Los uit! deur Sjaka Septembir: ’n teaterresensie

  • 0
Vat so! September se Los uit! laat kleingoed skaterlag

Regie en spel: Sjaka September
Theatre Arts Observatory
Saterdag 19 Oktober

Kan ’n storie oor die eerbiediging en oortreding van reëls snaaks wees?

Definitief!

In Sjaka September se debuutnarrespel slaag hy meesterlik daarin om gek te skeer met die kinderlike drang om reëls te oortree en te wil vat en gryp as grootmense uitdruklik sê: “Los uit!”

Die dinamiek tussen Meneer De Beer en Stinkie die Nar weerspieël dié van ’n baas en ’n huishelpertjie. Meneer De Beer, ’n ouer karakter, word voorgestel deur middel van ’n karaktermasker wat sy gesag en status beklemtoon. Stinkie, daarenteen, is ’n jong, kinderlike clown-karakter met ’n speelse energie wat bots met Meneer De Beer se streng reëls. Hierdie teenstellende karakters skep die perfekte spanningsveld vir humor. Die lawwe Stinkie probeer om Meneer De Beer met sy huishoudelike take te help ... maar, soos dit die lot van die nar betaam, eindig alles in gladde gemors!

........
Tasse sweef, ’n boxer word ’n muurprop, en melktertjies skree skielik! Hierdie elemente gee die produksie ’n sirkusagtige kwaliteit wat jong gehore in ’n wêreld van verbeelding intrek. Bowenal is die produksie ’n sensoriese speeltuin vir klein oë en ore!
........

Water is ’n groot tema in Los uit!, en word ’n onuitputbare bron van genot en glipse vir Stinkie. Reënklanke keer plek-plek terug en daar word ook deurgaans gebruik gemaak van klassieke musiek. Wanneer Stinkie met die voorwerpe in Meneer De Beer se huis in aanraking kom, verander dit op magiese wyse. Tasse sweef, ’n boxer word ’n muurprop, en melktertjies skree skielik! Hierdie elemente gee die produksie ’n sirkusagtige kwaliteit wat jong gehore in ’n wêreld van verbeelding intrek. Bowenal is die produksie ’n sensoriese speeltuin vir klein oë en ore!

Los uit! is oorspronklik geskep tydens September se tyd by die Bloem Clown Troupe. Een van die Meneer De Beer en Stinkie-sketse is aangebied vir minder bevoorregte skoolkinders. En so het September die narratief uitgebrei tot ’n volledige produksie. Die stuk se fokus op fisieke komedie en storievertelling kom steeds sterk na vore en sorg vir ’n giggelsessie soos min!

........
Los uit! leer kleingoed oor gesonde grense.
........

Die toneelstuk het ’n spoeg-en-plak-stel, met spatsels van geel, oranje en pers. Dit kan by die oog van ’n ontwerper baat. Soms verskans die stel party van die aksie wat mens eerder nie wil misloop nie. Die oorgange tussen Stinkie en Meneer De Beer kan effe opgeknap word om die vloei en ritme van die stuk te verbeter. Die keuse om Meneer De Beer se karakterisering meer “normaal’ en swaar te maak, skep ’n goeie kontras teenoor Stinkie die Nar se swewende liggaamlikheid. September gebruik die nar se verwondering oor sekere voorwerpe, klanke en materiale om die gehoor te prikkel en in te trek by die spel. Daar word ook met die gehoor kontak gemaak. By tye sweef ’n mop dalk oor jou kop en kielie die klein koppies in die ry agter jou!

Los uit! leer kleingoed oor gesonde grense. Hulle kan deur middel van die nar ervaar wat gebeur as mens daardie grense oorskry. Maar Los uit! is nie ’n sedeles nie; dis net doodgewone, lekkerlagpret!

Vir kinders 4–9 jaar oud.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees: Hoe mooi val die lig – ’n resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, en so meer: Die ongewerwelde-trilogie – ’n resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Hoe het dit skielik laat geword? – ’n resensie

World Theatre Day 2024: Jeani Heyns responds

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top