Loftus Marais (1982–)

  • 2

Foto © Naomi Bruwer

Sêgoed van Loftus Marais

“Al die pryse en aandag maak mens nogal senuagtig. Jy voel jy moet bewys jou debuut was nie ’n gelukskoot nie.”

“Mens wil net by ’n lessenaar gaan sit en vergeet van dinge soos vergaderings, belastingvorms en mediese fondse, net sit en speel met ’n paar reëls op jou rekenaar totdat dit jou opgewonde maak.”

In Oktober 2005: “Ek meen die tyd vir ’n revolusie van jong digters het aangebreek. Ons moet op die netjies geveede literêre voorstoep broek losmaak!”

“Die vuur in my om te dig, is ’n tipe energie wat jou laat jeuk en krap totdat jy dit moet neerskryf. Ek haat dit om die woord te gebruik, maar dis organies.” (Die Burger, 15 Januarie 2009)

Hoekom juis poësie? “Ek dink dit het dalk te make met die feit dat ek met taal as ’n aparte ding en ook ’n idee of twee wil speel (eerder as om ’n storie te vertel of so), en ek voel ook gemakliker met die kleiner fokus van die gedig: hiér, werk met dié woorde, whittle them down, maak hulle na iets klink, en as dit nie werk nie, fine, frommel die papier op en gooi dit weg. Jy hoef net te worry oor wat op die enkele papier aangaan.” (Sarie, 1 Julie 2009)

“Die sukses van die bundel is iets waaraan ek gewoond moet raak. Ek is baie dankbaar daarvoor. Maar meer as enigiets anders sien ek dit as aanmoediging. Dis asof iets vir my probeer sê ek moet aanhou doen waarmee ek besig is.” (Beeld, 29 Junie 2009)

“I find I’m always inspired by visual things: objects I see rather than things I read or wonder about. I guess most of my poems are a result of visual impetus ... I believe that poetry, mine or anybody else’s, can bring things into sharper focus. I hope it makes things more real for readers ... I don’t have any strong feelings about poetry having to be ‘involved’ or ‘relevant’ or ‘useful’. I’m slightly more interested in it being ‘good’.” Poetry Africa Archive

Melt Myburgh vra op Versindaba of poësie sy enigste minnaar is en of hy al ander genres oorweeg het: “Mens wil nie ‘nee nooit!’ sê nie, maar ek dink dis hoogs onwaarskynlik. Die poësie is ‘n moeilike, moerige minnaar, maar hy hou my happy.”

“Ek is min gepla dat party mense dink poësie is akademies en onverstaanbaar. Poësie is nie almal se ding nie, maar dis oukei. Mense is gewoond aan taal wat funksioneel moet wees, en ’n gedig werk nie so nie. Dis eintlik presies die teenoorgestelde van ’n SMS. Poësie is eintlik net ’n moerse gekompliseerde manier van op jou eie sit en mompel … ” (Rapport, 20 September 2012)

“Ek voel goed oor kontemporêre Afrikaanse poësie. Daar is soveel opwindende goed wat gebeur. Dit voel asof ek deel is van iets groots.” (Rapport, 20 September 2012)

Om poësie te skryf in hierdie brandende eindtye is dalk ’n bietjie soos om ’n skilpad vir ’n wandeling te neem, sê Danie Marais. Loftus se reaksie: “Dis ’n verskriklike idee. En om met die skilpad te gaan loop, het ’n element van afwys en daar is sekerlik iets daarvan in poësie – veral in die Afrikaans digkuns. Maar ek dink ’n mens ontbloot jou eerder in die poësie. In terme van dig as ’n baie irrelevante praktyk is dit egter so, inderdaad.” (Beeld, 18 Augustus 2012)

Oor die probleem om ’n tweede bundel te skryf ná ’n goeie ontvangs van ’n eerste sê Loftus aan Danie Marais: “Noudat die bundel klaar is, voel ek gespanne. Maar dit het my nooit gesteur met die skrywery in die afgelope vier jaar nie. Dit was nooit in my kop nie. Ek is net dankbaar dat ’n gedig iets is wat jou pla. Jy weet, dit jeuk en jy moet gaan krap. Daai kompulsiewe deel van skryf, is dalk in baie mense se geval die redding. Dis ’n ding waarmee jy jouself uitwoed.” (Beeld, 18 Augustus 2012)

“En my raad vir Afrikaanse skrywers wat bekommerd is oor mense se verwagtings van hulle skryfwerk, is: Kry vir jou ’n boy­friend wat nie Afrikaans verstaan nie. Dan sal hy altyd dink jou gedigte in hierdie romantiese, vreemde taal is beter as wat hulle is.” (Beeld, 18 Augustus 2012)

Gebore en getoë

Loftus Marais is in 1982 in die Paarl gebore. Sy pa, André (Tinkie), was onderwyser by die Hoër Landbouskool Boland in die Agter-Paarl en dit is waar Loftus grootgeword het. Na sy pa se voortydige dood, met Loftus in graad 5 (standerd 3), het hy en sy ma, Linda, en sy ouer suster, Liné, dorp toe getrek. Sy ma, ook ’n onderwyser, het later skoolhoof van La Rochelle Laerskool geword.

Loftus is na die Laer Seunskool in die Paarl en hy het sy matriek aan die Hoër Jongenskool, ook in die Paarl, gemaak.

