Carel van der Merwe beantwoord Naomi Meyer se vrae rondom Kansvatter, sy boek wat pas die niefiksietoekenning van die kykNET-Rapport-boekpryse van 2020 ontvang het.
Carel, baie geluk met jou niefiksietoekenning vir Kansvatter. Ek onthou die eerste gesprek wat ons oor die boek gehad het. Jy het op ’n baie losse raakpunt gewys tussen jou hoofkarakter, Ben Viljoen, en die Argentyne van die film Boere op die aardsdrempel. Hoe het jou belangstelling en navorsing in hierdie karakter begin? (En dink jy emigrasie is in ons bloed die oomblik as die gras in ons eie land nie meer so groen lyk nie?)
My belangstelling in Ben Viljoen het geleidelik ontstaan en was die gevolg van verskeie prikkels. In my navorsing vir Donker stroom – Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog het ek bewus geraak van die aanvanklike vriendskap en latere vyandskap tussen Ben en Marais in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in die dekade voor die Anglo-Boereoorlog. Op daardie tydstip was ek egter op die spoor van verwysings na Marais, en het maar net baie oppervlakkig aan Ben se doen en late aandag gegee. Dit het my egter in die verbygaan opgeval watter interessante figuur hy was: ’n arm trekboerkind uit Temboeland wat Tweede Volksraadslid en militêre kommandant van Johannesburg geword het teen die ouderdom van dertig, toe vinnig bevorder is tot assistent-kommandant-generaal van die Transvaalse magte tydens die Anglo-Boereoorlog, daarna ’n krygsgevangene op St Helena, en wat toe ná sy vrylating na die buiteland verkas het en uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis verdwyn het.
’n Ander belangrike prikkel was Sonja Loots se roman Sirkusboere, wat handel oor die Boereoorlogskouspel by die St Louis World’s Fair in die VSA 1904. Ben is een van die hoofkarakters in Loots se roman, en sy het hom as sjarmant, flambojant, impulsief, losbandig en rusteloos uitgebeeld. Sy het ook vlugtig verwys na sy latere deelname aan die Meksikaanse revolusie en sy aanstelling as Meksikaanse konsul in Duitsland. Definitief nie jou tipiese tradisionele en familievaste godvresende Boer van sy tyd soos die stereotipe in my kop dit wou hê nie. Die saad vir verdere navorsing was toe stewig geplant: Wie was die ware Ben Viljoen, en hoe het dit gebeur dat ’n Afrikaner uit daardie era by sulke uiteenlopende gebeure in soveel verskillende lande betrokke geraak het?
Wat jou vraag oor emigrasie betref: As jou “ons” na Afrikaners verwys, dink ek dat die trekgees nog altyd in Afrikaners se bloed was, veral tot so die begin van die 20ste eeu. Die meeste Afrikaners vandag is tog onder andere die afstammelinge van grotendeels arm Europeërs wat groener weivelde gaan soek het. Na die eerstes hier aangeland het, het hul afstammelinge vir die volgende sowat twee-en-’n-half eeue verder getrek wanneer die omstandighede op ’n spesifieke plek en tydstip hulle nie geval het nie. Maar ek glo nie dat hedendaagse emigrasie uit Suid-Afrika net deur hierdie trekgees gedryf word nie – deesdae emigreer baie mense van uiteenlopende gemeenskappe, nie net Afrikaners nie.
Ek praat van "’n karakter", maar Ben Viljoen was natuurlik ’n mens van vlees en bloed. Hoe kry mens dit reg om navorsing te doen oor ’n persoon wat nie meer lewe nie? Is dit moontlik om die kliniese feite te ontbloot, of is dit nie die doel van die oefening nie? Ek wil ook vra: As die doel van die boek is om die feite bloot te lê, hoe doen mens dit as mens net kan lees wat andere oor hom sê? In hierdie dae waartydens baie mense steeds praat oor wie mag wie se storie vertel: Ben Viljoen kon nie sy eie storie vertel nie. Hoe het jy dit, uit praktiese oogpunt, reggekry?
Eerstens ’n regstelling: Ben Viljoen het wel sy eie storie telkemale vertel – in sy eie gepubliseerde boeke en artikels, asook in boeke en artikels wat deur andere geskryf is, maar waarvoor hy die inligting verskaf het. Ek het ook toegang tot talle van sy briewe, dagboeke en ongepubliseerde skrywes gekry. My groot uitdaging was om die kaf van die koring te skei, want soos die kultuurhistorikus Gustav Preller in sy 1917-sterfberig oor Ben gemeld het: “[H]ij ook kon spekskiet soos die beste.”
Die doel van ’n biograaf is natuurlik om kliniese feite bloot te lê, maar dit is nie naastenby genoeg nie, want ’n biografie wat net daaruit bestaan, sou baie vervelig wees. ’n Biograaf se taak is om vlees en bloed aan sy of haar subjek te gee. Ek het deurentyd die bekende Victoriaanse biograaf Lytton Strachey se vermaning in gedagte gehou, naamlik dat ’n biografie met ’n verteller sonder ’n duidelike standpunt soos ’n “very large heap of sawdust” lyk, en dat “uninterpreted truth like buried gold” is. Verder het ek die praktiese riglyne probeer volg wat Hans Renders en Binne de Haan, twee toonaangewende Nederlandse akademici op hierdie gebied, vir die skryf van ’n ideale biografie uiteengesit het, naamlik:
[It] is well written, with a form that owes to journalism. It must make it also clear that a life can only be understood in its relation to a whole historical context. The research methodology must include use of all available resources, with oral sources approached in an even-handed way, and every assertion substantiated by a source, which is the norm both in journalism and history. The subject’s private life should be used to explain and provide context for what is public … A good biographer does not strive towards comprehensiveness: there is nothing so dull as the biographer who tries to incorporate every fact that has been collected.
