Dit was nogal ’n lekker verrassing om deur Monica Hammes herinner te word dat ek 30 jaar gelede by die Mabel Malherbe Leeskring in Pretoria opgetree het. Ons het kort daarna uit Pretoria na Stellenbosch verhuis, waar ek as dosent begin het om juis aan eerstejaars die “kuns” van dramas lees en ontleed te probeer leer. ’n Geweldige, maar opwindende, leerkurwe vir my ook, het ek gevind.
Die interessante vraag wat sy in haar artikel se titel stel, naamlik: “Maak dit sin om dramas te lees?” het my weer laat besef dat dramatekste nogal eiesoortige goed is, en dat leeskringe en boekklubs uiteraard ’n probleem daarmee sou ondervind. Die vraag roer eintlik ’n aantal kwessies aan wat uit verskeie oogpunte bekyk kan word. Van hulle miskien kunsfilosofies van aard en ander meer pragmaties.
Die sentrale probleem is natuurlik die uitsonderlike aard van ’n dramateks, want dis nie altyd toeganklik vir die gewone leser nie. (Nog erger is ’n TV- of filmteks!) Dis wel nie heeltemal so vakgebonde soos iets soos bladmusiek nie, maar dis asof jy die stukke van ’n insident in aparte rubrieke kry en dan self aanmekaar moet sit. Iets soos ’n verhaal wat as ’n legkaart of ’n meubelstuk van IKEA aan jou oorgedra word.
Die gevolg is dus dat mense meestal liewer romans of selfs digbundels koop. Interessant genoeg, volgens statistieke oor die jare, is laasgenoemde veral in Suid-Afrika nogal besonder gewild. Om natuurlik nie te vergeet van ’n ander, baie bekende verskynsel nie: noem dit maar “die boekrak vir die ego”. Daarop staan al die boeke wat elkeen voel elke mens móét hê – dié wat dalk eendag (na aftrede?) gelees gaan word, en daardie respektabele of indrukwekkende werke wat besoekers aan my huis of studeerkamer moet glo ek al gelees het. Hertzogpryswenners, Booker-pryswenners, noem maar op. Dramas maak altyd, soos poësie, ’n halwe rak daar vol.
Maar vergeet ons nou vir eers van die ego, kan ons miskien kyk na die potensiële genot van ’n drama lees?
Wat is nou eintlik die drama – die teks of die opvoering?
Laat ek miskien begin deur my eie kaarte oor die saak openlik op die tafel te plaas.
Oor die jare sedert my eie studiejare is ek – vanuit my vakgebied – juis nog altyd ’n kampvegter vir die aanvaarding van die lewende verhoog as ’n eiesoortige kunsvorm. Ek glo dus uit daardie agtergrond dat ’n drama primêr geskryf is om as aanbieding beleef te word: dws om gesien en/of gehoor te word – na gelang van die vorm, op die verhoog, in drie dimensies, met lewende akteurs; of oor die radio in klankbeelde; of op film in twee dimensies, met visuele beelde, klank, en musiek. Dié soort belewenis van ’n toneelwerk is iets wat slegs in die lewende opvoering van die stuk ’n totale eenheid word, en dis daardie totale ervaring wat mens lei tot ware insig, en daardeur waardering.
Die hoofstryd van ons teatermakers en dosente van drama kom ’n lang pad, seker vanaf die stigting van letterkundedepartemente in die laat 19de eeu tot om en by middel van die 20ste eeu. Dit was primêr gerig teen die wydverspreide gebruik om die gedrukte teks as die ware kunswerk te sien en slegs dít dan as “literatuur” te bestempel en te bestudeer (dws ontleed, bespreek, beoordeel), eerder as om dit in die ware vorm waarvoor dit geskep is, te beleef as deel van ’n groter geheel – soos hier bo uiteengesit in my kredo.
Let wel, ons praat nie hier van die sogenaamde closet plays of “leesdramas” van die 19de eeu en selfs die 20ste eeu nie: hulle is gewoonlik in versvorm deur digters geskryf juis met die doel om gelees (of hoogstens voorgedra) te word. Ek glo byvoorbeeld nog altyd dat Periandros van Korinthe en Germanicus albei sulke dramas is – leesbare epiese werke, maar haas met sukses opvoerbaar. Met verskoning aan al die uiters talentvolle regisseurs wat Germanicus al oor die jare aangepak het: ek moet bieg dat nie een van die opvoerings wat ek daarvan gesien het, my beïndruk of ontroer het nie. Die probleem is dat dit oorwegend net dialoog is. Maar sodanige werke is dalk ideaal vir ’n leesgroep.
