Marlize Hobbs (1972–)

  • 0

Gebore en getoë

Marlize Hobbs is op 6 Mei 1972 in Noordwes gebore en word ook daar groot. Sy het ’n tweelingbroer, Ben.

Sy woon tot standerd vyf die Laerskool Louwna by, wat net vyftig leerlinge en drie onderwysers gehad het. “In sub A leer jy eintlik al wat die standerd-eens leer. Teen standerd vier is jy reeds verveeld met die standerd-vyf-werk. Wat jy kan doen, is sit en dink en droom,” vertel sy aan Martie Swanepoel (Sarie, Junie 2005). “Wel, aanvanklik is ek bloot beskuldig van ’n dromery, maar in standerd vyf is ek met epilepsie gediagnoseer en toe is ek nie meer die ‘droomkind’ nie.”

Sy was ’n plaaskind – “’n pláás plaas. Baie backwards. Ek was twaalf toe ons Eskom-krag gekry het. Ek was ’n alleenkind,” vertel sy aan Sonja Loots (Rapport, 15 Mei 2005). “Baie rondgeloop op die plaas, baie boontoe gekyk vir reën, baie gelees. My ma is ’n intellektueel. Ons huis was vol boeke, altyd.”

Sy sê epilepsie gee ’n heel ander perspektief op wie jy is. Destyds (1985) was dit veel meer van ’n issue as wat dit nou is. “Dit bly steeds ’n vreemde chroniese toestand waaroor ek meer sou wou skryf. Maar ’n mens moet eers deur iets werk en lééf voor jy met kennis en insig en deernis (al is dit vir jouself) daaroor kan skryf.” (Sarie, Junie 2005)

Sy was net vyf jaar oud toe sy eendag vir haar ma gesê het sy gaan óf ’n skrywer óf ’n ruimtevaarder word. “Maar hulle vat nie epilepsielyers maan toe nie. Hulle like ons nie eens in die vliegtuie nie.” (Rapport, 15 Mei 2005)

Marlize vertel aan Naomi Meyer op LitNet dat sy op vyfjarige ouderdom al begin rympies maak het. “Teen 12 het ek ’n kortwerkprosa voltooi – my eerste ‘boek’ – en aan die einde van my laerskooldae het ek ’n paar gedigte oor my ervaring van skool gehad. Ek onthou dat die een gedig gaan oor om die laerskool met die blote 50 leerlinge te groet en die gedig het geëindig met: ‘Cheers aan dit wat nooit weer sal wees.’ Die gedig oor die inrigting (Saal 29, Nasionale Hospitaal Bloemfontein, waar ek op 15-jarige ouderdom opgeneem was) kom uit my standerd 8-jaar en ek hoef bittermin daaraan te verander het om dit in hierdie bundel te gebruik. 

“My ma en die digter Donnie Riekert was baie goed bevriend en Donnie het my gedigte gelees toe ek 16 was en vir my ma gesê: ‘Die kind kan gooi met woorde.’ Dit was ’n wonderlike kompliment wat my laat aanhou skryf het.”

Op LitNet wou Nathan Trantraal by Marlize weet of sy ietwat van ’n rebel is. Marlize se antwoord was as volg: “Ek dink mens moet oor die algemeen tog so versigtig wees, om eerlik te wees, om uitsprake te maak, veral as jy ’n skrywer in Afrikaans is, maar ek steur my nie veel aan voorskrifte nie. As kind was ek baie meer rebels as nou, maar ek het meer rede gehad as nou. In standerd vyf was ek die hoofdogter by hierdie klein skooltjie en die hoof het ons vertel dat ons ouers almal hel toe gaan, want hulle is nie weergebore nie en het nie ’n weergebore datum nie. Toe ruk ek daai hoofdogterwapentjie van my lelike geel skooluniform af en gooi dit op sy lessenaar en sê: ‘Ek kan nie langer die hoofdogter van hierdie skool wees nie!’

“Dit was maar net die begin ...

“Ek het skoolgegaan en grootgeword onder die ou regime. Ek het daai regse bliksems gehaat met alles in my. Die gedwonge struktuur, die manier waarop hulle wou hê mens moet dink soos hulle. Ek bedoel op skool mag ons nie oor die grasperk geloop het nie, maar die onderwysers het en ek het toe vir die Afrikaansonderwyser gesê dis onregverdig, hy sny elke dag spoor oor die grasperk, maar ons mag dit nie doen nie. Die man het amper ’n oorval gekry. Hy het so rooi in sy gesig geword ... Toe hulle prefekte kies, toe vra hy my: ‘Hobbsie, so waar is my biltongbroodjies?’ Ek het hom net so gekyk en by die klas in geloop ...”

“Dis hoe dit gewerk het daai tyd, nou nog. Ek koop niemand se guns nie. So, ja, daar is ’n rebelse streep in my: ek haat die ou bedeling meer as wat ek die kak van die ANC haat en dit sê báie. Ek het onderwysers gehad wat geglo het dis oukei om lyfstraf toe te pas deur mens op jou boude met hulle hande te slaan. Ek is so bly daai dae is verby, want enigiemand wat hul hand vir Lente lig, sal kak, hoor vir my. En hierdie nuwe regse groepe gee my ’n kramp. As ek swart of coloured was daai tyd, sou ek die boere van ’n kant af opgefok het. Ek sou presies geweet het wat om met ’n boks matches te doen. Hulle sou my waarskynlik gehang het.”

Na laerskool is sy Vryburg toe, waar sy haar matriek aan die Hoërskool Vryburg voltooi het.

Verdere studie en werk

Marlize kon om finansiële redes nie direk na matriek gaan studeer nie en in 1991 vertel ’n vriendin haar van die Middestad-Evangelisasie en Sendingaksie (MES) in Hillbrow. Sy was ongeveer 18 jaar oud en dit was ’n kultuurskok vir haar – ook wonderlik. Sy vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 27 Mei 2005): “Wat ek daar gedoen het, was gewis nie vir die ‘kerk’ as sodanig nie. God het my op ’n pad van selfontdekking gevat. Ek het baie geleer – van God en die inherente aard van die kerk en van hoe dit seker maar veronderstel is om te wees en nie is nie.

“Vir my was MES ’n subkultuur met ‘geheime kodes’ wat geld tussen lede van die groep. Ek het nie ingepas nie. Die boks was te vierkantig, benoud, vol ongeskrewe reëls wat ek nie kon begryp nie. My medesendelinge was vir my ’n vreemde spesie. Ek kon die oordrewe onderdanigheid aan die hoof nie begryp nie. Aanvanklik was dit vir my belangrik om deel te voel en te wees van die groep, maar ek kan nie anders as om getrou aan myself te wees nie. Ek het dinge begin bevraagteken en dit het vir my duidelik geword dat dit gevaarlik is om vrae te vra as iemand in iets glo en daar word van jou verwag om op dieselfde wyse te glo.

“Ek begryp waarom mense van die kerk af vlug. Hoe ironies tog dat die kerk veronderstel is om ’n toevlug te wees.”

Marlize het vir twee jaar in Hillbrow sendingwerk gedoen. Aan Sonja Loots sê sy dat Hillbrow ’n wow was wat vir ’n mens gevestigdheid gegee het. Dit was ’n “belewenis wat ek nooit weer oor wil hê nie, maar wat suiwer was. Die strate, nie die kerk nie. Ek en die kerk het mekaar in daardie stadium nie mooi verstaan nie.”

