Landmyn: ’n filmresensie

  • 0

Landmyn: ’n filmresensie
Met Anna-Mart van der Merwe en Ben Albertyn
Regisseur/draaiboekskrywer: Nico Scheepers
In teaters

Subteks. Dit is eintlik waaroor Landmyn handel en wat die film deeglik ontgin. Die rolprent het nie ’n gerieflike “storie” nie. Dit gaan eintlik oor ’n stug, terughoudende ma Annatjie wat by ’n soort Laaste Avondmaal van ’n gesin aan die hooftafel sit, terwyl die gesin by die kindertafel saambondel en mor. Hier is geen familieformaliteite, lekker vakansiegewoontes of vreugde nie. Die gebrek aan spontaniteit word in elke toneel verder versmoor. Die rolprent word bevolk deur ruïnes van mense met oop wonde wat om heling vra, maar dit nooit vind nie.

Soms word ’n doringdraad oor die wonde gesleep; soms is ’n karakter op pad na ’n landmyn wat die skrapnel in stilte oor elkeen sal laat reën.

Die drie kinders probeer uitreik na ’n onvervulde ma, maar sy vat nooit werklik empaties hande met enigiemand nie. Fisieke aanraking word tot die minimum beperk. Die stellings word gemaak in die dik stiltes en die wye kloof tussen mense, al is dit in ’n verwelkomende huis. Die stiltes vertel soveel voordat die eerste woord gespreek word.

En indien daar gepraat word, veral buite gesinsverband, word niksseggende speletjies gespeel asof die kinders Cervantes se Don Quixote se windmeulens bestorm, maar telkens van ’n muil of perd afval terwyl die meule aanhou draai. Dit wat gesê moet word, val in die slyk – soms donker-komies – rondom die windmeul wat deur die ma verteenwoordig word.

Tussen die stiltes neem sekerlik Suid-Afrika se topkinematograaf Chris Lotz die gebeure van ’n afstand waar deur ’n koue, kliniese lens. Selfs wanneer die kamera nader aan die karakters beweeg, sluit hulle hul emosies af vir die alsiende kameralens.

Is die baie vrae en gestroopte antwoorde dalk geleë in Carla Smith se ekspressiewe groot oë, waarin die lewe en die vrae voor ons oë smeul en uitbrand? As ’n aktrise ooit ekspressiewe filmoë gehad het, is dit sy. Maar dit voel asof ’n waas van blindheid, hartseer, onbegrip en vrees daaroor getrek word, wat haar vertolking juis laat uitstaan. Wat ’n aktrise!

Eweneens is Ben Albertyn nommerpas in die rol van die seun wat slegs in woorde op papier kommunikeer, en deur wie se perspektief die verhaal vertel word. Johan – ’n lekker neutrale naam – is miskien goed daarmee om met akteurs te kommunikeer, maar het nie dieselfde talent, of begeerte, om met die ander lede van sy gesin hande te vat nie. Hoe stiller hy word, hoe meer sê hy in sy spel wat ander se oë vermy. Stomgeslaan deur slegte herinneringe, kan hy uiteindelik maar net na sy ma staar. En trek die branders telkens oor onuitgesproke emosies terug. 

Die woorde wat die draaiboek hom gee, spreek van wankommunikasie of ’n vreesagtigheid om ’n probleem direk aan te spreek. Daarom is daar ’n mate van simpatie vir Annatjie, ’n onverbeterlike Anna-Mart van der Merwe wat die rol geniaal onderspeel en vir Johan geen werklike geleentheid bied om openhartig te kommunikeer nie. Soms kom praat te laat, want die woorde kan leeg en hol weerklink sonder dat dit soos ’n legkaart bymekaar inskakel en ’n geheelbeeld van genesing vorm. Die uurglas het leeggeloop.

Sou ’n mens duiwelsadvokaat speel, is die vraag ook – wat grootliks onbeantwoord bly – waarom Annatjie werklik so apaties is.