In 1992 het die laerskool die operette Rip van Winkel op die planke gebring en Loftus het die rol van ’n lid van die Kaapse Klopse gespeel.

Hy was ’n ywerige toneelspeler op hoërskool en in 1998 was hy lid van die Hoër Jongenskool wat die kabaret Afrikaners is kamasut ’t ja op die Logan Toneelfees aangebied het. Die stuk is aangewys as die beste aanbieding tydens die fees. In 2000 het die skool se toneelgroep Die Van Aardes van Grootoor tydens die Montagu Toneelfees aangebied en by die derde Brackenfell Toneelfees in 2000 het hulle dieselfde stuk opgevoer. Hulle het met die wentrofee weggestap en Loftus is saam met drie ander as die beste akteur aangewys.

Van kleins af het die letterkunde ’n indruk op Loftus gemaak. Hy vertel aan Lise Beyers in die Paarl Post: “’n Boek was nog altyd ’n anderste objek vir my. ’n Ding wat spesiaal is, wat meer is as sy omslag en sy gedrukte papier. My ma het altyd gesê speelgoed moet ons uit ons sakgeld koop, maar boeke sal sy vir ons enige tyd koop.

“So in graad 4, in klein Boishaai, het ek my eerste skrywersobsessie ontwikkel. En dinge het maar net van daar af geloop, tot nou, waar ek myself vang pretensieus sit en Martin Heidegger lees op die stoep.”

“Skryf, dink ek, was nog altyd in my,” vertel hy aan Wayne Muller (Die Burger, 15 Januarie 2009). Sy ma het ’n sub B-skryfboek van hom gevind waarin hy moes skryf wat hy eendag wou wees as hy groot is. “Ek’t geskryf ek gaan Wimbledon wen of ’n skrywer word, want hulle maak baie geld. Vele mistastings daar ... Die skryf is nog daar, maar die tennis het getaan.”

Loftus praat met goeie herinneringe aan sy hoërskooldae by Boishaai (aan LitNet): “Ek onthou veral onderwysers soos André Bester en Samantha Droomer wat baie vir my beteken het. Ek is baie gelukkig om ’n onderwyser-ma te hê, want soms dink ek het hulle ’n ingeboude manier van kinders ontwikkel en ondersteun.”

Hy vertel dat hy op skool altyd sulke wroegende opstelle geskryf het en dat hy eers later fyner begin skryf het, asook meer presies.

Loftus dra sy bundel Staan in die algemeen nader aan vensters aan sy ma op. Sy ma skryf nie en hy vertel aan Marius Crous op LitNet: “My ma was gelukkig nooit ’n sóórt ma nie. Ek het op skool gewoond geraak aan al die moontlike tipiese Boland-ma’s: dié wat in Kombi’s rondgejaag het en die netballemoene gesny het, die obese basaarbaksters, die bourgeois-boheme met hulle deurmekaar hare en pottery-klasse, ensovoorts. My ma was en is net haar doodnormale ingewikkelde self, en sy moedig my aan en ondersteun my heeltyd, soos ’n briljante onderwyser. En sy is baie mooi.”

Loftus droom ook op skool van werk in die filmbedryf, maar weer eens is dit sy ma wat kop gehou het, vertel Loftus aan Jeanne Calitz (Rapport, 20 September 2012): “Toe sê my ma, dis reg, sy sal betaal vir filmskool, maar eers moet ek ’n graad kry.”

Tydens sy hoërskooljare het ’n artikel van hom wat in hulle skoolkoerant verskyn het, daartoe gelei dat die hele oplaag vernietig moes word weens vrees vir ’n lastersaak.

Verdere studie en werk

Loftus is dus ná skool na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom ingeskryf het vir ’n BA-graad in taal en kultuur en daarna ook ’n honneursgraad in Engels. Hy vertel aan Jeanne Calitz (Rapport, 20 September 2012): “Dis waar ek besef het die digkuns is nie net ’n ambag nie, dis ’n soort ingesteldheid, ’n manier van kyk en dink en voel. En dit was vir my wonderlik, die wete dat jy daardie gevoel kan kweek en kan versorg.”

Hy is na die filmskool, “maar twee maande by AFDA in Kaapstad en ek het geweet dis nie vir my nie. Ek het op ’n dag uit die klas in Observatory opgestaan, oor die pad geloop en vir Marlene van Niekerk (van die Departement Afrikaans en Nederlands by die US) gaan bel om te vra kan ek asseblief my meesters in Afrikaans by haar kom doen? Ek moes vir haar ’n voice mail los van ’n treurige tiekieboks af. Is daar enigiets meer tragies as dit?” aan Calitz.

Hy is wel gekeur en het sy MA in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Marlene van Niekerk met lof geslaag en kort daarna as reklamebeampte by NB-uitgewers begin werk. Tans is hy ’n vryskut-bemarkingsbeampte.

In 2008 het sy debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters, die rakke getref – en al wat literêre prys is, gewen. Loftus lyk steeds effens verbaas oor dié reaksie. “Kyk, die vorige prys wat ek gewen het, was in standerd drie vir die beste vordering in tennis!” 

