die swembad is almal goedgesind
dit verander beweging tot uitdrukking
maar niks maak wérklik saak behalwe die frisste lig
water is ’n lover
dit glip met die afleer van swaarte
plons, klap soos ’n groot soen moet
’n wildheid kalm gechloor
tot somerse agtelosigheid, intense oppervlak
die swembad ontknoop die sonlig
word vonk en weerligstraal, geraam
dis vlekkeloos maar obseen
en vat ditself ook darem nie té ernstig op nie
maak selfs van ’n leë seilstoel ’n esteet
die swemmer klim uit, trek sy baaibroek los
waar dit té styf sy vorm verklap
soos hy staan daar langs die bloute
wat verplat in perspektief, wat weet dat alle plesiere
eenvoudig is, tweedimensioneel is
die swembad skik sy kinkels lig weer reg
in afwagting ’n middag wyd

