Chris Barnard (1939–2015)

  • 2

Gebore en getoë

Christian Johan Barnard is op 15 Julie 1939 op ’n lemoenplaas, Mataffin, in die ou Transvaalse Laeveld gebore – die oudste van twee seuns van Flip, ’n sitrusboer, en Hanna. Sy broer, Sam, is gebore toe Chris vyf jaar oud was en omdat hy aanvanklik alleen grootgeword het, het hy geleer om homself te vermaak. Sy ma was ’n nooi Blundell en hy vertel self dat sy ’n gefrustreerde huisvrou was en ’n toegewyde tuinier. Sy behoefte om goed te plant en te sien groei, kom dus van beide ouers af.

As kind het hy Perte se siekte gehad, wat veroorsaak het dat sy een heuppotjie beskadig is en hy twee jaar in gips moes lê. (In 1994 is sy regterheup vervang.) Dit was voorskools en hy kon nog nie lees nie. “[T]erwyl ek na die plafon lê en kyk het, het ek aan my verbeelding verslaaf geraak. Ek het stories lê en uitdink waarin ek die held was – gewoonlik ’n ratse held wat baie vinnig kon beweeg.” Aan Rooi Rose (29 Desember 1999) vertel hy dat sy enigste ander vermaak ’n telraam was, sodat hy darem kon optel, aftrek, maal en deel toe hy skool toe is.

Chris se pa het net die Bybel en koerant gelees. Sy ma was die leser en die een wat hom aangemoedig het om te lees, maar dit het eers later in sy lewe belangrik geword. Aan die Hoërskool Nelspruit, waar hy in 1957 matrikuleer het, was Chris ’n gemiddelde leerling wat nie baie in boeke belang gestel het nie. Hy het eerder in die middae in die veld gaan rondloop, waar hy gefassineer was deur die planteryk, maar hy het ook nie goeie punte vir biologie gekry nie, omdat hy maar ’n vrot skolier was wat nie by die leerplan gehou het nie.

Hy begin reeds op skool skryf. Op hoërskool skryf hy in vir ’n gedigwedstryd in die jeugtydskrif Patrys. Hy skryf ’n lang gedig oor ’n leeu en ontvang een pond tien sjielings (ongeveer drie rand in die destydse geldwaarde) as sy deel van die eerste prys. Hierdie een prys was genoeg aansporing en hy het sedertdien nog nooit opgehou skryf nie.

In standerd 6 skryf Chris ’n handleiding oor soogdiere van Suid-Afrika en onderhandel met uitgewers voordat die boek nog klaar was; die boek het nooit verskyn nie.

Aan die einde van sy hoërskooljare begin hy kortverhale skryf. Een van sy eerste verhale stuur hy aan Die Huisgenoot. Die verhaal word afgekeur omdat “die lesers wat hou van liefde en avontuur nie belang [gaan] stel in ’n man wat op bladsy een onder ’n boom sit en op bladsy vyf sit dieselfde man nog onder dieselfde boom nie”. Hierdie skryfles sal Chris nooit vergeet nie.

Chris onthou dat hy op skool CM van den Heever se boek Kringloop van die winde by die biblioteek uitgeneem het omdat daar nie meer ’n speurverhaal op die rak was wat hy nie gelees het nie. Met die klaar lees van die eerste verhaal, “Daïel”, het hy besef dat hier ’n ander soort storie was. “Hier het ’n mens en ’n landskap tussen hierdie bladsye na my toe aangekom wat ek nooit weer sal vergeet nie. Ek was later jare teleurgesteld toe ek ‘Daïel’ herlees, maar dis nie van belang nie. Daardie standerdsewejaar het ek myself betrap dat ek elke dag in my Croxley-lyntjiesboek met doodgewone Afrikaanse woorde ’n toegegroeide leivoor presies só probeer oopspit soos Daïel dit gedoen het. Ek het nooit weer ophou probeer nie.” (Beeld, 27 September 1999)

Verdere studie en werk

Chris vertel oor sy naskoolse planne: "Omdat ’n mens op agtien alwetend is, het ek besluit ek wil ’n groot skrywer word. Dit was ’n geweldige flater en die begin van ’n eindelose avontuur. Al my aanlegtoetse op skool en universiteit het vertel ek is nie taalkundig aangelê nie, toe gaan neem ek Afrikaans, Engels en Frans plus ’n paar ander vakke by die Universiteit van Pretoria. Teen my derdejaar het ek reeds heelwat vakke gesleep waaronder al my taalvakke behalwe Afrikaans. Maar ek is in my dwaling gesterk deur die feit dat ek toe reeds redakteur was van die joolblad, die literêre jaarblad, die eerstejaarsgidsblad, die hierdie blad en die daardie blad. Toe besluit ek na my BA ek word joernalis. Dit was my tweede flater en die begin van twintig jaar se kosbare ondervinding.

"Ondervinding van hoe die lewe lyk en hoe ’n mens nie moet skryf nie. Ek het gewerk by by sedertdien afgestorwe koerante en tydskrifte soos Die Vaderland, Dagbreek & Sondagnuus, Die Brandwag en die glo nog bestaande Huisgenoot." (Tafelberg Uitgewers se webblad)

In sy eerste jaar op universiteit (1958) skryf Chris ’n kortverhaal wat hy aan die radio stuur. Dit is voorgelees – ’n wonderlike ondervinding vir die jong skrywer.

