Skrywersonderhoud: Cas Vos oor Job en Met my hand op my hart

  • 6

Cas Vos (foto: verskaf)

Met my hand op my hart
Cas Vos
Uitgewer: Cordis Trust Publikasies
ISBN: 9780639959863

Cas, baie geluk met nog ’n boek!

Baie dankie, Remona. Ek waardeer dit. Dis heerlik as die fonteinwater borrel.

My hand op my hart handel oor die Bybelverhaal van Job. Hoekom het jy persoonlik by dié figuur aanklank gevind?

Job is ’n tydlose metgesel deur die lewe. In elke tydvak van menswees maak Job sy opwagting. My vriend Niek Schuman is verlede jaar op Kersdag oorlede. Hy was aan die VU van Amsterdam verbonde as Ou Testamentikus en later in die liturgie. Hierdie briljante kenner van die Ou Testament, en veral van Job, het my op Job se spoor gesit. Lees maar – “Er staat niet wat er staat” (Martinus Nijhoff). Die ontknoping van die drama is so verrassend en aktueel vir alle lesers van die boek. Ek het net in Niek se spore verder gestap om die sinryke boodskap van Job te ontdek en te ontvou. En mag ek byvoeg: Behalwe die kort proloog en die epiloog is die hele boek (Job) in digvorm geskryf.

Hoekom identifiseer mense vandag steeds met Job?

Die naam Job is al ’n goeie rede waarom mense deur die eeue tot vandag toe met Job kon en kan identifiseer. Die naam kom slegs in Esegiël 14:14 en Sirach 49:9 voor. Dit is egter in Oud-Oosterse tekste van die 2de eeu vC bekend. Die naam kom waarskynlik van die Akkadiese ’ajja-’abbu en beteken “Waar is die (my) vader?” Met “vader” word die godheid ook beskryf – in Job se geval dus: Waar is my Vader? Waar is God? Die naam Job wys die tema van die boek aan: Waar is my Vader?1 Waar is God? Op grond van sy naam en woonplek (Us) kan Job as ’n nie-Israeliet voorgestel word.

Daar is onmiddellik ’n reeks antwoorde. Die ateïs verklaar met oortuiging dat God nie bestaan nie. ’n Lewe sonder God is veel makliker en sonder sorge oor God. Die agnostikus haal sy skouers op: “Ek weet nie. En wat maak dit buitendien saak?” Die humanis reken met God af deur te verklaar dat die sin en betekenis net in hierdie wêreld, en nie daar buite nie, bestaan. Die deïs verklaar: God is op ’n onbetrokke afstand. Hy is op die solder. Hy is die ingenieur wat die meganiek van die universum aan die gang gesit het en daarná die natuurwette die werk laat doen.

Hierteenoor galm Job se naam: Waar is my Vader? Waar is God dwarsdeur die boek? En ook in ons lewensboek.

Die hele digwerk van Job draai om die vraag of daar ’n God is wat hierdie wêreld regverdig bestuur. Dit is ’n vraag wat steeds gestel word, wat alle mense raak en wat van tyd tot tyd elke gelowige se asem laat wegslaan. Daar gebeur vreeslike dinge in die wêreld en daagliks in tallose mense se lewens, dramas wat ons nie met ’n liefdevolle God kan rym nie. Vir baie in ons tyd is dit die rede waarom hulle met God breek. Ateïste vind hier hulle sterkste argumente.

Wie van ons ken nie af en toe in sy of haar lewe die aaklige vermoede dat hulle ’n rol vertolk in ’n lewensbedreigende drama waarvan die uiteinde onseker is nie? Hoe gebeur dit dat die kwaad goeie mense tref? Dit is wat slagoffers oral in die wêreld hulle afvra, terwyl dit met die goddeloses oënskynlik net maar voor die wind gaan (Psalm 73).

Die “waarom” van lyding, die bitter raaisel van die goeie skepping, is nie ’n spesifiek Christelike probleem nie. Dit raak alle mense, van alle tye, en op alle plekke. Die boek Job speel af in ’n onbekende landstreek, Us, êrens buite Israel. Van Job weet ons verder niks. Job is “Elckerlijc” – sy lot kan elke mens tref. Us is oral waar mense op ons aarde deur onbeskryflike onreg of leed getref word. In die derde afdeling wys ek die verskillende plekke waar en wyses waarop lyding en onreg die mens tref. Hier noem ek net een: die lewensbedreigende koronavirus wat mense laat sidder. En die vraag is: Waar is God nou?

