Rigting

  • 0

Sofia kyk van haar Creme Soda af op in Malan se byna ewe groen oë. Sy onderdruk die drang om vir die soveelste keer haar hand deur haar halfgrys hare te trek.

Hy is sy pa se ewebeeld. Die man wat hy nooit geken het nie.

Nog ’n afkondiging herinner haar aan die rede hoekom hulle hier is. Dis te laat vir trane. Waaroms en waarskuwings sou hom nie van rigting laat kon verander nie.

Onwillekeurig word haar enigste kind se beeld in haar gedagtes met dié van ’n sesjarige Malan vervang. Woeste hare wat goudgeel deur die Kalahari-son verguld is. Met sy klein, bruin kartontassie in die regterhand, hier en daar nerfaf, nes sy velskoene en skraal kniekoppe. Só het sy hom gekry daardie dag toe hy besluit het om weg te loop.

Op die oog af het dit gelyk of Malan swaar dra. Die hitte het golwend opgeslaan teen die duin agter hom.

Maar hy’t nie swaar gedra nie, weet sy nou. In elk geval nie fisiek nie. Die hangskouertjies was grotendeels te wyte aan haar gebrek aan tyd om na hom te luister – dit was iets wat sy skaars vir haarself gehad het. Op daardie stadium was sy sát geboer nadat Neels, Malan se pa, ’n jaar na die kind se geboorte pad gevat het sonder ’n groet.

Die vrees wat haar bors wou vergruis toe sy agterkom haar kind is nêrens in of om die huis nie, sal haar altyd bybly. Hoe sy, histeries van angs, die plaashuis vertrek na vertrek gefynkam en aanmekaar geroep het: “Malan! Malaaan!”

Sy het al Malan se wegkruipplekke goed geken. Onder sy enkelbedjie, binne-in sy jonkmanskas met die gat in die deur (die enigste erfstuk van sy pa), agter haar laaikas in die hoofslaapkamer, in die besemkas, in die yl skaduwee van die windpomp wat irriterend ge-kier-kier-kier het …

Daar was ook niemand om te help soek nie. Samuel en Kitty was dorp toe met ’n geleentheid.

Sofia het nog nooit so verwerp gevoel nie. Ja, sy het soms vergeet hoe jonk Malan nog is. ’n Klein grootmensie, het almal agter bakhande oor hom gefluister.

Sy kon skaars asemhaal toe sy die bakkiesleutels gryp om hom te gaan soek.

Dis toe sy deur die plaashek ry dat sy die klein figuurtjie met sy tassie ’n paar meter verder sien voortbeur het deur die diksand. Sy blou hempie was duidelik sigbaar teen die oranje-rooi van die duine. Dit was die enigste hemp waarvoor hy ooit gesoebat het – en wat sy gekoop het, ten spyte van hulle slegte finansiële posisie toe.

Die hempie het ’n prent van ’n vliegtuig op gehad wat in ’n westelike rigting oor die aardbol vlieg. Soos ’n voorteken.

Die bakkie het doodgeruk en Sofia het uitgespring terwyl sy deurmekaar gelag en huil het.

“Waarheen gáán jy, Malan?” wou sy weet toe sy op haar hurke langs hom op die warm sand neersak.

“Na Bennie-hulle toe,” was sy bot antwoord.

“Maar Bennie bly mos daarie kant toe,” het sy gelag en sy hare verder deurmekaar gevryf.

Terug by die huis het Sofia sy gunstelingkos – gebakte skaapribbetjie en slaptjips – gemaak en vir ’n paar uur van haar oorweldigende werklas vergeet.

Die volgende oggend het sy tassie steeds soos ’n stille aanklag op die bakkiesitplek gelê. Binne was net ’n rooi onderbroekie en ’n half geëte Granny Smith.

 

“En as Ma nou weer daai veraf uitdrukking kry?” wil Malan weet. Hy het sy selfoon waarmee hy doenig was, gebêre.

Sofia glimlag. “Onthou jy die dag toe jy na Bennie toe wou wegloop?”

Hy snuiflag. “Met my rooi onderbroek in my tassie?” Hy skud sy kop en lyk dan ernstig. “Dit het altyd gevoel of my hele lewe na daardie dag verander het, weet Ma?”

Sofia vat sy jongmanshand oor die klein tafeltjie vas. “Dit hét.” Hulle raak saam weg na die plek waar byna vergete herinneringe mens onkant betrap.

Sy skuif op die ongemaklike stoeltjie rond. Durf sy Neels verwyt? Het sy dan nie óók elke dag gevoel of sy van haar kop af gaan raak nie? Malan se gehuil wat net aangehou en aangehou het … Die enkele vyfminuut-stiltes het soos ewige, salige, maar skrikwekkende manna op hulle neergedaal … net om skielik weer te verdwyn.

Het sy en Neels dan nie slegs drie maande na Malan se geboorte rééds met die oë van volslae vreemdelinge na mekaar gekyk nie?