Oor die kursus in kreatiewe skryfkuns wat Loftus by Marlene van Niekerk gevolg het, sê hy: “Marlene is ’n fenomeen, en ’n konstante bron van inspirasie. ’n Digter kan nie leer dig nie, maar iemand met ’n slim hand kan vir hom wys dat die digkuns ook, en altyd, ’n ambag is, ’n dissipline, ’n alewige selfredigering. Ek voel die kursus was ook op ’n sekere manier ’n time machine – dinge wat ek baie langer sou gevat het om op my eie te besef en te ontwikkel, het binne die verloop van drie jaar in ’n vreeslike growth spurt gebeur. Ek is oneindig dankbaar daarvoor.”

In 2005, terwyl hy met sy MA besig was, het Loftus, in ’n sterk-bewoorde artikel op LitNet, die plagiaatskandaal waarin die bekroonde digter Melanie Grobler haar bevind het, aan die gang gesit. Grobler het die Eugène Marais-prys vir Die waterbreker ontvang.Loftus was direk daarna, afgesien van ’n paar lofgesange, aan die ontvangkant van ’n paar literêre dwarsklappe, veral deur gevestigde digters. In ’n brief aan LitNet het Johann de Lange hom as ’n “halfgebakte studentedigtertjie” uitgekryt en hom van ’n heksejag beskuldig.

Loftus vertel aan Erns Grundling dat die ophef wat gemaak is, hom nie pla nie: “Ek het nie gedink dit sou so ’n drama wees nie, maar ek het gevoel ek moet iets doen. Die ding met Melanie is ’n simptoom van ’n poësiesisteem wat dringend nuwe bloed nodig het. Hierdie dinge gaan aanhou gebeur as ’n mens voortgaan om sulke oorvolwasse stemme, sulke NP Van Wyk Louw-lite en diet-Elisabeth Eybers gediggies te publiseer. Dis nodig dat mense nuwe goeters lees.”

Hy het op die ooreenkomste tussen Grobler en die Kanadese digter Anne Michaels afgekom terwyl hy met sy MA-graad besig was. Hy het baie digbundels in daardie tyd gelees en omdat daar toe baie selde ’n digbundel by die Groot Uitgewers verskyn het, lees jy dit maar. “So het ek Die waterbreker gelees en die gedig (“stad”) herken omdat ek Anne Michaels se bundels besit. My mond het oopgehang,” vertel hy aan Erns Grundling. Hy het net vertrou dat hy as digter nie sou swaar trek aan die reaksie uit die letterkundekringe nie.

“Mens weet nie, dis maar ’n incestuous klomp, hulle kan geniepsig raak. Maar ’n mens moet iets aan die stand van sake doen.” Grobler het later afstand gedoen van die Eugène Marais-prys as gevolg van die storm wat om haar kop gewoed het.

Loftus het in 2005 gedebuteer as digter in Nuwe stemme 3 wat deur Danie Marais en Ronel de Goede saamgestel is.

In 2008 word Loftus se bundel Staan in die algemeen nader aan vensters by Tafelberg Uitgewers uitgegee. By die Woordfees van 2008 was dit al duidelik dat hy die Afrikaanse literêre wêreld met ’n slag gaan tref. Hy het van sy gedigte daar voorgelees, en ook later by die Breytenbach-sentrum in Wellington en by Aardklop, en het telkens baie geesdriftige applous uitgelok.

Die uitgewers se inligtingstuk vertel die volgende oor Staan in die algemeen nader aan vensters: “In die bundel word die vier aparte leefruimtes van ’n sprekerstem poëties ontgin. Die studentedorp, die voorstad, die stad en die platteland word op soms speelse, soms intieme wyses ondersoek, en die verweefdheid van ruimte en identiteit word stadig aan die leser uitgelê. In al hierdie ruimtes is die grootste bindende faktor die alomteenwoordigheid van kuns, en dan spesifiek die blik van die digter. Maar dit is nie ’n eenheidsbundel in die tradisionele sin van die woord nie. Hier word juis teen die poëtiese tradisie gerebelleer, terwyl daar tegelykertyd ’n waardering van klassieke invloed is. Dit is ’n bundel vol komplekse energie waarin die digter met stemme speel – by tye liries én wrang, somber én snaaks, nostalgies én hiperkontemporêr: van ’n herbeskrywing van die poëties-geykte Karoo-landskap tot die skyn-tragiese mymeringe van ’n tuindwerg.”

Hy verower in 2009 vier belangrike pryse vir sy bundel: die Eugène Marais-prys vir poësie (wat hy met Ronelda Kamfer gedeel het), die UJ-prys vir die beste skeppende debuutwerk in Afrikaans, die Ingrid Jonker-prys en die Protea-prys vir poësie. Dit maak van hom die eerste digter sedert Sheila Cussons wat vier literêre pryse vir ’n debuutbundel ontvang. En in 2010 is die Suid-Afrikaanse Letterkunde Poësieprys (Sala) aan hom toegeken.

Tydens die oorhandiging van die Eugène Marais-prys in Bloemfontein het Loftus aan Karen Ebersohn (Beeld, 29 Junie 2009) gesê dat dit baie spesiaal is om die prys in Bloemfontein te ontvang. “Dit voel vir my asof my digbundel ’n spesiale band met die stad het. Elke keer as ek hier kom, is dit vir my ’n spesiale ervaring. Ek was verlede jaar (2008) hier vir ’n boekbekendstelling toe die uitgewers bel om te sê die digbundel is klaar gedruk. Die volgende keer toe ek weer hier was, het ek gehoor ek het die Universiteit van Johannesburg-prys vir my digbundel gewen. En nou was ek weer hier om die Eugène Marais-prys te ontvang. Dis wonderlik.”