Juis omdat Job so ’n menslike boek is wat oor die misteries van die lewe handel, vind die meeste mense hulle tuis by Job. Geen wonder dat die boek die aandag van alledaagse mense, skrywers, digters, teoloë en psigoloë getrek het nie, mense wat binne en buite die Joods-Christelike geloofstradisie staan. Dink maar aan Søren Kierkegaard se novelle Die Wiederholung (1843), Abel Herzberg se Drie rode rozen (1975), Elisabeth Eybers en TT Cloete se gedigte oor Job, Arthur van Schendel se De grauwe vogels (1986), Gustavo Gutiérrez se Geregtigheid om niet (1987), die sielkundige Carl Gustav Jung se Antwoord op Job (1978), die filosoof René Girard se De aloude weg der boosdoeners (1987), en Johannes Anderegg se Hiob und Goethes Faust (2007).

Daar kom ook talle skilderye en afbeeldings van Job voor. Enkele voorbeelde hiervan is Albrecht Dürer se Job en zijn vrouw (1503–1504), die skildery van Jan Dunselman (1899) en die skildery van Jaap Schreurs (1913–1983) getiteld Vervloekt de dag van mijn geboorte.

Albrecht Dürer se Job en zijn vrouw (1503–1504) (Bron: Wikipedia)

Ek het raakgelees dat Job ’n fiktiewe karakter is. Het ek reg verstaan? Of is sy verhaal op ’n werklike persoon se lewe gebaseer? En maak dit hoegenaamd saak of hy regtig bestaan het?

Remona, jy het raak gelees. En boonop het jy ook reg verstaan. Die verhaalmatige trekke van die inleiding (Job 1:1–5) dui daarop dat die Jobvertelling geen historiese berig is nie, maar ’n fiksionele vertelling. Die boek Job is ’n story, geen history nie. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die tradisionele vertelgemeenskap van die tyd toe Job ontstaan het, die onderskeid wat ons tussen fiksie en niefiksie maak, nie soos ons verstaan het nie. In dié gemeenskap was daar geen skerp onderskeid tussen fiksionele en nie-fiksionele tekste nie. Of Job werklik geleef het of nie, is vir die verstaan van die boek nie belangrik nie. Job is ’n betekenisdraer. Op hierdie manier kry Job ’n betekenis vir ons dag. In die inleiding word die hoofkarakter van die verhaal voorgestel. Sy naam is Job. Dit gaan om die lewensdrama wat hier ontvou en wat ons almal op een of ander wyse raak. Want ons is almal mense. Weerlose, sterflike mense.

Die meeste van ons is bekend met die verhaal van Job wat op die ashoop beland het. Wat in verband met Job is vir die “gewone leser” minder bekend en vind jy interessant? Het jy nuwe ontdekkings oor Job gemaak wat jy graag met ons lesers wil deel?

Die “ashoopverhaal” is bedrieglik. Job op die ashoop is deel van die kort prosaraam. Dit dek as’t ware die tafel vir dit wat volg. Ek gee indringend aandag aan dit wat anders en nuut in my verstaan van die boek Job is in my antwoord op ‘n latere vraag van jou (oor die vier afdelings van die boek). Net so ’n bietjie Jobsgeduld! Die antwoord kom.

In die voorwoord noem Gerben Heitink die boek Job ’n drama, ’n klassieke tragedie. Stem jy saam? Kan jy uitbrei op dié stelling?

Ja, volkome, Remona. In die prosateks is daar die rampe wat die arme Job tref. Sy kinders sterf in ’n storm terwyl hulle feesvier. En dan skryf sy vrou hom ook af. Die troosvriende daag op, maar sonder troos. Wat kan Job doen? Tot voor die vervloeking van sy geboortedag in hoofstuk 3 was daar nie sprake van opstand en verwyte teenoor God nie. Maar in hoofstuk 3 verander alles. Hier is Job nie meer die geduldige nie, maar die opstandige.

