Shirmoney Rhode het op 4 November 2013 'n brief vir Nathan Trantraal geskryf. Marlize Hobbs reageer op Shirmoney se bydrae.

Dis vreeslik lekker om op die wa te spring en te maak of wat Nathan Trantraal skryf en praat en dink, so erg is … Dit is nie, glad nie. Dis 'n opinie. Almal het opinies. Hy het die ondenkbare gedoen en Adam Small aangevat. Toe’s die hel los, natuurlik.
Nou wil ek die leser uitdaag om op 'n ander manier hieroor te dink. Kom ons doen dit deur hipoteses:
Hipotetiese stelling: y=(f)x
Waar y die afhanklike veranderlike veronderstel en x die onafhanklike veranderlike.
z is dan jou steuringsveranderlike, wat kan beteken dat ander faktore intree wat op hul beurt veroorsaak dat jou hipotetiese stelling nie so mooi uitwerk nie.
Eenvoudiger gestel: sê nou maar net die mens (y) is ’n funksie van God (x) en sonde is die steuringsveranderlike (z). Maklik nè?
Die sonde veroorsaak dat die mens dus nie meer bereid is om as afhanklike veranderlike op te tree nie.
(Bostaande is bloot ’n hipotetiese stelling; ek glo dit nie.)
Nathan se bundel kan dus as volg gelees word: dit wat hy geskryf het, is die afhanklike veranderlike (y) – maw dit wat hy graag sou wou weergee. Dit is sy subjektiewe relaas van ’n waarskynlike realiteit; want dit kan gebeur, en gebeur daagliks of gereeld genoeg om genoem te word. Slegs hy sal weet hoeveel is waar en hoeveel nie, tot watter mate hy sy skryfwerk op realiteit (sy persepsie daarvan) baseer.
Digkuns is so 'n vloeiende, soms onbewuste proses dat mens miskien selfs sal kan sê dat die skrywer self op 'n punt nie meer sal weet hoeveel is waar of hoeveel is gelieg nie. Wat Nathan se bundel laat uitstaan, is die eerlikheid, die openheid. Dink almal nou dis hoe mense van die Kaapse Vlakte is? Lesers is nie dom nie. Nathan gee 'n persoonlike weergawe van sy waarneming; om die inhoudelike van sy digkuns te kritiseer as die afmaak van bruin mense as tikkoppe, skommelaars, ens is om die hele betekenis te mis. Is dit nie juis hierdie omgewing wat tot inspirasie gelei het nie? Daar is soveel ironie in sy bundel en dit voel my al asof dit heeltemal gemis word.
Waarvan is die “subjektiewe weergawe van ’n waarskynlike realiteit” (die gedig of bundel) afhanklik? Hierdie is dan die y faktor; x word dan ons onafhanklike veranderlike: die Taal. Die medium waarin ek dit sê. Hierdie medium bestaan uit ’n baie groot aantal opsies – 26 letters, miljoene sinne – soveel betekenisse wat die skrywer in sinne sou wou weergee. ’n Sin om mee sin te maak. Gaan verder: die volle betekenis van die storie is afhanklik van die taal wat gebruik word om dit in te vertel. Sy gedigte sou in geen ander taal as Kaaps gewerk het nie. Ek self is al uitgekryt oor my vloektaal, maar vloek is funksioneel. Dis hoe ek praat en skryf. Ek dink nie dit is kru of moreel verkeerd nie. Wie is jy of enigiemand om my morele kompas te wil wees? Dit klink of me Rhode vir Nathan wil preek oor hoe om te wees, wat om te dink en daarom ook hoe om te skryf en hoe om wat sy waarheid is, weer te gee. Dis kak. Niemand het die reg om iemand anders se storie (wat bleddie goed geskryf is) te meet aan hul eie morele waardes nie. Goeie hemel, vir wat doen jy jou honneurs oor sy bundel? Hoekom nie sommer net Adam Small se bundels vat nie?
Die steuringsveranderlike (z) behels dan die wyse (effektief of oneffektief) wat ek aanwend om te sê wat ek sou wou sê. En dit kan die moontlike “geraas” in kommunikasie veroorsaak. Hier het ons dus: y – die storie (afhanklike veranderlike) wat x (onafhanklike veranderlike, taal) nodig het om uiteindelik dit wat vertel moet word, te kan vertel. Nou is daar die wyse waarop jy taal aanwend, wat die steuringsveranderlike is (z) wat veroorsaak dat jy nie lees wat bedoel is nie, want jou persoonlike subjektiewe ervaringswêreld bepaal hoe jy dit gaan interpreteer.