Daardie geloof in die “heilige” teks was op ’n stadium so erg dat daar oor die jare talle gerugte by tersiêre instellings die rondte gedoen het van gevalle waar sommige letterkundedosente hulle studente doodeenvoudig sou verbied het om toneelopvoerings van voorgeskrewe dramas by te woon. (By ons op Stellenbosch het ek tot my verstomming by aankoms verneem dat veral Shakespeare se werke so deurgeloop het op ’n stadium.)
Maar daar is moontlik ook ’n ander aspek van die argument vir voorrang van die toneelteks, ten minste uit ’n sekere hoek gesien.
Die idee dat die teks suiwer en onveranderbaar is, en dat slegs dít derhalwe die kernkunswerk kan uitmaak, is deels gebaseer op die vrees dat geen opvoering ooit werklik reg kan laat geskied aan die skrywer se visie nie. Want dit is ’n geïnterpreteerde weergawe, totaal afhanklik van ’n (persoonlike) interpretasie deur ’n (feilbare) regisseur, sy (feilbare) tegniese span en sy (ewe feilbare) spelers. Deur dáárop staat te maak, in plaas van op die “ware en suiwer” teks, beteken dat die interpretasie van die teks nadelig beïnvloed word deur te veel eksterne (buitetekstuele) kwessies – veral in die geval van ’n swak opvoering.
Nou kan mens dié siening bloot met minagting verwerp deur byvoorbeeld te sê dat so ’n houding net so absurd is as om te argumenteer dat jy slegs die bladmusiek of partituur vir ’n stuk musiek moet lees om dit te kan waardeer, want om dit te self te speel of daarna te luister, maak jou afhanklik van feilbare musikante. Maar kom ons erken dit nou maar eenmaal: nie alle opvoerings (of konserte) ís ’n sukses of slaag om die teks tot sy reg laat kom nie, en in daardie geval bly die teks tog staan as die sleutel tot die kunswerk, om dalk (weer) gelees te kan word en so by die drama self uit te kom. Dit is dus seker reeds al ’n argument vir die lees van die teks as ’n sinvolle aktiwiteit.
Natuurlik is die teenoorgestelde geval óók waar, want daar is talle voorbeelde in die wêreldgeskiedenis van swak tekste wat deur regisseurs in geslaagde opvoerings omskep is.
My eie gevoel is dat dit uiteindelik nie soveel saak maak nie, want alhoewel ’n meesterlike vertolking deur gehaltespelers uiteraard enige opvoering kan laat uitstyg en werklik tot sy reg kan laat kom, kan énige opvoering – hetsy goed, middelmatig of sleg –tog ook ’n hulpbron wees wat na nuwe insigte kan lei en tot ’n gesonde bespreking van die kernteks kan bydra. Mens praat maar net oor ander kwessies as jy met ’n swak aanbieding te doen kry.
Wat beteken dit alles vir die gewone leser en die leeskring?
Die bogenoemde aspekte skep natuurlik ’n probleem vir gewone lesers en leeskringe, want die uitsonderlike aard van ’n dramateks maak dat dit nie altyd baie toeganklik is nie. (Dis nog veel erger met ’n TV- of filmteks!) Kom ons wees maar eerlik: As jy nou nie hóéf voor te berei vir ’n eksamen of ’n rol in ’n toneelstuk nie, krul jy tog nie gewoonlik lekker knus op voor die knetterende vuur met ’n glas rooiwyn en ’n lekker dramatjie waarin jy jou kan verdiep nie. Behalwe miskien as jy dalk na ’n sepie of ’n lekker film op TV lê en kyk (en dit tel mos nie nou nie as lees nie, en geld veral nie wat hierdie besondere gesprek betref nie).