Job is ’n drama in meer as een betekenis van die woord. ’n Mens kan die Bybelboek wat sy naam dra, lees as ’n klassieke tragedie, ’n aangrypende toneelstuk in ’n paar bedrywe wat nie net op aarde afspeel nie, maar danksy ’n geheimsinnige proloog ook in die hemel. Die karakters is, naas Job, drie vriende, en later ’n vierde, wat op hierdie “wêreldtoneel” ’n belangrike rol speel. God maak sy verskyning eers laat in die boek (Job 38). Die woord drama het ook die betekenis van “’n reeks droewige, aangrypende gebeurtenisse”, soos wanneer ons vandag praat van “die drama van die vlugtelingkrisis” wat oor die wêreld heen spoel. Die twee betekenisse hang onlosmaaklik saam.

In die drama is die Here ’n laatkommer (Job 38).

Die struktuur van die oorspronklike Hebreeuse teks is poëties van aard en baie liries geskryf. Was dit vir jou, uit ’n digterlike oogpunt, ’n uitdaging of ’n vreugde om met die teks te werk? Verskil die manier om poëties in Afrikaans en Hebreeus te skryf drasties van mekaar en indien wel, wat is na jou mening die hoofverskille en/of ooreenkomste?

Remona, die leser moet daarmee rekening hou dat die proloog (Job 1–2, behalwe Job 1:21) en die epiloog (Job 42:7–17) in prosa geskryf is.

Waarom laat God ook die regverdige mens ly? Die antwoord op dié vraag spruit uit ’n oeroue wysheidsverhaal oor ’n lydende regverdige genaamd Job wat protes aanteken teen die onverdiende lyding rondom hom. Die anonieme skrywer van die boek Job was verontwaardig oor die ou volksverhaal. Wie is die God wat onskuldige kinders laat omkom en aan sy troue dienaar ondraaglike laste oplê om ’n weddenskap met die Satan te wen? Watter godsdiens is dit wat blinde gehoorsaamheid eis sonder protes teen die onreg wat hom aangedoen is?

Job trek die aandag van ons oë vanweë die poëtiese gehalte daarvan. Die opbou van die gesprekke, die gedigte, die beeldspraak, vergelykings en ander literêre strategieë soos retoriese vrae, ironieë, satires, metafore, vergelykings en komposisietegnieke maak van die boek ’n grootse gedig. ’n Voorbeeld van vergelykings is die deel in Job 9:25–26:

                   Vinniger as ’n naelloper skiet my dae verby,
                   hulle vlieg weg sonder dat geluk agterbly.
                   Hulle glip snel soos papirusbote by my verby,
                   soos ’n arend wat sy prooi in sy kloue wil kry.

Afrikaans en Hebreeus is glad nie ’n taalfamilie nie. Die twee tale verskil hemelsbreed van mekaar oa ten opsigte van sintaksis en semantiek. Ek wys net op enkele kenmerke van die Hebreeuse taal: Die woordstamme of -wortels bestaan grotendeels uit drie medeklinkers met bykomende klinkers. By naam- en werkwoorde word ’n manlike en vroulike geslag onderskei, maar daar is geen onsydige vorm nie. Die Hebreeuse werkwoord onderskei nie “tye” nie. Die perfektum druk ’n handeling uit wat voltooid is, die imperfektum ’n onvoltooide handeling wat nog voortduur. In die algemeen gee die Hebreeuse perfektum die verlede tyd weer. Die Hebreeuse imperfektum druk die toekoms uit. Albei kan egter ook wel die teenwoordige tyd (praesens) weergee. Naas die eenvoudige stamvorm, die qal, vertoon die Hebreeuse werkwoord ’n sestal afgeleide stamformasies.

Dis nou genoeg Hebreeus vir een slag! Die rykdom van een taal kan deur vertaling en stiplees in ’n ander taal neerslag vind.

Met my hand op my hart bestaan uit vier afdelings. Kan jy asseblief ’n bietjie meer oor die struktuur vertel?

Met groot graagte, Remona.

In Deel I word aandag gegee aan onder ander die komposisie van die boek, die styl, teologiese perspektief en literêr-kritiese aksente.

Deel II word gewy aan die inhoud van die boek.

