Maak dit sin om dramas te lees?

  • 0

In Marietjie Lambrechts se artikel Leeskringe: uithangplekke of ’n amulet teen die vuur? gee sy ’n oorsig van die boeke wat vanjaar by leeskringe bespreek word en maak sy dan die opmerking dat dramatekste blykbaar nie bespreek word nie.

Dit is wel waar vir vanjaar, maar in Pretoria het die Tygerpoort Leeskring verlede jaar Kanna hy kô hystoe van Adam Small op hulle program gehad en in 2016 het hulle Tertius Kapp se Rooiland bespreek.

By Mabel Malherbe Leeskring probeer ons gereeld ’n drama- of hoorspelteks bespreek. Die laaste was Droomskip van SD Fourie uit die bundel Droomskip en ander radiodramas. ’n Terugblaai in ou programme het sulke interessanthede opgelewer soos ’n bespreking van Die pluimsaad waai ver van NP van Wyk Louw wat my nostalgies laat dink het aan die openingsaand in 1966 en ’n praatjie deur Temple Hauptfleisch op 16 Oktober 1987 oor "Teater in die tagtigs".

Bo en behalwe die feit dat dramas moet meeding met die magdom uitstekende romans en ander prosatekste vir die tien plekke op ’n leeskringprogram bestaan daar ook ander goeie redes waarom leeskringe daarvan wegskram:

Gepubliseerde dramatekste is nie geredelik beskikbaar by boekwinkels nie, om van biblioteke nie eens te praat nie, en verskyn meestal lank nadat die stuk se uiters beperkte speelvak verby is. Gevolglik is daar te min leeskringlede wat kan steun op ’n teaterervaring om belangstelling in die teks aan te wakker. Dit is waarskynlik omdat die teks van baie hedendaagse dramas in werkswinkelstyl ontwikkel word voordat dit opgeskryf word, of selfs glad nie. Bowendien kan ’n sinvolle leeskringgesprek ook net plaasvind as alle lede die boek gelees het. Dus moet meerdere kopieë gekoop word.

Weliswaar is daar die Kontemporêre Drama Argief waar ’n mens dramatekste teen ’n bekostigbare prys kan aflaai en LitNet se eie spens met ’n interessante versameling tekste wat gratis is.

Die bespreking van ’n drama verg ander kennis en kundigheid as met ’n prosateks.

Hoewel daar op die internet baie inligting oor die ontleding van ’n drama is en sommige lede dit ook nog kan onthou van universiteit en skool, dekades gelede, bestaan daar relatief min resensies van gedrukte Afrikaanse dramas – nie opvoerings nie – waar ’n mens kan gaan kers opsteek. ’n Soektog op LitNet het resensies van Deon Opperman se Kaburu, Tertius Kapp se Liewer en Oorsee, twee resensies van Amy Jephta se Kristalvlakte en onlangs ’n resensie van In glas deur Nicola Hanekom wat beskryf word as “daardie betreklik rare verskynsel, ’n aanbiedinggerigte en hoogs speelbare verhoogteks wat absoluut vrá om in opvoering beleef te word, maar een wat terselfdertyd ook ’n uitdagende, dog leesbare, drama is wat net so dringend vra om indringend ontleed en bespreek te word”.

Maar verreweg die belangrikste oorweging is waarskynlik die antwoord op die vrae: Maak dit sin om dramas te lees? en: Is dit lekker om dramas te lees? Dit laat my alteveel dink aan mense wat met ’n partituur in die hand sit en neurie en tyd hou met die voet omdat hulle nie die simfoniekonsert kon bywoon nie of nie die CD in die hande kon kry nie. As jy nie baie goed musiek kan lees nie, nie weet hoe ’n fagot klink nie en nie die verskil tussen die verskillende strykinstrumente verstaan nie, sal dit nie sin maak nie en ook nie ’n aangename ervaring oplewer nie, want die bedoeling van gedrukte musiek is dat dit uitgevoer moet word. Dieselfde geld vir ’n dramateks. Dis bedoel om opgevoer te word. In ’n dramateks staan meer as die helfte van die storie nie daar nie: die genuanseerde liggaamstaal, baie van die aksie, die ryk detail van die stel en kostuums, die agtergrondgeluide ens, ens. As ’n mens hierdie dinge nie weet nie, nie bekend is met teatertegnieke nie, nie gereeld opvoerings bywoon nie en net aangewese is op jou eie verbeelding kan dit maar ’n halfhartige poging en ’n flou ervaring wees.

By Mabel Malherbe Leeskring in Pretoria was ons van plan om vanjaar ’n drama te bespreek. Nadat ons (met redelike moeite) ’n aantal tekste van nuwe dramas in die hande gekry het, het nie een daarvan opgeval as iets wat lekker sal bespreek nie. Veral nie as net enkelinge ’n opvoering daarvan gesien het nie soos bv met Kristalvlakte en daarmee saam Moeder Moed en haar kinders.

Uiteindelik besluit ons toe om Die nag van Legio van PG du Plessis te bespreek waarmee ons dan ook sommer sy lewenswerk kon vier. Ons was gelukkig om 20 kopieë van die teks by die UP Biblioteekdiens te lene te kry en heelwat van ons het nog die eerste opvoerings in 1969 en 1970 in die Breytenbachteater onthou. Ongelukkig het niemand die nuutste produksie olv Albert Maritz by Innibos of die Vrystaatse Fees gesien nie, maar almal sou wel die potgooi van ’n RSG Radiodrama daarvan met vrouekarakters ipv mans kon luister en ervaar dat dit eintlik skrikwekkender is (http://esat.sun.ac.za/index.php?title=Die_Nag_van_Legio).

Ons besluit toe om ’n paneelbespreking te hou met deelnemers wat ook die verskillende perspektiewe van skrywer, lesers, spelers en kykers kon bybring, maar kon nie ’n toneelkenner kry om deel te neem op die twee beskikbare datums nie – Pretoria is nie eintlik meer toneelwêreld nie. Op die ou end het ons die saak maar gewonne gegee. Gelukkig het ’n hele klomp mense wel die drama weer gelees en dalk doen ons dit nog volgende jaar. Of dalk lees on In glas. Temple Hauptfleisch se resensie het my sommer weer uitgedaag.

Lees hier Temple Hauptfleisch se reaksie op hierdie artikel:

Ja, dit maak sin om dramas te lees, maar …

Lees ook

Leeskringe: uithangplekke of ’n amulet teen die vuur?

Leeskringe in Suid-Afrika: 2018-jaarprogramme en -inligting

In glas deur Nicola Hanekom: ’n resensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Oorsee deur Tertius Kapp

Boekresensie: Kristalvlakte deur Amy Jephta

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top