“Ek aanvaar die pryse as ’n aanmoediging, as amper ’n belofte oor toekomstige werk wat ander mense namens jou maak,” vertel Loftus aan Willem de Vries (Beeld, 27 Oktober 2009). “En wat jy seker sal moet nakom. Maar die Ingrid Jonker-prys is ook anders as ander pryse – ander digters gee dit vir jou. Dis ook die een waaroor ’n mens van jou eerste jaar in kreatiewe skryfkuns fantaseer. Dis die een met die naam.”

Wat vir die beoordelaars uitgestaan het in Loftus se bundel, was die mate van sofistikasie en vernuf daarin, asook “die ironie wat terselfdertyd ontdaan is van sarkasme”. Die bundel spreek ook tot die gewone man op straat en dit blaas ’n vernuwende wind in die Afrikaanse digkuns. Een van die beoordelaars sien die spreker as ’n “geïnspireerde flâneur, ’n wandelaar wat aan sy verbeelde gespreksgenoot die onwaarskynlike en absurde in die alledaagse Afrikaanse bestaan uitwys, en ingestel is op ontluistering. Hulle beskryf hom as ’n stoutmoedige en vernuftige wenner.” (Beeld, 27 Oktober 2009)

Hy vertel aan Wayne Muller in Die Burger van 15 Januarie 2009 dat hy nie veel erg het aan die romantisering van dig nie, want “jy skryf nie vir die dieperes nie; jy skryf eintlik maar vir jouself”. En hy sal ook nie iets diep sê soos: “Ek glo die gedig skryf vir jou” nie. Want dis te veel van ’n romantisering – “met ’n hoofletter R”.

Muller gaan voort: “Sy renons in ’n oordrewe romantisering van die digkuns klink uit die uitdagende houding in die slotreëls van ‘Wederkoms’, wat in sy bundel opgeneem is:

en wanneer ek voor Hom moet staan
sal ek verwyfd curtsy
en Hom netjies verduidelik
dat my catsuit
(opgevou in die groot tas langs die vanity case)
fire-resistant is

“Daarmee saam skemer ’n tikkie rebelsheid deur wat meen poësie is kuns vir die onopgesmukte massas, iets soos in ‘Die digter as rockstar’:

ek breek my versreëls oor julle koppe soos guitars

en:

ék het nie ’n beiteltjie nie
ek het ’n fokken lugdrukboor

Muller skryf dat die woord en frases in Loftus se gedigte baie vernuftig is, met die gevolg dat die daaglikse dinge briljant uitgebeeld word in “blink catsuits en leerbroeke”. “Gedigte is vir Loftus ’n stuk gekondenseerde taal wat hom ook toelaat om ander gedaantes aan te neem (’n tuindwerg of tuinier) en hom in staat stel om ventriloquist te speel, maar dis iets waarmee hy stoei totdat dit reg voel.”

Vir Loftus suggereer die bundeltitel iets verder as net kyk, want agter die venster is daar ook ’n kamer waarvandaan gekyk word: “Dit gaan ook oor hoe jy die venster op-dress, met hortjies of gordyne. Skryf gaan oor kyk, ook na die skrywer self; daar’s net ’n graadverskil tussen kyk en skryf”, aan Muller.

Loftus se verse toon heelwat vryheid, maar die teorie is ook vir hom belangrik. Dit is by hom ingeprent terwyl hy onder Marlene van Niekerk studeer het. Daar moet vorm en struktuur wees, maar dan moet daar ’n rede voor wees. “En soms is die vorm iets wat sê ‘fok jou’ vir die sonnet.” Aan die vier dele (ruimtes) van die digbundel is ook fyn gedink: studentedorp, voorstad, stad en plaas. En om die volgorde te laat vloei “was soos om ’n Winamp-playlist op te stel: dit vat tyd.”

Lucas Malan skryf 9 Desember 2008 in Beeld: “Die strak, on-sierlike voorkoms sowel as die saaklike onpoëtiese titel van die digdebuut dui dadelik op ’n onkonvensionele publikasie. Die motto vooraf is drie reëls van Billy Collins: ‘The birds are in their trees,/ the toast is in the toaster,/ and the poets are at their windows.’ Met hierdie aanwysing kan die leser vermoed wat die digter se voorkeur vir die digterlike optiek en werkwyse is: Vermy die vanselfsprekende. ‘En moenie huiwer om die buitewêreld vanuit jou veilige raam te bekyk nie, al sien almal daar buite ook hoe jý deur jou venster as “portret” geraam word. (...)’

“In Marais se debuut is daar ook so (soos by Emily Dickinson) ’n ruim oopstelling vir die ruie, komplekse wêreld, maar hier word dit met aktiewe deelname daaraan, met diverse onderwerpe in ’n eietydse idioom en in verskeie digvorme verwoord. Die wisselende blikhoeke op die daaglikse ervaring en leefruimte van die spreke word ook subtiel gesuggereer in die grafiese beeld van ’n vensterraam wat telkens in die tipografiese aanbod op die blaaie verskuif. (...) Daar is nog talle verrassings in hierdie soliede bundel (...) Loftus Marais lewer ’n sterk debuut wat eietyds, kompleks en beeldryk is.”