'n Gepubliseerde werk word onmiddellik 'n hergeskrewe boek wanneer ander dit lees. Dit is die moeilikste van skrywer-wees: om dit wat jy bedoel het, te laat gaan, met die hoop dat die leser sal kop wat jy bedoel.
Dit is van my kant af duidelik dat die wyse waarop Nathan met die taal omgegaan het om te sê wat hy wou sê, geweldig geraas veroorsaak het by sommige lesers – in so 'n mate dat slegs die vloektaal en kruheid gelees word. En natuurlik: alles wat Nathan kwytraak, word onder die vergrootglas geplaas en buite verhouding opgeblaas. (Terloops, ek is mal oor Adam Small se werk, maar vir vandag praat Nathan meer met my.)
Kom ons keer terug na die hipotese: y = f(x) y is 'n funksie van x, waar y die afhanklike veranderlike is en x die onafhanklike en dan weer eens z as steuringsveranderlike.
Die teks (y), dit wat geskryf is, staan as afhanklike veranderlike teenoor die leser (x), onafhanklike veranderlike wat beïnvloed word deur z = die wyse waarop die leser kiés om die teks te interpreteer – hierdie keuse kan bewustelik of onbewustelik wees. Dit word beslis beïnvloed deur die leser se leeservaring, verwysingsraamwerk, godsdienstige en ander oortuigings, persepsies, ens. Dit is skrikwekkend dat die teks so afhanklik is van die leser se interpretasie. Maar dan weer: Praat die teks nie vir homself nie? Moet die skrywer se motiewe ingebring word?
Ten slotte dan: wat vooraf gesê is, kan natuurlik ook heel anders geïnterpreteer word: dat taal ’n funksie is van die mens(e) wat die taal besig.
Dan word taal jou afhanklike veranderlike (y), en die mense wat hierdie spesifieke medium (Taal, Afrikaans) gebruik, is dan jou onafhanklike veranderlike (x).
y(taal) = (funksie van) mens.
Die taal wat gebesig word, word bepaal deur die een wat dit praat of skryf.
z = wie die mense is, persepsies, belesenheid, invloed van ander …
Die steuringsveranderlike kan dus in hierdie geval steeds die mens se ervaringswêreld wees. Maar die impak van kultuur, “erfgoed” (soos godsdiens en ’n wêreldbeskouing van wat moontlik reg of verkeerd is) kan mens nie weglaat nie. Dit gaan beslis ’n invloed hê op hoe ons met die taal omgaan.
Want taal verander na gelang van die mense se behoeftes, daarom dat neologismes ontstaan.
En nou, net om geheel en al confusing te wees, wil ek die volgende hipotese stel: sê nou net die teks (dit wat daar geskryf staan) is (x), die onafhanklike veranderlike, wat net is, omdat dit is. Soos die vorige hipotese itv God (“I AM”).
En die leser is dan jou afhanklike veranderlike (y) wat deur die teks beïnvloed word: soos die leser die teks lees, so lees die teks die leser terug. Miskien was dit nog altyd die woorde wat die leser gelees het en nie andersom nie.
Dit maak vir my baie sin. Want, helaas, die leser se interpretasie of ervaring van die teks verander absoluut niks aan die teks nie – dit is daar; dit staan geskrywe ... Die Skrif Is Aan Die Muur.
Miskien beïnvloed die skrywe/teks dan ook die skrywer en bestaan somehow onafhanklik van die skrywer. Makes you think, doesn’t it?
Nou ja, daar is my 2c …
Lees "poetry oo die liewe annie anne kant" – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantraal oor Chokers en Survivors.
Lees ook Kaaps is nie 'n joke-taal – Robert J Pearce antwoord Nathan Trantraal.
En lees André Trantraal se bydrae oor Small en Kaaps.
Lees Joan Hambidge se resensie van Chokers en survivors
Lees Nathan Trantraal en Marlize Hobbs se gesprek oor Score my 'n gwai.
Lees ook die resensie van Score my 'n gwai.
Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


Kommentaar
Goed gesê, dankie!
Wat sou die wêreld doen sonder gawe wit tannies om moeilike dinge vir ons te verduidelik in terme van 'n pragtige dog toeganklike metafoor? En dit nogal van wiskundige oorsprong! Laerskoolonderwyseresse landwyd jubel nou.