Malan se wegloop na Bennie toe was die waterskeiding in haar lewe – nee, húlle lewe. Die grens wat oorgesteek is.

Sy’t daai oggend vir Malan by die plaasskooltjie gaan aflaai. Gesien hoe die blonde klein Alet met haar stywe ruggie en ewe stywe vlegseltjies wegdraai toe Malan haar hoopvol wou groet.

Dié klein snip het Sofia mos ’n week tevore betrap toe sy met smaak onder die groot doringboom by die skoolhek vir Bennie se sussie vertel dat sy vir Malan afgesê het.

“Maar hoekom het jy dít gedoen, Alet?”

“Néé man, hy kan nog nie eens ’n dekselse O maak nie,” was die parmantige antwoord.

Genoeg is genoeg, het Sofia besluit. Pleks van terug plaas toe ry, het sy die bakkie se neus in die rigting van die dorp gedraai. Vinnig omgekyk en Malan alleen op die trappies voor sy klaskamer sien sit.

Die laaste stuk teer op pad dorp toe was meer gat as pad, maar sy’t vasgebyt. Kom droogte of vloed, sy het net mooi genoeg gehad van die gesukkel, die verwerping en die vernederings van die klein gemeenskap wat altyd iets gevind het om oor te skinder.

By die koerantkantoor moes sy seker vooraf weet sy sou haar weer in Betsie vasloop. Maar selfs dié se vermakerige oë (met te veel oogskadu) kon Sofia nie ’n duit skeel nie.

“Hoe gaan dit met Kasper?” het Sofia uit die heup geskiet, wetende dat Betsie en Kasper se huwelik oor en verby was. En aanval ís mos beter as verdediging.

Betsie wou mos keer op keer kastig deernisvol weet hoe dit op die plaas gaan vandat Neels nie meer daar is nie.

“Ons egskeiding is op die rotse,” was die antwoord, teatraal en onvanpas luid in die klein kantoortjie. “Sy outoppie is laas week oorlede en Kasper erf áls.”

Wat “áls” behels het, weet Sofia tot vandag toe nie. Maar sy is seker Betsie sou nie twee keer met dieselfde man afhaak tensy daar geld of eiendom betrokke was nie.

Sy was glo in standerd agt op Neels ook verlief … juis omdat sy vermoed het hy gaan sy pa se plaas erf – iets wat toe nooit gebeur het nie.

Sofia het reeds in die paar jaar wat sy en Neels saam was dikwels gewonder of haar plaas nie ’n groter aantrekkingkrag as sy self vir hom was nie. Dalk was hy en Betsie tóg van dieselfde stoffasie.

“Is Lena hier? Ek wil ’n advertensie plaas,” het Sofia die sinnelose gesprek kortgeknip en die plaas daar en dan in die mark gesit.

Sonder om té ver vooruit te beplan, het sy die huisraad gaan oppak en alles wat sy en Malan nie kon gebruik nie, op ’n veiling van die hand gesit. Die plaas is vinnig verkoop; dit was ’n juweel wat menige boer in die kontrei begeer het.

Die aanpassing in Pretoria was groot, veral vir Malan wat daaraan gewoond was om kaalvoet skool toe te gaan en die vlaktes as speelplek te hê.

Sofia het teruggeval op haar onderwysdiploma waarop haar ouers destyds aangedring het.

Hoewel sy self heel rigtingbedinges is, was dit Malan se verdwaalde klein figuurtjie daardie dag in die duineveld wat húlle lewe onherroeplik van rigting laat verander het.

“Ek wil eendag ’n brandweerman word, Mamma!” het hy uitgeroep toe ’n konvooi van die rooi gevaartes met hul loeiende sirenes eendag in die stad verbygejaag het.

“Sowaar?” het sy gelag, wetende dat hy in elk geval gou weer iets anders sou vind wat sy aandag meer trek.

In sy kamer vol vliegtuigies het hy gedroom hy’s ’n vlieënier. Skoolvakansies wou hy opsluit onderwyser word (want hulle het vier vakansies elke jaar), Sondae het hy begeer “om met so ’n dík Bybel in die hand vir mense te preek”, en ná ’n tandartsbesoek was hy mateloos beïndruk met al die apparate … En so het dit aangehou.

Sofia het Neels dikwels in haar hart verwens. Sy pa sou hom seker meer vastigheid kon gee. Rígting.

Dit was toe hy in matriek op ’n hoërskoolvriend se plaas gaan kuier het, dat hy sy werklike passie herontdek het. Sofia het met toenemende besorgdheid na sy boerderypraatjies geluister.

En nou gaan boer hy in Ohio, VSA en sy kan hom nie keer nie, dink sy hartseer maar trots toe hulle groet.

Breedgeskouer stap hy sy toekoms in met ’n enkele groot tas in die hand.

 

Lees ’n kort onderhoud met Moryn Hanzen oor “Rigting” hier:

Korona-kortverhaalfees: Moryn Hanzen oor "Rigting"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top