Die skrywer of samesteller het die ou volksverhaal opgeneem en omgekeer: Die prosaverhaal (proloog) oor die vrome en nederige Job (Job 1–2) word tot ’n poëtiese drama herskep met Job wat teen sy onregverdige lot protesteer. Job 42:7–9; 10–17 vorm die epiloog. Tussen die proloog en epiloog het die skrywer of samesteller ’n eie dramatiese digwerk (middelstuk) tussenin geskuif. Hiertoe is later nog dele toegevoeg, byvoorbeeld die loflied oor die wysheid in hoofstuk 28 en die Elihu-rede (Job 32–37). Die teenstelling tussen die volksverhaal (aanvaarding en berusting) en die drama (vertwyfeling en berusting) is opvallend.

Die eerste gedig in Job 3 begin met Job se vervloeking van sy geboortedag. Dan begin sy vriende, Elifas, Bildad en Sofar, met hulle betoë. Tussen Job se reaksie op Bildad en die daaropvolgende betoë staan daar in Job 28 die ode aan die wysheid. Blykbaar dien die ode as ’n tussensang in Job se dramatiese slotbetoog. Vriend Elihu maak eers in Job 32 sy verskyning. Elihu spreek Job op sy naam aan, wat die ander vriende nooit gedoen het nie. Die twee sentrale temas in Elihu se teologie is die onbegryplikheid van God en God as Leermeester. In sy slotrede wys Elihu dat God se grootheid onbegryplik is en die mens kan God nie in sy lyding vind nie.

Job saam met sy vriende deur Gerard Seghers (bron: Wikipedia)

En dan eers in Job 38–41 kom God aan die woord. Kyk na die skepping. Die lewe keer na mense terug met die aanbreek van die lig; in die nag se duisternis sluip die goddelose en wilde diere rond (vgl. Psalm 104:20–21; Job 24:14). Die nag is die lig van die goddelose (vers 15). Dit is die tyd van die demone van die duisternis. Met die opkoms van die oggendrooi word die goddelose se skuiling weggeneem (vers 13). God bepaal die aanbreek van die oggendgloed (vers 12). Die eerste onderdeel beskryf dus die reëls en wetmatighede van die universum. Op wie se wysheid berus dit alles? Wie beskerm die aarde teen die aanslae van die goddeloses (Job 38:12 ev)?

God is nie net die Here van die skepping nie, maar ook die Here van die diereryk (Job 39). Job word aan die wilde diere bekendgestel. Wilde diere vorm, in die algemeen gesproke, in die wêreld van die Bybel ’n groot bedreiging vir die mense se lewe. In vyf dele word elke keer twee diere voorgestel, dus altesaam tien diere: die leeu en die kraai Job (39:1–2), die klipspringers en die wildsbokke (Job 39:4), die wildedonkie en die buffel (vers 8–15), die volstruis en die perd (vers 16–28), die valk en die aasvoël (vers 29–33). Onmiddellik hierna verskyn weer tien diere in die tweede onderdeel. Van die leeu in sy skuilplek, die kraai, klipspringers, wildsbokke, die wildedonkie, die buffel, die volstruis, die valk en die perd. Waar is Job se insig in die diereryk?

Die teks sluit aan by ’n verbreide Ou Testamentiese motief wat ’n god as here of heerser van diere erken; in die Oud-Oosterse ikonografie (beeldende kuns) kom verskeie voorstellings van hierdie motief voor. Op ’n seël wat suid van Gaza gevind is, verskyn ’n godin tussen ’n leeu en ’n aasvoël. Op ’n ander beeld staan ’n godin, sierlik geklee, op ’n perd. Sulke beelde dien as die versekering en gerusstelling van die kosmiese orde. Die goddelike magte kan egter nie die geskape wêreld versteur nie.

Dan breek die oomblik van verrassing aan: die seekoei (Job 40:10-19) en die krokodil (Job 40:20–28; 41:1–25). In die antieke wêreld was dit twee skrikwekkende en afskrikwekkende gediertes. Niemand was teen hulle opgewasse nie.

God erken wel dat daar chaotiese magte in die wêreld is. Maar as “Skepper van die wêreld” (Job 38:4–38) en as “Here van die diere” (Job 39:1–33; 40:10–25) hou Hy die chaosmagte in toom. Die chaosmagte kan die skepping skaad, maar nie vernietig nie. Job se verwyt is dat die aarde aan die geweld van die goddeloses uitgelewer is (Job 9:24). Hier heers die goddeloses en die regverdiges kom om (Job 21:7–21; 24:3).

