Score my 'n gwai: 'n resensie

  • 0

Titel: Score my ’n gwai
Skrywer: Marlize Hobbs
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798162548

 

Koop Score my ’n gwai by Kalahari.com.

Sekere boeke het spesifieke, ideale omstandighede nodig om al sy sjarmes bloot te stel, soos sekere mense dalk ’n paar glase wyn en ’n sigaret nodig het voor hulle kan ontspan en oopmaak. Ek onthou toe ek Angela’s Ashes deurFrank McCourt gelees het. Ek was sestien jaar oud en die koskaste in ons huis was leeg, soos verwag kan word in ’n huis met ses kinders en ’n enkelouer, en meer ideale omstandighede kon jy nie voor vra om behoorlik verlore te raak in McCourt se memoires oor armoede in Limerick nie: elke keer as Frank in die boek die yskas oopmaak en die yskas is leeg, loop jy half roboties na die yskas, maak dit oop en besef jy van vooraf dit is leeg. Toevallig, toe ek Score my ’n gwai deur Marlize Hobbs in die pos kry om te resenseer, skeur ek die verpakking af in my gewone, half-ingedagte manier en gaan sit in die son agter in die jaart op die karsitplek waar ek op my gemaklikste is. Die karsitplek is al wat oorgebly het van ’n kar wat op ’n tyd hier by ons gestaan het. Ons het dit so stuk vir stuk verkoop vir brood, melk en sigaretgeld. Nou sit ek in daai eerste oggendson, die voëltjies sing en die wêreld is amper stil. Die atmosfeer voel net reg, maar iets ontbreek. Ek staar na die titel van die boek in my hande, Score my ’n gwai en besef, o, ja ek het nie geld vir ’n sigaret nie. ’n Sad state of affairs, maar ideaal vir die lees van dié boek.

Score my ’n gwai volg tot ’n mate die formaat van ’n dokumentêre film. Met twee karakters wat een storie vertel uit hul eie individuele perspektiewe. Die twee sprekers aan die woord, wie half klink asof hulle vrae beantwoord wat gestel word deur ’n derde party en half soos hul gedagtes dwaal tussen die nou en die verlede, is Siena Maamogwe en Miesa. Die boek het my half herinner aan die dokumentêre fliek Beautiful in Beaufort Wes, met klem op die eendersheid van die verwysingswêreld  en die verhoudingsdinamika  tussen Gert Vlok Nel en sy pa. ’n Soortgelyke verhouding bestaan tussen Siena en Miesa. Wat hierdie anders maak as Beautiful in Beaufort Wes, is dat die storie nooit voel asof dit deur ’n buitestander gemaak is nie. Dit is asof Hobbs die plek Ganyesa te goed ken om dit te kan beskryf,  te verduidelik en rigtingaanwysings  te kan gee. So wat jy doen is, jy volg maar die skrywer terwyl sy haar draaie loop en jou bietjie rondwys. Die skryfstyl is baie intiem en gestroop van pretensie en op sy beste oomblikke voel dit asof Hobbs hier langs my sit op die karsitplek agter in die jaart en vir my ’n storie vertel.

In ’n tyd waar skrywers met handskoene aan skryf vir vrese dat hulle dalk ’n vingerafdruk mag los op die bladsy wat hul lesers ’n insig mag gee in die persoon agter die boek is Marlize Hobbs iets heel anders. Hier is ’n skrywer wie haar DNA skaamteloos op die bladsy los: op hierdie bladsye is daar dikwels sweet, skilfers en fyngekoude vingernaels. Jy voel half Hobbs sit hier en vertel vir jou die stories, soos iemand wie goed is met mense en stemme namaak. Dit skep die illusie van iemand wie nie so goed skryf as wat sy maar net goed onthou nie. Dié manier van vertel is hier misleidend, omdat Score my ’n gwai ’n boek is met ’n baie tradisionele struktuur, geskryf onder die vel uit van die karakters.

Dit is ’n sikliese uitsig op ’n persoonlike geskiedenis, die karakter van Siena, die Tswana-huiswerker wie dien as ’n soort pleegmoeder vir Miesa. En dan, jare later word hierdie sirkel voltooi wanneer Miesa, die wit vrou, ’n klein Tswana-dogtertjie genaamd Naledi aanneem as haar eie. Daar is ’n roerende oomblik waar Miesa die babatjie met haar melklose borste borsvoed. Die tema van geboorte en hergeboorte  duik ook deurlopend op. In die hede is Miesa in ’n gelukkige verhouding met Jasmyn, wie sy op die Facebook ontmoet het; hulle maak saam vir Naledi groot. Dan, op verskillende tye, en wat vir die skrywer soos verskillende lewens voel, werk Miesa in haar ma se winkel, is ’n inwoner by ’n psigiatriese hospitaal en is in ’n verkrummelde verhouding met haar eerste liefde, Leona. Hobbs slaag daarin om al die realiteite te laat voel asof dit gelyktydig geskied.

Die unieke taalgebruik, ’n mengsel van Afrikaans, Engels en Tswana, spring van die blaai af en trek jou binne met al twee arms. Daar is ’n diepte en wysheid in die taalgebruik en dit voel deurlopend oorspronklik oud en nuut.

Vir ’n skrywer wie se eerste roman reeds in 2005 uitgegee is, voel dit verskriklik vars. En dis miskien die krag van hierdie skrywer: die vermoë om haarself te herskep. Nog altyd dieselfde en tóg heel anders. 

Lees 'n gesprek tussen Marlize Hobbs en Nathan Trantraal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top