Inderdaad 'n pragtige metafoor om die komplekse verhouding tussen taal, interpretasie en die funksie daarvan te verduidelik. Tog bly eggo dit soos 'n pantoum wat kierrang-kierrang en nooit die siklus breek nie. Dalk is dit reeds die doel van digkuns; om, anders as wiskunde, enige probleem van elke moontlike hoek en kant te bespreek sonder om 'n oplossing te bied, slegs perspektief. terwyl perspektief opsigself 'n relatiewe konsep is wat nooit definitief gedefinieer kan word nie. Taal; beslis 'n pantoum. Ten minste vanaf my beskeie perpektief.
Die algebra is, om die minste te sê, verdag. Die res is 'n lappie grond wat nou al mooi snuif getrap is.
Die model y=f(x) is 'n statiese model. Eintlik het ons hier 'n dinamiese model nodig: y=f(x,t), om die tyd-afhanklikheid ook uit te druk. Onder die aanname dat 'n spesifieke mens se taalgebruik neig om nader te beweeg aan dié van die mense in die omgewing van daardie mens, kry ons dan die taaldiffusievergelyking ∂y/∂t = k ∂²y/∂x², met k 'n diffusiekonstante wat afgelei kan word uit waarnemings van hoe taalgebruik met verloop van tyd varieer. Die volldige vergelyking, met inagneming van eksterne faktore wat nie van die betrokke taalgemeenskap afhang nie, is dan ∂y/∂t = k ∂²y/∂x²+z(t), waar z (t) 'n tyd-afhanklike veralgemening van Marlize Hobbs se steuringsveranderlike is. Soortgelyke vergelykings, bv die Black-Scholes vergelyking, is al met sukses in die ekonomie toegepas. Dit sal interessant wees om na te vors of daar 'n kwalitatiewe analogie bestaan tussen ekonomie en taalsosiologie,
Kom ons begin met 'n prysuitdeling!
Nathan Trantraal is "n blerrie goeie digter! Ek kan insien hoekom jonge mej Rhode juis Chokers en Survivors gekies het as onderwerp vir haar skripsie.
Marelize jou metafoor is iets besonders ... geniaal sou ek sê as ek dalk 'n wiskundige was ... maar nou is ek 'n letterkundige ... en dit is wat gebeur as jy letterkunde en wiskunde kruis ...
Wiskunde Elke dag sterf ek 35 minute lank
vasgetangens in my bank
en voor die bord boer
'n iemand wat my wiskunde voer.
Gevra: Trek lyk AB en vind dan C.
Bewys: Ek trek AB Ek konstrueer 'n middelloodlyn
op... verby die sterre
en vind C alleen.
Op Pythagoras sit hy kruisbeen
en ween, en ween
so hél alleen. (Antjie Krog,Wiskunde)
Jy sê "Digkuns is so vloeiende, soms onbewuste proses". Nou hoekom sal jy dan jouself verstout om letterkunde so lelik te strem met die stremmende tentakels van wiskunde ... Paradoks!
Jonge mej Rhode beklemtoon in haar werkstuk dat hy nie namens almal op die Kaapse vlakte moet praat nie. Dis al!
Daardie wasdraad op die voorblad herinner my baie aan die Engelse idioom ..."hanging the dirty laundry. "Hang Nathan die Kaapse Vlakte se vuil wasgoed...?dalk of nie?Hang af hoe die leser en die teks mekaar lees..ne Marelize?
Dis nou my beskeie 5c...
Die "algebra" is net verdag as mens dink dis Algebra... dis waar wat Dirk Laurie sê, dit is 'n statistiese model. Die idee is nie om slim te klink nie, maar om aan te dui hoe ek, wat nie 'n letterkundige of wiskundige is nie, vir myself sin probeer maak uit mense se reaksies op geskrewe werk. Miskien selfs my eie reaksies. Op hierdie stadium gaan enige ondersteuning wat ek vir Nathan bied, lyk soos wedersydse masturbasie (dit gaan mos so in letterkunde, sien dit baie, streel mekaar se ego's)... so, ek aanvaar ten volle dat my opinie nie noodwendig die korrekte of enigste opinie is nie... soos wat diegene wat dit teen Nathan het, ook maar net opinies uit individuele is. Dit was wel 'n poging om aan te dui dat die teks ten einde laaste vir hom/haarself kan staan en praat.