Job en God stem saam dat daar goddeloses is. Die vraag is of Job by magte is om die “trotses” op hulle knieë te dwing en die goddeloses te verdryf (Job 40:40:7–8). Job moet toegee dat hy nie kan nie. Self is hy ’n slagoffer (Job 2:7). Die vraag is of die goddeloses die heerskappy oor die wêreld oorgeneem het, soos Job beweer. Hierop antwoord die Here nou.

Die Here verwys na gestaltes van die mitologie: na Behemot (Job 40:10–19) en Leviatan (Job 40:20–41:25). Die twee diere wat hier benoem word, is waarskynlik die seekoei en die krokodil. In hulle kom iets van ’n mitiese oorsprong na vore.

In Egipte was dit ’n opdrag van die goddelike koning om die seekoei te jag en dood te maak; in die laat-Egiptiese tyd (664–332 vC) was dit ’n opdrag van die god Horus dat die manlike (“rooi”) seekoei doodgemaak moet word. Die seekoeie het die gestalte van die god Set aangeneem; hy was “die here van die woestyn”, “god van die oorlog en die magtige”, teenstander van die kultuurgod Osiris. Op ’n beeld uit dié tydperk offer die koning in die kultus voor die god Horus ’n manlike seekoei. Só word die koning in sy stryd teen die bose ondersteun.

In die periode 2040–1650 vC verteenwoordig die seekoei die idee van verjonging, omdat die dier oor die chaotiese element van die water heers en deur sy onderduik en opduik die noodlot van die dood wegneem. Die seekoei-koei kan só as die godin Toeris in die godewêreld verskyn en as beskermgodheid van die swanger vroue en pasgebore babas vereer word.

In hierdie deel van Job handel dit nie oor ’n stryd van Jhwh teen die seekoei nie. Twee keer word gesê dat Jhwh hom geskape het (vers 10 en 14). Wat wel van belang is, is om te besef dat twee verskynsels, naamlik krag, sterkte (vers 11–13) en gevaar (vers 19) aan die een kant, en rus, vrede en idille aan die ander kant (vers 10, 15–18) in ’n spanning naas mekaar bestaan. Die seekoei verskyn as getemde krag en gevaar in ’n wêreld van vrede: Hy vreet gras soos ’n bees (vers 10). Die berge gee aan hom water en hy speel daar (vers 15).7 Die seekoei verteenwoordig die samekoms van lewe en dood. Onder alles wat die Here gemaak het, staan hy eerste; net sy Maker kan hom verslaan (vers 14). Die seekoei is die samevatting van lewe en dood, die begin van God se maaksels (14). Hy is ’n teken van die werklikheid. Dit moet Job leer: “Kyk na die seekoei, wat Ek soos jy (of: met jou) gemaak het” (vers 10). Niemand is teen hom opgewasse nie. “Wie kan hom van vooraf pak, wie kan ’n vangtou om sy neus sit?” (vers 19).

Die gedeelte oor die krokodil (Job 40:20-28; 41:1–25 ) is uitvoeriger as dié oor die seekoei (Job 40:10–19). Beide tree in die Egiptiese kultuur dikwels as chaosmagte en vyande van die gode op. Die god Horus verklaar: “Ek stamp die seekoei, en ek verwond die krokodil met sy skrikwekkende gesig.” By die seekoei-koei is daar ook die “vriendelike gesig” van die moederlike beskerming (Job 40:10–19).

Die Leviatan is ’n mitiese gestalte van die oertyd. Hier is die Hebreeuse woord met “krokodil” vertaal. Die krokodil is anders as die seekoei. In hom heers die stryd en die gevaar. Hy leef in die diepte van waters. Sy slangvormige kop laat ’n mens aan ’n draak dink. Hy verteenwoordig ’n teengoddelike mag. Volgens die Bybelse skeppingsteologie het God hierdie teengoddelike mag verslaan. Skepping is in sy wese ’n oorwinning oor dié mag (Psalm 74:13–14), maar die mag bestaan nog voort in die gestalte van die krokodil (Psalm 104:25–26; vgl Jesaja 27:1).

