Katinka Heyns deur die Indiese Filmfees in Suid-Afrika vir lewensbydrae vereer: ’n onderhoud

  • 1

Foto van Katinka Heyns: Izak de Vries

Katinka Heyns is op 2025 se Internasionale Vrouedag deur die Indiese Filmfees in Suid-Afrika vir haar lewensbydrae tot die filmindustrie vereer.

Sy praat met Naomi Meyer oor hierdie toekenning, oor films wat sy geskep het of waarby sy betrokke was, en oor die filmbedryf.

Katinka, jy is nou onlangs, op Internasionale Vrouedag, deur die Indiese Filmfees in Suid-Afrika vir jou lewensbydrae tot die filmwese vereer. Baie geluk met die internasionale toekenning! Die Indiese filmindustrie is omvangryk; wat beteken ’n toekenning vanuit hul geledere vir jou?

Dit was ’n voorreg om op Internasionale Vrouedag vereer te word. 

Mense soos Devi Govender is vereer en ek het die paneelbespreking onder leiding van Koo Govender geniet.

Indië as ideale bestemming vir verfilming is bespreek. Die fees is geopen deur die film PINK wat in isiZulu oorgeklank is met Engelse onderskrifte. 

Ek het van meet af aan begin jeuk om Chris se boek Bundu, wat reeds in ’n draaiboek verwerk is deur Frederik de Jager, te vervaardig. Dis veeltalig en mens besef dat ons nie hoef vas te kyk in een taal nie. (Ek en Chris is genooi na Hyderabad in Indië om Paljas te vertoon. Ons kon dus “Bollywood” op sy beste ervaar.) 

Het jy van kleins af geweet dat jy die pad in die teater en in die filmindustrie wou stap? Hoe het spesifiek film jou pad gekruis – eers as aktrise en toe as iemand agter die gordyn? Wat is sommige van jou vroegste herinneringe?

..........
Ek was van kleins af verlief op stories.
...........

Ek was van kleins af verlief op stories. My pa het met my die geheim gedeel dat die meerminne van Waenhuiskrans vir my pêrels versamel. My ma Katie het saans voorgelees uit die Nasionale Kinderensiklopedie waarin klassieke verhale van dwarsoor die wêreld vervat is. Daarenteen het my ouma Kat stories vertel van haar ervaringe as kind in die Anglo-Boereoorlog. Hartroerend. Sy was ’n begaafde storieverteller.

Die skrywer van die boek A way of being free, Ben Okri, het die woord Homo fabia gebruik en verwys na “storytelling beings”.

Ouma Kat was ’n ware “storytelling being” en ons het aan haar lippe gehang. Sy het ons laat lag én huil. (Later is van die oomblikke in Fees van die Ongenooides vir kykNET visueel vertolk.)

Ek en my boetie kon van kleins af “bioskoop” toe gaan in Klipfontein se klubhuis. Mense soos Al Debbo, Elsa Fouché en Wena Naudé het daar opgetree. (My eerste stuk vir KRUIK was teenoor Wena.) Die kaartjies het ses pennies vir kinders en ’n sjieling vir volwassenes gekos. 

Ek het niks van Zorro gehou nie, maar die hoogtepunt was The wizard of Oz met Judy Garland. Daar het my liefde vir die silwerskerm seker begin. 

Truida Louw was my mentor op TUKS. Sy was toevallig die eerste vroulike regisseur met die fliek ’n Man in die donker. Truida het op ’n dag vir my gesê die filmmedium is meer gepas vir my as aktrise, omdat dit meer intiem is en ek nie hoef te projekteer nie. Hoewel ek op die verhoog gespeel het, het ek rolprente soos Katrina, Jannie Totsiens en Pappalap baie geniet. Cobus Rossouw was my held. 

Ek en Koos Roets het saamgewerk en dis hy wat my deur die oog van die kamera laat kyk het. Veral sy beligting het my totaal gefassineer. Ons het saam ’n fliek Babbelkous en Bruidegom gemaak na die verhoogstuk Babbelkous met my geliefde Tobie Cronjé, wat gelei het tot Willem op TV en toe is die koeël deur die kerk. 