Op universiteit is Barnard ook voorsitter van Tukkies se toneelgroep en leer ken hy die teater, gaan kyk hy na opvoerings van die NTO en speel hy self ook toneel, alhoewel hy volgens eie bekentenis maar ’n swak akteur was. “Ek is die enigste akteur wat ek ken wat in ’n hoofrol begin en opgebou het tot ’n klankman.” Hy leer in hierdie tyd vir Bartho Smit ken en Tukkies se toneelgroep voer ook Bartho se Don Juan onder die boere op.

Op aandrang van Bartho Smit is hy op 25-jarige ouderdom na Europa om die eksistensiële Parys te beleef. Daar ontmoet hy vir Breyten Breytenbach en danksy sy bemiddeling is Breyten se eerste digbundel, Die ysterkoei moet sweet, gepubliseer.

In Europa leer ken Chris ook die moderne teater, wat hom baie beïndruk het. Daar maak hy ook kennis met baie en goeie rolprente. Hy het die rolprente baie opwindend gevind en gemeen dat dit baie moontlikhede het. Sy drama Pa maak vir my ’n vlieër pa was toe reeds (1963) geskryf.

Chris is in 1962 met Annette getroud, en drie seuns, Johan, Stephan en Tian, is uit die huwelik gebore.

Sy eerste boek, Bekende onrus, skryf hy terwyl hy op universiteit is; dit word in 1961 gepubliseer en hy verower daarmee die CNA-prys vir 1961. In 1992 vertel hy in ’n onderhoud met Vrye Weekblad dat hy meen hy te jonk was. “Ek dink alle skrywers sal dalk die eerste paar goed wat hulle geskryf het, wil begrawe waar niemand dit weer in die hande kan kry nie. Met my latere goed kan ek saamleef, maar met die eerste twee, drie goed was ek té jonk en naïef.” Maar om die tipe romans, novelles en dramas te kon skryf wat hy later sou skryf, moes die éérste boeke geskryf word.

Sy novelle Die Houtbeeld skryf hy voor Bekende onrus. Hy voel dat dit nooit moes verskyn het nie, maar dit is teen sy sin gepubliseer nadat Bekende onrus verskyn het.

In 1967 begin Chris as joernalis by Die Huisgenoot werk, en onder die aanmoediging van PA Joubert begin hy met die rubriek Chriskras, wat hom in die volksmond vestig. Die rubrieke word in drie bundels gepubliseer.

In 1970 ontvang Chris die SAUK en Belgiese Radio en Televisie se eerste prys in ’n hoorspelwedstryd vir Die rebellie van Lafras Verwey, wat in 1971 gepubliseer is. Dit word op 5 Maart 1971 oor die Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika uitgesaai. Op 30 April 1971 is dit in Afrikaans oor die Belgiese radio uitgesaai en later in Nederlands oor die Afrikaanse en Belgiese radio. Dit is in Nederlands, Frans, Engels, Italiaans en Tsjeggies vertaal. Hy ontvang in 1973 ook die Akademieprys vir Hoorspele vir Lafras Verwey.

Chris vertel dat die eerste aantekeninge vir die storie reeds in 1963 gemaak is. In 1964 sit hy in ’n kafee in Londen toe ’n beteuterde mannetjie by die deur instap en ‘n toebroodjie bestel. Dit sit weer sy kop aan die werk oor Lafras Verwey se storie. Dit het egter nog jare geduur voordat die storie geskryf is. “Eers wou ek van hom ’n roman maak – maar Lafras se storie wou nie as roman werk nie. Totdat ek op ’n dag begin besef het wat ’n hoorspel presies is.” In ’n onderhoud met Die Transvaler van 24 Augustus 1973 vertel Chris: "Ek het skielik ontdek dat ek sonder veel omhaal van woorde en sonder dekor kon klaarkom. En toe kom die radioregisseur Cor Nortjé in die prentjie. Hy het my 'gedreig' om die stuk klaar te skryf. En toe Lafras eers geskryf was, het Cor en sy span tegnici en spelers eindelose moeite gedoen om die stuk as hoorspel tot sy reg te laat kom.”

Die rebellie van Lafras Verwey is in Augustus 2011 in The Intimate Theatre in Kaapstad onder regie van Albert Maritz opgevoer en is baie goed ontvang. Dit is ook in 2012 by die Vryfees in Bloemfontein en by Aardklop op Potchefstroom opgevoer en in 2013 by die KKNK.

In Maart 2012 tydens die Woordfees op Stellenbosch is dit ook deur Albert Maritz en die teatergeselskap The Mechanicals op die planke gebring. Dit het in 2012 bekronings in al die topkategorieë tydens die Fleur du Cap-toekennings ingepalm. Carel Snyman was die beste akteur en Albert Maritz die beste regisseur. Dit is ook besonder goed deur die gehore ontvang en is met die gehoorkeuseprys vereer.

Die rebellie van Lafras Verwey en ‘n ander hoorspel van Chris, Taraboemdery, is in 1988 in Engels oor die radio uitgesaai. Dit was die eerste keer dat Taraboemdery oor die radio uitgesaai is.

