Die bydraes vir LitNet se KI-miniseminaar, “KI: katastrofe of geleentheid?”, is hier beskikbaar.

370 boeke.
Die Suid-Afrikaanse skrywer Coral Hart – ’n skuilnaam – het sedert Februarie 2025 meer as 370 boeke gepubliseer met behulp van kunsmatige intelligensie (KI). In ’n onlangse IOL-artikel verdedig sy hierdie proses ten spyte van kritiek.
Ek gaan my stem by die koor van kritiek voeg.
Kom ons kry die vrywarings uit die pad
Ek onthou die maand toe ChatGPT bekend gestel is. Lang voicenotes van mede-skrywers en vriende. Vrees, paniek en my finansiële adviseur wat my “voorberei” op werkloosheid.
Ek het gelag en geglo KI is ’n gereedskap soos Microsoft Word of enige speltoetser. Hoe naïef voel ek nou.
Sedertdien het die mense dit gebruik om vinniger te werk, as ’n mede-werker, maar in die skryfwêreld het dit my verstom waarvoor dit soms aangewend word. Soos om plagiaat te pleeg, eerste drafts te publiseer, onmoontlike hoeveelhede boeke te publiseer en voorblaaie te skep.
Ekself het KI in 2024 gebruik soos ’n manuskripontwikkelaar, maar die terugvoer het nooit gevoel asof dit my skryfwerk pas nie. Dit het gevoel asof dit my skryfstyl van die werk gestroop het.
In haar onderhoud met David Perell, sê RF Kuang skryf móét “moeilik” wees. Sy haal Several short sentences about writing deur Verlyn Klinkenborg aan: “Hy [Verlyn] argumenteer teen die aanname dat woorde wat maklik vloei, tot ’n goeie boek lei. As jou woorde te maklik kom, noem hy dit vrywillige woorde vir vrywillige gedagtes. Hy sê woorde wat vrywillig beskikbaar is, dryf reeds in die lug rond.”
Vrywillige woorde en gedagtes – dis hoe KI vir my gevoel het, soos geleende (of soos ek later uitgevind het, gesteelde) gedagtes wat oneg in my werk gevoel het.
Waardeer jy die skryfproses?
Dit is een van die eerste vrae wat ek vir Carol Hart sou vra indien ek haar ontmoet. In die artikel beskryf sy hoe sy haar KI-platforms soos ChatGPT, Claude en Grok oor drie maande moes bou om boeke te skep.
Sy erken ook dat die boeke redigering nodig het voor dit drukgereed is. Dis seker waarom KI nie vir pantsers (flying by the seat of your pants-skrywers) sal werk nie.
Pantsing beteken skrywers, soos ek, beplan nie voor ons skryf nie. Ek skryf nie ’n woord neer tensy die storie volledig in my kop gevorm is nie. Ek ontdek die storie soos ek dit skryf.
Vir my is die eerste draft wonderlik – dit besit ’n besonderse plek in my hart. Ek identifiseer altyd my boeke op my karakters se name: Georgia se boek, Ethan se boek, Caz se boek. My boektitels gaan my by tye verlore (skande – ek weet), maar die stories behoort altyd aan my karakters en dis vir hulle wat ek skryf. Die eerste draft stel my bekend aan hierdie karakters en verwelkom my in hul wêreld.
In my ervaring moet jy die skryfproses waardeer en liefhê, want jy bestee maande en soms jare aan ’n boek. In die proses leer jy baie van jouself as skrywer: jou swak punte, sterk punte; jy verander van mening oor ’n duisend goed, en die slot verander ’n dosyn keer.
Dit voel nie moontlik met KI nie. As ons eerlik wil wees, is baie van die uitdagings en onetiese toepassings van KI nie nuwe probleme nie. Plagiaat bestaan al honderde jare. Toe self-publikasie toeganklik geword het, kon jy baie eerste drafts met ’n baie lelike voorblad op Kindle Unlimited koop. Maar nou kan dit vinniger en makliker as ooit tevore gedoen word.
Aan wie behoort die skryfwerk?
Dít sou my volgende vraag aan Carol wees: Wie se werk is dit eintlik?
Om die oorle’ Bettina Wyngaard aan te haal: “’n Robot kan nie skep nie; dit kan net my kreatiewe arbeid steel en verwerk.”
Indien jy van KI gebruik maak, behoort die storie regtig aan jou? Soos ek hier bo genoem het, is plagiaat nie ’n nuwe euwel nie. Nou kan jy met KI steel sonder dat jy dit besef. Die woorde en storie wat gegenereer word, kan van ’n skrywer kom wat dit gratis wil deel of wat nie eens weet dis gesteel nie.
’n Gepubliseerde boek is nie net die skrywer se harde werk nie; dit is ’n ekosisteem wat verskillende werkers – projekleiers, grafiese ontwerpers, proeflesers, setters, ensovoorts – in diens hou. In Suid-Afrika is dit ’n waardevolle bydrae.
Groei jy as skrywer indien jy skryf met KI?
Carol Hart het 370 boeke in 20 maande geskryf. Dit is ongeveer 18,5 boeke per maand. Dit is baie boeke om in 10 jaar uit te gee, om nie eens van een maand te praat nie.
Maar ontwikkel jy as skrywer?
Het jy lesse geleer tydens die proses? Met elke boek leer ek nuwe lesse, of lê die lesse vas wat ek nog nie onder die knie het nie. Ek skep ook ’n sterker identiteit van wie ek as skrywer wil wees.
Hierdie proses, glo ek, gaan verlore met KI. Indien jy ’n boek skryf met die doel om dit so gou moontlik klaar te kry, neem jy ooit tyd om te dink en leer uit jou skryfwerk?
Dit is wat my pla – dat die leer- en skryfervaring in die era van KI as ’n ongerief gesien word. Maar vir my is dit ’n voorreg.
Bronne
- South African author publishes 370 AI-written books in 20 months despite backlash
- Meet the writer who sold millions of books before 30 (RF Kuang interview)
- How to write a draft zero (and silence your inner editor)
Lees ook:
Van Parys tot Pretoria: Wie besit die woorde wanneer KI die pen vashou?