Die gedeelte oor die krokodil is met retoriese vrae gevul (Job 40:20–26). Daarmee word aangedui dat volledige beheer oor die Leviatan onmoontlik is. In hierdie gedeelte van Job is daar ’n verwantskap met die Egiptiese tradisie in die sin dat die jag op ’n krokodil ’n goddelik-koninklike opdrag was. Oorwinning is egter nie moontlik nie. “Pak hom gerus met kaal hande: jy sal die geveg onthou, jy sal nie weer probeer nie. Jy sal die slegste daarvan afkom. Wanneer jy hom sien, is jy al klaar oorweldig” (Job 40: 27–28). Hy is wreed as jy hom wakker maak (Job 41:1). Jy speel dan met jou lewe.

Ná die gedeelte oor die krokodil volg retoriese vrae van God. “Wie wil dan nog teen My standhou? Wie wil aan my eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My” (Job 41:1–2). Die Here heers oor alles en almal. Wie is teen die chaosmagte opgewasse? Nie Job nie, ook nie ons nie. God alleen. Meer nog: Hy verslaan hulle en maak hulle tot niet.

Jhwh stel Homself bekend as Iemand wat met die diere vertroud is. Trouens, Hy voed en behoed hulle, en gaan selfs speels en ironies met die monsterdiere om. Hy beheers hierdie skrikaanjaende wêreld. Die Here van dié diere het mag oor alle diere.

          Wie kan die seekoei en die krokodil tem?
          Die Here het sulke gedrogte gemaak
          om my, die opdringer, op my plek te sit.

Job 42:6 kan en moet anders verstaan en verklaar word as wat byna alle kommentare dit doen. Alles maak sin as dit soos volg vertaal en verstaan word:

          Daarom wil ek daarmee ophou,
          stof en as agter my laat.

Al die lyding is daar; onverdiende lyding, waar geen enkele eie skuld as “oorsaak” aangewys kan word nie. Ons God is nie die bron van chaos en lyding nie, maar die Bestryder daarvan. Hierin is Hy ons Bondgenoot vir die lewe.

God is behalwe Bondgenoot ook Gespreksgenoot, ’n God met wie ons as mense vertroulik mag omgaan, ’n God wat nie sy skepsels in hulle waarde aantas nie. Die vriende praat óór God, Job praat mét God. En ons mag ook maar met Hom praat.

In Deel III word die gestaltes van die oerchaos aangetoon. Wanneer God ons Bondgenoot teen die oerchaos is, kan ons weet wat ons te doen staan. Geen passiewe berusting nie, maar ’n aktiewe optrede teen alle bedreigings van ons planeet en die lyding wat mense mekaar aandoen. Hierdie wending maak van die drama Job uiteindelik ’n hoopvolle boek. Ons mense mag weet wat ons plek in God se stryd vir die behoud van sy Skepping is. Hy het gesien dat dit goed was (Genesis 1) en Hy sorg dat dit goed uitwerk.

Met die wete dat God die Bondgenoot en Gespreksgenoot teen die oerchaos is, kan die mens hoopvol leef. Daar word ook na die mens wat met eer gekroon is, verwys. Wat hy alles bereik het, is verstommend. Maar dikwels kry die oerchaos die oorhand in die vorm van wanpraktyke soos onreg, korrupsie en oorloë. Die mens onder die mag van die oerchaos verwoes die skepping. Die skending van die skepping deur oa aardverwarming en verwoestende brande is voorbeelde hiervan. Oorloë en terrorisme is ook gestaltes van die oerchaos, en korrupsie, geweld en onreg.

In Deel IV (Fluisteringe in God se oor) kom daar agt Job-gedigte voor. Daar is ook drie vertaalde liedere wat by God as Bondgenoot en Gespreksgenoot aansluit.

Kan jy kortliks vertel oor die rampe wat Job getref het? (Vir dié van ons wat lanklaas die Bybelboek gelees het.)

Remona, hopelik sal die “lanklaas” verander in “steeds en stiplees”.

Job is drama in digvorm. Die digwerk het my so aangegryp dat ek van die dele gedigte gemaak het. Daarom wil ek jou sinvolle vraag oor die rampe met ’n gedig beantwoord:

Man uit Us

Job 1:1–22

Sy noemnaam was Job, man uit Us.
God het sy kop met kosbare olie gesalf,
hy het nie met onheil skoor gesoek nie.
Almal het geweet van beskeie Job,
in sy skik met varsbrood en wyn.
Hy het jongmense se drifte gewantrou,
daarom het hy hulle aan God gewy.
Dalk het ’n kind sy tong bevlek
en God binnensmonds uitgeskel.
’n Bode versteur sy rustige bestaan
met voete wat op die grond dreun.
“Rowers het die beeste wat ploeg
en die skape wat rustig gras vreet,
opgeëis en die dienaars doodgeslaan.
Net ek haal nog skrams asem.”

