Leeskringe: uithangplekke of ’n amulet teen die vuur?

  • 2

Leeskringe is beslis nie ’n modegier of nuwerwetse verskynsel nie. Trouens, mense kom reeds vir eeue lank op ’n gereelde basis bymekaar om boeke te bespreek. So byvoorbeeld verwys Alberto Manguel in sy boek, A History of Reading (1996), na die byeenkomste van ’n 15de eeuse Franse kloskant- en spinvereniging waartydens die vroue beurte geneem het om hardop vir mekaar voor te lees. In die 19de eeu het Amerikaanse vroue op ’n vaste basis bymekaargekom om Shakespeare te bestudeer en in Engeland het vrouens wat by meulens gewerk het leesgroepe georganiseer wat gereeld ’n uur voor werk bymekaar gekom het om boeke te bespreek.

Hier te lande bestaan ou gevestigde leeskringe reeds vir dekades, terwyl ander nog besig is om tande te sny. In 1912 stig Mabel Malherbe die eerste leeskring in Suid-Afrika, bekend as “Die Afrikaans-Hollandse Leesunie” met die doel om Afrikaanse vroue aan te moedig om te lees. Hierdie leeskring van Pretoria dra nog steeds die naam van hierdie merkwaardige vrou en is nie alleen die oudste nie, maar waarskynlik ook die bes gedokumenteerde leeskring in die land. NALN in Bloemfontein beskik oor al die dokumentasie en leesprogramme van hierdie leeskring sedert Maart 1912.

LitNet het onlangs leeskringe uitgenooi om hul besonderhede en leesprogramme aanlyn te deel en sewe-en-sestig het reeds gereageer. Dit blyk duidelik dat leeskringe oor die lengte en breedte van Suid-Afrika bestaan en ek dink ’n mens kan sonder vrees vir teenspraak sê dat daar nog baie ander is waarvan ons eersdaags op die webbladsy gaan lees.

Baie redes word aangevoer om die bestaansreg van leeskringe te regverdig. Benewens die uitruil van idees, verbreding van kennis, nuwe vriende, omgee tussen lede en sosiale samesyn lê ’n liefde vir lees en boeke die naaste aan elke lid se hart. Audrey Blignault skryf in haar handleiding vir Afrikaanse leeskringe (Van leser tot leser, 1980) dat mense by leeskringe aansluit omdat hulle in boeke belangstel en nie omdat hulle opsoek is na ’n sosiale tydverdryf nie, anders sou leeskringe lankal doodgeloop het. Lede wil uitdagende boeke lees wat hulle horisonne en kennis van die wêreld en sosiale omstandighede waarin hulle leef verbreed en uitdaag. Die feit dat daar nie minder nie as tien leeskringe is wat al meer as 30 jaar bestaan, bevestig hierdie feit.

Omgewing (aftreeoorde, skole, woonbuurte) en werksomstandighede beïnvloed uit die aard van die saak die gemiddelde ouderdom en geslag van lede, maar die meeste leeskringe wat hul besonderhede aangestuur het, spog met lede oor ’n wye spektrum wat uiteenlopende belangstellings het. Almal is dit eens dat elke leser op ’n eiesoortige wyse met die teks kommunikeer op grond van sy of haar unieke verwysingsraamwerk en leeservaring. Diverse groepe is daarom ’n besondere bate omdat dit sorg vir ’n unieke dinamika tussen lede. Soms lei besprekings tot paradigmaskuiwe omdat lank gevestigde uitgangspunte en sienings uitgedaag word.

Die wyse waarop byeenkomste aangebied word verskil van kring tot kring, maar dit is op enkele uitsonderings na gestruktureerd met ’n voorafopgestelde leesprogram. Waar ’n vasgestelde leesprogram nie gevolg word nie, bring die verantwoordelike lid ’n interessante boek na die byeenkoms en bespreek dit met ander lede. Die boek gaan dan in ’n gesamentlike poel waaruit lede boeke kies. Die Boekbimbo’s byvoorbeeld, het al bykans ses honderd boeke op hul lys. ’n Boek wat deur almal gelees is, word weer die eiendom van die lid wat dit gekoop het, maar dit bly op die lys en kan weer deur enige lid by die eienaar geleen word. Plaaslike biblioteke speel ’n groot rol maar in gevalle waar eksemplare van die gekose titels nie beskikbaar is nie, koop lede meestal self die boeke aan en skenk dit na die bespreking aan die plaaslike biblioteek.

