Toyota Stellenbosch Woordfees: Hoe mooi val die lig – ’n resensie

  • 0

José Dias en Liza-Marié Loubser in Hoe mooi val die lig (Foto’s via woordfees.co.za)

Regisseur: Niël Rademan
Pianis: José Dias
Akteur: Liza-Marié Loubser
Skrywer: Riana Scheepers
Musiek van Frédéric Chopin

Die klawers klink soos kriekies en paddas wat vir mekaar serenades sing. Die note soos kabbelende waterstrome. Dit is juis dié tipe beskrywing wat die komponis Chopin grensloos sou geïrriteer het. Dis ook dié tipe beskrywing wat deur sy spitsvondige “lover”, George Sand, geopper sou gewees het.

Die stel is fyn en toweragtig, en plaas mens in die klerekas van “die mees berugte vrou in Europa, George Sand”.

George Sand was die skuilnaam van Amantine Lucile Aurore Dupin, ’n Franse romanskrywer en memoirskrywer, gebore op 1 Julie 1804. Sy was bekend vir haar wisselvallige loopbaan as veelsydige skrywer, haar sigaar en dikwelse kruiskleding. Sy het haar gedra soos ’n man in ’n man se wêreld. Dit is ook ál hoe ’n vrou enige waarde as skrywer kom bekom in 19de-eeuse Frankryk. Die teaterteks is versorg deur die bekwame hande van Riana Scheepers.

Die narratief van Sand en die musiek van die geniale Poolse komponis dans om die ore. Chopin word beliggaam deur Dias en “praat” deur sy musiek. Treffende silhoeëtte van Sand in haar manelpak en silinderhoed word geskets deur slim beligtingskeuses. Die twee historiese figure het ’n intense maar troebel verhouding van ongeveer 10 jaar gehad. Sand het Chopin se musiek diep waardeer en hom geïnspireer, terwyl sy hom ook ondersteun het in sy geestelike en fisieke kwale. Sy was, tot ’n mate, “die man van die huis”, verantwoordelik vir Chopin se welstand.

Rademan is bekend vir sy slim kunstenaarskeuses – sy keuse van musici en woordkunstenaars stel nooit teleur nie. In dié geval skep hy weer ’n vertoning wat musiek sowel as storie voorrang gee. Chopin se stilswye laat ’n mens fokus op die musiek. Dias se tydberekening en frasering van die preludes en etudes is uiters genotvol. Mens wil net oë toe maak en luister.

Loubser het ’n groot taak voor haar. Nie net is die teks neergepen in beeldryke Afrikaans nie, maar dit is ook deurspek met Franse frases, wat sy met oortuiging en gemak hanteer. Dit is juis dan wanneer die karaktertrekke van Sand deurskyn! “Je ne suis pas une femme … Je suis George Sand.” Dié bekende sêding vertaal na: “Ek is nie ’n vrou nie … Ek is George Sand.” Dit weerspieël haar sterk feministiese oortuigings en uitdagings van die geslagsnorme van haar tyd.

Loubser lei die gehoor versigtig, op ’n outobiografiese wyse, deur Chopin en Sand se boekdeel. Soms is die vertelling amper té versigtig en emosioneel verwyderd. Sand moes immers haar man kon staan. Dit het wel die pas van die stuk in sy geheel vertraag, en soms was die klem meer op die inligting en musiek as die emosie en konflik. Effe pap in die broek vir so ’n brawe narratief.

Die stuk opper vrae oor nalatingskap: Hoe mooi val die lig steeds op Chopin? Hoeveel weet wie Sand is? Alhoewel sy ’n bekwame skrywer was, is haar werke maar eers vyf jaar gelede in die Franse kanon opgeneem. Hoe mooi val die lig vra: “Wat laat mens na, en as vrou, wie gaan jou onthou?”

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n oorsig

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Hoe het dit skielik laat geword? – ’n resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Paranoid Android – an interview with José Dias

Metropolar at Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: a review

Hollywood at Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Glitz, glam and razzle-dazzle – an Instagram review

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, en so meer: Die ongewerwelde-trilogie – ’n resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Exit/Exist – an Instagram review

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top