Foto van Katinka Heyns: Izak de Vries

Fiela se kind, Die storie van Klara Viljee, Paljas en Die wonderwerker. ’n Paar van die groot films op jou kerfstok, met wyle Chris Barnard wat die draaiboeke daarvoor geskryf het. Elkeen van die films is uniek en besonders en magies op hul eie wyses. Lesers van die onderhoud sal dadelik prente in hul geheue kan oproep as die name van die films genoem word. Paljas met sy magiese figure in die Karoolandskap, Fiela as lewensgroot karakter, Die storie van Klara Viljee en die vrou wat haar van die verlede probeer bevry, en Die wonderwerker met die naby-kyk op die lewe van die digter Eugène Marais. Wil jy dalk iets oor hierdie films met ons lesers deel? Wat staan vir jou uit hieromtrent, as die films soos bakens langs die pad waarop jy terugkyk staan?

Truida Louw was tot en met Fiela se kind my mentor. 

............
Ek het van meet af aan geweet die draaiboek is deurslaggewend. Was dit nie vir Danie van Niekerk van Tafelberg nie, het ek dalk nooit ’n filmregisseur geword nie! Hy het Fiela in my hand gesit en gesê: “Hier is jou eerste film vir die groot doek.”
..............

Ek het van meet af aan geweet die draaiboek is deurslaggewend. Was dit nie vir Danie van Niekerk van Tafelberg nie, het ek dalk nooit ’n filmregisseur geword nie! Hy het Fiela in my hand gesit en gesê: “Hier is jou eerste film vir die groot doek.” Dalene het Chris mooi gevra om die draaiboek te skryf en ek was mal daaroor. Selfs Simon, ons klein seuntjie, het die klein Benjamin gespeel en Chris was die eerste week of so meestal by. Dit was soos al my flieks vir mý ’n onvergeetlike ervaring, olifante en al. 

Die storie van Klara Viljee is gebaseer op ’n tydskrifartikel geskryf deur Dalene Matthee as huisvrou. Waenhuiskrans was hoeka die plek waar my pa se meerminstories gebore is. Elke goddelike dag was ’n pêrel. Anna-Mart het almal se harte gesteel. Ons het ’n formidabele span gehad. Ek is steeds dankbaar dat Ton Vosloo agter die skerms gehelp het om die fliek moontlik te maak.

Een van die redes waarom ek nooit sou moed opgee nie, is dat Koos heeltemal oplossing-gedrewe was. Niks was ooit té problematies nie. Die sandduin was ’n uitdaging en ons was op ’n dag so meegevoer dat ons byna in die grot vasgekeer is deur die gety. 

.........
Paljas staan om baie redes uit.
..........

Paljas staan om baie redes uit. Om mee te begin, het Marius en ek op Swepie en Ann le Roux se plaas Doornkraal gebly en van die tonele is daar geskiet. Vriende van Pappalap se dae af. Paljas was toevallig die fliek waarmee ek en Chris na ’n stuk of ses filmfeeste genooi is, nadat Paljas die eerste fliek was wat aanvaar is vir ’n Oscar-inskrywing. Ek huil nou nog as ek na Fiela of Klara of Paljas kyk. Om nie te praat van Die wonderwerker nie. Die bobbejaan was ’n groot uitdaging! Ek moes my broer Wilhelm, vir wie ek baie lief was, groet waar hy sterwend was en net voor ons opstyg, het die boodskap van sy afsterwe gekom. Goddank vir Koos en Dawid en iemand soos André Scholtz wat deur die jare ’n anker was. Ek en Chris was beide groot Eugène Marais-aanhangers en snaaks genoeg was Erik Holm die man wat my aangemoedig het om die fliek te maak. (Hy het selfs ’n toneel bygeskryf mét Chris se toestemming.) Dankie, Erik. 

Jou toekenning is juis omdat jy so baie aandag aan temas skenk wat as feministies beskou kan word. Tog vertel jy net menslik dikwels vroue se stories. As jy betrokke is by die film, val die klem op hulle. Was dit nog altyd ’n doelbewuste ding? Watter temas interesseer jou en sonder jy graag uit as jy films vervaardig?

Wel, ek was in ’n meisieskool en -koshuis op Affies in Pretoria. Ek is lekker geboelie in die koshuis, want ek was klein en baie skaam. Gelukkig was my elokusie/spraakkuns-juffrou Elize van der Spuy daar. My eerste monoloog was die seuntjie Abdoltjie deur Alba Bouwer. Later was ek in ’n dameskoshuis op TUKKIES. Ek het baie kleure en geure meegemaak. Die snaaks, die mooi, die wrede en die onskuldige ... Kom ons sê, die krag én die weerloosheid van mense interesseer my en ek is toevallig ’n vrou. Om met mense soos Shaleen Surtie-Richards, Anna-Mart van der Merwe, Elize Cawood en Aletta Bezuidenhout te werk, was ’n voorreg. 