In 1968 verskyn sy bundel kortverhale Duiwel-in-die-bos en in 1971 die roman MahalaMahala groei uit die kortverhaal “Bos” wat in Duiwel-in-die-bos opgeneem is en wat op sy beurt ontstaan het uit aantekeninge vir ’n roman wat Chris al in 1963 wou skryf. Vir hierdie twee werke ontvang Chris die Hertzogprys vir Prosa in 1973. Mahala word ook met die WA Hofmeyr-prys vir 1974 bekroon (saam met Hennie Aucamp se Hongerblom en wolwedans) en Duiwel-in-die-bos met die CNA-prys vir 1968. Na die toekenning van die Hertzogprys sê Chris: “Elke skrywer het oplaas maar net een ding te sê. En sy lewe lank soek hy na woorde om juis dit gesê te kry. My ‘ding’ is moeilik om in een sin volledig uit te spel: was dit anders, het ek seker nie meer geskryf nie.”

In ’n onderhoud met André le Roux in Volksblad van 8 Januarie 1988 vertel Chris dat Mahala vir hom ’n belangrike persoonlike dokument bly, “[o]mdat dit die eerste keer was dat ek gevoel het ek het werklik naby aan myself gekom. Ek het vat gekry aan wat vir my baie belangrik is, my onvermoë om te kan deelneem aan die lewe, en ek het dit op ’n manier tog oopgeskryf gekry tot by ’n punt waar ek moes erken dat hierdie toeskouerskap van my nie ander se skuld is nie, dit het net met myself te doen.”

Met die ontvangs van die Hertzogprys in 1973 maan Chris die Akademie dat van ’n instelling soos die Akademie insig verwag word, sowel as die verantwoordelikheid wat sy rol vereis. “As daar wetgewing sou kom om die wetenskap te strem – en dit lyk onwaarskynlik – moet daarteen geveg word. Indien wetgewing sou kom om die ontwikkeling van die kunste te kortwiek – en dit lyk nie onwaarskynlik nie en trouens voor hande – sou dit u plig wees om daarteen te veg.”

Met die ontvangs van die WA Hofmeyr-prys doen Chris ’n striemende aanval op sensuur. Hy sê in Suid-Afrika besluit die politiek wat mense mag lees, wat denkers mag dink en wat skrywers mag skryf. Sy land het ’n burokrasie geword waarin ’n staatsamptenaar met een streep van sy pen die werk van intellektueles nietig kan verklaar. Sensuur maak dit ál moeiliker vir die man op straat om die werklikheid om hom te verstaan.

Mahala word vandag gesien as een van Afrikaans se klassieke werke. Chris vertel aan Hanlie Retief (Rapport, 9 Oktober 2012): "Toe hulle Graham Greene se boek The Man Within wou herdruk, het hulle hom gevra of hy die boek wou redigeer en deurgaan. Hy het gesê hy wou baie graag, maar ná die eerste bladsye het hy besef hy is besig om ’n ding te vermoor wat al die jare sy eie lewe gehad het.

“Toe ek hiervan lees, wou ek net sê ‘halleluja’. Dit is baie riskant om goed oor te skryf wat jy vroeër geskryf het. Ek is op ’n ander plek in my lewe. Die boek moet staan vir wie ek toe was. Ek kan nie nou my ouer self daarop afdruk nie. Ek het tog al baie keer gedink my slotparagraaf kon sterker.”

Barnard se eerste televisiedrama was Nagspel, wat in 1976 geskryf is. Dit was die eerste van sy vier enkeldramas, waaronder Piet-my-vrou en Tekwan ook tel. “Wat TV-dramas lekker maak,” het Chris opgemerk, “is die feit dat jy woorde in die monde van akteurs kan lê. As dit goeie akteurs is, is dit lekker om jou woorde te hoor. Dan dink jy: ek skryf darem goed. As die akteurs nie werk nie, dink jy: ek het nie geweet ek skryf só sleg nie. Daar was al ’n hele paar van my goed waar ek my eie nek wou omdraai toe ek hoor wat die mense met my dialoog aanvang. Juis daarom kan ek nie wag om weer my tande behoorlik in ’n roman ingeslaan te kry nie. Dis wat ek nou eers gaan doen. ’n Lekker roman skryf.”

Tydens die herdenking van Swaruk (Suidwes-Afrikaanse Raad vir Uitvoerende Kunste) se tienjarige bestaan in 1976 word Chris deur Oude Libertas gevra om ’n opdragstuk te skryf wat met die feesvieringe opgevoer kan word. Die resultaat is Taraboemdery, met André P Brink verantwoordelik vir die regie. ’n Politieke groep in Suidwes besluit egter om die stuk te verbied en het sodoende ook besluit dat Natal en die Kaap dit ook nie mag sien nie. “Dis dan wanneer ’n mens voel om jou hande in die lug te gooi en in trane uit te bars.”

In 2010 is Taraboemdery met Richard van der Westhuizen, Neil Sandilands en Milan Murray by die KKNK aangebied. Albert Maritz het die regie hanteer.

