pas Menseregtedag 2025. Naomi Meyer het vir Catrina Wessels oor menseregte en skrywersregte uitgevra.
Naomi Meyer: Catrina, 21 Maart 2025 was Menseregtedag en ek wil graag jou mening oor menseregte (ware menseregte en metafories gesproke) en oor skrywersregte hoor.
Betreffende skrywersregte: Ek verwys na vryheid van uitdrukking, en na die reg wat skrywers hulself moet toeëien om oor wêreldgebeure te skryf; om barometers van die samelewing te wees. Wat van die kommersiële waarde wat daar aan skrywerskap kleef? As jy die reg het om skrywer te wees, het jy ook die reg om daarvoor betaal te word.
Is skrywersregte ’n soort vorm van menseregte, al bedink mens dit ook metafories en nie net suiwer volgens die Grondwet nie, en hoekom dink jy so? Het skrywers die reg op werk (teen vergoeding) en hoe meet mens skrywers se regte? Sal skrywers nie net wil skryf omdat hulle nie anders kan nie? Dink jy skrywers sal aanhou skryf as hulle nie juis veel betaal word nie?
Hier volg Catrina Wessels se reaksie:
In ’n wêreld wat menseregte en skrywersregte verskans, behoort skrywers in twee belangrike opsigte te kan skep.
In die eerste instansie behoort hulle met vrymoedigheid en met die nodige beskerming van hul fundamentele regte te kan skryf en publiseer. Dit veronderstel dat daar ’n klimaat moet bestaan waarbinne hulle hulself kreatief kan uitleef en sonder vrees vir vergelding hulself in hul skryfwerk uitdruk. Hul reg op uitdrukkingsvryheid, hul taalregte en hul reg op vryheid en sekuriteit van die persoon behoort verskans te wees.
Helaas is daar toenemend flikkerende gevaarligte wat die onderdrukking van skrywerstemme betref. ’n Belangrike boekstawing hiervan is PEN International se navorsing en samevatting wat hul jaarliks in hul Case List publiseer. Dit is ’n lys van gevalle waarin skrywers weens hul skryfwerk vervolg word of andersins geïntimideer of stilgemaak word.
In die 2025-uitgawe, wat juis op Wêreldpoësiedag en Suid-Afrika se Menseregtedag vrygestel is, sê PEN daar is ’n duidelike en kommerwekkende toename in sensuur, gevangenisstraf en dreigemente wat skrywers in die gesig staar weens hul geslag, seksuele oriëntasie, etnisiteit of godsdienstige oortuigings. Dit onderstreep ’n ontstellende wêreldwye neiging: Diegene wat dit waag om hul identiteit uit te druk of dominante narratiewe uit te daag, word stilgemaak deur regsbedreigings, sensuur en geweld.
..............
Dan is daar die relevante en moeilik-peilbare oorweging van selfsensuur, wat uiteraard ook skrywers se uitdrukkingsvryheid kan inperk. In ’n onverdraagsame en gepolariseerde (aanlyn) wêreld waarin mense links en regs geviktimiseer en geïntimideer kan word deur gesiglose massas, is dit dalk veiliger om eerder stil te bly as om jou pen op te tel en jouself bloot te stel aan ernstige aanlyn teistering en moontlike cancelling. Dit is nie juis bevorderlik vir die reg op vrye meningsuiting nie.

***
In die tweede instansie behoort skrywers te kan skep en daarmee bedoel ek: as dit pap reën. Hulle moet (ekonomiese) geleenthede kan aangryp omdat hulle op effektiewe kopieregwetgewing kan staatmaak en met hul skryfwerk ’n inkomste kan verdien. In hierdie konteks is dit belangrik dat daar respek en beskerming vir hul intellektuele eiendom is wat hopelik neerslag vind in billike vergoeding wat aan hulle gebied word.
.........
’n Skrywer het regte net soos enige ander mens. Omdat hulle juis iets uit niets skep, is daar belangrike ander regte ter sprake waarop skrywers staatmaak. Dit is hoofsaaklik kopiereg, wat bestaan uit die morele regte van die skrywer en ’n bondel eksklusiewe regte ten opsigte van hul werk wat hulle in staat stel om ’n inkomste uit hul skryfwerk te kan verdien.
...............

Die ekonomiese waarde van kopieregwerke is ’n belangrike komponent daarvan.
Hierdie aanhaling van PEN International se kopieregmanifes vat dit mooi saam: “An author’s economic independence and autonomy is central to freedom of expression and encourages a diversity of voices, which in turn fosters democracy.”
Dit is tot ons almal se voordeel.
Lees ook:
Submission in opposition to the current Copyright Amendment Bill
Book discussion and interview on the Juta publication: Copyright reform or reframe?
Wysigingswetsontwerp op Outeursreg na Konstitusionele Hof verwys: ’n onderhoud met Catrina Wessels
Human Rights Day 2025: mind your language! About language rights and recent developments at UCT
Menseregtedag 2025, belangrike dae in die onderwys – en hoe onderwysers se regte soms geskend word