Goddank vir my pa Wilhelm. Hy het vir TUKS en Noord-Transvaal rugby gespeel, was in die vloot en het in meerminne geglo. Toe ek hom op ’n dag vra wanneer ek my pêrels gaan sien, het hy gesê: “Jy sal weet.” Dit was twee weke voor sy dood. Ek het besef my oudste seuntjie Reghard (toe twee weke oud) is ’n pêrel. Al die pad van Waenhuiskrans ... 

Feminisme is so relatief. My films het gefokus op die storie en die stories wat my aangetrek het, was meestal stories oor vroue. Die dokkies was sonder uitsondering oor mans.

............
My werk val nie in enige golf van feminisme nie. Ek is nie anti-man nie en glo ons het sterk manlike karakters geskep. Dit gaan vir my oor die integriteit van die MENS.
...............

My werk val nie in enige golf van feminisme nie. Ek is nie anti-man nie en glo ons het sterk manlike karakters geskep. Dit gaan vir my oor die integriteit van die MENS.

Hoe lyk die vrou se rol in die filmindustrie? Dis ’n harde en ongenaakbare plek: geld praat die hardste, die jong en slanke figuur ewe hard, en die soeke na lokettreffers is belangriker as die kwaliteit van films wat vervaardig word. Of hoe? Is dit onnodig sinies van my om dit so te stel? ’n Paar jaar gelede is daar baie geskryf oor #MeToo. Wat is jou ervaring, deur die jare? Het dit verander, het dit vererger, of verbeter? 

Ek hou nie van etikette nie. Miskien was ek destyds net gelukkig!

Sonneblom het ontstaan in ’n klein oorklankingsateljee in die motorhuis.

Die kreatiewe deel van vervaardiging bly my passie. Ek was in ’n posisie om fantastiese buitelandse rolprente te bestudeer tydens oorklanking. Sweeds, Duits, Nederlands en selfs Russies danksy die embargo destyds vanaf Engeland en danksy mense soos Verna Vels, Jan Schutte en later June Seymour.

Eers met die koms van TV het meer vroue soos (wyle) Annie Basson en Merwede van der Merwe na vore getree as regisseurs. Kunsregisseur Birrie le Roux, kostuumontwerper Dianna Cilliers, musiekontwerper Sue Grealey, vervaardiger Genevieve Hofmeyer. As daar ’n liefde vir mense en ’n liefde vir jou werk is, is die bedryf vir jóú. (Chris moes my soms onder die tafel skop om minder te praat en die rekenmeester kon dit nie glo dat ons geld spaar vir ’n engel nie. Hy het al die tyd gedink Jemima is ’n mens en toe vind hy uit sy is eintlik die beskermengel van die Orde van Jemima, wat waak oor kansvatters!) 

O en sy is vernoem na Beatrix Potter se Jemima Pudd le Duck, sowel as Lot se jongste dogter Jemima ...

Homo fabia! 

Lees ook:

Katinka Heyns vertel van Die Wonderwerker

Uitnodiging: Kom kuier en fliek saam met Katinka Heyns op 15 Februarie by die FAK Kaap-kantoor

Katinka Heyns: ’n onderhoud

Chris Barnard (1939–2015)

Luisterverhale

Die rebellie van Lafras Verwey – ’n onderhoud met Simon Barnard

Uit LitNet se argief: https://oulitnet.co.za/mond/cbarnard.asp

Ook uit LitNet se argief: https://oulitnet.co.za/onderwys/paljas.asp

Ook uit LitNet se argief: https://oulitnet.co.za/legendes/chris_barnard_individ.asp

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Ai, ek het nog altyd gewens Katinka kan Kringe in 'n bos verfilm, want sy sal reg aan my hartsboek gee. Ongelukkig is Chris ook nie meer daar vir die draaiboek nie. Ek het altyd vir my graad 10's gesê dat geen film so na aan 'n boek se teks is soos Fiela se kind van Katinka nie. Sy verdien die eerbewys deur en deur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top