In die meeste leeskringe hanteer groeplede self die besprekings, maar daar is ook ander wat eerder gassprekers verkies of staatmaak op kundiges, resensente of skrywers, veral waar laasgenoemde geredelik beskikbaar is. Die meeste leeskringe hef ledegeld waaruit genooide sprekers vergoed word. Die Potchefstroomse Afrikaanse Vroueleesvereniging hou twee maal per jaar gaste-aande met ’n gasspreker of ’n skrywer waarvoor kaartjies verkoop word om koste te dek.

Byeenkomste vind in verskeie lokale plaas, soos onder andere lede se huise, koffiewinkels, biblioteke, kerksale, historiese geboue (Franschhoek-leeskring) en selfs plaaslike kunsgalerye (George Leeskring). Nuwe lede word oor die algemeen deur almal verwelkom alhoewel beskikbare ruimte in sekere gevalle ’n beperking plaas op die hoeveelheid lede wat geakkommodeer kan word. Die Bibliosiele se byeenkomste is gesellige etes waar die tema van maaltye met groot sorg beplan word rondom die tema van die boek wat bespreek word.

Oor die algemeen sluit die finale leesprogram al die verskillende genres in, maar dit wil tog voorkom asof gedrukte dramas aan die agterspeen suig. Dit sal interessant wees om te weet hoeveel leeskringe in die afgelope vyf jaar ’n drama gelees en bespreek het. Daar word wel na films gekyk of spesiale fliekaande rondom boeke organiseer.

Die keuse van boeke wat bespreek word is vir die meeste leeskringe ’n tameletjie en sameroepers is dit eens dat dit soms net so lank neem om boeke te kies as om dit te lees. Tog spreek dit vanself dat die keuse van boeke van groep tot groep verskil afhangend van persoonlike voorkeure. Verskillende metodes word gebruik om te sorg dat die proses so demokraties moontlik bly. In sommige gevalle gooi lesers titels in ’n hoed, in ander leeskringe stem lede uit ’n lys wat saamgestel is uit voorstelle. Lede van Langenhovenpark se leeskring bring geskrewe voorstelle na die Oktober-vergadering. Die voorsitster stel dan ’n groslys op en tydens die afsluitingsfunksie in November kry lede die geleentheid om 11 boeke uit die lys te kies wat hulle graag wil lees. Uiteindelik gee beskikbaarheid van boeke, genre-verskeidenheid en geskiktheid vir bespreking die finale deurslag. Boeke wat tot die suksesvolste besprekings lei, is dié wat aanleiding gee tot uiteenlopende standpunte en die meeste leeskringe beklemtoon dat lede onbeskroomd hul standpunte oor ’n spesifieke boek of onderwerp stel.

Dit is bykans onmoontlik om volhoubare afleidings te maak uit een jaar se leesprogramme. Een titel wat dalk in ’n spesifieke periode oorgesien is, is dalk in opvolgende jare wel deel van die program. Met dit gesê, is daar tog algemene tendense waarneembaar. So byvoorbeeld, is daar huldigingsprogramme vir spesifieke skrywers (Karel Schoeman, PG du Plessis, Chris Barnard, Dot Serfontein en Ingrid Jonker), terwyl bibliografieë ook hierdie jaar prominensie geniet: Donker stroom (Carel van der Merwe), Emily Hobhouse, geliefde verraaier (Elsabé Brits), Mymeringe van ’n bleek Afrikaan (Max du Preez) en Jan Smuts: Afrikaner sonder grense (Richard Steyn). Sommige leeskringe hou poësie-byeenkomste wat op ’n verskeidenheid gedigte fokus, maar op enkele uitsonderings verskyn spesifieke poësiebundels op byna elke leeskring se lys: Fotostaatmasjien (Bibi Slippers), Mede-wete (Antjie Krog), Uittogboek (Johan Myburg) en Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (Cas Vos).