Oor haar tyd in Hillbrow kan sy boeke skryf, “maar ek moet eers die legkaart-stukke kry voor ek dit doen,” aan Martie Swanepoel. (Sarie, Junie 2005)

Daarna is sy na die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, vandag die Universiteit van Johannesburg, om maatskaplike werk te gaan studeer. Daar het sy “leer lééf”. Die koshuislewe was die beste ding wat met haar kon gebeur het.

Na haar studentejare het Marlize om den brode in ’n plaaswinkel gewerk en het ’n vriendin Jeanne Goosen se telefoonnommer vir haar as verjaardaggeskenk gegee. “Ek het haar gebel en van my gedigte vir haar gestuur en sy’t my genooi om by haar te gaan kuier. Ek het baie nervous daar opgedaag, maar sy is die niceste mens op planeet aarde en ons het goed gekliek.” Dit was die begin van ’n lang mentorskap en Marlize het bly skryf.

Sy skryf vir HERAUT se kunsredaksie. In 1998 en 1999 werk sy as TV-produksie-assistent in Durban by Heine TV-produksies. Van haar gedigte het al in Pretoria verskyn by KOMSAT van Johan de Jager. Van haar verhale verskyn ook op LitNet.

Sy is terug Vryburg toe as maatskaplike werker en proefbeampte, waar sy voorvonnis-verslae “en sulke goed vir die hof” opgestel het. Sy het vier jaar lank “alleen” in Ganyesa, ’n woonbuurt sowat 80 km van Vryburg af, gebly as die enigste wit persoon in haar kantoor. Sy voel dat Ganyesa haar “gekies” het, want dit was die enigste plek waar sy werk kon kry. Sy het by die plaaslike hospitaal een van die slegs tien huise op die dorp gehuur. “Ek het soontoe gery, die vlaktes, donkiekarre, kinders en boerbokke langs die pad bekyk. Ek het die tien huisies agter die hospitaal bekyk en besluit dat ek daar sal kan bly. Dat ek van die vlaktes hou.”

Sy vertel aan Martie Swanepoel in Sarie (Junie 2005) dat sy niks van haar eie gehad het om in ’n huis te sit nie, want dit was haar eerste eie plek. Sy het net ’n matras op die vloer gehad, ’n outydse woordverwerker, kitaar en CD-speler – nie eers ’n selfoon of televisie nie.

“Wanneer ’n mens so leef, het jy baie tyd vir besin, mymer en skryf. Dan kom jy in direkte konfrontasie met jouself en jou daaglikse bestaan, asook die werk wat jy doen. Professionele distansie kry ’n ander betekenis wanneer jy in die werklikheid van jou kliënte se lewe werk en woon.”

Sy was ’n maatskaplike werker vir Noordwes se regering op Potchefstroom en is daarna aangestel by Unisa as nasionale koördineerder vir maatskaplike werk in studentepraktykopleiding. Marlize en haar vrou het ’n dogtertjie, Lente.

Marlize se boek Flarde is reeds in 2002 voltooi, nadat sy byna drie jaar daaraan geskryf het. Ná die tyd het sy besef daar is soveel ander stories in die storie dat sy sekerlik nog ’n paar sulke pogings kon aanwend. Maar haar tyd is beperk vanweë haar werk as maatskaplike werker.

Die idee vir die boek kom van ver af. “In ’n stadium was ek werkloos en het ’n soort tuisgemaakte koerant vir my vriende aangestuur terwyl ek op die plaas was. Ek het dit Flardes uit die vlaktes genoem. Daarin was stories, advertensies (wat ek uitgedink het) en nog ’n spul liegstories,” sê sy aan Swanepoel.

Die ernstige skryf aan Flarde het egter in Ganyesa gebeur. Die dag toe die boek klaar was, toe was sy reeds ook klaar met Ganyesa. Sy het vir ’n oorplasing na Vryburg gevra en in 2002 daar begin werk.

In Ganyesa is Flarde uit eensaamheid gebore. “Die isolasie het my gedwing om met iemand te praat wat my taal verstaan – en dit was ék. Ek het geskryf om my eie taal te hoor. Ook omdat ek vermoed het daar is ’n storie wat vir my vertel moet word, en dit wás ook so: die boek het op die ou end vir my die storie vertel,” vertel sy aan Sonja Loots. (Rapport, 15 Mei 2005)

Marlize het aanvanklik aan die manuskrip “vasgeklou” en toe besluit om dit aan Jeanne Goosen te stuur as ’n “slaaptydstorie”. “Sy het daarvan gehou en klaarblyklik ook die mense by Genugtig!-uitgewery.” Genugtig! het die boek 2005 gepubliseer. Jeanne Goosen het dit beskryf as ’n boek van die hier en die nou – “die sensualiteit ontvou spontaan, dis tegelyk pynlik en pragtig.”

Flarde vertel die verhaal van ’n maatskaplike werker wat na ’n afgeleë Tswana-gemeenskap vlug. Waarvoor, weet sy self nie, skryf Stephanie Nieuwoudt (Sarie, Junie 2005), maar soms dink sy dat dit ’n besieling was. Want in Ganyesa word stukkies geskiedenis aan haar ontbloot. “Nie net trap sy in die spore van haar eie herinneringe en geskiedenis nie, maar sy leer ook die geskiedenis van die mense van die vreemde dorp. Flardes van verhale word aan haar gegee en sy moet sin maak daaruit. En soms verstaan sy die betekenis agter die woorde heeltemal verkeerd. Soos wanneer die jong man by haar kom pleit om hom te help om onderhoud van sy ouers te kry sodat hy verder kan studeer. Sy vertrou hom, maar dan word sy wreed ontnugter. Maar dis die verhaal wat Mama Minoto, die hoenderpootvrou, haar vertel, wat die maatskaplike werker heeltemal intrek by die gemeenskap van Ganyesa.”

Flarde is in 2006 met die Eugène Marais-prys bekroon, asook met die Universiteit van Johannesburg-prys vir die beste skeppende debuutwerk in 2006 en die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende prosa vir dieselfde jaar. Marlize het die UJ-prys ingepalm bo Pat Stamatélos se Kroes en Gilbert Gibson se digbundel BoomplaatsFlarde is uiteindelik bekroon vir sy tegniese vernuf, die besonderse manier waarop taal aangewend is en die oorspronklikheid van die werk. Oor Flarde het een van die keurders opgemerk: “Die werk word gekenmerk deur ’n merkwaardige emosionele intensiteit, ’n skerp evokasie van ruimtes, opgeskerpte welhaas, neurotiese waarneming en psigiese hegting. Dis opvallend hoe elke karakter as ’t ware binne haar eie wêreld gevange sit, waar emosie en begeerte dikwels op gewelddadige wyse beleef en ook uitgeleef word.”

Nieuwoudt skryf verder: “Die gemeenskap se frustrasies vind uiting in gesinsgeweld en dronkenskap en bied ’n spieël vir die maatskaplike werker se eie gevoelens van onvermoë. Maar in die wanhoop skemer ook die magiese van Afrika deur. Saans kom vryf Mosadiomuntle, die pleegkind Kabelo se ma, oor sy kop en soggens vee Mana Minoto die kleinvroutjiespore in haar erf dood. Die spore hoort nie hier nie. Dit word immers deur ’n dooie vrou nagelaat.