Loftus se bundel het Zandra Bezuidenhout (Die Burger, 29 Desember 2008) soos ’n “briefbom” getref; soos “krake in die werklikheid” of “dringend ... soos diarree”, om sy digterstem se persoonlike verwagtinge van die poësie te eggo. “Met die fieterjasielose voorkoms van ’n vakjoernaal, kompleet met inhoud op die voorplat, word die aandag reeds gevestig op die kwessie van verpakking of aanbod. (...)

“Die bundeltitel kan vertolk word as ’n uitnodiging tot ’n skerper kyk (na binne of buite) deur digter en leser. Vandaar die noodsaak van nader staan in die algemeen. Met die digterlike ‘polaroid close-ups’ word die omraming selektiewer, die fokus helderder en die invalshoek intiemer – en genadeloser. Uiteenlopende situasies word betrag en bedink, en met ’n knipoog verbeeld. Die digter bewerk selfportrette op deurknoppe en skuifdeure, speel voyeur by sosiale geleenthede, soek die brandpunt van die liefde en die lyflike, en gee ’n alternatiewe flits op die sondeskuld. Soms word die nabyskote doelbewus naïef en kinderlik aangebied (‘Vuil hande’), elders weer gesofistikeerd en uitdagend (‘Siel’, ‘Wederkoms’). Daarby wissel die digterspersonas van boerseun, tuindwerg en mol, tot rockster wat flankeer en ontmasker. (...)

“Danksy Marais se goed ontwikkelde oor vir frasering en klankbindinge, kry elke vers sy eie hartklop; ’n gebalde energie wat die vers voortstu en die leser meevoer. Tog is dit nie die manipulering van taal wat in hierdie bundel vooropgestel word nie. Dit is die vars en bedrieglik naïewe kyk en die verbeeldingryke visie-met-ironiese afstand wat jou bybly. (...)

“Marais het binne ’n ommesientjie uit kleiner versamelbundels tot in die pasverskene Groot Verseboek gewip. Maar met hierdie debuutbundel word meer van sy vormbeheer sigbaar, veral van die vrye vers, en van sy gevarieerde werkwyse. Hy vind reeds ’n eie, sterk stem, soos hy as spreker self te kenne gee: ‘ék het nie ’n beiteltjie nie/ ek het ’n fokken lugdrukboor’.

“Dit is inderdaad ’n jonger generasie van ‘marais wat praat’; die boerseun wat nader staan om die ‘sterre (te lees) soos braille’, of ’n lyf soos ’n winkelpop te probeer herbou. Intussen hang hy ’n uitgebreide landskapsportret uit: ‘realisties, en skeef’, en altyd oorspronklik geraam, want:

ek is die digter in ’n studded leather broek
ek breek my versreëls oor julle koppe soos guitars.”

Loftus vertel aan Marius Crous in ’n onderhoud op LitNet dat die bundel op ’n manier oor kyk gaan. “Dalk is daar net ’n graadverskil tussen kyk en poësie. Maar mens kyk nie net nie, mens raam, mens dress dinge op met gordyne en hortjies – daaroor is daar ook iets te sê. En ruimte is belangrik in die bundel, en dis ook ’n ander ding van vensters: hulle veronderstel ’n sekere kamer. So, daar word met die sien en plekke gespeel, en die titel, ’n reël uit een van die gedigte, aktiveer dié spel op interessante maniere.”

Vir Joan Hambidge (Volksblad, 13 Januarie 2009) is Loftus Marais se stem werklik nuut en is hy “iemand wat die gevormde kuns ontvorm en uitmekaar ruk. Dit is ’n leeservaring van opwinding. Terselfdertyd is dit goed wanneer ’n mens ’n nuwe digter ontdek wat werklik iets om die digterlike lyf het. Wees gewaarsku: Die gedigte in die bundel is gevaarlik. Dis soos pakkies dinamiet en al is sy gedigte nie polities-betrokke verse nie, is dit verse met ’n ‘edge’. Hy het met hierdie bundel die kanon weggeklap én bestendig gemaak.”

Staan in die algemeen nader aan vensters oorrompel vir Louise Viljoen met sy verskeidenheid en beweeglikheid. Op LitNet skryf sy: “Daar is vir die leser dus verskillende ingange tot die bundel moontlik. ’n Mens sou kon wys op die beweging tussen die ruimtes van die stad, die universiteit, die suburbs en die platteland in hierdie gedigte. Daar sou ook gedemonstreer kon word hoedat daar van die een stemtoon na die ander gemoduleer word, vanaf die besinnende na die deernisvolle en die wrang humoristiese. Daar sou ook getoon kon word dat hy met vaardigheid ’n verskeidenheid digvorme gebruik waarvan die hegte vrye vers, die villanelle en aubade (oggendgedig) voorbeelde is. By hierde lesing van die bundel wil ek egter ’n paar ander spore deur die bundel volg: die belangrikheid van die bundeltitel, die interaksie met ander digters, die skalkse anargisme van sommige gedigte en die aansluiting by die werk van gay skrywers in Afrikaans.”

