Ontologieles
die oggend is donker, ek stap werk toe oor 'n plein
die dinge van die stad begin aan my verskyn
en soos dit mos 'n Digter dan betaam
probeer ek, maar natuurlik, die Syn
se geheim bepeins, o, poëties verstáán
maar in 'n systraat is 'n neonbord
waardeur my vrae beantwoord word:
meubelwinkel LEWIS se letters is gebreek
maar eenvoudig waar: lees daar, klein rymelaar:
nét "...IS" "...IS" "...IS" flits weer en weer
jirre, dat selfs die werklikheid moet adverteer