“Die liefdesband tussen Mama Minoto en haar pleegkind, die doofstom Kabelo, ontroer. En tussenin probeer die maatskaplike werker sin maak van haar eie lewe. Met kos, dwelms, seks en gesprekke in die kuberruim probeer sy antwoorde en troos vind.

Flarde is ’n boek wat ontstig. Met ingehoue asem verwag jy telkemale ’n katastrofiese ontknoping. Maar met humor en oorspronklikheid keer Marlize Hobbs telkemale die verhaal so om dat jy onkant betrap word en hardop lag. In die hande van dié nuwelingskrywer, wat die taal op ’n oorspronklike manier laat sing, word die waarheid inderdaad veel beter as fiksie.”

Volgens Marlize is dele uit Flarde min of meer waar, “maar soveel as wat dit ’n waarskynlike of parallelle werklikheid is, is dit ook ’n verbeelde of verskuilde werklikheid. Agter alles is daar tog iets,” vertel sy aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 27 Mei 2005). “Soos dinge gebeur in die skryfproses, so het daar verdere verskuilde werklikhede na vore getree. Soms is die werklikheid te ondraaglik en soms is dit te ‘min’, bedoelende dat daar meer van gemaak moet word om dit meer werklik te maak.

“Die sendeling-ervaring kon ek in die boek afbreek tot by die blootlê van die verskuilde werklikheid – dit wat agter die skyn van sendelingwees lê. Dit is dan wanneer jy as skrywer die gebeure as ’n dubbelgeskiedenis neerpen. Dit wat langsaan geloop het en ’n mens soos ’n skaduwee volg. Of dalk het ek my dit alles verbeel.”

Die hoofkarakter in Flarde gesels en skreeu haar frustrasie op die internet uit en in Ganyesa was die internet vir Marlize haar lifeline, “maar soos dit aanvanklik sanity help behou het, het die internet soveel meer die karakter van ’n verbeelde werklikheid. Die internet-persoon is meervoudig, verskuil. Die uitreik en die ware kontak gebeur selde. Wanneer dit wel gebeur, is dit uiters selde bevredigend. Dink aan die gesprek – ’n verbeelde werklikheid, gesigloos, elke woord kan lieg en binne elke woord is daar soveel ander dinge verskuil. Van die werklikheid in hierdie oomblik, die weer wat skielik dreun, Tori Amos se stem, die koue, kan ek nie ontsnap nie.”

Volgens Cecile Cilliers (Volksblad, 23 Mei 2005) vertel Hobbs twee verhale in een: “haar eie, as selferkende maatskaplike werker, en haar stryd teen dwelms, depressie en epilepsie. Parallel daarmee loop die verhaal van die Dipeko-familie, een van haar gevalle, en sy laat die twee verhale uit verskillende blikhoeke en met verskillende stemme praat, naamlik die stem van die maatskaplike werker as hoofverteller en dan dié van die verskillende lede van die Dipeko-familie.

“Die verhaal werk met die rou werklikhede van armoede en vigs en werkloosheid in ’n tipiese Suid-Afrikaanse samelewing. En met die disfunksionele gesig van die meer gegoedes. En sy, die maatskaplike werker, is intens betrokke daarby. Hierdie intieme kennis van en intense meelewing met die ander, die onbekende mense in ons bont samelewing, is nog nooit so rou, so seer en so oortuigend in enige Afrikaanse roman weergegee nie.”

Tog ervaar Cilliers die blikhoek nie altyd as somber nie. “Hobbs se styl is lig, prikkelend, met digterlike metafore. [...] En wat die slot van die boek betref – ja, in die laaste bladsy steek daar tog iets van hoop, groei daar vlerke uit haar krom skouers. Ek het die boek onwennig toegemaak, traag om afskeid te neem van ’n wêreld en sy mense wat ek intiem leer ken het. Flarde is inderdaad ’n merkwaardige debuut.”

In Flarde het die hoofkarakter verhoudings met mans en vroue. Stephanie Nieuwoudt wou by Marlize weet of die geslagtelike ongelykheid en die geweld teenoor vroue in die samelewing in die algemeen en in Ganyesa in die besonder, dalk ’n invloed het op die karakter se seksuele ambivalensie.

“Geslagtelikheid,” antwoord Marlize. “’n Mens is daartoe verbind die oomblik wat jy in die baarmoeder gevorm word. Jy is onlosmaaklik daartoe verbind, selfs al sou jy die geslag-verandering laat doen. As een van ’n tweeling – en dan is die ander een ’n seun – merk jy op ’n stadium daar is ’n verskil. ’n Moerse verskil. Só dieselfde en tog só verskillend.

“Die oomblik wanneer jy onderskeid tref tussen twee groepe, is daar onmiddellik vrae. Dit behels politieke, ekonomiese en fisieke verwagting, verbeelde verantwoordelikhede teenoor die ‘ander party’ en teenoor jouself en dit val alles binne ’n samelewingsraamwerk.

“Maar daar is ’n grys gebied. En dan praat ek nie van homoseksualiteit of biseksualiteit nie. Dit bring pengevegte, etiese gevegte, godsdienstige issues en verwarring. Ek wil my nie te veel uitlaat hieroor nie.

“Die verteller (wanneer dit nie as ekself gesien word nie) sal moontlik na enigiemand gaan om te vind waarna sy soek. Veral omdat sy nie seker is waarna sy soek nie. Miskien bevryding? ’n Roekelose liefde? Die verteller – wanneer dit ek as skrywer is wat praat – kan maak van die karakter wat sy wil. Sy kan liefhê en lus hê en smag na wat sy wil. Die skrywer maak dit moontlik.”

Gerrit Brand skryf in Die Burger van 25 Julie 2005 dat Flarde ’n vertelling is, eintlik ’n versameling van vertellings, op soek na ’n storie. “Verskillende vertellers kom afwisselend aan die woord, sommiges net een keer. Tog is dit asof daar deurgaans een ‘ek’ teenwoordig is, ’n soort kollektiewe psige wat sy eie spoor kwyt is, nouliks tot selfbewustheid kom, maar nietemin die verweefdheid onderstreep. [...] Die vertellers en karakters praat verskillende soorte Afrikaans, asook heelwat Tswana en ’n bietjie Engels. Die geveg met taal word boeiend deel van die verhaal. Dit is net jammer dat ’n Tswana-kenner klaarblyklik nie die teks deurgegaan het om die spelling en grammatika te kontroleer nie; daar is heelwat foute. [...] In Hobbs kry Afrikaans ’n belangrike en besonderse stem.”

Willie Burger (Beeld, 1 Augustus 2005) meen dat Marlize Hobbs se debuut dadelik die aandag trek. “’n Paar jaar gelede het die Natalse resensent Andries Visagie die ‘bloedarmoedige’ prosa van talle jong Afrikaanse skrywers betreur. In Hobbs se prosa is die taal beslis veel meer as ’n toevallige, bloedarmoedige medium om ’n storie vertel te kry.

“Die moontlikhede van taal word op verskeie maniere ondersoek en uitgebuit. Al raak die taalgebruik plek-plek aan mooiskrywery, ’n effens oorbewuste taalgebruik, is selfs dít binne die konteks van die novelle sinvol en toon Hobbs ’n sterk potensiaal as woordsmid. Boonop bewys haar taalgebruik dat ’n jong skrywer nie in ’n selfbewuste jipperigheid, met die slordigheid van denke wat dikwels daarmee gepaard gaan, hoef te verval nie.

