Korona-kortverhaalfees: Moryn Hanzen oor "Rigting"

  • 0

Moryn, jy woon op Karos langs die Oranjerivier. Vertel ons van daardie wêreld en hoe dit jou skryfwerk voed.

Hierdie wêreld het ’n eiesoortige bekoring, maar ek besef dat nie almal dit so sal ervaar nie. Die eenvoud, die sout van die aarde mense, die unieke uitdagings soos langdurige droogtes en die feit dat jy nie altyd by besighede kan instap en verseker is dat jy ’n onderdeel of iets soortgelyk gaan kry nie, is enkele voorbeelde. Ons mense leer dink kreatief om ons uitdagings te bowe te kom. En ons mense kán stories vertel.

As ek moet raai, klink dit of “Rigting” gebaseer is op ’n persoonlike ondervinding. Is dit so?

Ons oudste seun het verlede jaar vir die eerste keer in Noord-Amerika gaan werk, weens die afplatting van ons plattelandse ekonomie en die meegaande faktore soos skaarser werksgeleenthede. In daardie opsig stem die verhaal ooreen met hoe ’n ouerhart voel wanneer daar nie meer ander opsies is nie.

Vertel ons asb van jou boeke wat deur Tafelberg gepubliseer is en die genre waarin jy spesialiseer.

Tafelberg Uitgewers het in 2017 en 2018 twee liefdesverhale van my gepubliseer, naamlik Pad na geluk en Droomkrans se engelman. Dit was ’n uitdaging wat ek aan myself gestel het, omdat ek voorheen glad nie in liefdesverhale gespesialiseer het nie. Ek hou daarvan om oor mense te skryf – wat hulle opgewonde maak, wat hulle hartseer maak, wat hulle ontspoor en wat hulle ophef. Daarom was die inspirasie-artikels wat ek tot en met die sluiting van Caxton-tydskrifte vir Vrouekeur geskryf het vir my baie kosbaar. Daar het in 2017 ook ’n bundel kortverhale van my by Groenheide Boeke verskyn, naamlik Kriptonietoomblikke en ander kortverhale.

 

Lees Moryn Hanzen se kortverhaal, “Rigting”, hier:

Rigting

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top