Onderhoud: Marlize Hobbs-Russell oor 'n Suitcase vol sterre

  • 0

Marlize Hobbs-Russell (foto: Izak de Vries)


Skrywers oor hul nuwe boeke: Marlize Hobbs-Russell oor ‘n Suitcase vol sterre.

Marlize, jy het pas ‘n Suitcase vol sterre as ‘n selfpublikasie die lig laat sien. Vertel asseblief die agtergrond hiervan, die geboorte van die gedigte – van heel oud tot die jongstes – en uiteindelik die bundel.

Ek het van baie jonk af gedigte geskryf en sedert 2011 effektief gewerk daaraan om my skryfvermoë in die digkuns te verbeter. Dit het beteken dat ek manuskripte voorgelê het vir keuring en op grond van die keurverslae soveel as moontlik geleer het. Ek het ook my vriende in die akademie genader, veral Neil Cochrane, wat my ongelooflik baie gehelp het om die beste werk daar te stel. Ek was vyf jaar oud toe ek begin rympies opmaak het. Teen 12 het ek ‘n kortwerkprosa voltooi – my eerste "boek" – en aan die einde van my laerskooldae het ek ‘n paar gedigte oor my ervaring van skool gehad. Ek onthou dat die een gedig gaan oor om die laerskool met die blote 50 leerlinge te groet en die gedig het geëindig met: “Cheers aan dit wat nooit weer sal wees.”

My ma en die digter Donnie Riekert was baie goed bevriend en Donnie het my gedigte gelees toe ek 16 was en vir my ma gesê: “Die kind kan gooi met woorde.” Dit was ‘n wonderlike kompliment wat my laat aanhou skryf het.

Op 26 het ek Jeanne Goosen se telefoonnommer as verjaarsdag geskenk gekry en my eerste beter-ontwikkelde gedigte aan haar gestuur. Van daar het ons dekades lange vriendskap ontwikkel. Ek het baie by Jeanne geleer, want sy is baie reguit en as sy dink iets is swak skryfwerk sal sy sonder skroom vir jou sê.

Jeanne het dan ook deur die uiteindelike bundel saam my gewerk en raad gegee en gehelp om slegs die beste gedigte uit tonne uit te soek. Dis ‘n lewenslange droom.

Jy’s die wenner van literêre pryse, en hierdie gedigte is deur ervare buitelesers gekeur. Hoekom ‘n digbundel self uitgee?

Daar is verskeie redes:

  1. Ek het nie kans gesien om weer vir maande te wag na ek die nodige redigering gedoen het nie. Ek is ‘n baie ongeduldige mens. Ek het vir ‘n verandering ‘n paar rand gehad en ek het dit so aangewend.
  2. Verder wil ek al die middelmanne uitsny. ‘n Skrywer kry minder as 10% van die verkoopprys. Die uitgewers en boekwinkels laai die prys so hoog dat die bundel net gekoop word as die leser al vorige werk en baie goeie resensies daarvan gelees het.

Ek wil ‘n bekostigbare bundel daarstel wat spreek tot ‘n groter leserspubliek, veral omdat dit oor die lewe en die rouheid daarvan gaan. Dit het ‘n toon wat baie aanneemlik is vir lesers, wat ek geleer het deur prosa te skryf. Ek glo gedigte moet toeganklik wees, sonder om die kwaliteit en literêre waarde daarvan te benadeel.

Jy skryf jare lank al gedigte – wat was jou eerste een?

Ek was vyf jaar oud toe ek begin rympies opmaak het. Teen 12 het ek ‘n kort werk prosa voltooi – my eerste "boek" en aan die einde van my Laerskooldae het ek ‘n paar gedigte oor my ervaring van skool gehad. Ek onthou dat die een gedig gaan oor om die Laerskool met die blote 50 leerlinge te groet en die gedig het geeindig met: Cheers aan dit wat nooit weer sal wees.

Die gedig oor die inrigting (Saal 29, Nasionale Hospitaal Bloemfontein, waar ek op 15-jarige ouderdom opgeneem was) kom uit my standerd 8-jaar en ek hoef bitter min daaraan te verander het om dit in hierdie bundel te gebruik. Maar uit 100 gedigte wat jy oor so ‘n lewenservaring skryf, is daar baie keer slegs vyf wat op die ou einde behoue bly.

Prosa of digkuns – wat’s jou grootste liefde, as jy moet kies?

Prosa. Veral die skryf van kortverhale – daarvan het ek ook genoeg vir ‘n bundel. Mens kan poëtiese prosa skryf, maar prosaïese gedigte is meer moeilik. Maar ek geniet die vaardigheid wat dit verg om ‘n goeie kortverhaal te skryf, om soveel as moontlik in so min as moontlik (onmiddellik funksionele) woorde te skryf. Daar is ook groter gratifikasie, soos in onmiddellike bevrediging in die tyd wat dit neem om ‘n kortverhaal te voltooi. En ek geniet dit baie.

