Landmyn: Ongemaklike waarhede ontbloot met skitterende spel in hierdie film

  • 0

Landmyn deur Nico Scheepers is een van daardie films waar die kyker nooit werklik gemaklik raak nie. Daar is vanaf die eerste toneel ’n onderliggende spanning wat bly loop en nooit heeltemal verdwyn nie.

Die spanning word deurgaans opgebou en verhoog deur die gebruik van klassieke musiek wat harder en sagter deurkom. Daar is ook slim gebruik van stiltes om die kyker vas te hou.

Die film begin met ’n toneel wat vir die meeste kykers bekend sal voel – die aankoms by ’n gehuurde huis vir ’n naweek se familiesaamkoms. Ons ontmoet die drie volwasse kinders – Johan (Ben Albertyn), Colette (Carla Smith) en Lisa (Dhania Schultz). Die drie kuier die aand saam terwyl daar ’n angstigheid om hulle hang met die afwagting van die aankoms van hul ma, Annatjie (Anna-Mart van der Merwe).

Hul tannie Beth (met groot deernis en vernuf vertolk deur Nicole Holm) en haar seun Pieter (Juan-Christoff Smith) kom die volgende oggend aan. Beth pleit met die kinders om vir hul ma ’n kans te gee voor hulle haar afskryf.

Met Annatjie se aankoms probeer almal aanvanklik die skans van die gelukkige gesin voorhou, maar die krake raak gou duidelik en die seer van die kinders word in verskillende scenario’s uitgebeeld.

Die film is tegnies uitstekend, met kamerawerk wat duidelik fyn beplan is – die swart hond wat amper ongemerk in een van die vroeë tonele oor die skerm loop terwyl Colette gaan swem, herinner die kyker aan die onderliggende temas van depressie en die toksiese familie. Die landskap is die see en strande van die Kaap, maar met die harde lyne van die Kaapse winter, eerder as die warm somermaande.

Anna-Mart van der Merwe is meesterlik in haar uitbeelding van Annatjie – daar is heelwat tonele waar sy geen woord sê nie, maar die kyker vasvang met haar emosies. In een aangrypende toneel stap sy op haar eie weg van die gesin en stap langs die strand terwyl sy kondensmelk uit ’n blik drink – iets wat so bekend voel, maar ook tog die kyker met ’n tikkie afgryse laat vir die narsistiese karakter.

Die film raak aan baie onderwerpe waaroor daar nie genoeg gepraat word nie: die emosionele skade wat binne families plaasvind, die onderliggende rassisme wat nog steeds deurkom; en die verwerping van gay kinders.

In een van die tonele lees Johan ’n stuk voor oor die aanvaarding van die feit dat hy nooit werklik die stereotipiese ma gehad het nie – die woorde tref hard: “Sommige mense is toegedraai in lemme en hakiesdraad, en as jy hulle wil vashou, gaan jy seerkry.”

Die laaste paar tonele bly die kyker lank na die einde van die film by en laat jou wonder: Wanneer moet ons aanhou probeer met ’n ouer wat nie daar was nie, en wanneer bereik ons die punt waar ons onsself toestemming kan gee om weg te stap?

Nico Scheepers bewys met hierdie film dat die Afrikaanse film werklik volwassenheid bereik het en steeds besig is om te groei en verdiep. Die titel vang die gevoel van die film vas – dit voel die hele tyd asof ons wag vir iemand om op ’n figuurlike landmyn te trap.

Dit is ’n belangrike film hierdie wat jou ongemaklik gaan maak, maar jou ook verder gaan laat dink.

Lees en kyk ook:

Landmyn by Silwerskermfees 2026: ’n onderhoud met Nico Scheepers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top