’n Drink op fabulousness – ’n huldeblyk aan Reinet Nagtegaal

  • 1
Reinet en Dirk Nagtegaal

Van die oomblik dat ek gevra is om iets oor Reinet te skryf, het dit deur my kop gemaal: mense maak altyd meer van mense wanneer hulle odes of nadoodse huldeblyke moet skryf; maar ek is bang dat ek nie die grootsheid van Reinet gaan kan weergee nie. Enigiemand wat haar ontmoet of haar werke gelees het, sou hierdie weet: Reinet het gelééf. Sy was onverskrokke. Sy was fokken fabulous en waar sy ook al nou is: sy is besig om fabulous te wees. Ek weet dit vir seker. En soos ek hierdie sit en tik, voel ek haar oor  my skouer loer en smile: daar's hy, sê hulle hoe dit is!

Ek het ’n e-mail-vriendskap met Reinet gehad. Sy was ook my uitgewer en my ondersteuner en bemoediger. Toe niemand anders kans gesien het vir Flarde nie, het Reinet en Genugtig! dit uitgegee, want hulle het geglo in die storie en in my. Kort voor Flarde uitgegee is, het Reinet my gebel en die opsie gegee om die geredigeerde werk aan enige ander groot uitgewer te stuur, want sy was seker dit gaan goed doen. My lojaliteit aan Genugtig! en Reinet op daardie dag wat ek besluit het om steeds by hulle uit te gee, het vir my die wonderlike voorreg gegee om Reinet te leer ken.

Ek lees vanmiddag deur tonne e-posse sedert 2005. En ek kom op hierdie gedeelte af wat sy in 2010 aangestuur het:

Ons proe ook al die winter se asem in onse nekke, so 'n byt aan die oor. Ek en Dirk speel huis-huis met 'n baie swanger Jax en Vera. Hulle bou en hulle huis se dak is af, so tas-in-die-hand onder ma se dak in.  "Ons huis is stukkend," kla Dirkie.

Ek wéét, wil ek vandag beaam: nog nooit was enige huis so stukkend soos nou nie.

Die huis van die weerbarstige siele en die huis van die ongeërgde skrywer en die huis waar Reinet ma, skrywer, profeet, regsgeleerde, geliefde, vriendin en alles-en-nog-wat was, is stukkend.

Maar ek het so 'n feeling dat sy besig is om ook nou, vanuit die ander lewe, ’n hoenderhen te wees, dat sy haar gesin en haar geliefdes weer onder haar vlerk wil bymekaar maak. Dat sy almal wat nou oor haar treur wil uitnooi, om tas-in-die-hand vir ’n bietjie onder haar dak te kom skuil.

En hoe lyk dit daar waar Reinet is? Die plek waar sy skuilplek vir dié wat hartseer of moeg is, bied?  Ek dink dis ’n groot tafel, oorlaai met oordadigheid en vreugde, baldadige gelag ... sy sorg dat almal gemaklik sit en almal iets te drinke het en as daar ’n wynverbod is, sou sy anyway ’n bottel of wat in haar handsak ingesmokkel het ... soos een keer toe sy sjampanje in Vryburg se Spur ingesmokkel het - in sulke klein botteltjies - want sy was nie seker dat die dorp se mense ordentlike drinkgoed sou hê nie. Daardie aand het ek saam gedrink, want as iemand soveel moeite doen om sjampanje te verskaf, wys mens dit nie van die hand nie.

Ons het baie gepraat oor skryf. En Reinet het baie geskryf oor die lewe en die openbaringe wat die lewe vir haar gegee het. In 2007 het sy hierdie in ’n e-pos vertel:

Weet jy wat het nou met my gebeur? Ek het êrens in Rusland op ’n houtbank gesit en ’n epiphany gehad. Ek is ’n boervrou sonder ’n plaas. Ek wil die volgende 50 jaar van my lewe tussen diere wees en beesmis rook. Ek wil nie meer mense sien nie, net op ’n afstand wanneer ek dronk is.

Maak nie saak waarheen die lewe mens vat nie, die vlaktes en die grond en die plaaslewe van Vryburg, kom trek in jou bloed in, onder jou vel in. En so is dit ook met Reinet.

Enigiemand wat haar nog gaan ontmoet deur Voorvaders kan vlieg ... of deur Abrakadabra of enige van haar ander werke (soos In Limbo, wat sy saam met Jackie geskryf het), sal haar stem weer hoor en haar groot liefde vir die lewe waaruit sy gulsige happe gevat het, ervaar -  en hopeloos mal raak oor haar openheid vir die lewe en dit wat die lewe bied. Daarom weet ek dat sy ook nou, in die plek van die nimmereindigheid, elke oomblik geniet. Ek twyfel nie daaraan dat sy teenwoordig is nie. Ek weet dat sy steeds haar geliefdes naby haar hou.

In 2008 kla ek by Reinet dat ek skryf en skryf en dit gaan nêrens nie… en ek voel so effe misverstaan. Sy skryf terug:

Wat die skrywery betref, my lam, join the club. Ek en Jax skryf nou net vir tydskrifte (as ons tyd kry) ... Daar is nie meer genoeg lesers nie en in popcorn vir die massas stel ek nie belang nie (fok, ek is mos darem nie honger nie). 