Literêre pryswenners is ook ’n gewilde keuse. Vanjaar is dit veral die Nobelpryswenner, Kazuo Ishiguro, wat figureer met titels soos Never let me go, The buried giant en The remains of the day. Afrikaanse titels soos onder andere Groen soos die hemel daarbo (Eben Venter), Hy kom met die skoenlappers (Valda Jansen) en Op ’n dag, ’n hond (John Miles) is gewilde keuses, terwyl Huilboek (Ryk Hattingh) loshande in die voorste ry sing. Lede wil ook graag kennis neem van titels wat baie aandag in die media geniet het, soos byvoorbeeld Die taal van been (Heilna du Plooy) en Die wêreld van Charlie Oeng (Etienne van Heerden), terwyl Spertyd (Elsa Joubert) vanjaar deur nie minder nie as 26 leeskringe gelees word. Verskillende titels van Irma Joubert verskyn ook vanjaar op leeslyste. Romans wat kollig-onderwerpe hanteer, soos onder andere ouer-kind verhoudings, outisme (Raaiselkind, Annelie Botes), natuur (Elders, Ernst Grundling) siekte (Cancer ward, Alexander Solzhenitsyn), die dood (Die dood en die sin van die lewe, Anton van Niekerk) en ouderdom (Spertyd, Elsa Joubert en Slot van die dag, Karel Schoeman) is ook gewild. Wat duidelik blyk uit al die leesprogramme is dat leeskringe daarna strewe om ten minste een titel uit al die verskillende genres op ’n roterende basis te hanteer.

Afleidings oor die balans tussen Afrikaanse en Engelse titels bly ’n tameletjie. In 2018 wissel dit tussen een Engelse titel tot ’n 50/50-verdeling. Sommige leeskringe verkies om merendeels Engelse titels te lees, maar dit is in die minderheid. Ek dink ’n mens swem in hierdie opsig in gevaarlike waters, want indien ’n leeskring een jaar oorwegend Engelse titels lees, swaai die pendulum die volgende jaar miskien weer in die teenoorgestelde rigting.

Al is akademiese belangstelling in die aktiwiteite van leeskringe minimaal, stem uitgewers en boekwinkels saam dat dit leesgewoontes verander en daarom bied hierdie byeenkomste vrugbare materiaal vir navorsing.

Vra ’n mens getroue lede waarom hulle vir dekades lank aan ’n leeskring behoort, is die redes uiteenlopend, maar die algemene deler bly altyd boeke. Miskien omdat daar mense in boeke is, mense wie se lewensomstandighede, denkwyses, uitgangspunte, religie, oortuigings en morele standaarde drasties van mekaar kan verskil, mense wat besef dat die lewe selde swart en wit is, maar juis die grys area tussen reg en verkeerd, mense wat jou as leser uitdaag om eie sienswyses te heroorweeg en soms aan te pas sodat ons wat hierdie ondermaanse bewandel meer empatie met mekaar kan hê in ’n ruimte waar dit toelaatbaar is om van mekaar te verskil. Miskien is juis dit die groot waarde van leeskringe.

Marietjie Lambrechts
Navorsingsgenoot in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Junie 2018

Lees ook:

Uitnodiging: Leeskringe in Suid-Afrika

Leeskringe in Suid-Afrika: 2018-jaarprogramme en -inligting

  • 2

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Inderdaad is lees, in enige formaat, vir welke doeleindes saam met wie ook al en ongeag die bedoeling, 'n hoogs terapeutiese ervaring wat rondkrap in die blikkie emosies wat elkeen van ons maar met hom of haar saamdra.
    Dit stimuleer denke, help mense om terugslae en sukses te verstaan en ook te hanteer. In groepsverband soos 'n leserskring, word net nog meer waarde toegevoeg. Interaksie en meelewing deur lede skep 'n 'warmte' ... dis soos hoe meer hout op die "vuur, " hoe warmer die vlam. Ons leer om te verstaan en terwyl verskillende sieninge en interpretasies van lede binne die groep meehelp met dinge soos verdraagsaamheid ontdek ons ons fasette van ons eie menswees waarvan ons nie altyd bewus was nie. Leeskringe is amper soort van 'n gesondheidspa en boeke die antibiotikum teen veroudering en verderf. Oomblikke van vreugde is die horlosie se naaldwyser want tyd is relatief ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top