Laventelolie-projek ontvang twee toekennings by internasionale wetenskapekspo: ’n onderhoud met Wium van Niekerk

  • 0

Foto van Wium van Niekerk: verskaf en verskyn met toestemming van sy ouers; foto van WISPO-logo: https://www.facebook.com/wispo.official/

Die sestienjarige Wium van Niekerk, wat volgende jaar in graad 11 in Paul Roos is, praat met Naomi Meyer oor ’n wetenskapekspo in Bali waar hy pas twee internasionale toekennings ontvang het.

Wium, jy het pas graad 10 in Paul Roos voltooi en was nou net Bali toe. Wat het jy daar gaan doen?

Ek het Suid-Afrika in Bali, in Indonesië, verteenwoordig by die World Innovation Science Project Olympiad, of WISPO afgekort. Ek en drie ander gelukkige Suid-Afrikaanse skoliere het hier die voorreg gehad om ons navorsing op ’n internasionale verhoog te deel en dit aan ’n paneel van internasionale beoordelaars voor te dra.

Vertel asseblief vir LitNet se lesers van die projek wat jy daar by die ekspo gaan uitstal en verduidelik het. Ek weet jy en die ander Suid-Afrikaners wat in Bali deelgeneem het, is deur Eskom Expo gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig en hulle het julle ook Bali toe geneem. Kom ons praat oor jou projek. Begin sommer voor: Waaroor gaan jou projek? Hoe het jy uiteindelik agterkom dat laventel positiewe moontlikhede inhou om sekere plantsiektes onder beheer te hou?

Die titel van my projek is “Evaluation of lavender oil for managing Penicillium digitatum on citrus”. Hierin het ek die vermoë van laventelolie getoets om die groei van die bogenoemde swam te inhibeer. Tans word die swam – wat ’n bekende na-oes-patogeen van vrugte, insluitende sitrus, is – bestuur deur die gebruik van ’n organiese swamdoderverbinding genaamd imidasool. Sommige isolate van die fungus – dis nou wat ’n mens ’n enkele individu van die swam noem – het egter weerstand teen die swamdoder ontwikkel, wat dit nodig maak om ’n alternatief daarvoor te kry. Ek het op laventelolie spesifiek besluit omdat vorige navorsing waarna ek gekyk het, getoon het dat die olie die potensiaal het om die groei van ander soorte swamme te inhibeer. Met hierdie studie was dit egter die eerste keer dat dit teen P digitatum spesifiek getoets is.

........
Ek het vier rondes van toetse gedoen: ’n voorlopige toets in petribakkies om te bepaal of laventel werklik die vermoë het om die groei van P digitatum te inhibeer; nog twee toetse in petribakkies om die resultate wat aanvanklik waargeneem is, verder te ondersoek, asook om die laagste konsentrasie te identifiseer waarteen die laventelolie betroubaar as ’n alternatief tot imidasool kan dien; en ’n finale toets wat op suurlemoene uitgevoer is om te bepaal of die laventelolie die swam op suurlemoene sal kan teenwerk.
........

Ek het vier rondes van toetse gedoen: ’n voorlopige toets in petribakkies om te bepaal of laventel werklik die vermoë het om die groei van P digitatum te inhibeer; nog twee toetse in petribakkies om die resultate wat aanvanklik waargeneem is, verder te ondersoek, asook om die laagste konsentrasie te identifiseer waarteen die laventelolie betroubaar as ’n alternatief tot imidasool kan dien; en ’n finale toets wat op suurlemoene uitgevoer is om te bepaal of die laventelolie die swam op suurlemoene sal kan teenwerk. Ek het gevind dat hoër konsentrasies laventelolie gelei het tot ’n hoër vlak van inhibisie. Dit sou waarskynlik beteken dat die olie wel nie as ’n effektiewe alternatief tot die swamdoder sal dien nie, aangesien suiwer laventelolie per massa redelik duur is.

Foto: Canva

Jou projek het ’n ongelooflike prestasie vir jou beteken – vertel asseblief vir ons lesers wat toe met jou gebeur het en watter toekenning jy ontvang het?

Daar is aan my by WISPO ’n goue medalje toegeken, asook ’n “Grand Award”, wat beteken dat ek my kategorie van Environmental Sciences gewen het. Ek het gehoop dat ek ten minste ’n medalje sou wen, maar ek het glad nie verwag om my kategorie te wen nie.

........
Daar is aan my by WISPO ’n goue medalje toegeken, asook ’n “Grand Award”, wat beteken dat ek my kategorie van Environmental Sciences gewen het. Ek het gehoop dat ek ten minste ’n medalje sou wen, maar ek het glad nie verwag om my kategorie te wen nie.
........

Dit was vir my ’n baie groot eer om al twee pryse te kon ontvang.

Baie geluk, daarmee, Wium. Hoe voel jy? Hoe was die ervaring van die ekspo in Bali?

Dit was vir my alreeds ’n baie groot eer om gekies te word om my land internasionaal te verteenwoordig, so die medalje en prys was bloot ’n bonus. Die ervaring was vir my baie aangenaam, en dit was vir my lekker om die asemrowende natuurskoon in Bali waar te neem en met die verteenwoordigers van ander lande om te gaan.

Stel jy belang in natuurwetenskappe en is dit ’n omgewing waar jy ’n toekoms sien en ’n rigting waarin jy sal wil studeer?

Ek stel beslis baie belang in natuurwetenskappe, veral in chemie.

........
Ek is nog nie doodseker wat ek na skool wil gaan studeer nie, maar na hierdie ervaring wil ek beslis ’n beroep beoefen waarin ek navorsing kan doen en wetenskaplike artikels kan skryf. Dit, saam met die voordrag van my projek, was vir my van die lekkerste dele van hierdie hele ervaring.
........

Ek is nog nie doodseker wat ek na skool wil gaan studeer nie, maar na hierdie ervaring wil ek beslis ’n beroep beoefen waarin ek navorsing kan doen en wetenskaplike artikels kan skryf. Dit, saam met die voordrag van my projek, was vir my van die lekkerste dele van hierdie hele ervaring. Ek sal egter graag in ’n rigting met minder veranderlikes wil werk as waarmee ek gewerk het in hierdie projek, aangesien die lukraakheid van die resultate my by tye frustreer of teleurgestel het.

Lees ook:

Bestekopname na die matriekeksamen: ’n onderhoud

Universiteit of ambag vir skoolverlaters? ’n Onderhoud met Sonja Squires

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top