Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.
Score my ’n gwai deur Marlize Hobbs is genomineer in die kategorie: Film.
|
Marlize Hobbs |
|
Koop Score my ’n gwai by Kalahari.com. |
|
|
Wat beteken dit vir jou om vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys genomineer te word?
Dit is ’n baie groot eer. Enige erkenning beteken baie vir my as skrywer. Om ’n tweede boek te skryf na die groot sukses en baie toekennings van Flarde was nie maklik nie en het my inderdaad agt jaar geneem. Daar is ’n persoonlike vreugde aan erkenning, maar dit help ook baie om jou as skrywer te bemark en dan die tipe verhale wat jy skryf. Kyk man, ek is “chuffed” met myself hieroor. En baie dankbaar teenoor die beoordelaars.
Kry Afrikaanse skryfwerk die nodige erkenning?
Die Akademie vir Wetenskap en Kuns doen baie moeite om Afrikaanse skryfwerk te erken en te bevorder. Daar is ’n aantal toekennings beskikbaar vir Afrikaanse skryfwerk, soos ook byvoorbeeld die ATKV se Woordveertjies. Al hierdie toekennings gee erkenning aan goeie skryfwerk in Afrikaans. Dan is daar ook beurse soos die Jan Rabie / Marjorie Wallace-beurs. As Afrikaanse skrywers is ons eintlik baie gelukkig dat daar soveel aandag aan ons gegee word. Die erkenning is gewis daar; maar miskien kan daar bemarking wees in terme daarvan om ons leserspubliek uit te brei en meer mense lus te maak om Afrikaans te lees. Daar is baie Afrikaanssprekendes wat verkies om Engelse boeke te koop en te lees. Ons kompeteer dus in die internasionale mark.
Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke boek te skryf?
Die verhaal van die verhouding tussen my en ons bediende, uitgebrei na die verhouding tussen Miesa en Siena Maamogwe, vreet al lank aan my. Ek het nie juis gekies om die storie te skryf nie. Dit het self by my aangemeld. Uit die vertelling van Flarde is daar tonne verhale wat tussen die reëls reeds daar was wat ek net moes gaan opsoek. Score my ’n Gwai was iets wat ek om baie persoonlike redes vir myself gedoen het. Dat ek erkenning vir die werk ontvang, is dus ’n groter aanwins by die persoonlike betekenis wat dit ingehou het.
As jy kyk na die boek in sy geheel, van die eerste gedagte tot die finale produk, wat is vir jou die lekkerste aspek van die skryfproses en wat frustreer jou die meeste?
Wanneer die raamwerk reeds daar is, geniet ek die redigering en invul van spasies die meeste. Daardie eerste woeste vloeiing en skrywery is baie keer vir my te angstig en pynlik; maar wanneer ek begin "fix" daaraan en sien hoe die verhaal uiteindelik tot verhaal kom, is dit vir my heerlik.
Waar en watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?
Ek werk voltyds met net die gewone hoeveelheid verlof. Ook het ek en my vrou ’n dogtertjie. My tyd word dus tussen my 8–4-werk, my gesin en my skryfwerk verdeel. Ek trap fyn met tyd. Wat ek doen, is om smiddae wanneer ek van die werk af ry, na luide, lekker ‘80’s-musiek te luister en vreeslik saam te sing, sodat ek totaal kan ontspan. As ek dan nog steeds nie ontspanne genoeg is nie, gaan loop ek gou in ’n Sjinese winkel rond waar daar allerhande goeters is wat blink en mooi is vir my plaaskind-oë ... Daarna kom ek huis toe. Ek sit agter ’n skerm en tik by ’n eetkamertafel. En ek luister musiek terwyl ek skryf. Ek kom so 4.30, 5-uur by die huis. Dan skryf ek totdat Lente en Cheryne by die huis aankom – dit is enige tyd tussen 5.30 en 6. Ek sorg dan dat ek alles insit en volkome gefokus skryf in daardie tyd. En dan skryf ek verkieslik ook vroegoggend oor naweke, so tussen 5.30 en 10 vm en rus die res van die tyd.
Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?
Ek is mal oor Jeanne Goosen se werk, Marquez se kortverhale, Isabel Allende se magiese verhale, Paulo Coelho (mens kan sien hy kroek soms – hy skryf te vinnig en soms kort sy boeke nog ’n keer se oorskryf, maar dit lees maklik en vinnig). Ek is mal oor Terry Pratchett – ek besit omtrent al sy boeke – hy maak my die gelukkigste van alle skrywers onder die son en ek lag hardop wanneer ek sy sci-fi-goed lees, want dit is gepak met humor en sosiale kommentaar.
Is daar een of meer boeke, fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?
Jeanne Goosen: Om ’n mens na te boots; Midnight's Children van Salman Rushdie.
As jy nou aan jouself dink as ’n nog ongepubliseerde skrywer, watter raad sou jy aan jouself gee?
Om te maak soos ek met Flarde gemaak het: skrýf net, bedink elke karakter, wag, gee tyd, gee tyd. Moenie dink die eerste of tweede of derde weergawe is die finaal nie ... alle gedagtes en skryfwerk het soms herdink of ’n herskryf nodig om dit uiteindelik goeie skryfwerk te maak. En moenie dink jou storie is so belangrik dat almal dit wil lees nie. Die raad moet eerder gaan aan diegene wat ’n tweede of derde boek wil skryf ... dis waar die vasdraai kom.
Werk jy aan ’n nuwe boek?
Ek werk aan drie manuskripte: die een is reeds deur twee keer se skryf en gaan seker eers na ’n vierde keer se skryf goed genoeg wees om uit te gee ... Dit is soort van in die lyn van Flarde en Score my ’n Gwai. Dan is daar ’n ander een wat so 70 bladsye ver trek wat heeltemal anders is as die ander drie ... en vir die vierde een moet ek geld spaar om in die woestyn daar in Egipte te gaan slaap en ’n bootreis op die Nyl te doen.
Indien jou boek verfilm word, sou jy wou betrokke wees by die draaiboekverwerking en verfilming?
Dit sal ’n ongelooflike eer wees indien my boek verfilm kan word, maar ek gee nie myself uit as draaiboekskrywer nie – dit is ’n heel ander proses van skryf waarin ek geen ondervinding het nie en ook geen opleiding nie. Ek vermoed mens dink in baie meer besonderhede en dialoog wanneer jy ’n draaiboek skryf. Ek sal verkies om dit aan ’n slim, behendige draaiboekskrywer oor te laat en insette te lewer net indien dit van my gevra word.
Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse