kykNET-Rapport-boekpryse 2020: commendatio – niefiksiewenner

  • 0

2020-huldigingswoord: Niefiksie

Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen – Carel van der Merwe

Carel van der Merwe se Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen is ’n biografie wat geskiedskrywing benader op ’n wyse wat nie dikwels voorkom nie: daar is die ontluistering naas die verering asook ’n deeglike besinning oor die nalatenskap van ’n generaal en algemeen aanvaarde held uit die Anglo-Boereoorlog met ’n flambojante én skunnige lewe. Van der Merwe skryf met besondere behendigheid oor die lewe van die blink Ben Viljoen, wie se vermoë om aktief sy eie beeld te poets deur middel van sy direkte en indirekte bydraes tot die pers in samehang met die internasionale belangstelling in die Suid-Afrikaanse oorlog vir hom ’n openbare profiel ver buite die grense van die voormalige ZAR geskep het.

Die oorlog en die stadige opkoms van Afrikanernasionalisme is ’n deel van hierdie storie, maar vir ’n rustelose Afrikaner soos Viljoen wat altyd kans gesien het om die pad te vat was die wêreld internasionaal en vry. Ben Viljoen, wat sy lewe oor kontinente heen geleef het, pas dus om verskeie redes nie by standaard- nasionalistiese historiografie in nie, en daarom is hierdie biografie ten dele in die transnasionale tradisie geplaas. Die deeglikheid en reikwydte van die argiefnavorsing is absoluut indrukwekkend, te meer nog omdat dit talle argiewe in Suid-Afrika, die VSA, Brittanje, Nederland en Mexiko insluit. Die werk word verder ondersteun deur die outeur se omgewingsbeskrywings van die talle plekke waar hy Viljoen se spore gaan natrek het – insluitend St. Helena, die VSA, Mexiko asook verskeie plekke in Suid-Afrika – en primêre navorsing gedoen het. Die uitgebreide stel eindnotas rugsteun nie slegs die werk nie, maar is ook ’n absolute leesplesier.

Gegewe die uiteenlopende kontekste waarin Viljoen hom oor die loop van sy lewe bevind, moet Van der Merwe as’t ware uithaal en wys en sy vermoë om telkens die verskuiwende sosiaal-politieke ruimte vas te vang, vereis selfvertroue, fyn voetwerk en besonder breë agtergrondkennis. Die vaardigheid waarmee Van der Merwe spesifiek die vooroorlogse politieke toneel in die ZAR en dié van revolusionêre Mexiko beskryf, staan uit.

Van der Merwe kom voor die uitdaging te staan dat sy protagonis ’n onbetroubare bron is. Dit skep besondere uitdagings vir ’n biograaf en plaas afstand tussen Van der Merwe en sy subjek. Nietemin behou hy voldoende empatie met Viljoen, wat ’n positiewe impak op die leeservaring het. 

Van der Merwe fokus nie spesifiek op ’n psigo-biografiese benadering nie, hoewel ’n sielkundige inkleding van die materiaal verskaf word. Die Viljoen wat uit die werk na vore tree is ’n imponerende maar oppervlakkige persoon, iemand wat elke geleentheid wat oor sy pad kom benut en nie skroom om koers te verander as dit in sy belang is nie. Viljoen se nederige afkoms word beklemtoon en word as die moontlike dryfkrag vir sy vindingrykheid en manteldraaiery aangegee. Eers teen die einde van die biografie, in “Ben Viljoen in perspektief”, opper Van der Merwe die moontlikheid dat Viljoen aan narsistiese persoonlikheidversteuring kon ly. Nietemin beklemtoon hy dat dit in ’n vinnig veranderende wêreld – wat sowel die destydse ZAR as die VSA betref – steeds die persona is wat ’n indruk maak. Hierdie kontekste is uiters gepas vir ’n selfgemaakte man soos Viljoen en gee hom geleentheid om homself telkens te herskep, met verloop van tyd op meer en meer fantasmatiese wyse.

Van der Merwe beskryf nietemin die verskraalde stel opsies wat telkens vir Viljoen beskikbaar is – eers as inkommer in die ZAR vanuit die verafgeleë Temboeland en weer eens ná afloop van die Suid-Afrikaanse oorlog. Die wyse waarop Viljoen probeer koers vind in hierdie naoorlogse landskap, waar alles en niks terselfdertyd moontlik lyk, word treffend uitgebeeld. Terselfdertyd is die onbestendigheid in Viljoen se oortuigings en sy opportunisme sonder om die koste te verreken ’n groot bydraer tot sy uitsluiting van die Suid-Afrikaanse politieke landskap ná die oorlog.

Van der Merwe dra by tot ’n sekere tradisie van ontluistering van nasionalistiese Afrikaanse/Afrikaner-geskiedskrywing, sonder om ’n simpatieke inslag in te boet. Hy verken alternatiewe lojaliteite en moontlikhede buite die voormalige nasionalistiese hoofstroom-narratief. Viljoen het uiteindelik geen langdurige verbintenis met ’n saak buite homself nie. Vir die leser word daar stadig maar seker ’n fassinerende, komplekse karakter duidelik met ’n lewensverhaal wat in ’n moderne idioom vertel word en wat daarom ’n enorme bydrae maak tot die boekery oor die Anglo-Boereoorlog en wat die gebeure soveel meer relevant maak vir ’n moderne gehoor. Maar die oorlog is net die begin van ’n verstommende lewensverhaal en ’n sensasionele leeservaring. Hierdie oorvertel van die navorsing oor ’n uitsonderlike persoonlikheid is ’n hoogtepunt in Suid-Afrikaanse biografiese geskiedskrywing en sal ook by ’n internasionale leserskring byval vind. Veral ’n Amerikaanse en Mexikaanse leser van biografieë sal baat vind by die interessante insigte wat hier omgedolwe word.

In Albert Grundlingh se opsomming van Kansvatter op die flapteks noem hy dat Van der Merwe geen steen onaangeroer gelaat het in die skryf van hierdie biografie nie. Dit is inderdaad in die kol en die monumentale navorsing laat ’n diep indruk. Viljoen word in volkleur en in al sy fasetrykheid vasgevang: Boeregeneraal, politikus, skrywer, koeranteienaar, avonturier, ontdekkingsreisiger, flambojante showman en sirkusboer, Mexikaanse revolusionêr, Hollywood-draaiboekskrywer, bigamis en ladies’ man, vredeskommissaris, vrybuiter, burger van ’n klomp verskillende lande en onbestendige vader. Ben Viljoen het voluit en met ’n onblusbare lewenslus gelewe. Geleerd, uiters vlot geskryf, deurgaans boeiend en met ’n narratief wat ’n stewige tempo handhaaf, is hierdie werk biografie op ’n indrukwekkende skaal – keurig uitgegee en van internasionale gehalte. Van der Merwe skryf dus die sleutelwerk – en die slotwoord – oor Viljoen.

 Irma du Plessis, Universiteit van Fort Hare

Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe: ’n lesersindruk

kykNET-Rapport-boekpryse 2020: wenners aangekondig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top