Ek het ook ag geslaan op die uitgangspunt van Richard Holmes, die bekroonde Britse biograaf, vir wie biografiese geskiedskrywing rus op die “subliminal battle of imagination between subject and biographer”. Volgens Holmes word daar van ’n biograaf vereis om sy of haar verbeelding te gebruik om insae in die leefwêreld van sy of haar subjek te probeer verkry. Soos Holmes in sy biografieë doen, het ek ook die voetspore van Ben in Suid-Afrika, St Helena, Europa, Meksiko en die VSA gevolg met die doel “to produce the living effect, while remaining true to the dead fact”.
Albert Grundlingh het jou in sy Protea-boekwinkelgesprek oor jou vondste gevra. Wil jy hierop uitbrei? En hoe dink jy het Ben Viljoen, in al sy veelkantigheid, betrekking op ons situasie in hierdie steeds veranderende wêreld wat Suid-Afrika is?
Wat vondste betref, was daar onverwags baie, te veel om in ’n onderhoud weer te gee, dus teken ek slegs ’n paar hier aan. Benjamin Viljoen III (Benji), ’n agterkleinseun van Ben, woon in die Amerikaanse deelstaat Nevada, waar ek hom in April 2016 besoek het. Benji bewaar talle van Ben se uniforms, wapens, persoonlike dokumente, notaboekies, briewe en foto’s, items wat hy oor baie jare by ander afstammelinge van Ben bekom het. Hy het my onder meer toegang gegee tot ’n dagboek wat Ben en sy Amerikaanse vrou Myrtle (sy tweede vrou) bygehou het toe Ben in 1912 die Meksikaanse konsul in Breslau, Duitsland was. In hierdie dagboek gee Myrtle en Ben hul ongesensorde indrukke van hul wedervaringe in Europa, asook van hul reis na en van Duitsland. Natuurlik is so iets vir enige biograaf goud werd – dit is byna asof jy self uit jou subjek se mond hoor, en dit gee jou ’n direkte blik in sy karakter.
Francisco Madero, ’n Meksikaanse revolusionêre leier, het ’n baie goeie vriend van Ben geword nadat Ben hom gehelp het om die bewind van die Meksikaanse diktator Porfirio Diaz omver te werp en Madero sodoende in staat gestel het om in 1911 die nuwe president van Meksiko te word. In Meksiko het ek in verskillende argiewe die uitgebreide en interessante korrespondensie tussen Ben en Madero ontdek. Die omvang van Ben se betrokkenheid by die Meksikaanse revolusie en politiek oor ’n hele paar jaar het my regtig verbaas.
Verder het ek in die staatsargiewe in Brittanje onder meer ’n geheime verslag ontdek wat lord Kitchener, die Britse opperbevelvoerder in Suid-Afrika tydens die laaste deel van die Anglo-Boereoorlog, aan die Britse oorlogsminister geskryf het na aanleiding van ’n gesprek wat hy en Ben kort na laasgenoemde se gevangeneming in Januarie 1902 gevoer het. Die inligting in hierdie verslag het my regtig onkant gevang, om die minste te sê. Daar is in Kansvatter nog talle ander vondste uiteengesit, soos Ben se pogings in Hollywood en sy betrokkenheid by ’n mislukte opstand in Meksiko, maar ek sal by bogenoemde volstaan.
Wat betref Ben se veelkantigheid en sy relevansie in die steeds veranderende wêreld wat Suid-Afrika vandag is: ’n Mens mag miskien nie alles goedkeur wat Ben ter wille van oorlewing aangevang het nie, maar dit staan soos ’n paal bo water dat hy vinnig by nuwe omstandighede en omgewings kon aanpas. Ek glo daarin lê iets wat ons almal vandag in Suid-Afrika in gedagte moet hou. Dit help nie om in swaarmoedigheid te verval en aan uitgediende idees en onhaalbare ideale vas te klou nie. Kyk eerder na jou en jou naastes se persoonlike omstandighede en maak ’n plan. Ek het juis in laas Sondag se Rapport (20 September) iets in Hanlie Retief se interessante onderhoud met die akteur Neil Sandilands gelees wat by my vasgesteek het. Hy sê dat hy in sy omswerwinge deur die wêreld partykeer sy eie dam se ganse teëkom, Afrikaners in sy geval. “En hulle pas aan, maak opgang. Dis ’n ouskool-ding, ’n besliste werketiek,” sê hy. “En ek is baie trots daarop.”
Lees ook:
Skrywersonderhoud: Carel van der Merwe oor Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen
Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe: ’n lesersindruk
kykNET-Rapport-boekpryse 2020: commendatio – niefiksiewenner