’n Drama of verhoogteks ís moeilik om bloot te léés, soos ons gesien het – want dit vertel nie ’n storie of bespreek ’n saak in verstaanbare besonderhede soos ’n roman nie, of ontroer jou nie slegs deur die ritme en prag van die woorde (alleen) nie. Dit gee jou bloot ’n aantal rigtinggewende buitelyne daarvan, die geraamte van die storie (vreemd geskryf in die vorm van gesprekke met periodieke kriptiese toneelaanwysings). Dit is eintlik bedoel vir die regisseur en spelers, wat dit moet lees, dit met handeling en bykomende teatertegnieke moet “inkleur” en dan as ’n ryker skepping in ’n opvoering aan die gehoor moet oordra. (Of deur jou eie verbeelding opgeroep word, in jou versinde aanbieding.) Dus verg die lees van ’n toneelteks eintlik ’n substansiële en soms moeilike aanpassing van jou normale leesbenadering, wat nie altyd so maklik is nie, selfs vir redelik gesoute lesers.
Omdat ’n dramateks nie die finale kunsproduk is nie, maar slegs ’n bloudruk vir ’n opvoering, moet dit gelees word met inagname van al die sogenaamde didaskalia, dws alles wat nie dialoog is nie: tydsaanduiding, beskrywing van die stel, die karakters en hulle verhoudings met mekaar, kostuums, en enige ander relevante sake, plus die verhoogaanwysings tov beweging, stemtoon, stiltes, agtergrondgeluide en die spelers se plasing en aksies op die verhoog, edm.
Dit klink ’n moeisame proses, maar kan eintlik ook ’n lekker kreatiewe proses wees, een waarin jy ’n denkbeeldige “opvoering” in jou kop skep terwyl jy lees. Die dialoog word dus in samehang met al die didaskalia ervaar en verstaan, nie in isolasie nie, want dis nie wat die individuele karakter sê wat die skrywer se idees aan ons oordra nie, maar die totale interaksie wat tussen die karakters plaasvind (die woorde, die aksies, die stiltes, edm), verryk deur ’n agtergrond van betekenisvolle kleure, klanke, ameublement, edm.
Dan Kois, ’n oudakteur, het die genot daarvan vir my nogal oulik saamgevat in sy webgepubliseerde artikel “The deep and unique pleasure of reading plays”:
In fact what I am doing in that moment of reading is acting. I’m not on a stage or in front of an audience; I am not even moving or speaking out loud. But that impulse – the natural reaction to someone else’s words, the innate urge to respond, the upwelling of intent – that’s the heart of acting. I may be acting silently inside my head, but in that instant, I’m an actor – a unique and rewarding response better elicited by published plays than by any other kind of literature.
(Slate, 9 Oktober 2014; http://www.slate.com)
Dus: ten spyte van die voorgaande benadrukking van die eiesoortigheid van die teater en my spesifieke oortuigings daaromtrent, glo ek dat die lees van ’n teks wel met genot onderneem kán word en dat dit selfs ’n hoogs verrykende ervaring kan wees – mits die regte teks natuurlik gelees word en op die regte manier gelees word.
Wat kan gedoen word om die lees van ’n dramateks genotvol te maak?
Met dit alles in gedagte wil ek ’n paar voorstelle maak vir hulpmiddels wat my en ander oor die jare nogal gehelp het om die lees van ’n drama meer van ’n plesier te probeer maak. Moontlik kan hulle ook vir jou van hulp wees.
Die eerste, voor die hand liggende, voorstel is dat almal die opvoering gaan sien as daar een op die planke is. Maar dis nie altyd moontlik nie – alhoewel, soos Monica Hammes en ander suggereer, selfs al het net enkeles dit gesien, kan dit die gesprek verryk. Die hoofsaak is: as jy visuele beelde en aksies aan die teks kan koppel, word die gesprek interessanter – meer kompleks natuurlik, want nou praat jy oor die karakters en hulle storie, asook die interpretasies deur en optredes van die akteurs. Maar dis mos in sulke debatte dat die genot lê.
Sou daar nie ’n opvoering beskikbaar wees nie, is daar twee ander opsies wat gewoonlik aangewend word.
Die een benadering is om ’n video- of filmopname/-weergawe te bekom as daar een beskikbaar is. Sommige toneelgroepe verfilm byvoorbeeld hulle eie produksies (veral studenteproduksies), alhoewel nie almal dit graag uitleen nie. Dié soort weergawes is meestal direkte opnames van die verhoogproduksie vanuit die perspektief van die gehoor – opgeneem iewers vanuit die teatersaal. Hulle is gewoonlik nie juis lekker kykstof nie.