Chris skei intussen van sy eerste vrou en in 1978 trou hy met Katinka Heyns, aktrise en later rolprentvervaardiger. ’n Seun, Simon, word uit die huwelik gebore.
Chris skryf ook intussen, in 1972, die filmdraaiboek vir Die bankrower met Manie van Rensburg as regisseur en Cobus Rossouw, Sandra Prinsloo en Marius Weyers in die hoofrolle.

Sy radiohoorspel Op die pad na Acapulco, wat in opdrag van die SAUK geskryf is by geleentheid van die vyftigjarige bestaan van die radio, is op 4 Julie 1974 in Radioteater opgevoer met Suzanne van Wyk as regisseur en Pierre Marais en Irmela Pakendorf in die hoofrolle. In 1974 word die hoorspel vir die hoogstaande Italia-prys ingeskryf. Die rebellie van Lafras Verwey het reeds in 1971 die prys verower.

In 1984 ontvang Chris se radioteks Donkerhoek die Idem-toekenning saam met Manie van Rensburg se Die vuurtoring – ’n prestasie wat in 1987 herhaal word met die toekenning van nog ’n Idem vir Uitnodiging tot die dans. Laasgenoemde is ook in 1986 bekroon met die eerste prys in die SAUK se hoorspelwedstryd. In 2008 ontvang Barnard die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans vir sy hoorspel Blindemol.

Dit is nuuskierigheid wat Chris dryf om in byna elke genre in die letterkunde te skryf. Nie net hoorspele nie, maar dramas, romans, jeugverhale, essays, kortverhale, novelles, sketse en draaiboeke maak deel uit van sy literêre repertoire. Maar prosa sal altyd sy groot liefde bly, veral die roman.

Hy vertel met sy sestigste verjaardag aan Carel Lessing (Beeld, 15 Oktober 1999): "’n Roman het ’n eienaardige manier om ’n eie lewe te ontwikkel wat jy nie maklik in die kortverhaal of drama kry nie."

Barnard is een van die stigterslede van die Afrikaanse Skrywersgilde in 1975 en in 1988 word hy tot voorsitter van die gilde verkies. Hy vertel aan Annari van der Merwe: "Ek het besef die Gilde is in ’n effense penarie en dat iemand moet help, maar dat dit sou beteken dat die roman waarmee ek besig was ná die verskyning van Voetpad na Vergelegen, weer sal moet wag." By die beraad van die gilde op Broederstroom in 1988 lê Barnard die tuig neer as voorsitter, omdat hy hom meer spesifiek aan sy skryfwerk wil wy, maar hy ontken dat daar enige waarheid in die gerug is dat die gilde gaan doodloop.

Televisiereekse soos Die avonture van Joachim VerweySimon en Sandra en Phoenix en Kie het uit sy pen verskyn en hy verwerk ook in 1987 Dalene Matthee se Fiela se kind vir die groot skerm deur die draaiboek te skryf. In 1987 besluit Chris egter dat hy klaar geskryf is aan reekse vir televisie. Hy neem hom ook voor dat dit sy laaste rolprent gaan wees. Hy gaan weer boeke skryf, want die fliekbedryf is frustrerend vir ’n skrywer. “Jy is hoogstens deel van ’n koor van mense wat ’n stelling probeer maak en jou stem raak verlore in die koor.”

Chris se eerste roman in tien jaar, Voetpad na Vergelegen, verskyn in 1988. Met hierdie jeugroman bring hy hulde aan sy erfenis en laat herleef hy Nelspruit se boeregemeenskap van sestig, sewentig jaar tevore. Die boek word bekroon met die Scheepersprys vir Jeuglektuur vir 1987–1989. Barnard het begin met die jeugverhaal omdat hy gedink het hy sou die stramheid makliker uit hom skryf as hy iets van kleiner omvang skryf. Met die oorhandiging van die Scheepersprys sê Lydia Snyman: “Dit word ’n jeugverhaal van ’n seun se lewe en ervaringe in ’n veranderende tydvak, van innerlike gewaarwordinge, van mense en menseverhoudinge wat tot ver van Vergelegen af uitkring. Dit word letterkunde, en daarmee lewer Chris Barnard ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse jeugliteratuur.” Die roman is voorafgegaan deur drie ander: Boela van die Blouwater, Danda en Danda op Oudeur.

In 2012 word Boela van die Blouwater deur Protea Boekhuis heruitgegee en in 2013 gee Tafelberg Danda weer uit. Danda vertel die verhaal van die 15-jarige Daniël Daneel wat saam met sy troeteldiere die rivier op ’n vlot aandurf om sy pa te gaan soek. In Die Burger van 22 Februarie 2013 is geskryf: "Die storie is so ongekompliseerd en toeganklik soos wat ’n mens van ’n jeug­verhaal verwag. Maar Danda se reis op ’n soms storm­agtige rivier is op meer as een vlak ’n ontdekkingsreis. Hy leer ken belangrike fasette van die lewe: vriendskap, lojaliteit, deursettingsvermoë, mededeelsaamheid, veggees, om lief te hê en om met deernis en humor na die mensdom te kyk. ’n ­Bewustheid van gelukkig of óngelukkig wees."