“Taal en skryf is vir die hoofkarakter, Lisa, te belangrik om slordig daarmee om te gaan. Vir haar is taal uiteindelik die enigste verweer teen die chaos van die lewe, teen onbegrip. Dit is singewing en terapie.

“Soos in Abraham de Vries se kortverhaalbundel Tot verhaal kom staan vertelling as ’n poging om sin te maak, om deur die vertel van ’n storie tot verhaal te kom, in Flarde sentraal. Maar soos die titel reeds aandui, en soos in De Vries se bundel, is daar bloot flardes van vertellings, is dit nie moontlik om ’n enkele, samehangende, singewende verhaal van ’n lewe te vertel nie. Nietemin is die flardes van stories, die vertellings uit verskillende hoeke, deur verskillende karakters, die enigste manier om sin te probeer maak van ’n lewe. [...]

“As ’n maatskaplike werker in ’n afgeleë, armoedige landelike gebied, raak Lisa betrokke by talle mense se lewe. Nie alleen moet sy uit die flardes verhale van haar kliënte uit die stofverwaaide gemeenskap probeer sin maak nie, maar sy raak ook betrokke by ’n Kubaanse dokter en knoop talle vriendskappe oor die internet aan. Die verhoudings met ander en haar pogings om sin te maak van veral die Dipeko-familie se vertellings deur alles neer te skryf wat hulle vertel, word vervleg met haar pogings om ook sin in haar eie lewe te vind, haar pogings om haarself te verstaan.

“Uiteindelik loop die swerfpad van Mosimanegape Dipeko (die wegloopkind) parallel met háár lewe as ‘wegloopkind’. Soos hy ná vele omswerwinge terugkeer na die plek van sy mense (dieselfde omgewing waar sy as kind gewoon het), het sy ook nodig om na die ‘stukkende huis’, na haar ‘woestyn’ terug te keer om tot rus te kan kom. [...]

“Lisa ervaar moeite met die realiteit waarin sy lewe en sy gebruik dwelms in ’n poging om die lewe draaglik te maak. Ook godsdiens en liefdesverhoudings, verhoudings met familie en vriende, selfs internetkorrespondensie en deelname aan LitNet word in Flarde belig as maniere waarop individue probeer om sin te maak van hulle eie lewe.

Die idee van ’n ondersteunende gemeenskap, van die gesin as veilige hawe word ook geproblematiseer. Die Dipeko-familie se probleme (en die geheime wat binne ’n gesin bewaar word en uiteindelik skadelik inwerk) belig Lisa se soortgelyke gesinsagtergrond waaroor sy skryf.

“Die vernietigende effek van verdoeseling, van geheime, van skuldgevoelens en die gevolge daarvan as nie oor hierdie gesinsgeheime gepraat word nie, staan sentraal. Maar uiteindelik is die uitpraat ook nie ’n eenvoudige oplossing nie. Ook die uitpraat kan negatiewe gevolge hê en dit is gewoon moeilik om te doen. Lisa kan uiteindelik slegs deur suggestie verwys na die oorsprong van haar skuldgevoelens en sy ervaar deurgaans ’n onvermoë om haar eie gevoelens te verstaan.

“Die vermoede dat hierdie knapgeskryfde novelle sterk outobiografies is, word op verskeie maniere bevestig. Dit gebeur dikwels dat ’n skrywer wat sukses behaal met ’n besonder outobiografiese debuut, sukkel om dit met ewe veel sukses op te volg. Hobbs se taalbenutting, haar bedrewe hantering van verskillende vertellers, haar vermoë om met suggestie te werk en die deurdagte gebruik van motiewe soos vuur, stof, wind en water, gee ’n mens egter hoop dat Flarde ’n stewige oeuvre sal inlui.”

Volgens Louise Viljoen (Rapport, 12 Junie 2005) word daar dikwels in gesprekke oor die lewenskrag van die Afrikaanse letterkunde gevra waar die betekenisvolle nuwe werke deur belowende jonger skrywers dan is. In antwoord hierop sou verwys kon word na Marlize Hobbs, skrywer van Flarde.

Viljoen gaan voort: “Die sentrale stem in die novelle is dié van ’n maatskaplike werker. Haar vertellings word verder deurgaans vervleg met die ek-vertellings van die lede van die Dipeko-familie met wie sy in aanraking kom deur haar werk as maatskaplike werker in die afgeleë Ganyesa.

“Op heel beknopte en tegelyk suggestieryke manier word die verloop van haar lewe blootgelê: haar ervarings as klein meisietjie, as student in maatskaplike werk, as jong vrou in haar eerste betrekking. Dit is veral haar psigiese lewe wat op boeiende, poëtiese wyse in haar ek-vertellings blootgelê word. Daar is die verhaal van haar epilepsie, verslawing aan medisyne en ander substanse, die depressies, die vreugdes, die begeertes, die aangetrokkenhede tot bepaalde mans en vroue wat met ’n soort kriptiese krag oorgedra word.

“Oor sekere dele van haar geskiedenis word daar egter geswyg. Sy sê immers self: ‘Binne elke geskiedenis is nog een, binne elke verhaal ’n onvertelde storie.’ Dit wil voorkom asof die onvertelde storie in hierdie geval handel oor iets wat in die familie gebeur het of oor die pa wat soms positief, maar op ander tye weer negatief in herinnering geroep word. Die leser kan ook uit die parallelle met die Dipeko-familie sekere gevolgtrekkings maak oor dit wat verswyg word in hierdie geskiedenis, soos dat haar tweelingboetie, Ben, se hande verbrand net soos dié van Mama Minoto se pleegkind, Kabelo. Die vertelling lê byna ongemerk sekere skakels en die leser word die geleentheid gelaat om te speel met allerlei betekenismoontlikhede.

“Die leser leer verder iets van die maatskaplike werker se dryfvere en droefhede verstaan deur haar verwysings na die skryfproses waarmee sy besig is. Met J as mentor wat haar leer om stories te skryf, probeer sy om haar geskiedenis te herskep sodat sy daarin kan glo. Dit is ook deur stories dat haar verhaal as wit Afrikaanse vrou vervleg raak met dié van die Afrika-mense om haar en sy haar eie geskiedenis kan omvorm in dié land met sy baie spoke uit die verlede. Omdat sy ’n maatskaplike werker is, vertel hulle vir haar hul stories. ‘Met elke kliënt wat inkom en naderhand ’n bekende gesig word, leer ek ’n Afrika-storie in myself ken. Ek maak dit myne, sodat ek die sondes van my voorvaders kan agterlaat,’ skryf sy.

“Hierdie proses lê dus ten grondslag van die vervlegting van haar verhaal met dié van die Dipeko-familie waarin Mama Minoto sentraal staan. Sy is ’n kinderlose vrou wat vir Kabelo, wie se sestienjarige ma by sy geboorte sterf, onder haar sorg neem. Naas haar is daar ’n verskeidenheid ander karakters uit dieselfde familie wat ook hul verhale vertel om uiteindelik die geheim rondom Kabelo bloot te lê. Die stilswye oor die geweld teenoor vroue en kinders word gedeeltelik opgehef deur Mama Minoto se vertel van die verhaal aan die maatskaplike werker én deurdat die maatskaplike werker dit opneem in die boek wat sy skryf (hierby is die outobiografiese besonderheid dat die skrywer ’n maatskaplike werker is ook ter sake).