Meer professionele, geredigeerde, weergawes bestaan ook, beide kommersieel en vir private rekorddoeleindes. Van hulle is besonder getrou aan die verhoogteks en dus baie nuttig. Ek dink byvoorbeeld aan Francois Swart se weergawe van Siener in die Suburbs (met die oorspronklike gehoor, stel en spelers), die pragtige film van The Road to Mecca van Athol Fugard, en die onlangse filmiese verwerking van Pieter Fourie se Faan se trein. Baie ander toneelwerke is heeltemal verwerk as filmweergawes wat soms beduidend verskil van die verhoogstuk, en miskien eintlik ten beste as films bespreek word. (Die voordeel van film is natuurlik dat mense dit saam kan kyk, en meermale kan kyk – soos om ’n boek te lees.)
Radiodramas of radioweergawes van verhoogtekste is ook nuttig, maar radio is weer ’n andersoortige medium, met sy eie besondere tegnieke en konvensies. So ’n bespreking daarvan saam met die verhoogteks kan nogal uitdagend wees. Die lees van radiotekste is egter nogal lekker, want opnames daarvan is baie keer beskikbaar. Chris Barnard se uitsonderlike radiostuk Die rebellie van Lafras Verwey (1971) is altyd lekker leesbaar.
Sou ’n film of ander soort opname nie beskikbaar wees nie, is daar altyd daardie ou staatmaker uit die 18de, 19de en vroeë 20ste eeu, toe dit ’n algemene gebruik was om boeke (gedigte, romans en selfs gebundelde preke en morele geskrifte) vir vermaak voor te lees. Die voorlees (selfs uitspeel) van toneelstukke was in so ’n konteks altyd gewild, en toneelstukkies is selfs spesifiek vir hierdie doel geskryf. (In Nederlands en vroeë Afrikaans veral vir gebruik deur die menigte rederykerskamers.) Die feit dat daar geen radio of TV was nie, het die aktiwiteit ’n natuurlike en ’n gewilde vorm van vermaak gemaak, tuis sowel as by debatsverenigings en ander sosiale byeenkomste.
Wonderlike plaaslike voorbeelde van dié soort skryfwerk vir amateurgroepe is te vinde in die klugte van Melt Brink en Langenhoven se kort dialoë, bv Die tweetalige vonnis, Die kijs abaut die Forro, Die beproewings van ’n prokureur, en ander.
In die klas het ons ’n aangepaste vorm hiervan nogal suksesvol ingespan om bespreking uit te lok, deur rolle onder die lede van die klas te verdeel en dan dele van ’n teks (of self die hele teks) te laat voorlees. ’n “Regisseur” of dosent lees gewoonlik die verhoogaanwysings om die konteks te gee. Die res van die klas word dan genooi om die betrokke toneel te bespreek, moontlike alternatiewe aanbiedings te oorweeg, en veral te let op die aanbieding se impak op die storielyn en tema van die stuk, om hulle eie persepsie van die “opvoering” te verdiep. Vir die deelnemers was dit aanvanklik ’n saak van angs, maar mettertyd het dit lekker vermaaklik geword om so met die teks om te gaan.
Hierdie idee van tekste voorlees het skynbaar in die laaste tyd al meer aanhang begin kry in verskeie vorme. Baie gewild deesdae is byvoorbeeld teksontwikkelingsprojekte, waar jong of voornemende skrywers kans gegun word om hulle nuwe werk op ’n gehoor te toets deur dit deur ’n paar akteurs te laat voorlees en die lede van die gehoor dan terugvoer en voorstelle aan die skrywer deurgee.
’n Voorbeeld van dié soort benadering is ’n nuwe tipe leesgroep wat blykbaar in Engeland aan die ontwikkel is. In ’n artikel met die titel “Book groups have had their day – it's time to start a script-reading group” noem die anonieme skrywer dat die besondere groep waaraan hy/sy behoort so een keer ’n maand bymekaar kom om ’n teks hardop voor te lees in plaas van om ’n boek te bespreek. Om die beurt word een uit die groep as die “regisseur” aangewys en hy of sy kies ’n teks en ’n klompie spelers. Daar word nie ’n ware opvoering van gemaak nie – die stuk word bloot voorgelees – maar, soos die skrywer dan sê: “We don’t think of ourselves as performers – none of us is likely to appear on stage, but that doesn’t stop us getting creative.”