Vir Louise Viljoen is die titel belangrik “omdat vensters, rame en selfs ’n ramer in hierdie gedigte ter sprake kom, omdat dit verband hou met dit wat binne die digter se visie geraam word en dit waarop hy verkies om te fokus. Marais se interaksie met ander digters is een van die hoogtepunte van die bundel – nie net sy interaksie met digters wat buite Afrikaans lê nie, maar veral sy reaksie op die reuse van die Afrikaanse poësie, soos Van Wyk Louw, DJ Opperman, Wilma Stockenström en Antjie Krog.

“In sommige gedigte spreek hy op ’n skalkse wyse gewigtige filosofiese vraagstukke en gevestigde opvattings aan en as gay digter kan sy werk gelees word naas dié van skrywers soos Hennie Aucamp, Johann de Lange en Koos Prinsloo. Sy werk herinner tematies gesproke ook aan dié van Aucamp en Prinsloo wat ook die gay stedeling met die plaasagtergrond aan die orde stel.

“Die slotafdeling bevat ’n hele aantal gedigte waarin herinneringe aan die plaas, die pa, die ooms en die familie verwerk word, maar dan met minder argwaan as in die geval van Prinsloo. Ook hierdie gegewe word in verband gebring met die maak van poësie wanneer die digter hom in ‘Soos ’n inval’ afvra hoe ’n mens die plaas met sy ‘stof, dom skape en ganskak’ moet besing. Sy slotsom is dat dit eintlik net gedoen kan word met die klanke eie aan die plaaswêreld, soos vals kerkkore, bakkietoeters en die lui van die plaastelefoon.”

Viljoen meen die bundel is vir seker ’n aanwins vir Afrikaans. “Hier vind ’n mens die soort substansie, oorspronklikheid, afronding en sprankel wat jy min in ’n debuutbundel kry. Lees en geniet die verskyning van die Afrikaanse poësie se nuutste rockster met sy lugdrukboor, petrolbom, vuurvaste catsuit, plaastelefoon en al.”

In Mei 2009 het digters van Suid-Afrika en elders aan die Badilisha Poetry X-Change 2009 in Kaapstad deelgeneem. Dit het gespruit uit die poësieprogram op die Spier-landgoed en het na die stad verhuis sodat dit vir ’n groter gehoor toeganklik kon wees. Loftus was saam met Emile Jansen van Black Noise-faam een van die Afrikaanse digters wat deelgeneem het.

Loftus het in Oktober 2009 by Poetry Africa in Durban opgetree. Hy was een van baie talentvolle digters wat elke aand voorlesings uit hulle werk gedoen het. Omdat sy gedigte in Afrikaans is, het hy self van sy gedigte in Engels vertaal.

Loftus vertel aan Jeanne Calitz (Rapport, 20 September 2012): “Ek het nie vreeslik planne gehad vir die geld nie. Maar ná ’n ruk het ek besluit ek wil ’n blaaskans neem om te skryf, en ook om soveel te reis en te lees as wat ek wil.”

Hy het dus sy werk bedank en vir twee jaar gereis. Hy het Londen, Amsterdam en New York besoek, maar gelukkig vir Afrikaans het hy nie opgehou skryf nie. In 2012 verskyn sy nuwe bundel, Kry my by die gewone plek aguur, en dit kan as “stedelike verse” gesien word. Die brandpunt is Kaapstad met sy mense, sy plekke en sy nukke en grille.

Oor stede, en nie net Kaapstad nie, vertel Loftus aan Danie Marais (Beeld, 18 Augustus 2012): “Wanneer jy ’n vreemde stad leer ken, ontdek jy eintlik die vreemdheid van jou eie plek – dit wat dit anders maak. So, New York was hierdie soort skokbesef van wat Kaapstad eintlik is. Dis soos ’n verhouding. Jy skryf beter oor die verhouding as dit verby is en jy weet wat daar aangegaan het.”

“Wat egter presies in Kaapstad aangaan, weet nugter en beslis ook nie die Amerikaners nie. Vandaar ook die oneindigheidsteken op die bundel se omslag. Ek het in ’n Starbucks op 8th Avenue die New York Times oopgeslaan en een van die hoofberigte was: ‘The Last Racist City in South Africa’ en dan lees jy oor Kaapstad en die car guards. Ek het nie heeltemal met die artikel saamgestem nie, maar die Kaap ís ’n vreemde stad.

“’n Paar jaar gelede was daar ’n wonderlike gedig van Eckhard Cloete op LitNet oor Kaapstad. Dit eindig met: ‘Venesië glip grasieus die see in/ Kaapstad trek stadig maar seker/ in sy eie poephol op.’ En ja, dit is ’n stad wat werklik bewus is van sy eie skoonheid en sy eie geskiedenis.

“Al die algemeen aanvaarde aannames oor die laid-backness van Kapenaars en die plek se skoonheid verklap iets oor die verromantisering van dié stad. En ja, dis ’n mooi plek, maar kyk ook na die berg: Dis ’n gebarste, skurwe, growwe ding, en ons baai bevat niks anders nie as ’n gruwelike tronk reg in die middel, en dis ’n stad, wat soos enige ander stad, tyd aanbid. Ons hou steeds op ’n amper groteske wyse aan om daai kanon twaalfuur te skiet.”