“Die wêrelde van die wit Afrikaanse maatskaplike werker en die Tswana-familie word ook op ’n ander vlak as die realistiese geskakel in die vertellings van Mosadiotsile. Mama Minoto sê vir die maatskaplike werker die mense van Ganyesa het vir haar ’n Tswana-naam gegee, naamlik Mosadiotsile, wat beteken ‘’n vrou het gekom om ons te help’. Die leser lei af dat die vertellings deur Mosadiotsile eintlik dié van die maatskaplike werker is wat haar daardeur kan vereenselwig met die leefwêreld van die Tswana-mense. Hierdie vertellings het ’n soort magies surrealistiese kwaliteit waarin Mosadiotsile onder andere wraak neem op geweldenaars en vroue en kinders bemagtig.

“Die skrywer slaag dus daarin om groot diversiteit en subtiliteit te verpak binne die betreklik beperkte omvang van hierdie novelle. Die sterk introspektiewe vertelling van die maatskaplike werker word gedryf deur die vreemde logika van die psige: die opbou van die verhaal is fragmentaries, ‘flarderig’ (soos wat die titel sê), met verrassende spronge tussen die verskillende momente.

“Hierteenoor skep die verskillende vertellings deur die swart mense die narratiewe spanning in die verhaal en bou dit doelgerig op na die onthulling van die geheim rondom Oneboy Dipeko se dood. Verder word daar ook subtiele skakels tussen die verskillende vertellings en stemme ingebou deur die veelseggende verwysings na wind, stof, grond, bepaalde plekname, oë, vuur, hande ensovoorts. Daarby word die verhaal mooi omraam en ingebind deur die maatskaplike werker se perspektief op haarself as klein meisietjie in die plaaswinkel Mawethu Butchery en General Dealers, ’n ruimte wat ’n verdere kontakpunt is met die Dipeko’s.

“Marlize Hobbs se Flarde is ’n besondere debuut in Afrikaans: dit is ’n ‘klein’ boek wat daarin slaag om ’n groot impak te maak.”

Na die publikasie van Flarde was Marlize omtrent die heel laaste persoon wat ’n eksemplaar van haar eie boek in die hande kon kry, want Vryburg is vér, beduie Marize aan Sonja Loots in Rapport van 15 Mei 2005). En toe sy uiteindelik by Vryburg se poskantoor aankom, het sy die strokie vir die pakkie verloor en wou die klerk dit nie vir haar gee nie.

“Burokrasie op sy beste: dis nou Vryburg,” sê Marlize aan Sonja Loots. “Ek verduidelik vir haar dis mý boek, die foto van die girl agterop is ’n foto van mý, maar sy wou niks weet nie, níks. Ons moes die posmeester bel en ek moes mooipraat voordat ek die pakkie kon kry.

“En jissie, toe ek daai boek vat, toe word ek amper flou. Ek staan daar en huil in die poskantoor. Toe gaan sit ek in my kantoor en huil, en ek húil, en ek huil nóg ’n bietjie. Toe bel ek my ma en my tweelingboetie.”

’n Kollega het kom vra wat aangaan. “Toe sy agterkom die boek is oor Ganyesa, trek die nuus dwarsdeur die kantoor. Marlize het ’n boek oor Ganyesa geskryf. Toe is ek so vir vyf minute ’n hero.”

Die karakters van Ben, haar tweelingbroer, en haar minnaar van Kuba, Ivan, is op regte mense gegrond en sy het hulle regte name in die boek gebruik. “Ivan het my gehelp om die sex scenes te skryf. Ek skryf en dan sê hy: ‘No, sweetie, jy’s so bietjie aggro, jy kan nie sommerso op my spring nie.’ Dan sê ek: ‘Dis nie op jóú nie, dis op ’n karakter.’ Maar die dokter is terug Kuba toe.”

Die toneel in Flarde waar die maatskaplike werker haar vir behandeling vir dwelmafhanklikheid aanmeld, is ook baie na aan die werklikheid. “Ek was eenkeer verskriklik stoned by die werk,” vertel Marlize aan Sonja Loots (Rapport, 15 Mei 2005). “Toe sê my baas: ‘As jy gatvol genoeg is, sal jy iets daaraan doen. Besluit self.’ Dit is die beste terapeutiese woorde wat ek in my lewe gehoor het. Jy moet sélf kom op die punt waar jy besluit jy is gatvol om Valium te gaan bedel. Gatvol vir die smaak in jou mond. Gatvol om skuldig te voel, want die oomblik wat jy skuldig voel omdat jy iets gebruik, gaan doen jy dit weer.

“Ek het in my kar geklim, hospitaal toe gery en gesê: ‘Hier is ek en ek het ’n probleem.’ Nou, die mense ken my en hoe kan ék dan nou ’n probleem hê? Ek het vir hulle gesê: ‘Ek’s ’n druggie, julle weet dit net nie, want julle kyk nie in my oë nie. En omdat ek aan epilepsie ly, is dit vir my niks om pille te kry nie.’”

In De Kat van Somer 2005 sê Marize dat sy glo jou “individualiteit lê opgesluit in die geheime self wat jy nie goedsmoeds ontbloot nie, die geheime self waarvan net jy weet en waaroor ander wonder. Hierdie versteekte stuk self kom in my skryfwerk na vore deur die gebruik van outobiografiese besonderhede in dele van die teks en weer in ander dele wat ek bylieg – om ’n karakter iets te laat sê soos ek dit sou wou hoor en nie noodwendig soos dit gesê is nie”.

Na al die pryse en bohaai oor die boek vertel Marlize aan Sonja Loots (Rapport, 15 Mei 2005): “Ek gaan terug werk toe, waar ’n ongelooflike klomp dinge moet gebeur. En dis dit. Ek gaan huis toe, Vryburg toe.” Daar waar die armste mense van die dorp haar gaan groet op haar ánder naam, haar Afrika-naam. Mosadiotsile, wat beteken: ’n vrou het gekom om ons te help.

In 2009 publiseer Marlize die eerste 100 bladsye van ’n nuwe roman getiteld Divine prostitute / The girl in the bird’s nest op haar blog en vra sy lesers om terugvoering te gee.

In 2016 verskyn Marlize se tweede roman onder die titel Score my ’n gwai. Dit word genomineer vir die kykNET-Rapport Boekpryse in die filmkategorie vir 2016. Sy vertel aan Naomi Bruwer op LitNet dat hierdie nominasie vir haar ’n groot eer was, aangesien “enige erkenning vir haar as skrywer baie beteken. Om ’n tweede boek te skryf na die groot sukses en baie toekennings van Flarde was nie maklik nie en het my inderdaad agt jaar geneem. Daar is ’n persoonlike vreugde aan erkenning, maar dit help ook baie om jou as skrywer te bemark en dan die tipe verhale wat jy skryf. Kyk man, ek is ‘chuffed’ met myself hieroor. En baie dankbaar teenoor die beoordelaars.”