Nog ’n boodskapper hang slegte
nuus aan sy ore. “’n Bliksemstraal
het uit die hemel geval en vuur
onder kleinvee, perde en dienaars gemaak.
Net ek het brandvoet deur die vlamme gevlug
om die nuus met ’n vuurtong oor te vertel.”

’n Bode kom op die spore van die nag aan,
dra swaar aan ’n doodsberig in ’n koerant.
“My heer, ek kan skaars met die verdriet
in my hart praat, my are is vol melancholie.
Toe u seuns en dogters by die oudste
broer eet en hulle harte vol wyn skink,
daag daar ’n rukwind uit die woestyn op,
frommel die huis se vier hoeke en laat dit
op u geliefde kinders intuimel. Swye is my kos.”

Job skeur sy klere en skeer sy kop sonblink,
val bedroef in aanbidding op die grond.
“Skreeuend het ek uit my ma se skoot gebeur,
vir die aarde sal ek stof tot dank wees.
Die Here het sy hand oop- en toegevou.”

Job se naam is ’n vuishou:
“Waar is jou Pa nou?”

En dan tref nog rampe hom. Sy vrou. Dis byna ondenkbaar. Hy het nooit ’n hand teen haar opgelig nie en nou draai sy haar rug op hom in sy nood. Asof dit nie genoeg is nie, daag sy vriende op. Nie met troos en empatie nie, maar met ’n teologie wat vernietigend is. ’n Teologie wat die oorsaak-gevolg-samehang bedryf. “Job, jy het gesondig. Bely dit aan God en jou saak sal reg afloop.” ’n Teologie wat soms ook nog in ons dag gekoester word. Weg met só ’n teologie!

Job se vriende laat my dink aan die eerste tersine in Dante se Inferno:

 1 Ek het die spoor in die middel van ons lewensreis
 2 byster geraak en in ’n woud waar die donker heers
 3 tot my sinne gekom; op die dwaalweg was ek onwys.

Die vriende vra dat Job net sal erken dat hy die spoor byster geraak het. En tweedens dat hy tot sy sinne sal kom en dat hy op die dwaalweg onwys was.

En dan roep Job se naam ook uit: “Waar is God?” Eintlik is die vraag: “Wie is God?” Hierdie vraag word in die meesterlike komposisie beantwoord.

Die verhaal van Job handel hoofsaaklik oor die vraag of daar ’n God is wat in beheer is van die wêreld en wat hier gebeur. Dit worstel ook met die vraag oor waarom God toelaat dat mense ly. Na aanleiding van jou navorsing: Wat sou jou antwoord op hierdie soort vrae wees?

Die geheim van die boek is dat Job tereg in verset gekom het teen die lyding wat hom tref. Hy reken egter af met die beeld van ’n voorsienige God wat lyding oor mense beskik het en hulle sou dwing om daarin te berus. Job waag om vol te hou: Ek is onskuldig … God gee hom gelyk. In teenstelling tot sy vriende het Job reg oor God gepraat (Job 42:7)!

Wat bedoel Job wanneer hy getuig dat hy “met sy eie oë gesien het” (Job 42:5) wie God wel is? Die algemene opvatting is dat Job sy aanklag teen God terugtrek. Dit is egter nie wat bedoel word nie. Die boodskap van die boek Job is by nadere beskouing dat Job in die Here sy Bondgenoot gevind het.  

Hierdie ontdekking verklaar waarom ek in my bewerking van die boek Job met oortuiging ’n tweede deel toegevoeg het. God is behalwe Bondgenoot ook Gespreksgenoot, ’n God met wie ons as mense vertroulik mag omgaan, ’n God wat nie sy skepsels in hulle waarde aantas nie. Die vriende praat óór God, Job praat mét God.

Cas, jy het duidelik omvangryke navorsing oor Job gedoen – dit blyk oa uit die uitgebreide bronnelys (“aantekeninge”) van 40 bladsye. Hoe lank het dit jou geneem om die boek te voltooi?