Danda kan beskou word as een van die klassieke jeugverhale in Afrikaans. Oor die vraag of die hedendaagse jeug enigsins aanklank by sulke amper "oudmodiese" verhale sal vind, sê Michelle Cooper van Tafelberg: "Danda is die enigste heruitgawe op ons kinder- en jeugafdeling se lys van 17 ­titels vir 2013. Daar is ook hernude belangstelling in Chris Barnard se werk ná die sukses van Die wonderwerker.

“Goeie letterkunde sal nooit ‘uit die mode’ gaan nie. Heelwat kopers van die boek sal dalk volwassenes wees wat dit onthou uit hulle jeug, of wat aanhangers van Barnard se werk is en die boek in ­hul versameling wil hê. Nie alle jonger ­lesers wil lees oor towenaars en vampiere nie en hoewel ­topverkopers dui op ’n ­voorkeurgenre, moet uit­gewers ’n verskeidenheid soort boeke beskikbaar stel.”

Chris Barnard het as volg geantwoord op die tendens om jeugboeke te laat "herlewe": "So ver ek kan onthou, het Tafelberg besluit om die boek opnuut uit te gee nadat ’n ander uitgewer verlof gevra het om dit te doen. In ander tale lees ‘vandag se kinders’ graag klassieke jeugverhale. Hoekom nie ook in Afrikaans nie? Hoe minder gier- en tydgebonde ’n verhaal is en hoe beter dit geskryf is, hoe langer bly dit leesbaar.”

Vandag se kinders ken nie meer bome se name nie en het nie so ’n affiniteit met die grond gehad nie. Hieroor sê Chris: “’n Mens mis nie die dinge wat jy nooit leer ken het nie. Boeke kan jou ten minste daaroor nuuskierig maak. Danda was ’n poging om dit te doen. ’n Mens skryf nie ‘anders’ wanneer jy vir kinders skryf as wanneer jy vir grootmense skryf nie. Jy doen dit met dieselfde respek vir jou leser en met presies dieselfde toewyding.”

Oor of daar verander moet word en politieke "inkorrekthede" reggestel moet word, voel Chris dat dit nie altyd wenslik is nie, "maar soms nodig, veral in die geval van veral tydspolitiek. In die geval van Danda het ek die slot verander omdat ek van die begin af nie tevrede was daarmee nie. Vir ’n jeugverhaal het dit net te veel vrae onbeantwoord gelaat.”

Barnard ontvang in 1991 die tweede maal die Hertzogprys – hierdie keer vir sy hele drama-oeuvre. In die commendatio, wat deur Rena Pretorius gelewer is: "Dit is nie as gevolg van die omvang van sy oeuvre dat hy die prys kry nie, maar vanweë die meriete van sy werk, veral Pa maak vir my ’n vlieër paDie rebellie van Lafras Verwey en Nagspel. Barnard se vakmanskap blyk uit sy grondige kennis van die moontlikhede van sy medium, sy doelbewuste soeke na vernuwing, sy eksperimentering met die visuele beeld en byklank as bewuste struktuurmiddele, sy noukeurige aandag aan die didaskalia, sy knap hantering van dialoog en van die karakters. [...] Sy talle hersienings en herskrywings van sy dramatekste bevestig sy toegewydheid as kunstenaar.”

Chris se volgende roman, Moerland, word in 1992 gepubliseer, en daarmee oes hy ál die belangrike letterkundige pryse in: die Rapport-prys van 1992, die CNA-prys van 1992 en die WA Hofmeyr-prys van 1993. In ’n onderhoud in Sarie van 11 November 1992 vertel hy dat hy reeds in 1985 die eerste bladsy geskryf het, maar dit is nie te sê dat hy sewe jaar daaraan gewerk het nie – daar het soms ’n hele jaar verbygegaan dat hy niks daaraan gedoen het nie. Tydens die oorhandiging van die CNA-prys sê Hans du Plessis, een van die beoordelaars: “Met Moerland bewys Chris Barnard by herhaling sy vermoë om met die Afrikaanse woord te toor. Die roman bly lank ná die lees daarvan aan jou vassit, en dit is boeke soos dié wat hard praat en jou agterna bly aanpraat, want dit gaan dieper as die blote storie, dit sê meer as wat op die papier staan.”'

Chris wou vir niemand preek toe hy Moerland geskryf het nie, vertel hy vir Andriette Stofberg (Beeld, 17 Oktober 1992). "Ek wou net ’n storie vertel, maar maklik het dit nie gegaan nie. Dit het my ’n worsteling gekos om daardie storie eindelik klaar vertel te kry, ’n worsteling wat ek nie net in tyd 25 jaar terug kan voer nie, maar waarin ek ook my jare lange, diepgewortelde 'verslawing' aan die tikmasjien moes aflê."

Moerland is die eerste roman in 21 jaar wat uit dié Hertzogpryswenner se pen verskyn. Dit is terselfdertyd ook die eerste van sy 24 stuks werke wat nie in sy geheel op die tikmasjien geskryf is nie. Ongeveer die helfte het op sy getroue tikmasjien ontstaan en die res op ’n woordverwerker nadat sy uitgewer hom op ’n rekenaarkursus gestuur het. "Dit het maar sukkel gekos om aan die rekenaar gewoond te raak. Net dít het ses maande uit my lewe geneem.

