Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe: ’n lesersindruk

  • 1

Carel van der Merwe (foto verskaf) en die omslag van Kansvatter

Titel: Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen
Skrywer: Carel van der Merwe
Uitgewer: Protea Boekhuis

ISBN: 1485310563

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

"Anybody can make history. Only a great man can write it." (Oscar Wilde)¹

Indien ’n mens na die treffende foto van generaal Ben Viljoen in uniform op die stofomslag van Carel van der Merwe se nuutste publikasie kyk, dan wonder jy onwillekeurig waarom hy in hierdie biografie as ’n kansvatter bestempel word. Sou dit sy allesoorheersende persoonlikheidseienskap wees? ’n Kansvatter is ’n chancer, ’n persoon wat geleenthede uitbuit om sy eie belange te bevorder (Oxford Lexico); dikwels voorgee dat hy oor sekere vaardighede beskik, wat nie waar blyk te wees nie (Collins English Dictionary); misbruik maak van ’n situasie en dit tot sy eie voordeel manipuleer (Webster's New World College Dictionary); ’n oneerlike opportunis (Farlex Free Dictionary). Kan die komplekse menslike persoonlikheid in so ’n eng beskrywende boksie soos “kansvatter” ingedruk word? Wat van die wye spektrum dinamiese interaktiewe fasette wat ’n rol speel in die ontwikkeling van die konstruk persoonlikheid?

Soos deur die neëntien hoofstukke van die boek gewerk word, blyk dit duidelik dat berekende risikoneming wel ’n herhalende patroon in Ben Viljoen se gedrag was. Daar is ook bewyse dat hy by tye flambojant, opportunisties en eksentriek was. Terselfdertyd het hy ook deurlopend ’n hoë mate van terugbonsgeneigdheid ná teleurstellings of mislukkings getoon, wat as ’n persoonlikheidsterkte gesien kan word. Die belangrikste aspek is hoe geïntegreerd Viljoen se persoonlikheidsontwikkeling was. In watter mate het integrasie van waardes, norme, etiek en persoonlikheidseienskappe plaasgevind? Die vraag is moeilik beantwoordbaar, omdat ’n volledige persoonlikheidsassessering nooit op hom uitgevoer is nie.

Ek kan heeltemal verstaan dat die titel gekies is om die bemarkbaarheid van die boek te bevorder, maar die titel laat nie in alle opsigte reg aan die hoofkarakter geskied nie. Meijer (2000:269)² sê tereg: “Ben Viljoen sal in die eerste plek onthou word as die [boere] generaal ... die eer mag hom nie misgun word nie ...” Ek vermoed die woord “kansvatter” knou tot ’n mate die eer van Ben Viljoen. ’n Oneerlike opportunis? Aikôna.

Wat die tegniese aspekte betref, is die boek ’n pragtige versamelaarstuk. Die opsomming op bl 382 vat die inhoud in 289 woorde op ’n briljante en realistiese wyse saam. Viljoen se veelsydigheid en terugbonsgeneigdheid kom hier tot hulle reg. Hierdie opsomming weerspieël ’n raamwerk van beginsels wat uit die lewe van Viljoen na vore tree en wat die leser op hom-/haarself van toepassing kan maak.

Die omvattende werk beslaan 520 bladsye, waarvan die eindnotas en bronnelys nie minder nie as 133 beslaan. Die wye spektrum argivale bronne wat in Suid-Afrika, Brittanje, Mexiko, St Helena, Nederland en die VSA geraadpleeg is, is absoluut verstommend. Voorwaar ’n uitnemende voorbeeld vir enige navorser en aspirantnavorser.

Die teks lees maklik, is humoristies en ernstig wanneer nodig, en die skrywer weet wat met “die ekonomie van woorde” bedoel word. Die teks word met ’n verskeidenheid seldsame foto’s toegelig. Min, indien enige, tik-/drukfoute kom voor. (Op bl 73, vierde paragraaf, word byvoorbeeld na ’n “bow-bow” verwys wat na regte “bow-wow” behoort te wees, met ander woorde die nabootsing van ’n hond se geblaf, of ’n kleuter se benaming vir ’n hondjie.)

Wat nog meer lofwaardig is, is die beskrywing van ’n verskeidenheid opvolgbesoeke (367–71) wat die skrywer bring aan standplase, instansies en persone waarmee Ben Viljoen tydens sy lewe geassosieer was. Die besoeke aan onder andere Krugersdrop en die Krugerdorpse dorpsmuseum, Temboland in die Oos-Kaap, die Mesillavallei in Nieu-Mexiko en die Vrymesselaarsbegraafplaas in Las Cruses skep die idee dat die navorser nie bloot met ’n historiografiese beskrywing tevrede was nie, maar ook bereid was om direkte waarnemings te maak van ’n historiese figuur binne die verskillende kontekste waarin hy destyds funksioneer het.

In die inleiding (20–1) verwys die skrywer na relevante inligting oor Viljoen wat vir hom onmoontlik was om in die hande te kry. Aan die een kant sou hierdie inligting ’n bydrae kon gelewer het tot ’n meer omvattende boek, maar aan die ander kant, indien dié inligting in die toekoms in ’n ander formaat gepubliseer sou word, kan dit eenvoudig as aanvullende materiaal tot die boek beskou word.

Die boek is gebaseer op die doktorale proefskrif³ in geskiedenis van die skrywer. Dit sal interessant wees om te bepaal in watter mate die inhoud van die boek van die inhoud van die proefskrif verskil.

Met hierdie publikasie bewys die skrywer sonder twyfel die deeglikheid, respek en wetenskaplikheid waarmee hy akademiese historiese materiaal hanteer, interpreteer en weergee. Hierdie styl is kenmerkend van wat van ’n vorige Eugène Marais-, kykNET Rapport- en Hiemstrapryswenner verwag sou word.

Die boek word sonder enige voorbehoud sterk vir ’n uiteenlopende leserspubliek aanbeveel.

Eindnotas

¹ Wilde, O. 2010. Only dull people are brilliant at breakfast. Londen: Penguin.

² Meijer, JW. 2000. Generaal Ben Viljoen 1868–1917. Pretoria: Protea Boekhuis.

³ Tydens die publikasie van hierdie lesersindruk was die elektroniese weergawe van die proefskrif nog nie op die US Gericke-Biblioteek se databasis beskikbaar nie.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Carel van der Merwe oor Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen

Kyk ook:

Video: Bekendstelling van Carel van der Merwe se Kansvatter

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top