Score my ’n gwai word deur twee vroue vertel: “Miesa, dogter van ’n boer op ’n plaas naby Vryburg, en Siena, die vrou wat Miesa help grootmaak het. Na die grensoorlog keer Miesa se pa as ’n gebroke man terug. Hy sit op die stoep en drink en kaarte speel, terwyl die plaas vergaan. In die aande kom hy na Miesa se kamer, waar sy sy onmag moet ontgeld. Miesa se ma maak ’n plaaswinkeltjie oop en Miesa vind ’n mate van ontvlugting daar. Dis ook in hierdie winkel waar sy haar eerste minnares ontmoet en haar weg na die buitewêreld vind. Wanneer sy ’n outistiese dogtertjie aanneem, begin haar lewe sin kry en vind sy uiteindelik blywende liefde.” (uitgewer se inligtingstuk)

Naomi Bruwer wou op LitNet by Marlize Hobbs weet wat haar geïnspireer het om hierdie verhaal te skryf. Marlize vertel vir haar hoe die storie by haar aangekom het: “Die verhaal van die verhouding tussen my en ons bediende, uitgebrei na die verhouding tussen Miesa en Siena Maamogwe, vreet al lank aan my. Ek het nie juis gekies om die storie te skryf nie. Dit het self by my aangemeld. Uit die vertelling van Flarde is daar tonne verhale wat tussen die reëls reeds daar was wat ek net moes gaan opsoek. Score my ’n gwai was iets wat ek om baie persoonlike redes vir myself gedoen het. Dat ek erkenning vir die werk ontvang, is dus ’n groter aanwins by die persoonlike betekenis wat dit ingehou het.”

Nathan Trantraal is die resensent van Score op LitNet: “Score my ’n gwai volg tot ’n mate die formaat van ’n dokumentêre film. Met twee karakters wat een storie vertel uit hul eie individuele perspektiewe. Die twee sprekers aan die woord, wat half klink asof hulle vrae beantwoord wat gestel word deur ’n derde party en half soos hul gedagtes dwaal tussen die nou en die verlede, is Siena Maamogwe en Miesa. Die boek het my half herinner aan die dokumentêre fliek Beautiful in Beaufort Wes, met klem op die eendersheid van die verwysingswêreld en die verhoudingsdinamika tussen Gert Vlok Nel en sy pa. ’n Soortgelyke verhouding bestaan tussen Siena en Miesa. Wat hierdie anders maak as Beautiful in Beaufort Wes, is dat die storie nooit voel asof dit deur ’n buitestander gemaak is nie. Dit is asof Hobbs die plek Ganyesa te goed ken om dit te kan beskryf, te verduidelik en rigtingaanwysings te kan gee. So, wat jy doen is, jy volg maar die skrywer terwyl sy haar draaie loop en jou bietjie rondwys. Die skryfstyl is baie intiem en gestroop van pretensie en op sy beste oomblikke voel dit asof Hobbs hier langs my sit op die karsitplek agter in die jaart en vir my ’n storie vertel.

“In ’n tyd waar skrywers met handskoene aan skryf vir vrese dat hulle dalk ’n vingerafdruk mag los op die bladsy wat hul lesers ’n insig mag gee in die persoon agter die boek, is Marlize Hobbs iets heel anders. Hier is ’n skrywer wat haar DNA skaamteloos op die bladsy los: op hierdie bladsye is daar dikwels sweet, skilfers en fyngekoude vingernaels. Jy voel half Hobbs sit hier en vertel vir jou die stories, soos iemand wat goed is met mense en stemme namaak. Dit skep die illusie van iemand wat nie so goed skryf as wat sy maar net goed onthou nie. Dié manier van vertel is hier misleidend, omdat Score my ’n gwai ’n boek is met ’n baie tradisionele struktuur, geskryf onder die vel uit van die karakters.

“Dit is ’n sikliese uitsig op ’n persoonlike geskiedenis, die karakter van Siena, die Tswana-huiswerker wat dien as ’n soort pleegmoeder vir Miesa. En dan, jare later word hierdie sirkel voltooi wanneer Miesa, die wit vrou, ’n klein Tswana-dogtertjie genaamd Naledi aanneem as haar eie. Daar is ’n roerende oomblik waar Miesa die babatjie met haar melklose borste borsvoed. Die tema van geboorte en hergeboorte duik ook deurlopend op. In die hede is Miesa in ’n gelukkige verhouding met Jasmyn, wat sy op Facebook ontmoet het; hulle maak saam vir Naledi groot. Dan, op verskillende tye, en wat vir die skrywer soos verskillende lewens voel, werk Miesa in haar ma se winkel, is ’n inwoner by ’n psigiatriese hospitaal en is in ’n verkrummelde verhouding met haar eerste liefde, Leona. Hobbs slaag daarin om al die realiteite te laat voel asof dit gelyktydig geskied.”

“Die unieke taalgebruik, ’n mengsel van Afrikaans, Engels en Tswana, spring van die blaai af en trek jou binne met altwee arms. Daar is ’n diepte en wysheid in die taalgebruik en dit voel deurlopend oorspronklik oud en nuut. Vir ’n skrywer wie se eerste roman reeds in 2005 uitgegee is, voel dit verskriklik vars. En dis miskien die krag van hierdie skrywer: die vermoë om haarself te herskep. Nog altyd dieselfde en tóg heel anders.”

Marlize se eerste digbundel, ’n Suitcase vol sterre, word in 2016 deur haarself uitgegee. Saam met die bundel is daar ook ’n CD waarop Marlize van die gedigte self voorlees en ook meer vertel oor die gedigte.

Op LitNet vra Naomi Meyer vir Marlize om ’n bietjie meer te vertel oor die ontstaan van die bundel: “Ek het van baie jonk af gedigte geskryf en sedert 2011 effektief gewerk daaraan om my skryfvermoë in die digkuns te verbeter. Dit het beteken dat ek manuskripte voorgelê het vir keuring en op grond van die keurverslae soveel as moontlik geleer het. Ek het ook my vriende in die akademie genader, veral Neil Cochrane, wat my ongelooflik baie gehelp het om die beste werk daar te stel.” [...]

“Op 26 het ek Jeanne Goosen se telefoonnommer as verjaarsdag geskenk gekry en my eerste beter-ontwikkelde gedigte aan haar gestuur. Van daar het ons dekades lange vriendskap ontwikkel. Ek het baie by Jeanne geleer, want sy is baie reguit en as sy dink iets is swak skryfwerk sal sy sonder skroom vir jou sê. Jeanne het dan ook deur die uiteindelike bundel saam met my gewerk en raad gegee en gehelp om slegs die beste gedigte uit tonne uit te soek. Dis ’n lewenslange droom.”

Sy het die bundel self uitgegee aangesien sy ’n baie ongeduldige mens is en nie weer so lank wou wag vir die boek om te verskyn nie. Sy het ook besluit om die middelmanne uit te sny om die prys van die bundel ’n bietjie meer bekostigbaar te maak, verduidelik sy aan Meyer: “Ek wil ’n bekostigbare bundel daarstel wat spreek tot ’n groter leserspubliek, veral omdat dit oor die lewe en die rouheid daarvan gaan. Dit het ’n toon wat baie aanneemlik is vir lesers, wat ek geleer het deur prosa te skryf. Ek glo gedigte moet toeganklik wees, sonder om die kwaliteit en literêre waarde daarvan te benadeel.”

Van die gedigte kom van baie lank terug – uit haar grootwordjare. So is daar een wat sy geskryf het toe sy 12 jaar oud was. “Die gedig oor die inrigting (Saal 29, Nasionale Hospitaal Bloemfontein, waar ek op 15-jarige ouderdom opgeneem was) kom uit my standerd 8-jaar en ek hoef bitter min daaraan te verander het om dit in hierdie bundel te gebruik. Maar uit 100 gedigte wat jy oor so ’n lewenservaring skryf, is daar baie keer slegs vyf wat op die ou einde behoue bly.”