 ‘n Suitcase vol sterre laat my ‘n bietjie dink aan iets wat Nicola Hanekom in Trippie gesê het: “’n Tas vol sneeu”. Want hoe vang jy dit vas, maak ‘n deksel toe? Vertel bietjie hoe jy die titel uitgedink het.

Die titel kom uit een van die gedigte, waarin ek beskryf hoe mens soms opkyk en die sterre wat soos wasgoed aan die hemel hang, wegbêre in jou suitcase. Sodat jy daarmee kan travel. ‘n Vriend van my wat in een van die Stemme-digbundels gepubliseer het, het ook saam met my deur die bundel gewerk en het met die titel vorendag gekom. Jan du Plessis. Hy het dit daarmee perfek beskryf. So: dankie Janneman.

Jou digbundel het aanhalings uit keurverslae, iets wat nie gewoonlik te siene is in ‘n boek wat deur ‘n uitgewer uitgegee word nie. En tog word die keurders anoniem aangehaal – hoe so?

Dis eintlik belaglik, want dis keurverslae wat goeie goed gesê het, wat deur my uitgewer verkry is. Ek het gevra wie die keurders was, want ek het dit nodig, maar die uitgewer het geweier om eers die keurders te vra of ek hulle name kan gebruik. Ek sou hulle ook wou bedank vir die fantastiese raad wat hulle gegee het in die verslae, maar nou ja ... as hulle hier lees, wil ek graag baie dankie sê vir die verslae wat my regtig gelei het om al die gedigte te herbedink en herskryf waar nodig.

Jy skryf persoonlike gedigte, soms amper soos briewe aan mense wat jy ken (byvoorbeeld Jeanne Goosen, vorige liefdes, aan jou kind en jou vrou). Wat is wáár, wat is fiksie, wat is heilig?

Reinet Nagtegaal het altyd gesê sy leer haar kinders dat niks heilig is nie. Dis voorwaar waar van skryfwerk, want jy is dadelik ‘n toffie as jy publiseer, nog meer so as dit ‘n selfpublikasie is. Alles wat persoonlik is word algemene besit, maar ek verraai nooit werklik my geheime self nie. Dit is daar waar ek die heiligheid koester. Ek skryf oor dit wat my daagliks raak. Oor diep persoonlike ervarings, maar dis menslike ervarings wat deur alle mense daagliks ervaar word. Die verskil is miskien dat my wêreld dié van ‘n lesbiese vrou en haar verhoudings en ontwikkelingsproses is en ook dié van ‘n ma met ‘n kind wat op die outisme-spektrum is. 

Ek hou daarvan dat jy dit vergelyk met briewe, want een van die goed wat ek en Jeanne al vir jare doen, is om briewe vir mekaar te skryf en dis daaruit dat ek die geselstoon so goed aangeleer het. Ook is ‘n brief soos ‘n gebed wat geen einde het nie. Briewe is eindeloos; dis nie soos e-pos wat slegs funksioneel aangewend word nie.

Ruimte en plek. Jy skryf, soos in jou boeke, oor die omgewing waar jy vandaan is. Die Vryburg-omgewing. Kan jy dit verhelp, kom dit vanself?

Soos die skilder sy interpretasie van sy omgewing en innerlike wêreld skets, so doen die skrywer dit seker ook. Dit is nie beplan nie, dit gebeur net. Dit is wat na aan die lyf is, wat soos bloed is, wat deel van jou genetiese samestelling word.

Jy sing ook, of hoe? Is dit deel van die sjarme van gedigte vir jou, die ritme en klank van woorde? Ook: saam met hierdie bundel is daar voorlesings soos jy die gedigte self gelees het, reg? Almal van hulle, of net sommiges?

Ja, ek sing, maar ek sing slegs gedeeltes uit gedigte wat deur die sang sterker uitgelig kan word. Of wat die gedig se ritme en vloei uitlig. Ek is mal oor gedigte wat klankryk en vloeiend is. Dit is soos daardie eerste oorspronklike kinderrympies wat ‘n absolute toorkrag gehad het vir my.

Ek het net sommige gedigte voorgelees, maar die CD-opnames vertel die agtergrond van sommige gedigte en vertel hoe ek daarby uitgekom het. Dis iets nuuts wat ek wou probeer om die denkbeeldige of kunsmatige afstand tussen leser en digter af te breek. Ek dink nie digters is verhewe wesens nie. Ek dink ook nie jy hoef te wroeg om te dig nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top