Cas Vos (1945–)

  • 1

Sêgoed van Cas Vos

“Predikant of advokaat. Dis wat ek altyd wou geword het (digter). Het altyd die gladde tong gehad. ’n Geslepe tong.” (Rooi Rose, 23 Junie 1999)

Hoe kan ons die Onbegryplike beter verstaan – met prosa, liedere of gedigte? “Deur prosa kan ons verhale vertel en deur liedere met mond en hart uitdrukking aan ons geloof gee. Gedigte is die woordprikkel wat ons diep kan raak en ook kan troos.” (Sarie, 26 Desember 2001)

“Ons kan nie sonder die liefde leef en sterf nie. Sonder die liefde is alles niks. Dis ons verweer teen seer, eensaamheid, en die dood. Met liefde vier ons die lewe.” (Sarie, 26 Desember 2001)

“Skryf is vir my om tussen woorde asem te haal. My werk is woorde, en skrywe is ’n manier om tot myself te kom. Vir my is dit baie noodsaaklik. Dis ’n doelbewuste bevrydende daad.” (Beeld, 25 Julie 2001)

Hoe gebeur ’n gedig by hom? “Saam met TT Cloete wil ek sê dat gedigte uit die mees onverwagte oord kan kom. Ek dig met my oë. Daarom is ek altyd op die uitkyk na digmoontlikhede. Ek dig ook met my liggaam. ’n Bepaalde ervaring kan tot ’n gedig lei. Ek dink ook na en soek na konsepte wat gedigte kan word. ’n Gedig is altyd in wording. Reis maak nuwe wêrelde oop en ervaringe los. In Parys het ek onlangs baie gedigte geskryf. Moenie vra waaroor nie!” (Woordkuns-artikels, www.teo.co.za, 7 September 2009)

Wat sê Jesus se opstanding vir sy geloof? “Sonder die opstanding stort my geloof in duie. My persoonlike geloof is ingeweef in die opstanding. My geloof is juis geloof omdat dit deur die opstanding leef. Geloof is vir my die vaste vertroue dat Jesus Christus deur sy opstanding die grafnate geskeur het. En nou kan ek deur die skeur kyk en sien dat ek ook ná my dood eendag as Hy weerkom, sal opstaan.” (Algemene Kerkbode, 26 Maart 2004)

“Ek leef met my sintuie. Die tong praat oor liefde, pyn, hoop, drome. Oor dood – die groot laaste. Die tong is ’n sleutel tot my werk. Met my tong proe ek.” (Rooi Rose, 23 Junie 1999)

“Die poësie het vir my ’n leefwyse geword, ’n bloeiwyse – na twee kante toe.”

Het hy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer hy aan ’n vers werk? “O hemel, dit wemel van persone. Werklikes, verbeeldes, dooies. Vir my is ’n konsep belangrik. Dit vorm die draende grond van die gedig en stel my in staat om die gedig volgens ’n patroon/patrone te rangskik. Maar ’n gedig laat hom/haar nie maklik afskrik nie. Daarvoor is hy/sy te woelig en te vlugtig.”

“Poësie het iets wesenlik in my lewe geword – soos asem – iets waarsonder ek nie kan klaarkom nie.”

Op Versindaba vra Zandra Bezuidenhout aan Cas Vos hoe hy sy toekoms as digter sien, en veral ’n Afrikaanssprekende digter, en of daar ‘n toekoms vir die Afrikaanse poësie is. “Oor  die toekoms kan ek net droom. Ek wil graag nog gedigte liggies met ’n gansveer op die perkament van die aardbol skryf. Solank daar digters is, sal ons Afrikaans praat. Daar is net, beskamend genoeg, te min lesers vir te veel digters." (Versindaba)

“Woorde is vir my soos asem. Ek kan nie daarsonder leef nie. Woorde kry soos soet vye ’n lêplek op die tong. Woorde en die spel met woorde fassineer my eindeloos. Ek laat my in die skryfproses verlei, maar as ek afgekoel het, skaaf ek eindeloos. ’n Duisend keer. By ons wonderlike vriendin Eveleen Castelyn het ek geleer: 'Kill your darlings.'” (Versindaba)

Oor sy vertaling van die Ilias: “Al is die wêreld van Homeros onbereikbaar ver, is dit tog so digby ons. Die mens bly mens. Feilbaar, arrogant, astrant, agterbaks, geslepe, magsbehep. Ek het opnuut respek vir die Griekse teks gekry. Die teks is van geslag tot geslag oorgelewer. Die mondelinge tradisie het my laat besef dat ’n goeie verhaal vertel móét word. Die karakterbeelding, die spanning, die plot, die intrige, die verrassende wendinge en die tyd en ruimte waar dit afspeel, het my vasgenael laat sit en lees.” (Woordkuns-artikels, www.teo.co.za)

Gebore en getoë

Casparus Johannes Adam (Cas) Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is die oudste van vyf kinders van Willem Albertus Vos en Johanna Hendrina Botha. Sy ouers het in Brits en Marikana geboer en later het die gesin na Pretoria getrek. Sy pa het by die Spoorweg gewerk en later ’n vervoerbesigheid gehad. Sy pa is in 1986 oorlede en sy ma in 1979.

Cas vertel aan LitNet: “Ek het die lewenslig eerste gesien en sien dit nog. Ek het skerp  herinneringe van my kleintyd op die plaas. Ek kan steeds die turf ruik en die sterre sien gloei. My grootworddae was salig en gelukkig. Veral as ons by my oupa en ouma gaan kuier het.”

Cas sê dat hy net na die Skepping skool toe is – in 1952 by die laerskool De Kroon in Brits. Hy was nie lank daar nie voordat hulle Pretoria toe is. “Andries Pretorius was my laerskool. Hiervan het ek glansende herinneringe. Die onderwyseresse en onderwysers het ’n groot invloed op my uitgeoefen. Veral juffrou Leverton en die hoof, mnr Campher. In die Hoërskool Tuine het verskeie onderwysers my geïnspireer, veral mnr Jan Pretorius en die hoof, mnr JA van der Walt. Op die laerskool het ek al ontdek dat ’n meisie mooi is en ek was besonder lief vir sport, veral rugby, krieket en atletiek. Ek het rugby gespeel, maar in krieket uitgeblink. Ek het ook toneel gespeel. In standerd agt het ek die voordragwedstryd vir al die skole in Pretoria gewen en ’n vergulde sertifikaat ontvang. Ek het van al die vakke op skool gehou, veral van Afrikaans, Engels, Duits en Latyn.”

Toe Cas in standerd agt was, was hy strooijonker op sy ma se neef se troue. Die strooimeisie, Lida, was die bruid se suster en dit is waar ’n lewenslange verbintenis begin het.

Volgens Cas was woorde vir hom nog altyd soos moedersmelk. “Ek het kleintyd nie met karretjies gespeel nie, maar met woorde.”

Verdere studie en werk

Na skool is Cas na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1966 sy voorgraadse studie voltooi. In 1970 maak hy ook sy nagraadse studie in die teologie klaar. In 1978 slaag hy sy doktorale studie met lof. In 1984 promoveer hy met lof in die dogmatiek onder prof Johan Heyns. Die titel van sy tesis is “Die Heilige Gees as kosmies-eskatologiese gawe. ’n Eksegeties-dogmatiese studie”.

Vanaf 1971 tot 1974 is hy predikant by die NG Gemeente Riebeeckpark in Kemptonpark, van 1974 tot 1982 by die Gemeente Krokodilrivier in Brits, en van 1982 tot 1988 in Suidoos-Pretoria. In 1989, nadat hy die bediening verlaat het, word hy medeprofessor in die praktiese teologie by die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria en vanaf 1992 volle professor. Hy lewer op 14 Februarie 1991 sy intreerede onder die titel “’n Vlammende lied: Metateoretiese en prakties-teologiese grondslae van die homiletiek”. Hy word in 2000 aangestel as dekaan van die Fakulteit Teologie – ’n posisie wat hy tot die einde van Februarie 2010 beklee. Hy tree aan die einde van Junie 2010 af.

Met sy aftrede in 2010 span Dirk Human en Danie Veldsman saam as redakteurs van ’n huldigingsbundel aan Cas Vos onder die titel Oor jou afdrukke. Dit bevat ’n biografiese opsomming van sy lewe, asook etlike artikels oor sy digbundels en teologiese artikels deur sowel plaaslike as internasionale skrywers.

In 2001 ken die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Pieter van Drimmelen-medalje vir Bybelvertaling aan hom toe en vanaf 2004 tot 2006 was hy president van die Societas Homiletica Internasionaal, ’n liggaam vir die preekkunde. Op akademiese terrein is hy lid van die dogmatologiese werkgemeenskap, die werkgemeenskap van praktiese teologie in Suid-Afrika en die Arbeitsgemeinschaft für Homiletik. Hy is voorsitter van die homiletiese werkgroep in Pretoria en dien in die redaksie van Praktiese Teologie in Suid-Afrika en Skrif en Kerk. Verder is hy lid van die kernredaksie van die handboekreeks vir praktiese teologie. Hy dien ook op verskeie kommissies van die Sinode van Noord- en Oos-Transvaal en die Algemene Sinode.

By verskeie geleenthede tree hy in die openbaar op waar hy van sy verse voorlees, soos by die UP-Boekjol in Pretoria en die Versindaba in Stellenbosch. Meermale neem hy ook aan radioprogramme deel, veral oor die teologie. 

Cas en Lida is in 1969 getroud. Twee seuns is uit die huwelik gebore: Stefan in 1972 en Johan in 1974. Hulle het een kleinseun, Reynard, wat volgens Cas, baie na sy oupa aard. Cas beskryf Lida as die handige een wat baie kunstig is en allerhande goed kan maak. Sy is ook sy eerste leser en as sy sê ’n beeld werk nie, werk dit nie. Oor die erotiek wat hy so openhartig beskryf, het sy hier en daar gewonder of ’n mens dít of dát voor mense mag sê, maar sy het nooit probeer keer of sensor nie.

Vanaf 1986 dien Cas in die Psalmberymingskommissie en was hy ook vier jaar lank voorsitter van die Gesangekommissie. Hierdie kommissie het alle bestaande gesange hersien en nuwe tekste gekeur. Hy het self vyftien nuwe liedtekste geskryf. Met die samestelling van die Liedboek het hy ’n sleutelrol gespeel en aan die einde het hy gesê: “Dank Vader die Liedboek is klaar, hoewel dit ’n groot uitdaging was. Die hersiene en nuwe tekste moes getrou aan die Bybelse boodskap wees, inpas by die musikale struktuur en aan die basiese vereiste van poësie voldoen.”

In 1998 word Die volheid daarvan. Deel 1 en 2 by die RGN gepubliseer en in 1999 word dit bekroon met die Andrew Murray-prys, wat beskou word as die grootste prys in Afrikaans vir teologiese en godsdienstige publikasies. Tydens die oorhandigingsfunksie het Cas ’n beroep op teoloë gedoen om in Afrikaans te skryf en te publiseer, en gesê dat om teologie in Afrikaans te bevorder, daar in Afrikaans gedink en geskryf moet word. Afrikaanse teoloë het die verantwoordelikheid om die teologie in Afrikaans te help uitbou. In sy toespraak het Cas hulde gebring aan baanbrekers op die gebied van Afrikaanse teologie en gesê taal beskik oor die vermoë om ’n nuwe wêreld te skep. “Deur taal kan die mens God se wêreld ooptower. Die Bybelverhaal moet nie net in die prediking herhaal word nie, maar oorvertel of oorgeskryf word. Die sin van God se bedoelinge moet hier en nou gelees en geleef word, en dit moet in ’n taal gebeur wat mense ontroer.”

Oor Die volheid daarvan sê Cas dat volheid na die volheid van die preek verwys. “Dit gaan oor die volheid van heil, genade en liefde wat die preek oopmaak. Ek wil graag hê dat predikers en hoorders dié volheid hulle eie sal maak en vreugde daaraan sal hê. Want dit is wat ’n preek onder andere wil doen: dit wil mense bly maak oor God se grenslose genade. Te veel preke het nog ’n nors gesig sonder warmte.” (Algemene Kerkbode, 14 Mei 1999).