Reeds gedurende sy werk as reklamebeampte by NB-uitgewers (2008 tot 2010) het hy daaraan begin dink om ’n bundel oor die stad te skryf en hoewel die tyd nie eintlik daar was om ernstig aan só ’n bundel te begin skryf nie, het hy notas gemaak en werke van ander digters en skrywers wat oor stede handel, gelees, vertel hy aan Danie Marais.

“In Londen, Amsterdam en New York het ek spesifiek in daai heerlike groot boekwinkels gaan soek na stadsbundels. ’n Mens lees wonderlike goed só raak. Tom Lanoye se stadsgedigte is, byvoorbeeld, fantasties. Utrecht voor beginners van Ingmar Heytze is ook merkwaardig. En Joke van Leeuwen, wat die stadsdigter van Antwerpen was, het ’n stadsbundel vir kinders geskryf – dis die cute-ste ding.

“Maar wat my opgeval het, is dat nie een van hierdie bundels die stad soos ’n groot horlosie hanteer nie. Dit wys nie hoe jy binne hierdie uurwerk leef nie. Alles in die stad word volgens ’n absoluut konkrete, kapitalistiese tydsverloop ingedeel, jy weet, die werksdag en al daai dinge. En in Kaapstad gaan daai kanon ook nog twaalfuur af.”

Vir Danie Marais is Loftus se beskrywing van ’n wolkekrabber in “Ter verdediging van ’n hoë kantoorgebou” as “’n stadige metronoom van lig”, tipies van die anderster allure waarmee hy Kaapstad se besonderhede uitbeeld. Loftus was egter redelik versigtig vir die tradisionele sienings van “mooi” soos wat Kaapstad gewoonlik beskryf word.

“In Suid-Afrika het ons ’n totaal ander verhouding met ons ruimte as in Nederland of Amerika. Dis soos daai New York ­Times-artikel gesê het: Dis ’n spanningsvolle ruimte – die politiek is altyd daar.”

Loftus skep toe die karakter van Fabulisha de la Queillerie, ’n fopdosser of drag queen, waarmee hy die gaping tussen die werklike Kaapstad en die meer bekende lofliedere daaroor wou verken. Fabulisha figureer in enkele verse in ’n ondermynende hoedanigheid.

“Daar was tye wat woorde soos ‘soet water’ of ‘Adamastor’ in ’n gedig wou glip en dan het ek gedink wag, eh-eh. Dis tyd om weer ’n stukkie Fabulisha te skryf. Fabulisha het mettertyd ’n soort teenargument teen die tradisionele beskouing van die stad as ’n houer van ’n baie spesifieke identiteit en geskiedenis geword. En, I mean, let’s face it – De la Queillerie is so ’n drag surname, hallo! Dit was lekker om daai soort koeklike geskiedenis met ’n Kaapse drag queen te assosieer. En Kaapstad is vir homself tog so ’n verskriklik opgeterte stad. So ja, ek het bewus weggehol sodra ek begin oorgaan in daai ding van o berg, o gewel, o baai!”

Marlies Taljard resenseer die bundel op Versindaba en vir haar bied die titel, wat nie tipies dié van ’n digbundel is nie, ’n leidraad tot die pretensielose verse wat Loftus Marais skryf. “Waarskynlik daarom ook die eenvoudige voorblad en die feit dat die bundel op baie goedkoop papier gedruk is. Die titel Kry my by die gewone plek aguur bevat drie woorde wat die aard van die nuwe bundel tipeer. Eerstens handel die gedigte in dié bundel oor gewone, alledaagse temas. Tweedens is plek en ruimte – spesifiek Kaapstad – belangrik in terme van verwysings én konseptualisering, en derdens speel tyd ’n belangrike rol in die ordening van die bundel.

“Uit gedigtitels wat verwysings bevat na spesifieke tye, lyk dit asof die bundel op ’n eerste vlak van betekenis die relaas is van ’n tipiese dag in Kaapstad, beginnend met die gedig ‘’n Begin’, dan volg ‘Oggend en jou lyf (twee oomblikke)’, ‘Dit is 6:00 en ek probeer dink’ en ‘Oggendhoorder’; op p 46 van die bundel vind ons ‘Twaalfuurkanon’, nog later ‘17:15’ en ‘Halflig’, dan ‘Nagvatter’, ‘1:58’, ‘Stadsnag’ en ten slotte ‘Bronx en vroegoggend’.

“Soos die gedigtitels ’n reis deur ’n tipiese dag in Kaapstad suggereer, blyk dit ook algaande dat die reismotief een van die belangrikste temas in die bundel vorm. Oorgange en grense is belangrike merkers.”

Taljard het voorbehoude oor Kry my die gewone plek aguur. Van die metafore kon dalk meer deurdink gewees het en ook ten opsigte van die “poëtiese vormgewing” is daar dinge wat haar gepla het. “Hoewel daar baie gedigte is wat getuig van sinvolle en poëties-verantwoorde vormgewing, lei die digter se verbete poging om poëtiese stylmiddele, taal en metaforiek te ondermyn soms tot ‘n baie onpoëtiese tipe vers. Die laagtepunt is “Die trekklavier”, wat inderdaad ‘n stuk prosa is wat deur verdeeltekens (/’e) in verse verdeel word. En hoewel ek begrip het vir die stelling wat die digter deur middel van sulke marginale poëtiese vorme wil maak, verloor die teks tog plek-plek sy inherent poëtiese aard. (...) Hiermee bepleit ek geensins die terugkeer na Middeleeuse poëtiese vorme nie, maar probeer ek eenvoudig sê dat die grense van ‘n genre net só ver verskuif kan word alvorens dit nie meer as, byvoorbeeld, poësie herken sal word en singewing nie meer kan geskied volgens die konvensies van die (poëtiese) genre waarbinne die kunstenaar dit aanbied nie.”