“Wat kyk julle so vir my?” vra sy op ’n keer.

Daardie stil en pynvolle doodstare van die kinders is vol verwyt, waarin die herinneringe aan moeilike kinderjare, asook vrees opgesluit lê. Dit skep ’n verdere afstand vol bomme wat wag om af te gaan. Watter woorde sou dan daardie stiltes moes vul om die gat tussen ma en kinders te oorbrug?

Dit is ’n vraag wat doelbewus onbeantwoord bly, omdat die rolprent nooit manipuleer of ’n gerieflike ontknoping bied nie. Dit skuil soos ’n onontdekte landmyn naby die lens.

Ander spelers, soos Nicole Holm, is byna soos die nar in Shakespeare se werk. Sy praat en praat hopeloos te veel verskuilde waarheid, maar haar helende woorde dring selde tot die kern van die probleem deur. Hierdie wonde is immers so groot en bloeiend dat geen woorde salf daaroor kan smeer nie. Sy huiwer voortdurend tussen die komiese en die tragiese, wat haar vertolking onvergeetlik maak. En haar laaste woorde teenoor een van die kinders laat die myn ontplof.

Landmyn, wat in die subteks, die geruis van die see en die isolasie van elke karakter wat dit op die strand waag, geleë is, is nie vir ’n algemene gehoor gemaak nie. Diegene wat “vermaak” soek, sal dit in sepies vind, beslis nie hier nie. Dit beantwoord gedeeltelik die vraag waarom die rolprent nie so goed by die loket gevaar het nie.

Baie mense – beslis nie almal nie – is te gewoond aan teelepel-voerdery uit ’n kondensmelkblikkie. Laasgenoemde word ’n leitmotief in die rolprent en kry ’n ironiese betekenis, waarin sommige van die antwoorde opgesluit lê wat nooit direk beantwoord word nie.

Die seewier wat die blikkie moontlik omhul, versteek maklike, soet, gesinsvriendelike antwoorde. Dieselfde geld vir die vriendelike strandhuis in Kommetjie. Dit is hoofsaaklik ’n oopplanhuis wat die buitewêreld en die see nooi om in te kom. Maar die karakters wat hierdie ruimtes beset, is so besmet deur onvervulde lewens, herinneringe en die vrees vir ’n ma – wat ook ’n rede moet hê waarom sy ’n emosionele landmyn tussen haar en ander hou – dat hulle gevangenes word, vasgevang deur kettingstiltes of onnadenkende woorde.

Hulle kon net sowel vir Godot gewag het.

Die tempo is begryplik stadig en deeglik, en Scheepers se liefde vir die teater skemer deur in sy regie, amper asof hy vir die verhoog regisseer. Die gestroopte grimering, wat deur die akteurs self gedoen is, en die byna afstandelike regie en vrye beweging van die akteurs herinner in ’n mate aan Ingmar Bergman.

Só baie word met só min gesê in hierdie ysblokkie-skote en strakheid wat die karakters soos ’n yskombers teen die warmte in mekaar afskerm.

As jy Landmyn nog iewers in ’n teater kan teëkom teen die tyd dat hierdie resensie verskyn, neem ’n kniekombersie saam – en ’n soetigheid vir die bitter wat in die kyker se keel gaan vasklont.

As jy werklik aandring op antwoorde, word dit gevind in die laaste skoot waarmee die rolprent afsluit. Hier bereik Anna-Mart van der Merwe ’n hoogtepunt in die Afrikaanse rolprent. So iets het ons nog nooit meegemaak nie. Hier lê dalk antwoorde, as jy baie fyn kyk.

Soos in die briljante Franse rolprent Anatomy of a fall, het die hond – wat toevallig in Landmyn beland het – dalk meer antwoorde as ons!

Lees ook:

Landmyn by Silwerskermfees 2026: ’n onderhoud met Nico Scheepers

Landmyn: Ongemaklike waarhede ontbloot met skitterende spel in hierdie film

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top