Rondom 1984 het hy gedigte in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer en sy debuut, Vuurtong, het in 1999 by Benedic verskyn. Aan Algemene Kerkbode erken Cas dat Volheid werk én lekker was en Vuurtong lekker én werk. Dit was veral die vrug van die drie voorafgaande jare. “Die bundel het sy eie pad geloop. Soms het hy sy kop gestamp en later het hy op sy eie bene begin waggel. ’n Mens voel, proe, ruik en soek. Oral lê daar versreëls wat dalk ’n gedig kan word. Dan soek jy na verbande, ritme, rym, patrone en wat ook al. En dan moet die gedig ’n eie stem kry en in ’n geheel inpas.

“Ek kan nie anders nie. ’n Gedig is soos ’n hoes. Jy kan dit nie inhou nie. ’n Digter dig om rekenskap van die lewe te gee. Só kyk ek na myself en die lewe. Die lewe met al sy raaisels, pyn en plesier. En in die kyk maak ek dalk ’n paar loergaatjies vir ander mense oop.”

Cas verduidelik aan Neels Jackson (Beeld, 23 April 1999) dat die titel dadelik, op dualistiese wyse, dui op ’n verskeidenheid interpretasiemoontlikhede as sleutels tot die bundel: “’n tong van vuur” as simbool van seëning, die uitstorting van die Gees; skeppende geboorte: van verse, mense en (ander) hemelliggame; en sensuele liefde. Aan die “negatiewe” kant kan dit dui op vernietiging, dood, die vuur wat homself uitbrand.

“Die bundelsiklus wentel van liefde tot dood. Die liefdesverse, merendeels in ’n ‘Hooglied-modus’, lei ook die skeppings- en herskeppingstema in. In ’n volgende afdeling is daar religieuse motiewe wat met die lewe skakel. Die doodsmotief klink later ook sterker op. In die voorlaaste afdeling vloei sensuele, musikale en kosmiese skepping ineen. In die laaste afdeling word die doodstema voltrek. Die tong ‘maak’ gedigte vir mense op hulle reis deur die lewe tot by die dood. Dis ons almal se gedigte.”

In vergelyking met Volheid is Vuurtong maar klein. Maar as jy vir Cas vra, was die poësie vir hom die lekkerste. “Dit kom spontaner. Die skeppingsproses is suiwerder. Nie dat Die volheid daarvan nie ook ’n klomp kreatiwiteit geverg het en lekker was nie – of dat die poësie nie ook harde werk was nie. Maar Vuurtong, sy ‘kleintjie’, is spesiaal.” (Algemene Kerkbode, 14 Mei 1999) Die debuut was ook op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

Hy weet nou hoe ’n vrou voel ná die geboorte van haar kind: die wonde en die verwondering. En, voeg hy teenoor Neels Jackson by, “Wees goed vir my kleintjie. Hy aard na my. Hy is soos ek geneig tot die sonde.”

Bettie Coetzee skryf in Rooi Rose (23 Junie 1999) dat Cas Vos in Vuurtong nie preek nie, maar jubel. “Hy leef sy liefde vir die lewe hierin uit. In die liefde tussen man en vrou in ’n verhouding waar hulle vir mekaar omgee en mekaar nie net selfsugtig 'gebruik' nie, is niks vir hom geheim nie. Hy sien g’n onderskeid tussen sy lewe as akademikus en kerkman en sy lewe as man, pa en minnaar nie. Elke fase, glo hy, moet ten volle uitgeleef word. Daarom draai hy nie doekies om nie, ook nie in sy digwerk nie.”

Hy erken dat so ’n openheid jou nie oornag oorval nie. Dit is ’n geleidelike groeiproses wat ’n mens so “oop” maak. “Afrikaners het mos maar eers sedert die jare sestig van seks gehoor. Boeke wat die erotiek en godsdiens wou meng, is links en regs verban. En dit is my studie van die Bybel wat my van die tradisionele Afrikanertaboe losgemaak het.

“Toe ek Hooglied in die oorspronklike Hebreeus lees, het ek besef hoe ‘gesensor’ die Afrikaanse Bybelvertaling dié loflied aan die lyflike liefde weergee. Die genot van die liefde tussen man en vrou is in Christelike verklarings as die vergeestelike liefde tussen Christus en die Kerk, die Bruidegom en die Bruid gesien. Dis toe ek besluit ek kan ook stem gee aan erotiese ervarings. Die erotiek is immers ’n geskenk van God. Die Bybelse tekste het my selfs meer beïnvloed as Breytenbach se liefdespoësie. Ook dié van Van Wyk Louw en TT Cloete.

“Ek het nooit gedink ek doen iets boos om so openlik oor die plesier van die lyf te skryf nie. En niemand het nog gekla nie. Trouens, al my kollegas van die Fakulteit Teologie was by die bekendstelling van die bundel. Gemeentelede was net vol lof.”

Toe sy ma in 1979 oorlede is, het die skok van haar dood veroorsaak dat hy diabetes ontwikkel het. Hy het dit onder beheer met insulien, maar dit het hom meer laat besef dat die lewe nie net kosbaar is nie, maar ook baie broos en dat ’n mens elke dag voluit moet beleef.

Dit wat hy sien, is net so ’n belangrike prikkel vir sy digkuns. As hy iets besonders sien of hoor, kom die reëls sommer by hom op. “Toe ek Van Gogh se skilderye in Holland sien, kon ek my nie keer nie. Moes ’n servet gryp om gou neer te skryf.” Later het die reëls ’n gedig geword: ‘In nabye vertes waar oë stipkyk kyk/ en ’n huis en stilbome vaagweg sien,/ hurk ’n klein plantasie in bewondering/ langs die son se tong wat gesaaides streel.’”

AP Grové skryf in Beeld (5 Junie 1999) dat die ses afdelings van hierdie bundel in meer as een opsig skerp van mekaar verskil, maar inherent tog verwant is, aangesien elke afdeling op sy eie wyse ’n “aards-boaardse spanning” na vore bring. “Verder bly die digterlike strategie, by alle wisseling, ook feitlik deurgaans konstant soos die digter met behulp van intertekste, veral uit die Bybel, probeer om ’n hoër, edeler dimensie aan die aardse werklikhede en belewenisse toe te voeg. (...) Daar sit sinvolle beplanning in die bundelopset. Die bundel bevat ’n ryk gedagte-inhoud en idees met moontlikhede, maar daar is te min taaldissipline en te min taaldwang om die bundel te maak wat hy kan wees.”

Cas se volgende digbundel, Gode van papier, word in 2001 deur Protea Boekhuis gepubliseer. Teenoor Neels Jackson (Beeld, 25 Julie 2001) beskryf hy Vuurtong en Gode van papier as familie vanweë die erfsonde. “Maar elke bundel het ’n eie stem. Miskien is Vuurtong nader aan my eie lyf. Gode van papier bestyg ’n meer omvangryke register. Ek wou in hierdie bundel aan verskeie temas gestalte gee. Al het ons soveel gode, wou ek sê dat ons gode voete van klei het. Hulle moet op hul plek gesit en gehou word.” Die liefde is ook een van die temas wat Cas in die bundel aanraak.

Een van die temas wat Cas in hierdie bundel aanraak, is die liefde. En al is daar baie ter sprake van god en gode, dink hy nie dat dit hom saamgooi met ander tradisionele predikantdigters nie. “My gedigte is nie prekerig nie. Ek werk ironiserend, dryf die spot. En die bundel handel ook oor die verlies van gode. Hoewel die woord ‘gode’ dikwels in die bundel gebruik word, dui dit baie keer nie op gode in die tradisionele sin van die woord nie. Allerlei dinge, tot die gedigte self, word gode in hierdie bundel.

“Soms sny ek wel die teologie aan, soos in die gedig ‘As die gode paradeer’, waar met die voorsorggod, die sportgod en die seksgod gespot word voordat die digter in die slotkoeplet bely: ‘Mý god hang eeue reeds aan ’n geykte kruis/ waar hy sy bloeiende hart vir geringes wys.’”

Verlies is vir Cas dié tema wat deurlopend in Gode van papier te bespeur is. “’n Mens sien dit in die eerste afdeling oor gode, in die tweede oor die liefde (waarin ook ’n paar erotiese verse voorkom), in die derde waarin gedigte oor ’n reeks figure soos Dracula, Baudelaire, Lorca, John Lennon en Mozart opgeneem is en in die slotafdeling met die titel “La tristesse durera toujours” – hartseer sal vir altyd duur.”

Hy wou op daardie stadium nie oor verdere bundels praat nie en haal vir Breyten Breytenbach aan wanneer hy sê: “Ek weet nie of ek nog één gedig kan skryf nie.” “Maar,” voeg hy dan by, “as die gode op papier dans, sal ek dankbaar wees.”

AP Grové (Beeld, 30 Julie 2001) meen dat wat opset en aanslag betref, Gode van papier sterk verskil van Vuurtong, maar dat daar tog familietrekke te bespeur is. “In beide lê daar byvoorbeeld ’n duidelike aksent op taaluiting in skriftuur, en spraak, iets wat miskien al in die onderskeie bundeltitels af te lees is. (...) Dit is duidelik dat die digter heelwat illustrasiemateriaal byeengebring het, dat hy heelwat aandag aan beplanning bestee het en dat hy met sy teenstellings dikwels sprekende effekte kon bereik. Aan die anderkant kan daar ook op tegniese en struktuurprobleme gewys word: versvulling, geforseerde ryme en vergelykings.”

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 30 Julie 2001) is die derde afdeling, “Beeldwoorde”, die sterkste een van die bundel. “Daar is ’n handvol gawe verse in hierdie bundel. Soms is daar verse wat in ’n ouer retorika geskryf is, wat selfs ‘outyds’ vir die moderne leser mag aandoen. Waarskynlik is die gedigte te veel met die kop en te min met die hart geskryf. ’n Mens mis dikwels die swing van ’n treffende vers. Te dikwels preek die digter sodat die vers se boodskap doodgemaak word. Dit is ’n bundel van Protea Boekhuis wat bewys dat daar lewe is buite die bestaande uitgewershuise. Dit is smaakvol uitgegee met verklarings van minder bekende begrippe.”

Enkeldiep (2003) is die derde bundel in Cas se oeuvre en sit dit tematies en verstegnies voort. Tydens die bekendstelling van hierdie bundel het Cas gesê: “Ek voel dat daar ’n tematiese verruiming in hierdie jongste werk is. Daar is ’n kosmiese perspektief wat sterker is as tevore, minder van myself en meer van die pyn in my.” Die kosmiese perspektief vind ’n mens ook in die vier elemente – aarde, water, lug en vuur – wat dwarsdeur die bundel ontgin word. Dis ook daar in die skeppingsproses, met eggo’s van die Bybelse skeppingsverhaal. Hy gee ook toe dat Enkeldiep baie meer van ’n gestrooptheid aan hom het as sy vorige bundels. Daar is ’n hele afdeling wat aan siekte en aftakeling gewy word. Ook die liefdesgedigte is subtieler en minder baldadig as tevore.

“Daar is talle godsdienstige verwysings dwarsdeur die bundel, maar dit is gewis nie belydenispoësie nie en ek preek nie. Saam met ander staan ek enkeldiep in die lewe en soek na sin,” vertel hy aan Neels Jackson (Beeld, 27 Augustus 2003).

Fanie Olivier (Beeld, 5 Januarie 2004) is van mening dat daar nie omvattende of ingrypende vernuwing in hierdie bundel met sy vyftig gedigte is nie, “maar dan is dit ook natuurlik geen uitgemaakte saak dat so ’n verwagting die norm mag of moet wees nie. Vir nuwe lesers is dit uiteraard nie eers ter sake nie.

“Bekyk ’n mens die bundel is dit sinvol in vyf afdelings georganiseer. Die bundeltitel lees ’n mens raak in ‘Achilleshiel’ waarin die skynbaar onaantasbare mens se kwespunt getref word deur ’n pyl wat grondlangs op enkelhoogte swiep; daarmee saam onthou die leser ook die uitdrukking van kniediep in die moeilikheid wees.

“Die bundel is dan ook ’n verkenning van die mens se weerloosheid en die wyse waarop hy homself in die moeilikheid gebring het. Buite hom om bestaan die volheid en die rykdom van God se skepping, maar daarvan is min die mens beskore. (...)

“Vos se verstegniek bly basies dieselfde. Daar is sterk klankbinding – ’n klompie gedigte is selfs formeel – en in die sterkste gedigte is daar dikwels baie sterk rym in die slot. Aan die debietkant bly die stellingrige aard van die gedigte my persoonlik pla. Te dikwels nog is die gedigte horterig omdat dit sintakties nie vloei nie: as gevolg daarvan is die slotte eerder voorbereid as die sleutels waaroor NP Van Wyk Louw dit gehad het. Enkeldiep is pragtig uitgegee deur Protea Boekhuis en ten spyte van my voorbehoude, bly dit ’n waardige en welkome voortsetting van die eiesoortige digterskap van Cas Vos. Hierdie digterskap, en die bereidwilligheid om dit te bestendig, is belangrik vir Afrikaans.”

Vir Bernard Odendaal toon Cas se drie digbundels wat gehalte betref, ’n stygende lyn. Daar is verse in Enkeldiep wat beter kon gewerk het as dit fyner afgewerk was en ook meer deeglik oorweeg is, maar daar is net soveel wat op ’n digterlike grondslag slaag. Gedigte wat in hulle totaliteit tevrede stel is onder andere “X-straalfoto”, “Stasie”, “Teësprake”, “Siek vrou”, “Maan”, “Soetlemoen”, “Son”, “Riskant” en “Sterre”.

In 2005 verskyn Cas se studie in die eksegese, homiletiek en digkuns getiteld Theopoetry of the Psalms. Die skrywer gee erkenning aan ’n wye veld kenners met wie hy in kontak gekom het, skryf Joan Hambidge (Volksblad, 1 Augustus 2005). Dit is ook duidelik dat hy nie alleen teologies na die psalms kyk nie, maar dat sy digterlike oordeel ook ’n rol gespeel het.

“‘The rich tone of each psalm (poem) must be heard. We need to listen to the way each individual psalm harmonises with the other voices in the choir.’ Vanselfsprekend speel tradisie en resepsie ’n belangrike rol in hierdie soort studie en die skrywer erken ook die invloed van die sosiohistoriese agtergrond wanneer tekste gelees word. Die moderne teologie se skatpligtigheid aan die moderne literatuurwetenskap val ook in hierdie studie op. Dit gaan dus nie net oor emosionele uitsprake nie, maar veral om ’n soeke na struktuur (vorm en inhoud) in die interpretasie van die gedigte.

“Kodes en konvensies word dus agterhaal ten einde die digter se poëtika te probeer omskryf. Dit is ’n geleerde studie, waarskynlik meer bedoel vir die teoloog en letterkundige. Terselfdertyd is dit van enorme belang dat hierdie soort intellektuele bydrae – met ’n aanskoulike bibliografie – ook in Suid-Afrika verskyn en dat dit die seënwense wegdra van die bekende Niek Schuman wat verwys na Nijhoff se gedig waarin die psalms 'n interteks word. Almal van ons is eweneens gevorm deur die psalms en die poësie wat daarin opgesluit lê.

“Vos se beheersing van sy veld is imposant. Hy is ’n gedugte teoretikus wat die leser neem op die intellektuele reis rondom konvensies en hoe alles teoreties benader kan word. Hy verwys ook na sy eie gedig ‘The glass-blower’ onder meer om die liturgie en sy werkinge te probeer verduidelik. Nie alleen verduidelik die digter vir ons iets van sy fabrieksgeheime nie, maar die teoloog verduidelik ook vir die leser hóé konvensies kreatief kan verander. Hiermee distansieer die digter/teoloog hom dan ook van die sinisme wat dikwels by moderne teologie aantoonbaar is, omdat die sogenaamde wetenskaplike metode neerbuigend is oor die wonder van die skepping.

“Die een benadering hoef egter nie die ander uit te sluit nie; om wetenskaplik te dink, beteken nie om kreatiwiteit te minag nie.

“Daar word ook verwys na Peter Brook se bekende uitspraak dat daar in die ‘heilige teater’ sprake is van waar die onsienlike sigbaar word. Volgens Vos kan hierdie uitspraak van toepassing gemaak word op 'n preek waar die teoloog/prediker kennis dra van konvensies. Die skrywer se belesenheid, nie net van literatuurteorie nie, maar ook onder meer van klassieke Griekse tekste soos Antigone, getuig van beleë kennis waarin belangrike verbande vir die leser aangetoon word. Ook die musiek word betrek: Psalm 150 het musikale komposisies geïnspireer soos van César Franck, Benjamin Britten en ander.

“Konsepte soos die anaphora, apodosis, hapax legomenon, en so meer word verhelder. Dit is ook belangrik dat hy die werk van wyle Riempies Prinsloo erkenning gee, hoewel die leser altyd sy dood as ontydig sal bly ervaar. Cas Vos gee tereg erkenning aan TT Cloete se skitterende psalmberymings en boonop is die buiteblad na 'n skildery van Bettie Cilliers-Barnard, Kloosterskildery (1939).”

Na die verskyning van Theopoetry of the Psalms het hy by ’n Koreaanse seminarium in Los Angeles in die VSA lesings gegee. Sy boek is so goed ontvang dat hulle gevra het om dit ook in Koreaans te vertaal. Daar is ’n sterk Presbiteriaanse tradisie onder Koreane en hulle het aanklank gevind by sy gereformeerde aanslag. Hierdie eerste Koreaanse vertaling van sy werk gaan dalk deur ’n tweede opgevolg word. Cas het op versoek van die Koreane ’n seleksie van sy gedigte in Die afdruk van ons hande gemaak wat in Engels en toe in Koreaans vertaal is. Die plan was om ’n bundel die lig te laat sien waarin die Engelse teks naas die Koreaanse teks sou verskyn. (aan Neels Jackson, Beeld, 13 September 2007)

By die bekendstelling van Die afdruk van ons hande het Cas vertel dat hy teen November 2004 ’n manuskrip gereed gehad het wat hy aan Henning Pieterse vir kommentaar gegee het. Pieterse het met die lees van die Gilgamesj-epos besef het dat die manuskrip die potensiaal van ’n baie goeie bundel het, maar hy het vir Cas gesê dat hy vir ten minste nog ’n jaar aan die bundel sou moes werk, maar dat die bundel daarna nog beter sou wees as wat die manuskrip reeds was.

Met die verskyning van Die afdruk van ons hande in 2007 skryf Joan Hambidge (Volksblad, 26 Februarie 2008) dat soos te wagte is van ’n teoloog, die belangrikste verse in hierdie bundel dié was wat met die verhouding mens-God te make het.

“Die verskillende funksies, uiteraard botsend, van die digter en die teoloog word weergegee met ’n slotvers oor die Gilgamesj-epos vertaal en verdig in Afrikaans (die ‘Uruk-fragmente’). Verskillende konvensies word hier ten toon gestel: die himne, die epos, die klaagsang. Dikwels word die sogenaamde ‘outydse’ aanslag gebruik, hoewel die digter eweneens sy hand aan moderne vorme, soos die vrye vers, waag.

“Religieuse poësie in Afrikaans – van Totius, Cloete en IL de Villiers – gee immer die komplekse verhouding tussen mens en God weer. Die digkuns verraai die onstuimige, selfs skeptiese, verhouding met en tot die metafisika. Só gelees, is die digkuns nie net ’n godsdiens sonder hoop nie, maar ’n vergestalting van opstand en teëpraat.

“In die bundel is uitstekende beelde en aangrypende verse. Vir my is daar verse wat nog nie ‘af’ is nie en wat waarskynlik nog ’n tweede, derde herbesinning moes deurgaan. Dalk sou ’n sterker vormbeheer die oplossing wees? Daar is verse wat nog nie die fyn balans tussen die konkrete en abstrakte handhaaf nie. Maar die bestes maak wel op vir die klein insinkings of mindere verse, wat myns insiens woede en opstand kort.

“Die slotvers, te wete die ‘Uruk-fragmente’, gegrond op die Gilgamesj-epos, is ’n enorme bydrae tot die Afrikaanse digkuns. Daar is ’n eindnota wat vir die leser van waarde kan wees om hierdie klassieke teks te kan ontsluit. Dié historiese agtergrond was vir my noodsaaklik – ook om die herdigting en die relevansie van die titel te begryp. ’n Mens sou ook – as ons ons die luukse kon veroorloof – graag hierdie teks in ’n aparte boek wou sien! (...) Die afdruk van ons hande is ’n toevoeging tot die ryk tradisie van poësie beoefen deur teoloë en religieuse skrywers.”

Volgens NM Taljard (Literator, Augustus 2008) ondersoek Die afdruk van ons hande, net soos Cas se vorige drie bundels, die ordenende metafore, simbole en verhale wat die moderne samelewing rig – die gode wat ons aanhang. “Soos altyd word Vos se verse gekenmerk deur afgeronde struktuur, sensitiewe woordkeuses en ’n diggeweefde tekstuur van intertekstuele verwysings na ander kunstenaars, kunswerke, plekke, gebeure en die mitologie. Stilte en die dood is ook belangrike tematiese materiaal. Die eerste deel van die bundel is grootliks ’n voortsetting en uitbreiding van Vos se vroeër werk waarin ‘gode’ in verskillende manifestasies opduik en saampraat. Daar is ’n sterk religieuse element teenwoordig en baie gedigtitels verwys spesifiek na figure, artifakte, handelinge en tekste wat met spiritualiteit en godsdiens verbind word. Afdeling II bevat liefdesgedigte in alle toonaarde van die liefde.

“Vos se poëtiese verwerking van die sogenaamde Uruk-fragmente in Afdeling IV is om verskeie redes ’n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse letterkunde en dié enkele aspek wat die bundel laat uitstaan. Die finaal afgewerkte twaalf kleitablette met die Gilgamesj-siklus wat in die elfde eeu vC deur Sin-lege-unninni in die biblioteek van Ninevé neergeskryf is, word allerweë beskou as die eerste oorgelewerde epos wat later deur die digters van die Odussea, die Bhagavad Gita, die Aeneas en die Beowulf nagevolg is. Vos volg in die omdigting min of meer die verloop van die epos soos dit op die Sumeriese kleitablette verskyn. Sy elf ‘Fragmente’ is inderwaarheid fragmentariese omdigtings van geselekteerde dele van die oerteks. Tog slaag Vos merkwaardig goed daarin om die essensie van die oorspronklike in sy beduidend korter gedigteks te konsentreer.

“Ofskoon die Gilgamesj-epos primêr op die beskrywing van die avonture van die epiese held gerig is, kan dit op ’n dieper vlak ook gelees word as lewensiklus vanaf die ongeskakeerde geveg om lewe en dood tot die uiteindelike soeke na onsterflikheid. Die metafisiese aspek van die epos geniet by Vos sterk prominensie en word reeds in die openingsreëls van die siklus opgeroep deur die mistieke handeling waartoe die leser opgeroep word: Skep teen skemer suutjies asem / en doop julle voete in olie / voordat jule na Uruk vertrek. Anders as in die oorspronklike teks waarin die epiese element sterk figureer, het Vos se poësie ’n bykans porseleinagtige tekstuur waardeur die liriese onderbou die hele tyd skyn. Vos se besluit om een van die belangrikste verhale, dié waarin Gilgamesj en Enkidu die monsteragtige Huwawa dood, nie in sy siklus op te neem nie, asook sy onderbeklemtoning van Gilgamesj se handelingspatroon, illustreer sy klem op mitiese verhaalinhoude met ’n argetipiese karakter. So sluit hierdie afdeling, deur sy klem op eksistensiële kwessies, ook ten nouste aan by die bundelproblematiek, naamlik die ‘gode’ na wie se pype ons dans (p 65-68).

“Hoewel kennis van die bronteks nie noodsaaklik is vir begrip van die Uruk-Siklus nie en daar wel ’n kort ‘Agtergrond’ agter in die bundel verskyn, sou ek aanbeveel dat die leser eers vertroud raak met óf die oerteks óf die verhaalmatige weergawe daarvan, aangesien dit beslis die leeservaring verryk en ’n verdigtende funksie op die reeds pragtige poësie het. Vos se sensitiewe verwerking van ’n 5 000 jaar oue mitologiese verhaalgegewe, sowel as sy subtiele aanvoeling vir die ryk geskakeerde menslike ervaring oor die algemeen, maak van hierdie bundel ’n leesavontuur by uitnemendheid.”

Vir TT Cloete is Die afdruk van ons hande Cas se heel beste digbundel tot op daardie stadium, vol opwindende gedigte. Hy beskou ook sy vertaling van die “Uruk-fragmente” as enig in Afrikaans, en alhoewel daar mooi gedeeltes is, behou hierdie verse die klank van vertaling en berus die belangrikheid van Cas se bundel op sy eie, voortreflike gedigte.

By die bekendstelling van Cas se volgende bundel, Intieme afwesige (2009), het sy redakteur, Martjie Bosman, gesê dat die tekstuur van hierdie bundel vir haar is soos dié van ’n laat Middeleeuse tapisserie, of wandtapyt, soos dit op Nederlands genoem word. “Sulke tapisserieë is op ’n weeftou geweef en nie geborduur nie. Die vertikale of kettingdrade was gewoonlik van wol of linne in ’n neutrale kleur waardeur gekleurde drade van wol of sy gevleg is om die voorgrond te vorm. Goud- of silwerdraad is dikwels ook ingeweef vir beklemtoning. Die voorgrond was meestal ’n tafereel met ’n mitologiese, godsdienstige of geskiedkundige onderwerp. Die wandtapyt het meestal ’n sierlike rand gehad met ’n patroon van blomme of loof en by sommiges is klein motiewe soos blomme, vrugte, voëls en diertjies teen die agtergrond ingewerk.” Hierdie tapisserie-beeld is gevorm is deur die struktuur van die bundel enersyds, maar veral deur die weefmotief wat verspreid deur die bundel voorkom.

“Die bundel is gebou rondom die sentrale reeks, ‘Abélard en Héloïse: Tweegesprek’, wat uit twintig gedigte bestaan. Hierdie gedigte vorm as ’t ware die vernaamste fokuspunt van die tapisserie-as-metafoor, die gegewe waarna die leser/kyker se blik telkens weer sal terugkeer, met ander temas en motiewe in die agtergrond of op die rand.

“Alles is egter nie net somberheid nie. Soos in die agtergrond of randpatroon van ’n tapisserie, kan ook ander deurlopende temas en motiewe in die bundel raakgesien word. Hierdie motiewe en temas sluit op verskillende maniere aan by die sentrale tema, die liefdesgeskiedenis van Abélard en Héloïse. Een van die opvallende temas is dié van die skepping van kuns, veral beeldende kuns. Daar is gedigte oor Van Gogh, Michelangelo, die Franse skilder Gerard Hoet, en nie minder as ses gedigte na skilderye van Suid-Afrikaanse kunstenaars Marlene Dumas en Diane Victor nie. Daar is ook gedigte oor musiek en sangers, van Johann Sebastian Bach tot by Katie Melua en Edith Piaf, en gedigte waarin die poësie self aan die bod kom.

“Ek het reeds gewys op die gebruik van die woord ‘donker’ en u kan met die lees van die bundel gerus oplet hoeveel maal dit as motief voorkom, ook in die gedaantes van nag, aand, skadu en skemer. Maar, soos die goue en silwer drade in ’n tapisserie opheldering bring, word die donker in die bundel telkens deurbreek met die sagte lig van sterre, kerse en die maan, enkele kere ook met die son. Intieme afwesige is ’n heg verweefde, ryk bundel.” (Woordkuns-artikels, www.teo.co.za, 22 September 2009)   

Oor die Abélard en Héloïse-siklus vertel Cas aan Johann de Lange op Versindaba dat dit hom ontroer het omdat dit so tydloos is. “Dit is net so aktueel en aangrypend as in die 12de eeu. Intieme afwesige eggo dwarsdeur die siklus. Daar is die pyn, verdriet, verlies, verlange en vreugde (erotiek) van die liefde. Eers op die grafbed lê Abélard stokstyf en doodstil langs Héloïse. Hoe ironies kan die liefde tog nie wees nie! Anders as by Van Wyk Louw, Sheila Cussons en Daniel Hugo het ek die siklus in dialoogvorm geskryf. Iets van ’n teater. ’n Poëtiese praatvers. Astralabe is die liefdeskind van Abélard en Héloïse. Oor die stomme kind is byna niks bekend nie. Al is hy so onbekend, is hy nietemin die toonbeeld van verlatenheid, eensaamheid, verlorenheid, vader- en moederloosheid. Vir hom was sy pa én ma die intieme afwesiges. En hysélf die intieme verlatene. O hemel, dis so eietyds en menslik.” 

Johann de Lange wil by Cas weet hoe sy kontak met mense, deur berading ensovoorts, sy skryfwerk voed. “Sal jy sê dat jou beroep jou in ’n unieke posisie plaas om die menslike kondisie te verken? Jou bundels verken die hele register van pynlike en vreugdevolle ervarings waardeur ons gaan, die aanbidding van vals gode, verlies in sy duisend gedaantes. Maar ook die erotiese, iets waar jy nogal ’n raakpunt het met Cussons vir wie die liggaam juis sintuig word vir geloof eerder as ’n struikelblok.”

Waarop Cas antwoord: “Ek dink dat ek in ’n unieke posisie geplaas is om die menslike kondisie te verken. Maar dis ook ’n pynlike posisie. Ek word ook in die proses verwond, maar hoop om die ander se pyn te help verlig of draagbaar te maak. Dit doen ek onder andere deur te dig. Ek sien en ervaar naas verlies ook vreugde. Dis alles openinge vir gedigte. Die erotiese speel, dink ek, ’n belangrike rol in my digwerk. Doodgewoon omdat dit deel van die menslike bestaan is. Dit kan ook pyn bring, maar meestal is dit borrelende geluk. Ek voel gevlei dat jy opmerk dat ek ’n raakpunt met Cussons het. Ek sou dit nie wou ontken nie. Die liggaam is inderdaad ’n sintuig vir geloof. Ons moet liggaamlik kan glo en leef.”

Vir Johann de Lange het dit hom by die lees van die bundel opgeval hoe elke afdeling nuwe nuanses van die titel belig. “Die intieme afwesiges wissel van ongeborenes tot gestorwenes, van herinnerings tot inspirasie, van mense van bloed en vlees tot mense van ink of verf. Op intertekstuele vlak kan dit verder verbind word met ander tekste, heel dikwels uit antieke tye, wat as ’t ware soos op ’n palimpses aanwesig is.”

Vir Cas is ’n titel soos ’n hartklop. “Jy hoor of die bundel leef. By Van Wyk Louw het ek geleer om ironies te leef en bo alles die liefde te behou (en dis nie altyd maklik nie!). Die titel suggereer ’n teenstelling. Naby en ver. Verlange en liefde, leegte en vervulling, lewe en dood. Af- en aanwesigheid. Hierdie teenstellings loop dwarsdeur die bundel. Daarom is daar dikwels gesprekke tussen gedigte. Hiervan is die Abélard en Héloïse-reeks ’n duidelike voorbeeld. Intimiteit is so menslik. En meestal staan afwesigheid in die weg daarvan. Hierdie kontraste staan voortdurend op gespanne voet teenoor mekaar.”

Cas se bundels se omslae raak vir Johann de Lange toenemend belangriker as sleutels. Verál Die afdruk van ons hande en nou Intieme afwesige. Hy vra aan Cas: “Hoe sien jy die rol van omslagontwerp in die semantiese spel en hoe maak jy vrede met die kompromieë wat gemaak moet word wanneer sakebelange en artistieke visie bots?”

Vir Cas is ’n bundel as geheel ’n kunswerk, ’n skeppingsdaad. “Daarom is die voorblad vir my nie net maar ’n oogvanger nie. Dit is deel van die bundel. Die voorblad gee die leser ’n blik op wat hy/sy kan verwag. Dit dra by tot die verstaan van die gedigte. Dis ’n hermeneutiese sleutel. Maar ook omgekeerd: die gedigte kyk elke keer terug na die omslag. In die geval van Intieme afwesige wou ek ten alle koste die smoke drawing van Diane Victor op die voorblad hê. En glo my dit het nie sonder slag of stoot gegaan nie. My uitgewer het begrip gehad vir ’n waansinnige digter. Maar gode sy dank, nou kan die omslag ’n inslag hê op die gedigte. Weerloosheid, afwesigheid, eensaamheid, broosheid en verdriet hink deur die bundel. En die voorblad wil die leser help om dit raak te sien.”

Uit die aard van sy beroep word Cas dikwels gesien as deel van die religieuse “tradisie” in die Afrikaanse poësie van Cloete, IL de Villiers en Totius. Vir Johann de Lange sluit Cas se poësie nie aan by die mistieke eienskappe van Cussons nie en ook nie by die meer sekulêre aard van IL de Villiers se poësie nie. Daar is vir De Lange ’n groter aangetrokkenheid tot beide die Oosterse en die Westerse tradisies.

Cas voel nogal ongemaklik om homself as deel van enige religieuse “tradisie” te sien. “Dis die etiket van teoloog-wees wat al dié misverstande wek. Natuurlik put ek uit die rykdom van die Antieke wêreld. Ek is dus geen apologeet nie, eerder ’n saboteur. Hiermee bedoel ek dat ek eerder religieuse tekste, in soverre hulle in my bundel voorkom, dekonstrueer. Ek doen dit om saam met eietydse mense te worstel met die raaisels en misteries van die lewe. Voorbeelde hiervan is ‘Die Here is nie my herder nie’ in Die afdruk van ons hande, en ‘Ontheemde’ in Intieme afwesige. Ek voel aangetrokke tot die Westerse én Oosterse tradisies. Albei vind neerslag in van my gedigte. Só ’n benadering maak my oop vir groter wêrelde. Ek dink ons weet so min van die rykdom van veral die Oosterse wêreld.”

Johann de Lange meen Cas se poësie is nie net aan die tegniese kant meer konvensioneel met ’n sterk fokus op vorm, klankbinding en beelding nie, maar daar is ook ’n baie besliste spel met ander digters. Daar is ook verse oor ander kunstenaarsfigure, kunswerke uit die skilderkuns en musiek, reisverse waaruit die digter se liefde vir reis spreek, uitgebreide verwysings na die mitologie en geskiedkundige persone, en verwysings na die Bybel. 

“Hierdie opmerkings raak die hart van my siening van en omgaan met poësie,” was Cas se reaksie op De Lange se uitsprake. “Jou tipering van die landskap en kleur van my verse is só akkuraat. Die steun op die meer konvensionele vers beteken nie dat dit ’n keuse vir geyktheid of bleekheid is nie. Wel vir ’n vorm, ’n patroon. Hiervan is die skilderkuns ’n uitnemende voorbeeld. Diane Victor se smoke drawings het steeds ’n vorm (’n gesig), kyk net wat doen sy met die vorm. Dis amazing. Dit is wat binne die vorm aangaan wat saak maak. Die vorm hou eintlik die perde (metafore, mites, simbole) in toom. Anders ruk alles handuit. Anders gesê: kreatiwiteit en varsheid kan net soos ’n vis in water in ’n vorm lê. In die vorm is daar ook asem, ’n vertelling.

“Die intertekstuele spel is ’n noodwendigheid. ’n Mens moet met jou voorvaders en tydgenote kan gesels. En soms ’n hand uitreik. Want hulle verryk jou eie gedigte. Die Antieke tekste is vol van intertekstuele spel. Ek dink aan die Hebreeuse, Assiriese, Babiloniese, Persiese, Griekse en Latynse poësie, om net ’n paar voorbeelde te noem. En hedentyds wemel dit daarvan. Intertekstualiteit is soos systrome wat invloei in die groot rivier van ’n gedig. Hiervoor is ek nie skaam nie en vra ek nie om verskoning nie. Ander kunsvorme boei my en het ’n invloed op my gedigte. Ek kan my nie ’n lewe sonder musiek en skilder voorstel nie. Dit roep by my klanke, ritme en beelde op. Historiese verwysings kom dikwels in my poësie voor. Die geskiedenis is ’n tradisie. Bybelse verwysings is ook eie aan my gedigte. Net nie te veel tekste nie asseblief! Die vraag wat die leser moet vra is: wat maak ek daarmee?” 

Daniel Hugo (Beeld, 7 Desember 2009) is van mening dat Cas Vos in wese ’n romantikus is. “Dit blyk uit die persoonlike liefdesgedigte met hul rose, rooiwyn en druppende vye. Verder kom die woorde ‘wind’, ‘skaduwees’, ‘skemer’ en ‘droom’ deur die hele bundel voor. Dit skep, benewens versbinding, ’n wekerige romantiese sfeer wat veral in die digreeks oor Abélard en Héloïse die uniekheid en wrangheid van hul verhaal verdoesel. Vos kan pragtige beelde skep, selfs met die oorwerkte woord ‘skaduwees’/‘skadu’s’: ‘Die aand word ’n veilige hawe/ waar skaduwees vasgemeer is’ en ‘Ek moet huis toe gaan/ voor die skadu’s begin lek / en in die pad plasse maak’.

“Tog loop hy die gevaar om in clichés en teatraliteit te verval, soos in dié strofe uit ‘Afskeid’: Oë is geswel van verdriet,/ die stem skor van jammerklag/ vingers stram gewring. Intieme afwesige is ’n boeiende bundel gedigte met ’n ryk verwysingsveld. Dit is, ondanks my stilistiese beswaar, ’n waardevolle toevoeging tot Cas Vos se groeiende oeuvre.”

Cas vertel aan Neels Jackson (Beeld, 29 September 2009): “Ek het aan die begin nog op emosionele impulse geskryf het, maar deesdae is dit baie meer – ek lees op en doen navorsing voordat ek skryf.”

Neels Jackson skryf: “Een van die kenmerke van sy poësie is die vars metafore waarmee hy vorendag kom, soos in die reël ‘Die maan is ’n kloppende sweer.’”

Cas verduidelik dit so: “Dis omdat ek in prentjies dink, maar hoewel iets daarvan altyd in my was, het ook dit gegroei. Aan die begin was daar te veel uitgedinkte, gedwonge beelde, maar nou kom dit spontaan, soos asem. Wat ek wel met elke beeld doen wat by my opkom, is om deeglik daarna te kyk om seker te maak dat dit logies is én dat dit wel vars is. En as ek ’n gedig skryf, voel dit vir my soos ’n geboorte – en net daarna voel dit of ek nooit weer ’n gedig sal kan skryf nie.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 12 Januarie 2010) vind dat die bundeltitel, Intieme afwesige, as motief oral in die gedigte geëggo word om die bundelsamehang te beklemtoon. “Trouens, ’n mens kry naderhand ’n indruk van effense oordaad in hierdie verband. ’n Klompie beeldtroebelhede is aan te stip in Intieme afwesige, plek-plek ook seggingsgesogthede, oortollighede (soos ‘die weemoed van verdriet’) en enkele ander styllomphede. Daar is egter ook heelparty beeldvondste, treffende verlewendigings van geykte segswyses en behendige hantering van klank en verstegniek.

“Word die optel- en aftreksomme gemaak, bly ’n verstewigende bydrae tot Vos se oeuvre oor. Stilisties en vormlik ewenaar Intieme afwesige egter nie die peil van sy voorganger nie.”

In ’n e-pos skryf TT Cloete: “[E]k dink dit is jou heel beste bundel, en bowendien baie mooi uitgegee. Daar staan werklik pragtige dinge in.”

Marthinus Beukes skryf in Tydskrif vir Letterkunde 47(1), 2010: “’n Multidimensionele / heggekonstrueerde / meervlakkige bundel is ’n leeslekkerte. Vos se vyfde digbundel, Intieme Afwesige, word vanaf die bundelomslag tot die laaste gedig, ’n magnum opus wat my as leser boei en geboei het.  (...)

“Met Intieme Afwesige het Vos daarin geslaag om afwesigheid en verlies op talle bestaansvlakke in ’n deurgekomponeerde bundel gestalte te gee.”

In 2010 het Leon de Kock hierdie gesprek tussen Abélard en Héloïse voortreflik vertaal. Die bundeltitel is: Intimately absent. Oor die vertaling skryf Martin Goodman, direkteur van die Philip Larkin Centre for Poetry and Creative Writing: “It’s a powerful book.”

Seker een van die vermaaklikste akademiese opstelle in Afrikaans, en een wat telkens soos ’n stout grap deur die kubberruim aangestuur is, is “Die unieke Afrikaanse ‘fok’” geskryf deur die oorlede taalkundige Johan Combrink. Dit was dié stukkie skrywe wat hom finaal oortuig het om in te stem vir die vertaling van Adam Mansbach se Go the f*ck to sleep, sê Cas Vos.

Vos, digter en afgetrede dekaan van die fakulteit teologie van die Universiteit van Pretoria, moes bontstaan om vrae van joernaliste te beantwoord toe dit bekend geword het dat hy die man agter die Afrikaanse weergawe van dié prenteboek-fenomeen is. F**ken gaan slaap is uitgegee deur Penguin.

Hy het die Engelse weergawe al gesien en gelees en dit baie vermaaklik gevind, sê die oupa van een.

Go the f*ck to sleep, wat as ’n slaaptydboek vir moeë ouers beskryf word, het ’n uitgewersfenomeen geword toe ’n vierde oplaag aangevra is nog voordat dit amptelik op die rak was. Daar is ’n ewe gewilde oudioboek met Samuel L Jackson, en die fliekregte is aan Fox 2000 verkoop.

Dis sy rol as digter wat die keuse op hom laat val het, glo Vos, maar sy rol as oupa wat hom die beste daarvoor toegerus het. Hy verstaan daardie uitgeputte pa se desperaatheid wat hy in kwasikinderlike kwatryne weergee.

“Maar dit is wat prof Combrink oor die f-woord geskryf het wat my die meeste met die vertaling gehelp het. Combrink het onder meer geskryf dié woord is een van die interessantste en kleurvolste woorde in Afrikaans, en een van die min woorde wat die funksie van byna alle woordsoorte kan vervul,” sê Vos.

“Ons is geneig om sekere woorde net tot vloekwoorde te beperk. Woorde is egter veel méér as net vloek. Ek het nogal aan dié woord gedink om my moedeloosheid en teleurstelling uit te druk toe my span in die Curriebeker finaal gaan staan en verloor het! Volgens Combrink is die f-woord ’n towerwoord wat, bloot deur sy klank, vreugde of pyn, liefde of haat, ontdekking of frustrasie kan weergee.

“Die prenteboek bevat veertien kwatryne, wat elk uit drie sagte reëls bestaan voordat die vierde reël voor jou oë ontplof. Vir my was die vraag: Waarom is die vierde reël sonder sterretjies nodig? As dit net om sensasie en skok gaan, is dit sinloos. Die bedoeling van elke kwatryn is egter om die frustrasie van ’n pa uit te druk. Maar dit gee boonop plesier aan die leser om te sien hoe vindingryk die ouer met homself kan praat. Daarom dat ek dié boek as ’n kinderboek vir ouers sien – een met humor en satire.”

En wie sou hy wou hoor in die Afrikaanse oudioweergawe van versies soos hierdie?

Die wind fluister deur die gras, soetlief.
Die veldmuise skuil piepstil by die wal.
Agt en dertig minute is reeds verby.
Ag, fokkert! Kyk hoe laat is dit al.

“Net een,” sê Vos, “Dawid Minnaar.”

In 2011 is sy vorige vyf bundels opgevolg deur ’n keur uit sy gedigte, waarvan sommige geredigeer is. Die bundel is ook aangevul deur ’n aantal nuwe verse en kortliks ingelei deur Johann de Lange, onder die titel Duskant die donker, en uitgegee deur Protea Boekhuis. Die versameling word as ’n aantreklike dubbeldis aangebied, want teenoor elke gedig staan die Engelse vertaling deur Leon de Kock wat ook Cas se vorige bundel Intieme afwesige gedeeltelik in Engels as Intimately absent (2010) uitgegee het.

Oor Cas Vos se gedigte skryf Zandra Bezuidenhout (Die Burger, 18 April 2011) dat Vos se digkuns tot sy reg kom wanneer hy suggestieryk te werk gaan. “‘Koms van die kraanvoëls’ is vanweë die beelding, die sfeer van onuit­gesproke onheil en wisselende ritmiek een van die bundel se bestes. Sodra die digter toegee aan die verleiding van te veel besonder­hede, oorbekende taalgebruik en die verklaring van beelde (soos in die beskrywende ‘Ondergang’), word die segging te direk om die ­leser te ontroer. ­Nietemin is daar soveel positiewe ­aspekte in elke vers dat Vos se ­neiging tot ­na­druklikheid dalk nie alle lesers sal hinder nie.

“Temas wat aan bod kom, is die persoonlike belewenis van die ­liefde, die digtersaktiwiteit en die kunste in die algemeen. Soos van ’n pas afgetredene verwag kan word, raak hy in sy verse ook die kwessie van aftakeling aan. Van antieke tekste tot hedendaagse figure word betrek en die aanslag wissel van nadenke tot sintuiglikheid, waardeur ’n prikkelende verskeidenheid ­gedigte tot stand kom.

“Die ­algemene leser sal genot hê aan Vos se gevoelige skryfstyl, wat ­beskryf kan word as vormbewus met elemente van die vrye vers. Om dit in Engels te herskep was De Kock as digter en bekroonde vertaler goed toegerus. In ’n ­veeltalige land is dit ’n wins dat Vos se tekste nie slegs op ’n ­Afrikaanssprekende lesersgroep gerig bly nie. Die vertaling bring sy eie vondste, en sekere vertaalde gedeeltes staan self sterker as in die brontaal.”

TT Cloete (Beeld, 23 Mei 2011) skryf tereg dat aangesien die gedigte in Duskant die donker bekend is en reeds geëvalueer is, die primêre doel van die bundel dus die vertaling van die gedigte is. “Die vertalings is goed gedoen en vergemaklik dit soms die leesbaarheid van Vos se gedigte. Dit maak die gedigte toegankliker en vereenvoudig die beeldspraak en die soms ongewone woordkombinasies soos tonglok of bibberboud, en talle dergelikes.

“Vos werk nie met gelade metafore nie,” volgens Cloete. “Sy verse is eerder direk beskrywend en sy beelde is eintlik selfverklarend. Waar die vertaler ’n vryer gang gaan, soos in ‘Villanelle for old age’, oortref die vertaling die oorspronklike. Dieselfde geld die vertaling van ‘familiekroniek’, vir Cloete een van Vos se heel beste gedigte, waaraan die vertaler reg laat geskied.

“Die liefdesgedigte, wat duidelik beïnvloed is deur ‘Hooglied’, is minder problematies as die godsdienstige gedigte. Die meer problematiese liefdesgedigte is sterker en beter, en die beste een is ‘Aan flarde’, wat in die vertaling sy waarde behou. Dit is ’n goeie bloemlesing van Vos se werk en die vertaler het daar reg aan laat geskied.”

Cas het die interaksie tussen hom en Leon de Kock, die vertaler, beskryf as: “soos twee bedmaats wat aan mekaar raak en dan is daar so ’n vonkie”. Hy voel dankbaar en  beskeie oor sy digterskap van die vorige 12 jaar. “Dis ’n ambag. Jy groei, jy verfyn, jy ontwikkel jou tegniese vaardighede.”

En ná sy aftrede wil hy hom nog meer toespits op gedigte en ander skryfwerk. “Ek wil mense plesier gee met my poësie sodat hulle die wonder van woorde kan ontdek. Ek skryf my gedigte in die eerste plek vir myself, maar hoop dat dit vir ander ook iets kan beteken.”

En soos Cas hom voorgeneem het, verskyn sy volgende bundel, Weerloos lewe, in 2012 by Protea Boekhuis.

Die leser vind in Weerloos lewe ’n hele paar temas wat ook in die vorige bundels voorgekom het: skeppingsverhale, verwerkings van mites, die geding met die dood, siekte en verval, liefdesverse, beeldgedigte en gedigte oor kunstenaars.

Vir Henning Pieterse (Die Burger, 9 Julie 2012) word daar ’n “somber en morbiede toonaard deur die bundel gevoer, maar tog mond die geheel in ’n mate in lig uit. Daar is ’n handvol gawe verse wat daarvan getuig dat Vos soms ’n suiwer toon kan slaan met ’n eie stem, maar daardie eie stem raak weg tussen ’n groot verskeidenheid ander stemme wat ingespan word in ’n poging om die gedigte te versterk. Die gevolg is ’n soort afgeleide poësie, geleende vere, wat al hoe duideliker uitstaan en beelde wat hulself al hoe sterker herhaal binne die oeuvre.”

Die titel Weerloos lewe is ontleen aan die Nederlandse digter Lucebert, wat gesê het: “Alles van waarde is weerloos.” Dit is ook die motto van die bundel en die teken waarin die gedigte in agt afdelings staan: die digter kyk met deernis na die weerloses en kwesbares en beweeg in die bundel as ’t ware van donker na lig, van die chaos van die begin van die skepping na vervulling en troos. Dit word veral gevind is menslike verhoudings, maar ook in die aanraking van die goddelike in situasies van angs, pyn en ontreddering.

Vir Dewald Koen (LitNet) is Weerloos lewe is in die geheel ’n geslaagde versameling gedigte deur ’n uiters vernuftige digter. Die bundel is tegnies goed versorg en spog met ’n indrukwekkende omslag bestaande uit ’n foto van ’n enkeling wat hom binne ’n groot uitgestrekte ruimte bevind. Die voorblad leen hom tot die titel van die bundel en sinspeel op die weerloosheid van die mens. Die gedigte oor dié weerloosheid is dan ook van die mees geslaagdes, terwyl dié oor bekendes soos Marilyn Monroe en Arthur Rimbaud minder geslaagd is.

Oor die voorblad het Cas aan Amanda Lourens (Versindaba) vertel: “Vir my is die voorblad nie net om aandag van die oog te trek nie, maar dit vorm ’n integrale deel van die bundel. Dit is as ’t ware die eerste gedig. Dit is die sleutel wat die huis oopmaak. Lida [Cas se vrou] het die foto in ’n tydskrif gesien en dadelik gesê: dis die een! Martjie het die fotograaf opgespoor, maar die foto was spoorloos. Izak het meer as twintig foto’s geneem. Die een op die voorblad wat Awie geneem het, was die naaste aan die oorspronklike, maar dit is in wese dieselfde. Die enkelfiguur, alleen, is op pad. Die mens word as eenling gebore en sal so sterf. Dit is ’n donker figuur. Dit is nogal ’n kode in die bundel. In die eerste gedig kom die spel met donker en lig aan die orde. Dis ook die gang van die bundel. Die enkeling loop met verlange en heimwee in die leegte, die oopte en die ruimte. In die verte is daar vaagweg onder mis bedek, bome, lewe. Alles lyk mistig. Dit maak die figuur met sy rug na ons toe nog meer weerloos en kwesbaar. En tog is daar die hoop omdat die son, die lig sal deurbreek en die mis sal laat wegraak.”

En oor die ontstaan van die bundel: “Ek wou van die oer(oor)sprong af met die bundel begin. My oogmerk was om digterlik na te dink oor die begin van alles. Genesis beteken geboorte. Die oorsprongsverhale het my nog altyd gefassineer. Die vraag waarmee die mens in hierdie wêreld aanland, is: Waar kom ek vandaan? Waar kom die wêreld vandaan? Hieroor het ek my nog altyd verwonder. Daar is natuurlik ’n swetterjoel antwoorde. Dis soos wildeganse wat opvlieg. Die natuurwetenskap, die teologie, die filosofie en die mens wat sonder akademiese sorge leef, vra hierdie vrae. Daar is in Genesis twee skeppingsverhale wat deur verskillende outeurs geskryf is. Ek het die twee verhale in een verhaal laat versmelt. Hoe en waarom is ’n uitdaging aan die leser om te ontdek.

“Uit hierdie ontstaan het die bundel spontaan gegroei. Die een moment na die ander het hieruit gekom. Dis was soos branders wat op die strand uitspoel. Daar was ’n wit patroon. Die begin moet na die einde loop. Skepping is in die Antieke wêreld deur onder andere die daad (eerste gedig) en die woord (slotgedig) beskryf. Ek maak ook van die siening van die skepping gebruik.”

In 2012, terwyl Cas volstoom besig was om aan sy volgende digbundel te werk, is sy skootrekenaar waarop hy gewerk het, uit sy studeerkamer gesteel. Hy was só desperaat dat hy uitgeroep het: “Ek sal nooit weer kan dig nie!”

Hy wou ’n paar dae voor die diefstal die manuskrip met die aanvanklike titel Swaels kom dié jaar later elders stoor, maar het nooit so ver gekom nie. Hy het weergawes van ’n paar gedigte op papier gehad en ongeveer 20% van die manuskrip het hy aan letterkundiges gestuur vir kommentaar, maar die res sal hy nooit kan oorskryf nie: “Ek voel soos iemand wie se tonge afgesny is,” het hy aan Neels Jackson (Beeld, 22 Junie 2012) vertel.

Maar gelukkig vir Cas se lesers het hy nie gaan lê nie. Dit het alles weer aan die gang begin kom met ’n voorstel van ’n vriend dat hy ’n brief aan die dief skryf. Hy vertel aan Neels Jackson (Beeld, 23 Julie 2012) dat hy weggetrek het en vir ses dae aanmekaar geskryf het – aanvanklik met pen en papier (in ’n handskrif wat maar moeilik leesbaar is), totdat hy ’n nuwe skootrekenaar gekry het. Hy het sy digbundel oorgeskryf en was van mening dat dit beter is as die een wat saam met die rekenaar verdwyn het.

“Brief aan die rower” was die aanloop tot ’n hele afdeling en begin met twee reëls wat die gedagtes weergee wat sy vriend voorgestel het: “Ek volg ’n spoor ’n duisend dae, só skryf ek my rower agterna.”

Die gedig het dan ook plek gekry in Cas se volgende digbundel, wat in 2013 verskyn het, Duisend dae op jou spoor, wat by Hond uitgegee is.

In ’n onderhoud met Zandra Bezuidenhout oop Versindaba vertel Cas meer oor die drieluik “My rower”: “Natuurlik roep die drieluik die inbraaksituasie in herinnering. Ek het nog gebloei na die wond toe Coenie de Villiers my uit Ciprus bel, met: 'Cas, ek en Ria is baie dankbaar dat julle nog leef. Moenie in die hoekie gaan sit en treur nie (ʼn hoekie kan maklik ’n ashoop word, soos in die geval van Job). Begin en skryf ’n brief aan jou rower.' Sonder rekenaar het ek dit met my linkerhand wat onleesbaar krap, gedoen. Ek het letterlik ses dae op papier geskryf en die gedigte later op die rekenaar oorgetik. Die pynlike en tragiese is dat die rooftog ’n opdrag van iemand was. Miskien moet die rower my weer besoek. Maar die reeks het ’n afdruk op die bundel geplaas. Dit hang soos ’n metafoor oor die hele bundel. In die derde gedig gebeur die ongehoorde (p 17). Ek vergeef die rower. Die gedig is vol humor, ironie en intertekstuele spore (dink aan die ou Halleluja-liedjie: 'As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels'). Jesus en die rower in dieselfde asem!”

Vir Charl-Pierre Naudé (Beeld, 17 Junie 2013) was Duisend dae op jou spoor ’n ietwat teleurstellende bundel wat nie sou voldoen aan die verwagtinge wat die leser van Vos verwag nie – nie net ten opsigte van die gedigte nie, maar ook ten opsigte van die publikasie. Daar is foute in die redigering wat pla en wat daarop dui dat ’n sterker hand daar aanwesig moes gewees het.

Vir Naudé is een van die eienskappe van Vos se poësie ’n “sterk ritmiese, maar informele, praatagtige styl. Hy gebruik alledaagse omgangstaal waarin selfs sleng- of gonswoorde of naamverwysings uit die populêre kultuur kan voorkom. Die kombinasie hiervan met klassieke invloed uit die volksballade of die sonnet wat hy juis op ’n on-klassieke manier inkorporeer, gee aan sy poësie ’n sekere beslag. Hy sal byvoorbeeld herhaling van frases of amperse herhalings gebruik wat herinner aan die refrein van ’n ballade, maar dan in die konteks van ’n narratief oor ’n hedendaagse verlies, of oor ’n familieherinnering binne die verband van verganklikheid in die nuwe Suid-Afrika.

“As dit suksesvol is, resoneer die kontekste gelyklopend. In die nuwe bundel skep die twee strydige geure egter meermale ’n indruk van olie en water wat nie vermeng nie, soos die verwysings na klassieke komponiste in 'Brief aan my rower' wat bots met die banaliteit van die tema.”

Daar is egter gedigte met “pragtige of geslepe reëls” in die bundel, skryf Naudé. Maar dit kan ongelukkig die gedigte in die geheel gesien nie red nie. ”Die bundel moes oorgestaan het totdat die rypheid van die aangehaalde reëls en gedigte, die bundel as geheel kon kenmerk.”

In Tydskrif vir Letterkunde (2014) is Fanie Olivier die resensent van Duisend dae op jou spoor: “Cas Vos se sewende digbundel, Duisend dae op jou spoor, bevat elemente van al daardie dinge wat reeds kenmerkend geword het van sy poësie: die geding met, en die oorgawe aan God en die goddelike, die verkenning van die klein aardse dinge (ook binne verband met die eerste), die seerheid van die dood, omgang met musiek en ander skrywers, veral ook die klassieke. En die liefde binne en rondom alles. Die bundel bestaan uit 58 gedigte, waarvan een, 'Tristan en Isolde', oor 15 bladsye loop en ’n afdeling op sy eie uitmaak. Die res van die gedigte word verdeel in ses tematiese afdelings, van wisselende omvang, terwyl die gedigte self ook strek vanaf kwatryne tot die langerige vertalings van dele uit Homeros se Die Odusseia. (...)

“Duisend dae op jou spoor is ’n goed gekomponeerde bundel wat deur kruisverwysings en herhalings ’n duidelike eenheid vorm. Deur die vertalings uit Homeros en die Tristanteks(te) verruim Cas Vos die Afrikaanse poësiewêreld en bevestig hy hoe letterkundes by mekaar aansluit in ’n spoor wat oor duisende jare loop. Aan die ander kant is daar egter te min gedigte wat as poësie bly staan: ongemotiveerde rymsegmente (dis nie die verskynsel nie, maar die wyse waarop), formulerings wat te bekend is, stellings eerder as ver-beelding, en te veel ritmiese storings binne die praat- of vrye vers waarvoor die digter kies. Dalk moet die digter met meer huiwering omgaan met sy gedigte: sewe bundels in veertien jaar is besonder produktief, maar kan ook in die teken staan daarvan dat dinge net te maklik kom. (...)

“En terwyl ek geweldig dankbaar is dat Tienie du Plessis se Hond weer begin blaf op die Afrikaanse uitgewerswerf, is die vraag of hierdie bundel by ’n ander gevestigde uitgewer kans sou gestaan het. Altans so, sonder deeglike redigering. Daar is te veel dinge in Duisend dae op jou spoor wat afbreuk doen aan ’n goed gevestigde oeuvre, te min dinge wat ’n mens by die lees tot stilstand ruk.

“Maar vir iets soos die volgende kan jy tog baie vergewe:

Vroeg torring die dag se nate los
en sien ek die skepping se letsels:
Berge met boggelrûe,
bome met hangskouers.
Die wind se bors is vol slym (38).”

In 2015 verskyn Cas se negende digbundel by Protea Boekhuis onder die titel Voor-bode. Die leser word reeds deur die bundeltitel voorberei op die belangrikste temas van die bundel, naamlik ”onheil en boodskappe/boodskapper”, skryf Elbie Adendorff op LitNet.

“’n 'Voorbode' is ’n onverklaarbare gevoel van onheil wat dikwels deur mense as ’n bonatuurlike verskynsel ervaar word. Dit is ook ’n voorteken, ’n voorspelling. Maar 'voor-bode' verwys tweedens na eerste draers van boodskappe of die 'voorste' bode wat daar is.”

In Voor-bode is daar 124 gedigte wat in sewe afdelings ingedeel is. Vos se Christelike gedigte kom veral in die tweede en die sewende afdelings voor. Vir Adendorff kon die inhoud van die bundel baat gevind het by die snoeiskêr wat beter ingelê kon gewees het sodat die belangrikste temas, asook  die minder belangrikes, beter uitgelig kon word.

Daar is ook etlike vertalings van werke van die Griekse digters Konstantinos Kavafis en Giorgios Seferis in Voor-bode. Hulle verskyn nie in ’n aparte afdeling nie, maar is verweef tussen Vos se eie gedigte – “wat ’n ander dimensie van intertekstualiteit en ’n wyer wêreldbeeld aan die gelokaliseerdheid van Vos se gedigte bied. So maak die Afrikaanse leser kennis met hierdie Griekse digters. Verdere kennismaking vind plaas in die aantekeninge wat Vos agter in die bundel opneem. Sodoende word ’n ander historiese en kulturele wêreld aan die Afrikaanse leser bekendgestel.”

In Voor-bode raak Vos ook betrokke in ’n intertekstuele gesprek rondom die digkuns en kreatiwiteit. In hierdie gedigte verwys hy na Mozart en digters soos Keats, Cussons en Yeats. Vir Adendorff staan die gedig “Voor-skrywers” uit. Hierin lewer die digter ’n tipe huldeblyk aan Afrikaanse digters soos Van Wyk Louw, Peter Blum, IL de Villiers en Marlene van Niekerk. In die laaste strofe belig hy sy eie plek in die Afrikaanse digkuns.

Vos gebruik ook eietydse gebeure in Suid-Afrika en die res van die wêreld as inspirasie vir sy poësie – veral in gedigte soos “Marikana”, “ISIS” en “Mespunt” – laasgenoemde oor die afskiet van ’n vliegtuig in die Oekraïne. Adendorff beskou die bundel as ’n “moet-lees” vir diegene wat lief is vir poësie.

Net soos kritici gemeen het dat ’n sterker redakteurshand nodig was by die keuring van die inhoud van Duisend dae op jou spoor, meen Bibi Burger (Volksblad, 16 Mei 2016) dat dit ook met Voor-bode moes gebeur het. “Die vernuwende en meesleurende gedigte word omring deur swakkeres en word belemmer deur enkele lastige geykte en sentimentele frases.”

Vir Burger was die strategie om die vertalings van gedigte tussen Vos se eie gedigte te plaas, interessant: “Aan die een kant beteken dit dat, soos Bernard Odendaal beweer in sy resensie op Versindaba, Vos se gedigte sleg vergelyk met die subtiliteit van veral Kavafis se werk. Aan die ander kant beteken dit dat ’n interessante gesprek plaasvind tussen die verskillende digters se werk.”

Cas se volgende digbundel, In ’n oomblik, verskyn in 2017 by Naledi. En vir Joan Hambidge (Rapport, 12 Februarie 2017) is die belangrikste bydrae van hierdie bundel die herdigtings van Kavafis en Seferis se poësie.

Terwyl daar ander Afrikaanse digters is wat hierdie digters al na Afrikaans getransponeer het (Johann de Lange, Hambidge self, Uys Krige en Dian Joubert), het Cas Vos die voordeel dat hy direk uit die oorspronklike Grieks kan vertaal.

Maar, skryf Hambidge, “steeds moet ’n gedig egter in die nuwe taal as gedig oortuig. Dit gebeur oortuigend in 'Die siele van die ou mans'. Die bundel bevat belangrike endnote oor die digters wat vertaal is en Auden se bekende uitspraak oor die probleme rondom vertaling.

“Volgens Auden kan interne alliterasie, vergelykings en metafore behou word; liriese komponente, homofoniese assosiasies, en ritme staan aan die verloorkant. Vos se kennis van Grieks kom nuttig te pas en die vertalings van hierdie twee digters is ’n bydrae tot die vertaalkuns wat veral deur MM Walters geboekstaaf is as redakteur van puik bloemlesings.”

Maar Hambidge het voorbehoude wanneer dit by Vos se eie belewenisse kom. Vir haar kom die “ou hebbelikhede” weer na vore: “sentimentaliteit, lawwe beelde, gedigte wat tegnies en dus nie vormlik afgerond is nie, rymdwang, verkapte prosa, woordoordaad, die verhewe aanslag, ensomeer [sic]. (...)

“Die lofuiting vir hierdie bundel wat verwys na sonderlinge poëtiese vondste (in die publisiteitsnotas), oortuig nie. Die kritiek het nou al by herhaling sekere mankemente uitgewys en ’n mens wil nie hamer op dieselfde besware nie. Dis net jammer dat iemand met soveel kennis van die klassieke, verval in ’n bundel wat nie deurgekomponeer is nie. (...) Daar is net te veel verspeelde kanse en gedigte wat nie verby ’n eerste uitgawe kom nie. Hierdie gedigte is lekkende siwwe soos die digter iewers oor sy niere skryf.”

Ook Tom Gouws het op Versindaba sy bedenkinge oor In die oomblik uitgespreek: “Op die keper beskou gaan dié laatwerk van Cas Vos totaal mank aan wat iemand soos Martinus Nijhoff misère genoem het. ’n Tema soos hierdie vra ’n beslaggewing van wat Derrida en Kristeva met melancholia bedoel het, of wat Friedrich Schelling Schwermut noem, maar dié denkmodus of perspektief ontbreek grootliks. Wat Vos wíl vasvang in woorde word nie deur ’n gedrae emosionele diepgang gevoed nie.

“Die agterblad van die digbundel beslaan ’n uitvoerige stukkie teks deur die uitgewer, hopelik nie die keurder nie, wat Vos se bundel en werk probeer takseer. Ek is oorgevoelig oor hierdie tipe bemarking, want dit kan maklik ’n albatros om ’n bundel se nek wees. In hierdie geval is dit grootliks die geval. Die agterplat is swak en ondeurdag geskryf, en veral die gebruik en toepassing van literêre terme doen vreemd en meganisties aan:

“'In ’n oomblik' toon die hand van ’n ervare digter wie se poëtika reeds gevestig is in terme van temas en tegnieke. Die digbundel verteenwoordig ’n voortsetting van dié aspekte van Vos se digkuns waarvoor hy reeds lof verdien het. Op tegniese vlak is daar veral sy baie effektiewe gebruik van ’n onpretensieuse toon wat dikwels sonderlinge poëtiese vondste oplewer. ’n Voorbeeld hiervan is die nuutskepping ‘die slinkshandige’. Tegniese vernuwing vind ook plaas deur die aanwending van die epiese gedig en die tersine. Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om ’n langdurige ongeluk en operasie poëties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns.

“Tydens die reis kom daar fel en verskillende emosies en ervaringe na vore. Dit word alles met die leser gedeel. Die tematiese nuutheid en aktualiteit van die bundel blyk uit die digterlike uitbeelding van die menseslagting op 13 November 2015 in Parys en vlugtelinge uit Sirië se bootreise na ’n heen­kome. In die bundel kom daar diep emosies na die oppervlakte. Alles gebeur in ’n oomblik. Op die lewensreis word verskillende emosies ervaar: lig en donker, liefde en ongeluk, geboorte en die na-lewe. Die tema van verganklikheid en ouer-word is sentraal in die bundel. Die lewensreis is ook ’n taalreis. Daarom word die taalgesprek, in ’n boeiende saampraat met Konstantinos Kavafis, poëties uitgedruk. Op die leefreis is daar ook verlies. Hier kom Cas Vos se vertalings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se Griekse gedigte aan die [sic] bod. Die reis eindig egter nie in wan­hoop nie, maar met uit-sig.

“Die bundel word geen guns gedoen met hierdie soort slordige skryfwerk nie. ’n Mens sou ’n lang essay kon skryf oor die uitgewer se twyfelagtige uitsprake, lomp formulerings en gebrekkige styl soos dit hier uitgestal word. Trouens – ek meen Naledi het die digter grootliks gefaal om nie enigsins hierdie teks noukeurig af te rond nie. Daarvan getuig ook die onaanvaarbare hoeveelheid taalfoute wat in die bundel voorkom. (...) Dit pla baie as daar byvoorbeeld in die aantekeninge staan: '’n Meester soos Kafavis stel hoë eise van die vertaler.' [sic]. En ook: 'Sy gedigte is deurdring van die antieke wêreld.' [sic].

“Nadat ek hierdie digbundel ’n paar keer gelees het, en ook weer my vorige resensie van ’n Cas Vos-teks onder oë geneem het, het ek aan hierdie woorde gedink wat in sy bundel Voor-bode, in die gedig: ‘’n Ou man’, staan:

... Elke ver-
speelde oomblik
tart nou sy sinlose wysheid ...

Hier is in dié bundel helaas te veel verspeelde oomblikke.”

Tussen al sy eie digwerk het Cas ook tyd gekry om van 2014 tot 2018 werke van Homeros en Dante Alighieri in Afrikaans te vertaal en te laat publiseer. In onderskeidelik 2014 en 2015 word Fragmente uit die Ilias (Protea Boekhuis) en Fragmente uit die Odusseia (Cordis Trust) uitgegee.

Oor sy fassinasie met Homeros en veral die Ilias vertel Cas aan Gerda de Villiers (TEO) dat Homeros hom nog altyd bekoor en aangetrek het. “Die eerste keer wat ek van Homeros gehoor het, was toe prof Adrianus van Selms, by wie ek Hebreeus geleer het, groot dele van Homeros uit sy kop opgesê het. Dit het ’n blywende indruk op my gemaak. Toe ek ontdek dat die Ilias ’n afdruk op soveel Nobelpryswenners gemaak het, het ek van die gedigte, veral dié van Konstantinos Kavafis uit Grieks vertaal. Ek het toe besluit om Fragmente uit die Ilias te vertaal. Die rykdom Griekse metafore was net ’n te groot versoeking vir ’n digter.

“2014. Honderd jaar gelede het een van die bloedigste oorloë in menseheugenis hekatombe op hekatombe in die veldere van Vlaandere gevul. Daar is altyd redes vir oorlog. Maar die mens wat sy lewe verloor, wat liefhet en ly en stink van vrees, word te maklik vergeet. Dit is ook die hartslag van Homeros se epiese gedig, die Ilias. Die lieflike listige Helena word deur Paris na Troje ontvoer, en die hel is los. Die leser maak kennis met wraak, haat, liefde en begeerte, vriendskap en deernis, hubris van heersers en die dood van mense. Daar is ’n menigte twistende gode wat mense se diens en offers vra en hulle swakhede uitbuit. Die skrikwekkendheid en afsku van oorlog het nie opgehou nie. Dink net ’n oomblik aan die Oekraïne en Sirië. Mense word onthoof (letterlik en figuurlik). Gode is steeds onder mense bedrywig. Die Ilias herinner ons aan die grondmetafoor van ons bestaan, naamlik stryd (om oorlewing). 

Cas moes eers die lang epiese gedig onder die knie kry, vertel hy aan De Villiers, en dit was moeilik. Hy het letterlik met die Ilias  onder sy kopkussing geslaap. Vanselfsprekend was dié een groot uitdaging om “Grieks te leer om Afrikaans te praat. Ek wou dit ook in digvorm doen.” 

Dit het veroorsaak dat hy ’n soektog op tou moes sit na woorde, idiome en digterlike vorme in Grieks. “Die wins en opwinding is dat die Griekse teks in die vertaling ’n nuwe lewe kry, ’n ander vorm sonder om die metafore van die Grieks prys te gee. Vertaling van die Griekse teks moet die wêreld en skatte van die bronteks vir die leser nader bring sonder om dit te verinheems na die bekende tyd en plek van die leser.

“Verder wou ek die verhaallyn behou. Ek het fragmente gekies wat die verhaal laat vloei en waarin die hoofkarakters soos Achilles, Agamemnon, Helena, Andromache, Paris, Hektor, Hephaistos, Menelaos, Patroklos en Sarpedon voorkom. En dan is daar ook nog die gode, Zeus, Hera, Apollo, Poseidon en Hermes, wat met mense se koppe smokkel en in die oorlog kant kies. Vir die Trojane of vir die Grieke. As die gode eers inmeng, spat die vonke. Hera vra Slaap om Zeus te bedwelm sodat sy liefde met hom kan maak. Verbeel jou die stuitigheid!

“JPJ van Rensburg het 62 jaar gelede die Ilias en Odusseia in Afrikaans vertaal. Dit was ’n letterlike vertaling, woord vir woord. Die poëtiese krag gaan egter verlore. Sy vertaling was veral om didaktiese redes belangrik. Ek wou dit nie so doen nie.

“Ek het ’n proloog en epiloog geskep. Strofes uit die proloog maak dit duidelik waaroor die Ilias gaan:

In dié verhaal word die aarde met bloed versadig;
mense en gode sal hulle in haat en afguns verlustig.
Elke dag sal ’n treurende wond wees –
o gode, oorlaai die Trojane tog met vrees.
Gode sal in paleise wyn in goue bekers skink
en laggend, dansend tot die son sy kop lig, drink.
Dit alles word vertel met die klankweelde
van Grieks, wewer van nuwe woordbeelde.

“In die epiloog het ek ’n gedig van Kavafis oor Sarpedon se begrafnis uit die Grieks vertaal. Ek het ’n gedig oor Helena geskryf. Ons kan Helena tog nie vergeet nie.”

Op Netwerk24 (6 November 2014) vertel Cas Vos aan Willem de Vries dat die mens sonder Homeros arm is. “Die twee groot eposse van Homeros word allerweë as tydlose tekste beskou, tekste wat vandag nog deur almal gelees behoort te word. Die groot invloed van Homeros op die Atheense en in die algemeen op die Griekse paideia (opvoeding) was sonder teëspraak. Soos die slagspreuk van uitnemendheid wat deur die Ilias geïnspireer is: 'Mag jy altyd uitmunt en bo almal uitstyg.' Hierin kan Homeros die leser help.”

Op die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit se webwerf skryf Susan Smith dat Vos met hierdie vertaling die wêreld van die klassieke letterkunde vir die leser oopmaak. ”Vos se teks is egter soveel meer as ’n vertaling. Dit is ’n omdigting van die oorspronklike teks waarin die leser nie net die gedigte self nie, maar ook ’n besinning kan vind oor die prosesse wat betrokke was by die vertaling.

“Voorts maak Vos die verse toeganklik deur ’n inleidende hoofstuk waarin hy waardevolle konteks vir die tekste verskaf, byvoorbeeld die wêreldwye invloed van Homeros se werke, kwessies oor outeurskap, die plek van die Ilias en van Homeros in die Afrikaanse poësie en die wát en hóé van die Homeriese versmaat. Ook die verhaalagtergrond word ingevul, wat die werk uiters toeganklik vir die leser maak. Al hierdie navorsing word vergesel van bronnelyste wat dit vir die speurende leser moontlik maak om self verder te delf. (...)

“Met hierdie bundel lewer Vos ’n besonderse bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en, in sy eie woorde, is 'Afrikaans ’n vasmeerplek waar die Griekse skip met sy Ilias aan boord ’n tuiste op Afrikaanse bodem kan vind' (bl 39).”

In sy bespreking van Fragmente uit die Odusseia skryf Chris van der Merwe op LitNet: “Tereg haal die vertaler die bekende spreuk aan: 'traduttore, traditore' (vertaler, verraaier). Want dit is onmoontlik om in ’n vertaling die oorspronklike teks presies weer te gee, en elke keuse wat ’n vertaler maak, mag wel winste oplewer, maar gaan onvermydelik met verliese gepaard. Dit is ook die geval met die keuses wat Vos gemaak het. Ek het sy vertaling van fragmente uit die Odusseia  met die volledige, brongetroue vertaling van JPJ van Rensburg vergelyk om die winste en verliese van die twee teenoorgestelde benaderings te probeer peil. Elkeen het sy voor- en nadele, maar Van Rensburg se vertaling kom myns insiens die beste af in hierdie vergelyking. (...)

“Cas Vos se vertaling is moontlik meer leesbaar as Van Rensburg s'n, maar sy vrye omgang met die bronteks bring besliste verliese mee. Hy strewe daarna om die vertaling in ʼn toeganklike Afrikaans weer te gee, maar om tegelyk die verhewe Griekse sfeer te behou. Dit lei myns insiens soms tot stylbreuke. (...) Om die ontwikkeling van die verhaal te versnel, word ’n hele aantal gedeeltes verkort of uitgelaat; dit lewer sekere winste op, maar soms is daar ook ’n verlies aan dramatiese krag. (...) ’n Veel groter probleem met die vertaling van Vos is dat verkorting van die bronteks dikwels lei tot onduidelikhede en onjuisthede. (...)

“Samevattend: Die inleiding tot Casper Vos se vertaling is insiggewend, maar die vertaling self sou baie baat gevind het by ’n groter noukeurigheid en ’n groter respek vir die bronteks.”

Haar bespreking van Cas se vertaling van La Divina Commedia van Dante sluit Gerda de Villiers hiermee af: “Digters wat hulself aan ’n vaste rymskema en ritme bepaal, loop altyd die gevaar om in rymdwang te verval: Cas Vos doen dit beslis nie. Die goddelike komedie is vars en nuut, hoogs leesbaar en die keuse van woorde is oorspronklik en sensitief. En uit die bespreking hierbo, is dit duidelik dat die mistieke ervarings van Dante behoue gebly het. Die subtiele sinspelings op Afrikaanse mistieke digters, soos Cussons, is besonder kunstig gedoen. Alhoewel dit nie ’n letterlike vertaling van La Divina Commedia is nie, bly Vos tog getrou aan Dante, maar nuanseer hom op ’n eietydse wyse. Die goddelike komedie slaag uitmuntend daarin om La Divina Commedia uit die Middeleeue te gaan uithaal, en dit lewendig en in Afrikaans in die 21ste eeu te laat sing.” (Gaan hier vir ’n volledige bespreking.) 

Marlies Taljard resenseer op Versindaba Cas se vertaling Il Paradiso van Dante Alighieri en sy sluit af: “Nou kan die leser dalk vra in welke mate die antieke teks nog tot die moderne mens spreek. In eerste instansie moet verstaan word dat die Divina Commedia nie in eerste instansie ’n spirituele teks wou wees nie. In die verhelderende aantekeninge wys die skrywer daarop dat die gedig '’n getuienis van Dante se politieke betrokkenheid' is. Destyds, net soos nou, was politici korrup – ook die Kerk se amptenare. Pous Bonifacius VIII was die teiken van Dante se kritiek, veral in die Inferno. Met die Paradiso wou hy die volmaakte staat op aarde uitbeeld aan die hand van die hemelse heerlikheid. Sy argumente is vandag nog net so geldig soos destyds en sy beelde, voorstellings en ervarings nog net so aangrypend. Uit Canto XI kom die volgende strofes wat net sowel vir ons omstandighede geskryf kon wees:

O dwase ambisie en eersug van ’n sterfling,
hoe ydel is die retoriek wat meebring
dat julle vlerke jul tot afwaartse vlugte dwing!
Een soek aforismes op, ’n ander die wet,
ander weer heers deur geslepenheid en geweld,
nog ’n ander gebruik vir selfgewin gebed,
deur plundering of deur onheilige weë;
en hunker steeds na die vlees se genieting,
terwyl ’n ander hom tot ledigheid oorgee.

Hierdie kundige vertaling waarin die vertaler daarin slaag om die gees van die antieke gedig aan ’n Afrikaanse gehoor oor te dra, behoort op die boekrak van enige ernstige Afrikaanse leser te pryk.” (Hier is die volledige resensie.)

In 2017 ontvang Cas die Orde van die Goue Pen van die Cordis Trust vir sy uitnemende bydrae tot Afrikaans deur die teologie, die digkuns, die Liedboek van die kerk, vertalings van fragmente uit die Ilias en die Odusseia, La Divina Commedia en sy poëtiese en insigryke perspektiewe op die Psalms in God die groot digter.

Publikasies:

Publikasie

Anderkant die graf: wat ons weet van die lewe ná die dood

Publikasiedatum

1987

ISBN

(sb)

Uitgewers

Wellington: Bybelkor

Literêre vorm

Lidmaattoerustingsprogram

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Op soek na die sin van die lewe

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798705183 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Orion

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

God is ons lyding. Saam met Julian Müller

Publikasiedatum

1990

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Orion

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Menswaardig. Saam met Julian Müller

Publikasiedatum

1994

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Orion

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die volheid daarvan. Deel 1 en 2

Publikasiedatum

1998

ISBN

 

Uitgewers

Pretoria: RGN

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Andrew Murray-prys 1999 Pieter van Drimmelen-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2001

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Vuurtong

Publikasiedatum

1999

ISBN

1868921077 (hb)

Uitgewers

Clubview: Benedic Boeke

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gode van papier

Publikasiedatum

2001

ISBN

191982538X (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Enkeldiep

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190378 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Theopoetry of the Psalms

Publikasiedatum

2005

ISBN

9781869190989 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Koreaans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Hand vol wind: die stem van die Prediker

Publikasiedatum

2006

ISBN

9780796305282 (sb)

Uitgewers

Wellington: Lux Verbi BM

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefde is die grootste: oor erotiek en seksualiteit. Saamgestel saam met Dirk Human

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781860191603 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Seksualiteit

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die afdruk van ons hande

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781869191771 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hoe kan ek jou laat los? God se liefde vir wegloopmense in Hosea

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780796307491 (sb)

Uitgewers

Wellington: Lux Verbi BM

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die genesing van herinneringe. Saam met Daniël Veldsman

Publikasiedatum

2008

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Populêre sielkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

God in ’n kantelende wêreld. Redakteurs Cas Vos en F Gerrit Immink

Publikasiedatum

2009

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Intieme afwesige

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781869191771 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Leon de Kock 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duskant die donker / Before it darkens. Met vertalings deur Leon de Kock

Publikasiedatum

2011

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Weerloos lewe

Publikasiedatum

2012

ISBN

 

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duisend dae op jou spoor

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781874969198 (sb)

Uitgewers

Johannesburg: Hond

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dáárom glo ek!

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780864877741 (sb)

Uitgewers

Wellington: Bybel Media

Literêre vorm

Godsdienstige lektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voor-bode

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781485305422 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

God die groot digter

Publikasiedatum

2016

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Cordis Trust Publikasies

Literêre vorm

Godsdienstige lektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In ’n oomblik

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780928316445 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Vertalings deur Cas Vos:

Cas Vos as redakteur 

  • Liefde is die grootste: oor erotiek en seksualiteit. Saam met Dirk Human. Protea.
  • Vaste rots op wie ek bou. Saam met Dirk Human. Lux Verbi, 2014 [ISBN 9780796312075 (sb)] 

Cas Vos as samesteller

Huldigingsbundel aan Cas Vos

  • Oor jou afdrukke: met waardering vir Cas Vos se teologies-poëtiese bydrae. Redakteurs: Dirk Human en Danie Veldsman. Pretoria: Universiteit van Pretoria, 2012 [ISBN 978-1-86854-982-5 (sb)]

Artikels oor Cas Vos op die internet

Artikels deur Cas Vos op die internet

  

Terug na bo

Bygewerk: 2019-08-01
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za

 

  • 1

Kommentaar

  • Beste Erika, opregte waardering dat jy so noukeurig boekhou van 'n digter/vertaler/teoloog se sinnighede en onsinnighede.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top