’n Tydjie en ’n half. Ek is so deur Job meegevoer dat ek moes aanhou totdat my beker oorgeloop het.

Jy is ’n geweldig produktiewe navorser, digter en skrywer. Is jy tans besig met ’n nuwe projek of neem jy vir eers ’n blaaskans?

Ek is besig met die manjifieke Italiaanse digter Dante se Inferno. My nuwe digbundel, Onder die vlerke van jou liefde, is by die uitgewer.

Remona, baie dankie vir jou sinryke en insiggewende vrae. Ek waardeer dit opreg. Jy het dit vir my moontlik gemaak om die ware Job aan lesers voor te stel.

* Die boek is beskikbaar by Proteaboekwinkel in Pretoria en by eddington@proteaboekwinkel.com. Proteaboekwinkel in Stellenbosch kan dit ook bestel. 

  • 6

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Wonderlik! 'n Volksverhaal seg u! Kan u nie die besef dat die Bybelse boeke grootliks fiksie is ook by die kerke tuisbring nie?

    Dit lyk na 'n boek wat ek baie sal geniet en die navorsingsuitsette oor Dante is ook iets om na uit te sien.

  • Susan Vorster

    Ek het besluit om die boek eers deur te lees, omdat ek gedink het ek het 'n redelike kennis oor die boek Job. Dit op sigself was die moeite werd. Ek beplan om vervolgens die boek weer deur te werk met die Skrif langsaan. Ek het groot waardering vir die gedig wat die verhaal weergee. Hierdie gesprek met Cas het enige onduidelikheid wat ek dalk nog kon he uit die weg geruim.

  • Sjoe, Cas! Wat 'n mondvol in só 'n kort stuk!
    Ek sal weer voor moet begin in jou boek wat my reeds diep getref het, nadat jy só omvattend op Remona se ingeligte belangrike vrae geantwoord het.

    Remona het werklikwaar reeds 'n gróót begrip gevorm van jou omvattende boek, amper asof sy reeds 'n diep studie daaroor gemaak het...

    Hiérdie boek van jou laar mens se hand vanselfsprekend op jou hart... Oopmond van verbasing, sal mens dit weer en weer moet lees om slegs deels te kan begryp wat jy alles bedoel en uitgehaal het uit Job...

  • Connie Griessen

    Ek het baie lanklaas Afrikaanse boeke gelees veral een met soveel "diepte", en erken eerlik dat my begrip baie kort skiet. Die onderhoud verskaf derhalwe insig vir my veroeste brein, en dien as aansporing om Job beter te leer ken. Ironies genoeg vind ek aanklank by die probleme en twyfel waarmee Job worstel - en ek glo dit geld vir talle lesers. Die boek moet beslis as voorgeskrewe werk aanbeveel word. Welgedaan Cas!

  • Cas Vos: Dankie dat jy met hierdie boek en die onderhoud met Remona die aandag vestig op die Bybelboek Job. Dit stel aan die orde die fundamentele noodroep van die gelowige: Waar is God?
    Jy noem Job ‘n betekenisdraer. Jyself word hiermee betekenisbringer!
    Gelowige wetenskaplikes vermoed dat die Skeppergod die materiële kosmos laat ontstaan het onderhewig aan die fisikawette. Deur die proses van evolusie is lewe laat ontkiem en het ontwikkel tot ons, Homo sapiens, oor die geheel kan besin. Evolusie is die proses van willekeurige mutasies, onderhewig aan die oorlewing van die fiksste in die omgewing. Dit behels gewoonlik voortgaan ten koste van die minder sterke in kompetisie om oorlewing.
    Hier staan ons, die kroon van die skepping, met die swaard in die hand. En tog kom die gesalfde gesant van die Skepper om ons te oortuig: God is liefde! Ons moet streef na harmonie. Hyself, die Christus, word onderhewig aan die magspel tussen mense. Eli, Eli, lemá sabagtani! My God, my God, waarom het U my verlaat? Hiermee eggo Jesus die kosmiese noodroep van Job: waar is jou Vader?
    En dan begyp ons Christus se trooswoord: In die huis van my Vader is daar baie wonings. Verby die materiële ontwikkelingsproses, wag die ewige harmonie vir dié wat die wagwoord van Christus aanvaar het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top