Reinet het nie nodig gehad dat mense van buite haar moet aanprys nie. Sy het nie nodig gehad om vertel te word dat haar werk goed is of nie. Want dit was nie waaroor dit gegaan het nie. Sy het geskryf omdat sy daarvan gehou het om te skryf en verder was sy blêddie goed daarmee!

In 2008 vervolg sy met ’n aanmoediging oor ’n manuskrip waarmee ek gesukkel het (en nou nog sukkel):

Ek weet hoe jy voel ... asb los haar (die storie/manuskrip) eers om te rus. Neem afstand, al is dit HOE moeilik. Jy kan haar weer oor ’n maand of so optel, maar NET as jy met iets anders begin het. Dis sý wat jou blok! Dis hoekom ek naderhand Abra uitgedruk het, klaar of nie, net sodat ek kon aanbeweeg. MAAR dis nie altyd goed vir die boek nie. Begin met iets anders. Verban haar wanneer sy tot jou bewuste kom. Vertel haar straight dat sy jou ’n break moet gee. Stel aan haar ’n ultimatum - of sy fokkof ’n ruk onder die komberse in en jy gee haar  binne JOU tyd ’n ontwerpers-coming-out - OF sy bly net daar waar sy is en mis alles. Sy sal gou skrik en jou die spasie gee, want sy is ’n baie, baie intelligente vrou.

Op ’n ander plek skryf sy verder oor die skryfproses:

’n Mens moet soms buite jou raamwerk gaan om bietjie alles wat jy so langs die pad implode, bietjie lug te gee dat jy weer daarmee kan werk. 

Op n stadium was ek baie siek en het dit gevoel asof my liggaam my kniehalter en Reinet het die volgende geskryf:

…  jy is gebore om te skryf, dis so duidelik soos daglig, hoekom jou siel Suid-Afrika as basis gekies het en ’n seer liggaam op die koop toe, is jou eie misterie ...

En daarin, miskien, is ook ’n antwoord – Reinet sou glo dat dit haar siel se keuse was om hierdie pad te loop, die pad waarin haar liggaam gebroke en seer word, waarin sy moet aanbeweeg, al breek dit ook haar hart om nie elke oomblik by haar familie te wees nie.  Ek weet hoe lief sy vir haar kinders is en haar kleinkinders en Dirk, na wie sy verwys het as haar “lover” en haar beste vriend. Ek dink orals in elke mail is daar ’n verwysing na Jackie, Vera, die kleinkinders (Dirkie wat met sy ronde wange op haar skoot sit, terwyl sy tik aan die e-mail) ... selfs n gedeelte oor ’n stuk besondere skryfwerk wat deur Jan-Jan gedoen is. 

Soveel as wat ek hulde wil bring aan Reinet as mens, vriendin, raadgewer en uitgewer; wil ek veral aan haar gesin sê dat ’n liggaamlike doodgaan nie ’n geestelike doodgaan is nie.

Waar Reinet ook al is, sy is besig om fabulous te wees en die pad wat haar siel gekies het, is haar eie misterie. En soos ons almal weet, dit is juis hierdie misterie aan Reinet wat almal so aangetrek het. Daardie iets wat niemand in woorde kan omskryf nie. Dit is deel van haar baldadige lag, haar sigare en feesvieringe, haar sjampanje-insmokkelary.

Dankie, Reinet. Ek salueer jou en ek light ’n sigaret, gooi ’n glas wyn. Mwah.

Lees Deborah Steinmair se huldeblyk aan Reinet Nagtegaal.

Lees Jeanne Goosen se huldeblyk aan Reinet Nagtegaal.

  • 1

Kommentaar

  • Dis voortreflik hoe hierdie beeldskone rabbedoe prinses se verskillende fasette (ja, soos dié van 'n geslypte diamant) uit verskillende perspektiewe belig word. Lees hierdie gedig ook, deur Elna:

     

    Elna Pritchard

     

    Vir Reinet

    27/5/1956 - 15/12/2014

     

    Jy's die mooiste blom

    ek pluk jou gesig 

    in my tuin elke dag

    en jy lag

    uitbundig jy skater

    ek hoor jou

    in die wind

    jy jil van die lewe

    jy sing

     

    en jy gesels met my

    as die reën neerkletter

    ons praat ons is slim

    ons is wys

     

    van wonder oor vrae

    waarvoor ons weet

    daar geen antwoorde is

    net gis

     

    ek sal jou vind my sus

    on the flipside of this

    in die ewige tyd

    wat net is

     

    ***

     

    As jy my vra is Reinet se rykste nalatenskap nie die geniale, hoogs vermaaklike boeke wat sy geskryf het nie, nie een van die talle genialiteite wat sy bygedra het tot alles waaraan sy geraak het nie - so baie dinge ... maar in haar ongelooflik veelsydige en begaafde kinders . Watch this space. En Dirk....haar "Varkie", haar broer en susters, en haar ma. Ja, hierdie was bottom-up beïnvloeding ... en beste van alles; lekker beïnvloeding.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top