"Ek was verslaaf aan die gekletter van ’n tikmasjien. Ek kan hóór ek werk as ek op die tikmasjien werk. Met die rekenaar hoor jy niks en as jy hom afskakel, is daar nie eens ’n stuk papier wat jy vir jou moeite kan wys nie.”

"Maar selfs met die tikmasjien het dinge sommige dae maar bars gegaan. Dit is my gewoonte om die datum by elke dag se werk aan te bring. Daar is sommige van die velle papier waarop Moerland uitgeworstel het waarop daar sommer drie datums op een vel papier pryk.

"Ek het baie moeilik geskryf aan dié verhaal van ’n swart Afrikaner uit Angola en ’n blanke joernalis met ’n rebelse, regse tienerseun wie se paaie in Johannesburg kruis. In ’n stadium het ek selfs gedink ek moet dit maar los, dat ek dit nooit sal klaar kry nie.”

Sommige dele van Moerland is reeds in 1967 geskryf, hoewel hy eintlik eers vanaf 1987 “van tyd tot tyd” regtig in alle erns aan die roman begin skryf het. Hy het egter nie vanaf 1987 tot 1992 niks gedoen nie. Die geld moes inkom. In dié tyd het hy onder meer die jeugverhaal Voetpad na Vergelegen en die draaiboeke vir Fiela se kind en Die storie van Klara Viljee geskryf.

In die slot van Moerland beland die land in geweld en staatsgrepe en Stofberg wou by Chris Barnard weet of dít is soos wat hy die toekoms van Suid-Afrika sien: "’n Mens kan nie ooit sê dit of dat gáán gebeur nie. ’n Mens kan hoogstens sê dit kán gebeur, sou dát gebeur. Maar dan gaan jy bloot van ’n veronderstelling uit. Jy kan nie profeet speel nie.

“Elke leser moet sy eie interpretasie aan die slot gee. Ek dink wel dat daar eindelik ’n boodskap van hoop geïmpliseer word, dat as ons eers deur die krisis is, ons mekaar kan vind en die land opbou so in die gees van Lukas se woorde vroeër in die boek: 'Hoop is altyd die heel laaste uitweg. In klein ontberings verskraal dit gou. Maar as niks anders meer wil help nie, dan kom dit terug en daardie laaste, finale hoop bly by jou teen alles in tot die einde toe.’"

Frederik de Jager skryf in Insig van November 1992 dat Chris se skryfwerk by uitstek filmies is en Moerland die meeste nóg tot op daardie stadium: “visueel, deurlopende aksie, afwisselende en goed opgestelde tonele, klinkende dialoog”. Chris se betrokkenheid by die filmmedium het ontstaan uit praktiese noodsaak: om met Katinka Heyns [’n filmmaker] getroud te wees, “is om die filmbedryf as mede-eggenoot te hê”. Benewens die draaiboek van Fiela se kind is Chris ook die skrywer van sulke fliektreffers soos Paljas en Die storie van Klara Viljee.

Oor Moerland skryf FIJ van Rensburg (Beeld, 2 November 1992) dat die Barnard van die kortverhale met sy kenmerkende ekonomie en finesse ruimskoots in hierdie roman aan die woord is. “Letterlik tot aan die laaste woord. Die boek eindig op die woord ‘vibreer’. Die hele roman tril in ’n sekere sin in hierdie woord mee: nie net die spanning van en rondom die twee burgeroorloë en Suid-Afrika nie, maar ook dié van die joernalis-verteller en sy persoonlike problematiek, sy ontreddering as mislukte skrywer, as geskeide eggenoot, as ontoereikende vader, een wat van al sy ankers losgeslaan is en wat, gedagtig aan Bart Nel, oplaas besef: ‘Ek is nie meer hy nie’ (bl 199). In die trilkristal van ’n enkele woord lê die fynheid van die hele boek gespieël.”

Na die verskyning van Moerland het Chris aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 6 Maart 1998) vertel dat hy weer begin het om ’n roman te skryf, maar dat hy nie daaroor wil praat nie. “Ek loop nie onder lere deur nie,” sê hy. “Wanneer ek aan ’n projek werk, praat ek nie daaroor nie. Ek weet net ek wil voor die jaar 2000 nog ’n roman publiseer. Nog iets doen wat die moeite werd is. Wanneer jy soveel jare al skryf, word die drang om te skryf ’n siekte.”

Daar lê ’n tydperk van 20 jaar tussen Mahala en Moerland: “Ek dink ek het ’n stadige brein. Ek glo nie ek is ’n natuurlike skrywer nie. Daar is ander skrywers wat ’n roman per jaar kan skryf en nog oorsee kan gaan vakansie hou. Dalk is hulle slimmer en meer talentvol as ek. Ek skaaf aan elke sin voordat ek tot ’n volgende oorgaan. Ek is puntenerig. Elke sin moet reg wees voordat ek ’n volgende kan skryf. Sinne en paragrawe vloei uit die voriges.

