As sy weer kom deur Marlize Hobbs: ’n resensie

  • 0

As sy weer kom
Marelize Hobbs

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426202

In 1947 het Hettie Smit se depressiewe alter ego klokslag saam met die volmaan opgedaag. Haar dagboek-en-brief-novelle was die eerste belydenisroman in Afrikaans, geskryf in ’n vrou se bloed en vanuit die maalkolk van haar siklus. In 2018 steek die skadu van Marlize Hobbs se verteller, Iza – die spookkind – sporadies kop uit: “Ek is nie seker wanneer ek verdeeld geraak het nie. Eendag was daar net twee van ons: ek en die spookkind. Miskien het sy verskyn die nag wat ek begin menstrueer het, miskien is sy gebore uit die pynlike krampe en bebloede bed.”

Veel het tussen nou en 1947 gebeur: die onskuldige woordjie “kom” het byvoorbeeld in die volksmond ’n stoute betekenis gekry. As sy weer kom is ’n lyflike, bebloede belydenisroman, ’n Sy kom met die sekelmaan vir lesbiese Generasie X’ers. Hopelik ook vir Millenniërs, Nullers en Generasie Z’ers. Dis moeilik om jou die gehoor van hierdie dun, veelseggende boek voor te stel. Benewens gay vroue visualiseer straight mans glo ook graag stywe tepels wat teen mekaar du, en hopelik sal selfs straight vroue ’n soort I kissed a girl and I liked it-kick daaruit kry. As jy die verteller, Iza, kan glo, is dit maklik om straight vroue te verlei. Want Marlize Hobbs is vreesloos en sy skryf met haar lyf, in die tradisie van gay vroueskrywers van byvoorbeeld die Iron Press-druknaam – die jong, aantreklike, hormoongedrewe gay vrou as rokjagter.

Ja, op die oog af is As sy weer kom ’n reeks verleidings- en vry-episodes, byna soos Kleinboer se boeke. Maar soos in die geval van Kleinboer se tekste skuil daar ’n wêreld tussen die reëls, is die afwesige kloppend teenwoordig, die verlies en ontgogeling, die soeke na sin. Dit herinner ook aan Jeannette Winterson, want Hobbs is immer ’n digter en niks is meer poëties as die lyf nie. Tussendeur is daar terugflitse na haar kinderdae op ’n windverwaaide plaas en die karakters wat haar landskap bevolk het.

Soos Frida Kahlo en Vincent van Gogh reik Hobbs altyd weer na haar eie beeld vir inspirasie. Al die karakters is tot ’n mate uitvloeisels of weerspieëlings van die verteller, Iza, soos in ’n droom waar al die karakters glo aspekte van die dromer is. Die spookkind, die bot pa wat diep in die bottel kyk, die aktrise, ja selfs die mensvreteroom. Die verteller poog om al die skerwe van die gebroke kaleidoskoop te versoen, te herenig. Dis ’n besinning oor bestaan en die skryfproses, en dit laat skryf na droom klink: “Skryf is soms ’n natuurlike uitvloeisel van die daaglikse gebeurtenisse wat vir jare sluimer en ongesê en onuitgesorteer in ons onderbewussyn wag om verwoord te word. Dis ’n tipe huisskoonmaak, opruim en afstof. Dit is ook ’n selfrefleksie in ’n oneindige spieël wat sonder enige oordeel bloot net reflekteer. Ek het vroeg geleer dat die stof altyd terugkeer.”

Benewens die spookkind – sy is maar een van die spoke wat opdoem – is daar die blink ding soos ’n frisbie wat Iza op vierjarige ouderdom bo die horison sien hang het: “[T]oe skiet daar ’n skerp lig deur my oog en ek val.” Epilepsie en bipolariteit is die kraak wat deur alles loop en die lig inlaat. Gemoedsteurnis is die losprys wat betaal word vir inspirasie en helderheid. “Selfs nou … voel dit steeds soos die vreemde verligting van ’n wegruk deur ’n ruimtetuig die ewigheid in, verlos van die aarde en mense, van my eie lyf.”

Soos epilepsie, ruk seks die verteller los van die wêreld, waar sy ontheemd is. Sy herinner aan die volgende lirieke van Stef Bos: “Ik heb een goddeloos geloof/ En ik hou van elke vrouw/ En misschien ben ik geworden/ Wat jij helemaal niet wou.” Vergelyk die volgende passasie: “Soms voel die lewe soos ’n voortdurende one night stand waarna jy wonder wat het oor jou gekom? Is seks dan liefde? Of liefde dan seks? Moet jy elke vrou bemin of wil hê: om te bewys jy is begeerlik?” Sy dra haar woorde op aan “al die meisies en vroue wie ek my verbeel het ek bemin. Wat my vir kortstondige oomblikke kon wegneem van die aardse, die heelal in. Dankie vir gulsige soene en palms vol borste en na-nag sigarette in die donker met Leonard Cohen in die agtergrond: I’m your man.”

Skryf is lyf, skryf is bloederige geboorte, en as jy dit reg doen, is dit morsig. En daar is ’n sekere manier waarop veral vroueskrywers dit reg kan doen.

Met As sy weer kom trap Hobbs in die spore van skrywers soos Jeanne Goosen, Joan Hambidge, Koos Prinsloo en Eben Venter. Die dunnerige boek is ’n psalter, soos ’n beduimelde digbundel vir weer en weer lees. Dis gelade en gekonsentreerd soos At Grand Central Station I sat down and wept. Dis die stoffasie van kultusboeke: “Ons fok die heelal in.” Ek hoop sy sal vlieg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top