ek, jaloers op die gedagtes van karakters in tekenprente
soliede wolkies wat opgroei oor skouers
ek wil ook denke knus verpak
almal se besinnings ’n heilsamer besoedeling
bid jou aan, cirrus uncinus bo sportvelde
ganse universiteite omhul in orkaan
of alleen in die bed met my wolkie, ’n ekstra kussing
of ek stap met ’n gepofte silwerrand straataf
selfs die geringste oorweging saamgetrek
as ’n prettige natuurlike partytjie-ballon
maar, hoe lank voor dit lastig gaan raak? ek word
agtervolg deur ’n stoute troeteldier, dit belemmer
my uitsig oor die agtermiddag, die gepiets
van stry so onder my geliefde se cumulo-
nimbus, en tydens die dink vir gedigskryf
die skuinsstrepies reën, tot dun akute vereenvoudig?
mens sal net daaronder wil uitstap, geïrriteer
en gaan staan in die wyer front van ’n hoër weer