Nieuwoudt het opgemerk dat sulke skaafwerk sekerlik vir skoon teks moet sorg – ’n droom vir uitgewers. “Soms word ek wel gebel en gesê iets is Anglisisties of daar is ’n spelfout. Andersins word daar nie verander aan die styl en sinsbou nie. My skaafwerk is soos die werk van iemand wat ’n tafel maak. Die plesier daarin is om ’n netjiese, perfekte tafel te maak. Dis nie lekker om ’n skewe tafel te maak nie.”

In 1993 lewer Chris die hooftoespraak by die Afrikaanse Skrywersgilde se beraad in Bloemfontein. Die tema van die beraad was Opstand teen verskillende vorme van mag/gesag, en hy vra of skrywers kan bekostig om in April 1993 soveel tyd af te staan aan debatte oor dié of daardie groep se literêre kwellings. "Daar moet gepraat word oor die mag van armoede; oor geheime leërs en rampokkergeweld; oor omgekeerde rassisme; oor anargie."

In September 1993 woon hy die Nasionale Leeskringseminaar in Welkom by. Hier het hy hom sterk uitgespreek teen resensente wat "venynige" resensies skryf: "Hoekom pleeg meer skrywers nie selfmoord nie. Sommige resensente lees met ’n komplekse, diepgewortelde wrok teen die samelewing."

Martjie Roos berig in Beeld van 28 Mei 1993 dat Barnard onthuts was toe die SAUK-raad besluit het om sy skryfkontrak vir ’n nuwe TV-reeks vir TV1, Kosmos, te kanselleer. Hulle het besluit dat die reeks, wat oor ’n klein blanke gemeenskap handel, ’n homogene gemeenskap in ons heterogene samelewing uitbeeld. Die reeks is glo nie aanvaarbaar vir TV1-kykers nie. Chris was oortuig dat die reeks afgekeur is omdat dit oor ’n groepie blanke Afrikaners handel en nié vanweë die gehalte van die teks nie. Die reeks en ‘n opvolg daarvan is wel later uitgesaai as Onder draai die duiwel rond.

Chris koop in 1994 ’n plasie naby Nelspruit, soos ‘n voël vlieg ongeveer ses tot sewe kilometer van waar hy grootgeword het. Hy noem die plaas Thulani (“Hou jou bek”) en hou daar sebras, blouwildebeeste, waterbokke, impalas en riet- en bosbokke aan. Die een deel van die plaas word bewaar en die ander deel word bewerk met lemoene, makadamianeute, lietsjies en mango’s.

“My pa, Flip, was ’n lemoenboer. Maar as kind het ek hom nooit oor die boerdery uitgevra nie. Ek het nie daarin belanggestel nie. Hy het gelukkig lank genoeg geleef om by te wees toe ek my eerste lemoenboord aangelê het. Hy was 82, maar was heeldag langs my met die plantery. Dood van die moeg, maar tevrede dat ek uiteindelik verstand gekry het.” In 1999 het sy plaas vir die eerste keer ’n sitrus- en makadamia-oes opgelewer.

Hy vertel aan Barrie Hough dat hy altyd gewonder het of hy ’n boer sou kon wees. “Ek is. Die tekstuur van die grond is dieselfde as dié wat ek uit my kinderjare onthou. Ook die geluide in die bos. Ek het my tuiste gevind.”

Hier in die Laeveld, sê hy, boer hy en op Kosmos by Hartbeespoortdam skryf hy.

In Sarie van 3 November 1999 vertel hy dat hy al die jare gevoel het hy loseer maar net in Gauteng. Hy trek later permanent Laeveld toe.

Die verfilming van Paljas in 1998 ontketen ’n hewige twis tussen Barnard en Abraham H de Vries. Chris was verantwoordelik vir die draaiboek en De Vries het beweer dat Chris die idee vir die verhaal ontleen het aan ’n verhaal wat hy (De Vries) in 1973 gehoor het en in sy boek Skaduwees tussen skaduwees tot ’n kortverhaal verwerk het.

Boendoe, Barnard se volgende roman, verskyn in 1999. Hy skryf dit in die “rekordtyd” van 15 maande omdat hy so ’n goeie storie gehad het. Na Boendoe se eerste hoofstuk het hy geweet “hier is genoeg bestanddele vir die storie om homself te vertel. Die karakters het een na die ander begin opdaag en die storie het sy eie onkeerbare loop geneem … Ekologie speel ’n rol, asook godsdiens. Dit gaan oor daardie groot tree wat die mens probeer gee van die donker na die lig toe, van jou self af na jou medemens toe.”

By die bekendstelling van Boendoe in Johannesburg begin Chris sy toespraak só (Beeld, 29 September 1999): “Ek wens Boendoe was my eerste boek. En daarmee wil ek nie alles wat ek voorheen geskryf het hoegenaamd ontken nie. Dit sou ondankbaar wees. Ek wens maar net ek kon dertig jaar gelede hier begin het en dan hiervandaan verder gegaan het. Want van Boendoe af verder, lyk dit my, word die pad vir my interessanter.”

In Insig (1999; maand onduidelik) sê Barnard: “[Boendoe] is ’n verhaal tuis in Afrika oor mense ontuis in dié wêreld, sy hoofkarakter ’n verlore bioloog wat navorsing doen daar waar die grense vaag word tussen Mosambiek, Swaziland en Noord-KwaZulu-Natal, omring deur magte waarvan hy niks begryp nie: die magte van die mistieke en paranormale, die magte van liefde en van eensaamheid en die skrikwekkende mag van ’n fratsdroogte.”