Dit klink na sports.
Bronne vir tekste en inligting
In die 1980’s en 1990’s het veral HAUM en Tafelberg weer die meer voorskryfbare tekste begin uitgee, en vandag is dit seker Protea Boekhuis wat die meeste feestekste publiseer. ’n Engelse uitgewery wat mens ook nie van moet vergeet nie, is Robin Malan se wonderlike Junkets Publisher, wat baie van die nuwe en opwindende werk in Engels kort na opvoering publiseer. Baie van hulle is regtig die moeite werd om na te kyk.
’n Ander interessante bron van bruikbare tekste is natuurlik LitNet se eie LitNet-Spens by https://www.litnet.co.za/litnet-spens.
’n Nuttige bron is ook die aanlyn ensiklopedie oor die Suid-Afrikaanse teater, film en media, ESAT, wat inligting oor baie van die tekste wat oor die jare in Suid-Afrika opgevoer is, asook die skrywers, spelers en geselskappe daarby betrokke, bevat. Gaan na: http://esat.sun.ac.za/index.php/Main_Page.
Enkele boeke oor tekslees wat dalk kan help
My eie eerste inleiding tot die lees van toneeltekste was JL Styan se uitmuntende The dramatic experience, oorspronklik juis geskryf vir gebruik op skole in die Britse kolonies. Dit bly een van die heel beste inleidings vir nuwelinge op die gebied. (Vir diegene wat meer wil weet, is daar ook sy meer indringende, en effe meer akademiese, studie met die titel The elements of drama.)
’n Ander soortgelyke teks wat baie aanbeveel word, is Ronald Hayman se How to read a play (1999).
In Afrikaans het ook oor die jare ’n aantal soortgelyke werke verskyn, vanaf PJ Conradie se Hoe om ’n drama te ontleed (1968) en Aart de Villiers se Dirigent van die woord (’n handleiding vir spelleiers, 1976) tot by Marisa Keuris se Die dramateks: ’n handleiding (1996). Nie een juis op die lees-vir-vermaak-mark gerig nie, maar ’n hulp vir die wat meer oor die vorm wil verstaan.
’n Slotgedagte
Ek wil afsluit met nog ’n pragtige aanhaling uit Dan Kois se artikel:
“[A] great published script makes you understand what the play is, at its heart. … It makes you understand how the play feels as a living work of art – how it sounds and behaves inside your head, a mental effort that matters more in reading a play than in reading any other kind of literature. That’s an electric reading experience, and, given the quiet sales numbers for plays, a sadly uncommon one.
(Slate, 9 Oktober 2014; http://www.slate.com)
Ek glo dit ook nogal.
Lekker lees.
Kommentaar
Baie dankie vir die waardevolle insigte en wenke wat beslis sal help om leeskringe weer met nuwe geesdrif na dramatekste te laat kyk. Ek wil tog twee stukke aas uitgooi:
1. Sou dit nie moontlik wees vir een van die gevestigde feeste om een dramaproduksie per jaar te verfilm sodat toneelliefhebbers wat nie die fees kan bywoon nie tog ook die plesier daarvan kan ervaar nie? En daarmee saam 'n borg wat die goeie waarde daarvan sal insien?
2. Wil u nie oorweeg om 'n aanlyn-leeskringsessie oor 'n paar weke te fasiliteer vir die bespreking van 'n drama nie (dalk daardie selfde verfilmde opvoering)? Dan kan leeskringe en ander boekwurms van oraloor saampraat en vrae vra en blootgestel word aan kenners wat aspekte kan belig, veral die "didaskalia", 'n woord wat ek nog nooit eens gehoor het nie!
Die boekklub van die Guardian-koerant is soort van my derde leeskring en ek sien altyd met groot verwagting uit na Sondagmiddae wanneer ek proe-proe luister en lees aan die week se nuwe bydraes en my veral verlustig in die uitgesprokenheid van die deelnemers. Ek is seker dit kan hier ook werk.