Oor die titel vertel Marlize aan Naomi Meyer dat dit die titel is van een van die gedigte in die bundel: “Daarin beskryf ek hoe mens soms opkyk en die sterre wat soos wasgoed aan die hemel hang, wegbêre in jou suitcase. Sodat jy daarmee kan travel. ’n Vriend van my wat in een van die Stemme-digbundels gepubliseer het, het ook saam met my deur die bundel gewerk en het met die titel vorendag gekom. Jan du Plessis. Hy het dit daarmee perfek beskryf.”

Vir Meyer is Marlize se gedigte baie persoonlik, amper soos briewe wat ’n mens skryf aan mense wat jy ken. Sy wou weet wat is wáár, wat is fiksie en wat is heilig: “Reinet Nagtegaal het altyd gesê sy leer haar kinders dat niks heilig is nie. Dis voorwaar waar van skryfwerk, want jy is dadelik ’n toffie as jy publiseer, nog meer so as dit ’n selfpublikasie is. Alles wat persoonlik is word algemene besit, maar ek verraai nooit werklik my geheime self nie. Dit is daar waar ek die heiligheid koester. Ek skryf oor dit wat my daagliks raak. Oor diep persoonlike ervarings, maar dis menslike ervarings wat deur alle mense daagliks ervaar word. Die verskil is miskien dat my wêreld dié van ’n lesbiese vrou en haar verhoudings en ontwikkelingsproses is en ook dié van ’n ma met ’n kind wat op die outisme-spektrum is.”

“Ek hou daarvan dat jy dit vergelyk met briewe, want een van die goed wat ek en Jeanne al vir jare doen, is om briewe vir mekaar te skryf en dis daaruit dat ek die geselstoon so goed aangeleer het. Ook is ’n brief soos ’n gebed wat geen einde het nie. Briewe is eindeloos; dis nie soos e-pos wat slegs funksioneel aangewend word nie.”

Op Netwerk24 (24 Augustus 2016) resenseer Gisela Ullyatt ’n Suitcase vol sterre. Sy beskryf die temas wat in die bundel voorkom as volg: “Die bundel wentel rondom die volgende hooftemas: disfunksionele familiebande met ondertone van bloedskande, opname in ’n psigiatriese hospitaal en lesbiese erotiek. Die digter-spreker neem ook leitmotiewe in oënskou soos die randfiguur wat binne die ‘normale’ samelewing as ‘kranksinnig’ beskou word. Die implisiete verhouding tussen kreatiwiteit en gemoedsversteuring (in Hobbs se geval bipolêre gemoedsversteuring) kom ook aan die bod. Die bundel tree in gesprek met Jeanne Goosen se Elders aan diens (2007) en in ’n mindere mate met die briljante maar onderskatte ’n Uil vlieg weg (1971) [...]

“’n Debuutbundel deur ’n gevestigde uitgewer is reeds ’n waagstuk; ’n selfpublikasie en ’n debuut daarby veel groter. Tegnies sou Suitcase vol sterre beter versorg kon word om tikfoute uit te skakel. [...] Ten spyte van die onwennighede is Suitcase vol sterre ’n debuut wat nie geïgnoreer mag word nie.”

In 2018 publiseer Naledi Uitgewers As sy weer kom, Marlize se volgende roman. Die hoofkarakter is Iza en hierdie vertelling begin in 1991 toe sy by die Middestad Sending- en Evangelisasie- Aksie in Hillbrow aankom, skryf Clari Niemand (Netwerk24, 18 Februarie 2019).

“Op die trap voor die sendinghuis val iemand se tassie oop. Daar val hordes Bybels uit, om die waarheid te sê: sewentien Bybels. Ek het getel. Later sou ek leer dat niks wat mens in die Bybel lees, is soos dit is nie, en dat mens die Bybel uit soveel moontlike Bybels, veral in Engelse King James weergawes, moet lees, anders kop jy dit nie reg nie.” So skryf Marlize in As sy weer kom.

Niemand gaan voort met haar bespreking: “As sy weer kom kan nie net uit een oogpunt gelees word nie. Op soek na ’n diep kyk in die wese van ’n buitestander? Hierdie is net die boek. Op soek na omhelsing van menslike onvolmaaktheid, selfs patologie? Absoluut, lees dit. Op soek na ’n gelukkig einde? Wees oopkop. Op soek na ’n viering van lesbiese erotika? Gaan koop dit sommer dadelik.

“Marlize Hobbs daag haar lesers uit om oop te maak. Kop, hart ... lyf ook, sou dit die keuse wees. Deurgaans word die misterie van taal en woorde in verhouding tot lewenservaring ondersoek.

“Om terug te keer na die vraag: ‘Hoe word ’n oorrompelende roman gebou / geskep / geskryf?’ Hobbs doen dit deur outobiografiese belewenisse met verbeeldingsvlugte te vervleg, deur indentiteite te laat vurk en versplinter tot dit oplos in die klimaktiese vorteks van haar slothoofstuk. Wat was waarheid en wat fiksie? Wie was werklik en wat nie? Maak dit saak?

“Sy laat woorde ontplof en val rondom die leser, wat kan kies of hy/sy verskrik wil wegsteier of verwonderd wil hand uitsteek.”

Vir Celesté Fritze (Netwerk24, 18 Oktober 2018) vorm As sy weer kom ’n drieluik met Flarde en Score my ’n gwai. Die titel van die jongste roman, As sy weer kom, slaan terug na die ou Hallelujaliedjie “As Hy weer kom”, “maar hier word dit genderverskuiwend gebruik. Die vrouefiguur staan sentraal: ‘As sy weer kom ... kom haal sy haar pêrels’ (p 120).

“Verder skemer eggo’s deur van Hettie Smit se belydenisroman Sy kom met die sekelmaan, waarin die verteller in ’n soortgelyke broksgewyse styl te midde van verhoudingsleed na identiteit soek.

As sy weer kom se teks word nogmaal aangebied as flarde van ’n geteisterde ek-verteller op soek na sin, en soos in die vorige twee werke is die eerstepersoonsverteller ’n maatskaplike werker.”

Op LitNet begin Deborah Steinmair haar resensie ook met ’n terugblik na Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan: “In 1947 het Hettie Smit se depressiewe alter ego klokslag saam met die volmaan opgedaag. Haar dagboek-en-brief-novelle was die eerste belydenisroman in Afrikaans, geskryf in ’n vrou se bloed en vanuit die maalkolk van haar siklus. In 2018 steek die skadu van Marlize Hobbs se verteller, Iza – die spookkind – sporadies kop uit: ‘Ek is nie seker wanneer ek verdeeld geraak het nie. Eendag was daar net twee van ons: ek en die spookkind. Miskien het sy verskyn die nag wat ek begin menstrueer het, miskien is sy gebore uit die pynlike krampe en bebloede bed.’

“Veel het tussen nou en 1947 gebeur: die onskuldige woordjie ‘kom’ het byvoorbeeld in die volksmond ’n stoute betekenis gekry. As sy weer kom is ’n lyflike, bebloede belydenisroman, ’n Sy kom met die sekelmaan vir lesbiese Generasie X’ers. Hopelik ook vir Millenniërs, Nullers en Generasie Z’ers. Dis moeilik om jou die gehoor van hierdie dun, veelseggende boek voor te stel. Benewens gay vroue visualiseer straight mans glo ook graag stywe tepels wat teen mekaar du, en hopelik sal selfs straight vroue ’n soort I kissed a girl and I liked it-kick daaruit kry. As jy die verteller, Iza, kan glo, is dit maklik om straight vroue te verlei. Want Marlize Hobbs is vreesloos en sy skryf met haar lyf, in die tradisie van gay vroueskrywers van byvoorbeeld die Iron Press-druknaam – die jong, aantreklike, hormoongedrewe gay vrou as rokjagter.