Ten spyte van bogenoemde voorbehoude beskou Taljard Marais as ’n digter wat sy vakgebied en sy werk ken en wat ’n goeie toekoms as digter voor hom behoort te hê. Sy beskou die gedig “'n Liefdesvers” as een van die beste gedigte in die bundel en die een waarvan sy die meeste hou. “Die gedig getuig van die digter se vaardigheid om verskillende balle gelyktydig in die lug te hou en ‘n afgeronde, bevredigende vers te skryf.”

’n Liefdesvers

vergeet die dagboeke, briewe, notas (oor pruime
al dan nie). vergeet die handskrifte uitvoerig
soos frillerige ondergoed, outoritêre partiture

want liefde kom ook in sans serif
op vousels en strokies uit jou sakke.
’n duideliker danigheid dié.

om te weet jy was op 06/05/2011 16:08
lus vir ’n fanta. jou banksaldo is min of meer
wat ek verwag het. om te lees “your waiter on duty:

jo-anne” o, jo-anne! het jy ook gevrek
oor die grys kolle in sy kenstoppels?
hartstog in die detail: vat # 4820853876

jy vuis sommer munte so toe in kwitansies
en a, ek vou dit oop, blomknoppe!
beminde, ek sal duisende origami-duiwe

stryk uit gekreukelde papier, hulle loslaat
à la groot en kitsch troues, jirre, ek gaan tekere asof ek
die dooie see se rolle ontdek.

afsendings en bewyse van jou
in ’n wêreld waar ek nie by jou is nie. jý maak selfs
“credit authorised” betekenisvol.

liefde op dun papier, selfs hier
by die wankelrige ritme van ’n wasmasjien

Vir Louise Viljoen is hierdie tweede bundel van Loftus net so goed, indien nie beter nie, as sy eerste een nie. Sy skryf op SLiPnet: “Hier is dieselfde vormbeheersing sonder om spontaneïteit te verloor, ’n hegter eenheid sonder om verskeidenheid prys te gee en ’n selfs groter waardering vir die speelse en artifisiële naas ’n gevoeligheid vir die tekstuur van sosiale onreg en ongelykheid. Met Kry my by die gewone plek aguur ­bewys Loftus Marais in alle opsigte dat sy eerste bundel nie ’n eendagsvlieg was nie.”

In Beeld van 27 Augustus 2012 skryf Bibi Slippers dat Loftus Marais onteenseglik bewys het dat hy nie ’n “one-hit wonder” was nie. “Hierdie bundel ‘Kaapstadse gedigte’ bou voort op temas wat reeds in Staan in die algemeen nader aan vensters gevestig is, maar nou word die luike wyd oopgegooi en die perke van die vensterraam verruil vir die vistas van die stad. Die bundel bied ’n begeleide toer deur Kaapstad en die toerleier is deeglik, ingelig, intelligent, spitsvondig en heerlik onkonvensioneel. (...)

“Marais toor met een van daai rooi toerbusse waarop gewone toeriste deur Kaapstad ry. Sý bus is wit met pienk polka-kolle, en soms so groot soos die berg: In party gedigte kry jy ’n groter-prentjie-indruk van die stad wat jou laat voel of jy presies weet hoe die hele wêreld werk. In ander is die voertuig klein genoeg om in ’n slaapkamer of broeksak te pas en kry jy ’n intieme kyk na die grootsheid van gewone dinge. 

“Hy bestuur die toerbus vernuftig op ’n stywe draad wat gespan is tussen die spesifieke en die universele: ’n Spesifieke silweroorbel word ’n universele simbool van oneindigheid, ’n spesifieke meubelwinkel (Lewis) se stukkende naambord wat “...IS” “...IS” “...IS” flits, word ’n advertensie vir die ganse werklikheid. Kaapstad is ’n kaart waarmee menslikheid in al sy fasette verken word. Baie van die ekskursies word gekenmerk deur ’n politieke betrokkenheid waarmee hy nuwe grond verken in sy skryfwerk.”

Slippers sluit haar bespreking af met: “Vergeet alles wat jy dink jy van politiek en poësie weet en gaan koop hierdie boek. En wanneer jy klaar gelees het, kry my by die fanwalk, aguur!”

Publikasies:

Publikasie

Staan in die algemeen nader aan vensters

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624047254 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys vir poësie 2009
  • UJ-prys vir die beste skeppende debuutwerk in Afrikaans 2009
  • Ingrid Jonker-prys 2009
  • Protea-prys vir Poësie 2009
  • Suid-Afrikaanse Letterkundetoekenning 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kry my by die gewone plek aguur: Kaapstadse gedigte

Publikasiedatum

2012

ISBN

 9780624056461 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Loftus Marais as samesteller

Artikels oor Loftus Marais beskikbaar op die internet

Artikels deur Loftus Marais beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-08-07
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

  • 2

Kommentaar

  • Ek leer Afrikaans om Loftus Marais se poësie te leer, maar ek het geen kontak met digters in Suid-Afrika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top