Kwarantynketting: "Die padda, die muis en …" deur Cas Vos

  • 4

Met die land wat tans in kwarantyn is, voer skrywers ’n korona-kettinggesprek oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. 

Skrywer Cas Vos vertel meer oor sy ervaring van die Fase 5-inperking:

Die padda, die muis en …” deur Cas Vos

Die hele wêreld beleef nagmerries, vrese en onsekerhede. Ons is almal ingeperk in plekke van stilte. Ons is amper te bang om asem te haal. Wat kan ons wel doen? Ons kan binnenshuis met mekaar praat, hartlangs praat en eet en slaap. En ons kan ook nog lees en ons in fabels verlustig. Miskien kan die onwerklike nog werklik word.  

Ek het aan Esopus die mistieke fabeldigter gedink. In een van sy bekendste fabels praat ’n muis met ’n padda. Die muis vra hom om hom tog asseblief oor die sloot te help. Die padda willig in. Hy maak die muis se pote aan sy eie vas. Maar hy het ’n ander onderduimse plan met die arme muis. Hy wil hom laat versuip. “Sies vir jou padda!” Halfpad duik die padda onder die water in. Die arme sopnat muis voel hy gaan verdrink. Die padda kwaak triomfantlik. “My plan het gewerk. Dis wat ek met muise maak!” Maar ’n valk hang gulsig in die blou lug. Hy duik op die muis af en vreet hom op. Hy is egter nog nie klaar nie. Die padda is die valk se nagereg. Nie sleg vir een maaltyd nie.

Korona is nie ’n fabel nie. Dis die werklikheid.

Philip Larkin het ’n gedig vir ons tyd geskryf:

This is the first thing
I have understood:
There is the echo of an axe
Within the wood.

Hoor jy ook die eggo van die byl? Die valbyl. Die doodslag.

Ons spartel soos die arme muis om veilig aan die oorkant te kom. Ons roep om hulp. As daar tog net ’n padda op ons pad sal kom. Wat ons uitkoms gaan wees, weet ek nie. Niemand weet nie. Al wat ons kan doen, is om van dag na dag te spartel. Dalk is daar uitkoms. Dalk nie. Ons spartel byna almal om kop bo water te hou. Daar is Eskom vol duisternis, die rand wat ons al hoe meer laat bewe, armoede en siektes wat soveel mense teister. En dan is daar die “valk”, korona.

In die gespartel om te leef en te oorleef word ons van ons eie weerloosheid en kwesbaarheid bewus. Ek kan ook doodgaan. Maar dit is tog goed as ons ons broosheid leer ken en aanvaar. Met die monster korona voor oë moet ons ook leer om elke dag rondom ons te kyk. Dink tog aan en reik uit na die armes, Dié wat besig is om te verdrink. Diegene wat nie hulle daaglikse brood (kospakkies) ontvang nie. Doen iets vir hulle. Wees ’n medemens. Wat van die arme karwagte en bedelaars op die straathoeke? Leef met meer simpatie en empatie. Asseblief tog! Ons moet mekaar omhels ongeag ons godsdiens, taal, kultuur, kleur of titels. Dan kan ons weer die taal van die liefde praat.

In die tyd van korona moet ons ook vorentoe kyk. Die rooiwimperdaeraad verskyn nog elke oggend. Dit gee aan ons moed. Laat ons mense met hoop word. Korona, jou vloeksteen! Jy sal ons nie onderkry nie! Jy sal ons nie uit die bloute vernietig nie. Nie jy nie. Jy sal nog die aftog blaas. Hoe gouer, hoe beter.  

Ons moet van en met hoop leef. “‘Hope’ is the thing with feathers” – só het Emily Dickinson gedig. Ek het die gedig vertaal:

“Hoop” is die ding met vere

Emily Dickinson. Bundel 13–4

“Hoop” is die ding met vere –
Wat in die siel neerstryk –
En die lied sonder woorde sing –
En nooit ophou nie – nooit nie –

En die soetste – in die rukwind – is dit gehoor –
En die storm moet onstuimig wees –
Wat die voëltjie kon laat swyg
Wat aan soveel warmte bied –

Ek het dit in die ysigste land gehoor –
En op die vreemdste see –
Tog het dit – nooit – selfs in hoogste nood –
’n Krummeltjie – van my geëis nie.

Laat ons spartel om kop bo water te hou. Maar, asseblief tog, moenie in hemelsnaam hoop prysgee nie. Leef van daardie krieseltjie en gee dit ook aan die ander naby, rondom en ver van jou af. Net ’n krieseltjie. Maar gee niks, niks vir korona nie. Weg met jou!

Lees ook

Cas Vos (1945–)

Skrywersonderhoud: Cas Vos oor Job en Met my hand op my hart

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Susan Vorster

    Dit was nou ’n tikkie lekkerte hier aan die einde van fase vyf van grendeltyd .
    “Hoop” is die ding met vere, is ook elke keer vars en lekker om te lees.
    Dankie Cas.

  • Dankie Cas. Hoop sal altyd bo bly hang. En die vaste wete dat “die wêreld nie ons woning is nie”. – Totius

  • die maan gloei geel sy gloed
    oor donker veld en bloed

    swart

    hoor ek die nagorkes
    se tokkate en fuga in D mineur
    die dag in dodesmart betreur

    sal hoop altyd bo bly hang
    oor ons elke aardse bang

    MC

  • Marietjie Warrington
    Marietjie Warrington

    Dankie Cas vir die boeiende relaas en emmersvol pitkos! Langenhoven het ook gese: "Vir die man wat sonder hoop is, is daar min hoop."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top