“Ja, op die oog af is As sy weer kom ’n reeks verleidings- en vry-episodes, byna soos Kleinboer se boeke. Maar soos in die geval van Kleinboer se tekste skuil daar ’n wêreld tussen die reëls, is die afwesige kloppend teenwoordig, die verlies en ontgogeling, die soeke na sin. Dit herinner ook aan Jeannette Winterson, want Hobbs is immer ’n digter en niks is meer poëties as die lyf nie. Tussendeur is daar terugflitse na haar kinderdae op ’n windverwaaide plaas en die karakters wat haar landskap bevolk het.

“Soos Frida Kahlo en Vincent van Gogh reik Hobbs altyd weer na haar eie beeld vir inspirasie. Al die karakters is tot ’n mate uitvloeisels of weerspieëlings van die verteller, Iza, soos in ’n droom waar al die karakters glo aspekte van die dromer is. Die spookkind, die bot pa wat diep in die bottel kyk, die aktrise, ja selfs die mensvreteroom. Die verteller poog om al die skerwe van die gebroke kaleidoskoop te versoen, te herenig. Dis ’n besinning oor bestaan en die skryfproses, en dit laat skryf na droom klink: ‘Skryf is soms ’n natuurlike uitvloeisel van die daaglikse gebeurtenisse wat vir jare sluimer en ongesê en onuitgesorteer in ons onderbewussyn wag om verwoord te word. Dis ’n tipe huisskoonmaak, opruim en afstof. Dit is ook ’n selfrefleksie in ’n oneindige spieël wat sonder enige oordeel bloot net reflekteer. Ek het vroeg geleer dat die stof altyd terugkeer.’

“Benewens die spookkind – sy is maar een van die spoke wat opdoem – is daar die blink ding soos ’n frisbie wat Iza op vierjarige ouderdom bo die horison sien hang het: ‘Toe skiet daar ’n skerp lig deur my oog en ek val.’ Epilepsie en bipolariteit is die kraak wat deur alles loop en die lig inlaat. Gemoedsteurnis is die losprys wat betaal word vir inspirasie en helderheid. ‘Selfs nou … voel dit steeds soos die vreemde verligting van ’n wegruk deur ’n ruimtetuig die ewigheid in, verlos van die aarde en mense, van my eie lyf.’ [...]

“Skryf is lyf, skryf is bloederige geboorte, en as jy dit reg doen, is dit morsig. En daar is ’n sekere manier waarop veral vroueskrywers dit reg kan doen.”

“Met As sy weer kom trap Hobbs in die spore van skrywers soos Jeanne Goosen, Joan Hambidge, Koos Prinsloo en Eben Venter. Die dunnerige boek is ’n psalter, soos ’n beduimelde digbundel vir weer en weer lees. Dis gelade en gekonsentreerd soos At Grand Central Station I sat down and wept. Dis die stoffasie van kultusboeke: ‘Ons fok die heelal in.’ Ek hoop sy sal vlieg.”

Marlize se volgende roman, Voëlvrou, word beplan om gedurende die tweede helfte van 2002 te verskyn by Protea Boekhuis en het die grendeltydperk as gevolg van die COVID-19-virus as agtergrond. Op Marlize se Facebook-blad word die volgende oor Voëlvrou geskryf: “Binnekort verskyn ’n novelle wat afspeel in grendelstaat / lockdown by Protea Uitgewers, getitel: Voëlvrou. ’n Vreemde vrou in ’n verflenterde rooi boks verskyn in ’n Tswana village in die ou Bophutatswana. Wat sal die mense daarvan maak? Die protagonis, Minerva, sit tuis onder grendelstaat, ingeperk in alle opsigte, behalwe haar verbeelding en haar herinneringe. Sy vertel die verhaal van haar eerste liefde, terwyl sy die stryd van haar geliefde, haar vrou, met borskanker probeer verwoord. Intussen is daar Naledi, hul aangenome dogter, wat outisties is en haar leer hoe om die lewe deur ander oë te bekyk. In die village leer die Voëlvrou die dofkopkind Thupelo ken en dis asof hy skielik kan verstaan. Die vreemde konstante vrees vir die virus en die bewuswording daarvan bereik uiteindelik ook die village waar mense siek word. Wat word van die voëlvrou? Wat word van die skrywer-protagonis wat deur grendelstaat geforseer word om haar eie spoke te face?”

Op LitNet vra Nathan Trantraal aan Marlize: “Die motief van die spieël in Score my ’n gwai ... ek wonder daaroor. Is dit vir jou swaar om jouself te sien weerspieël op die blaai?”

Haar antwoord: “Met Flarde kon ek glad nie die boek weer lees nadat ek dit geskryf het nie. Dit het my te diep geraak. Met Score my ’n gwai het ek die dag wat ek die boek gekry het, gaan sit en deur dit gelees. Ek was verstom hoe raak ek geskryf het, hoe eerlik, so sonder selfbewustheid, asof ek maar net ’n storie aan myself vertel. Ek kon nie glo ek het dit geskryf nie. Daar was plekke in die boek waar ek fisies naar geword het toe ek dit so van buite af lees. Die spieëlbeeld het teruggeblits tot in my siel ... wat herinner aan Nietzsche wat gesê het dat as jy in die abyss kyk, kyk dit terug in jou.”

Oor die gelukkige einde in Score my ’n gwai laat Marlize haar as volg uit teenoor Trantraal: “Jafok, happiness is nie iets waarmee die mensdom goed deal nie, jy weet. En happiness kry oor die algemeen eers werklik waarde as daar ook sadness was. Maar selfs in Flarde, aan die einde, groei daar vlerke uit die krom skouers van die hoofkarakter ... word sy vry. Dit sal baie eensydig wees om net oor slegte goed te skryf. My strewe in die lewe is ’n soektog na balans. Ek is nie bang om oor geluk of die soeke na geluk te skryf nie, want dit is ’n veel dieper tema as ongeluk en hartseer. Dit is inderdaad ’n kuns en ’n kreatiewe manier van leef, om geluk op soek en die vermoë te hê om dit te kan ervaar. Ek het wel ’n sekonde stilgestaan en myself afgevra of dit afbreuk aan die intensie van die verhaal gaan doen as die karakter geluk vind; maar dit het gou oorgewaai: in eerlikheid nou, die lewe is nie net sleg nie en mens moet dit ook weerspieël in jou skryfwerk.”

Publikasies:

Publikasie

Flarde: ’n novelle

Publikasiedatum

2005

ISBN

0958460442 (sb)

Uitgewers

Parklands: Genugtig!

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys 2006
  • Universiteit van Johannesburg-prys vir Beste Skeppende Debuutwerk 2006
  • Jan Rabie/Rapport-prys 2006

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Score my ’n gwai

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798162555 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Kortlys vir kykNET-Rapport Boekprys: kategorie film 2016

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Suitcase vol sterre

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780620713344 (sb)

Uitgewers

Lechermin Media (Marlize Hobbs)

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As sy weer kom

Publikasiedatum

2018

ISBN

9781928426202 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Marlize Hobbs op die internet

Artikels deur Marlize Hobbs op die internet

Marlize Hobbs se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-04-12 gepubliseer en nou volledig bygewerk.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top