Henning Snyman was nie baie beïndruk met Boendoe nie. Hy skryf in Rapport (31 Oktober 1999) dat Chris in Boendoe terugkeer na die “koorsige boswêreld”' van Mahala. “Hierdie keer gaan dit oor die alleenloper en ekoloog Brand de la Rey en nog ’n paar karakters wat as ’t ware wegvlug van die beskaafde en gewone wêreld. Hongersnood en droogte dryf talle mense na die klein sendinghospitaal waar die personeel dit onmoontlik vind om na hul behoeftes om te sien. 

“’n Plan moet gevind word om hierdie mense op ’n plek te besorg waar hulle voedsel en mediese sorg kan kry.

“Jock Mills, ’n gewese vlieënier en nog ’n kluisenaar, is besig om ’n ou Dakota te herbou. Die plan wat dan ontvou, is dat dié vliegtuig die siek en honger mense na ’n beter bestemming vervoer. Ná vele avonture slaag die plan wel ten dele.

“Binne hierdie verhaal is daar verdere sub-temas, soos die verhouding tussen Brand en die sendingwerker-verpleegster Julia, die geheimsinnige wêreld van die entomoloog Strydom en die verhaal van Jock Mills, wat uiteindelik met sy vliegtuig bewustelik vertrek op ’n vlug waarvan hy seker is hy nie sal terugkeer nie.

“Chris Barnard skryf vlot, maar die verhaal is yl, die karakters een-dimensioneel en die onderlinge intriges onverwerk en swak geïntegreer. Van werklike spanning en avontuur is daar weinig sprake. Barnard slaag ook nie daarin om die besondere en geheimsinnige bos-atmosfeer van Mahala te herskep nie. Die leser is wel bewus van ’n soort gedrae atmosfeer, maar word nie meegevoer nie.

“Die figuur van die alkoholis Jock Mills en sy vliegtuig en veral die slot waarin hy sterk figureer, word die literêre hoogtepunt van 'n andersins saaie en vervelige roman. Mills word simbool van iemand wat die onmoontlike kan regkry en wat in sy beplande, maar wesenlik triomfantelike dood, tog uitstyg bo die middelmatigheid van die boek en die karakterbeelding. Boendoe is literêr nie 'n geslaagde werk nie, maar behoort wel leesgenot te verskaf aan die leser wat genot put uit Barnard se styl en tematiek.”

"'Wat is die ding, tussen een mens en ’n ander een, wat so duiselingwekkend is dat dit die laaste tree na mekaar toe onmoontlik maak?' Hierdie vraag oor die menslike tekort lê ten grondslag van Chris Barnard se boeiende nuwe roman, Boendoe, skryf LS Venter in Beeld (27 September 1999). "Boendoe isn virtuose roman, veral in ’n stilistiese en verteltegniese opsig. Veral twee (amper filmiese) tegnieke val op: die tegniek van die naby-opname en die tegniek van nawerking of retensie. Die naby-beeld wat Barnard van honger gee, is werklik skrikwekkend. Barnard is onteenseglik een van die belangrikste prosaïste in Afrikaans. Dis meer as heerlik om met Boendoe weer onder sy beswering te kom.”

Oor die beweging van Sestig sê Barnard in Beeld van 15 Julie 1999 aan Carel Lessing: “Dis vandag moeilik om aan iemand te verduidelik hoe bekrompe dit in die sestigerjare was. Die Afrikaanse samelewing is geregeer deur die Nasionale Party deur middel van die kerk. Mens kan amper sê die kerk het die landswette geskryf. Dit was ’n natuurlike proses dat ’n geslag skrywers sou kom wat sê: ‘Nee, nonsens, ons gaan dit nie meer vat nie. Ons gaan nie meer onder hierdie soort dwingelandy probeer skryf nie.’”

Boendoe is in 2011 deur Michiel Heyns in Engels vertaal as Bundu en in 2013 het dit die kortlys gehaal van die internasionale Independent Foreign Fiction Prize. Op network24 (14 April 2013) het Chris Barnard oor die insluiting op die kortlys gesê: "Dit was natuurlik heeltemal uit die bloute. Ek dink Michiel se vertaling het heelwat daarmee te make. Dit lees in Engels soos ’n Afrikaanse roman.”

Oor die Engelse weergawe skryf Margaret von Klemperer in The Witness van 27 Julie 2011: "First published in 1999 as Boendoe, this novel has waited 12 long years before appearing in English. However, it has been worth waiting for Michiel Heyns, that prince of translators, to create a reading ­experience that never gives the reader pause to wonder if something is really what the author said, or meant. Chris Barnard, an original member of the group of writers known as the Sestigers, is a potent force in Afrikaans literature, and it is good to have his book made so accessible to an English-speaking readership."

Na Boendoe hou Chris hom besig met die skryf van televisiereekse soos Onder draai die duiwel rond, wat by die Hartbeespoortdam afspeel, en Amalia, ’n speurreeks met bekende akteurs soos Illse Roos, Anna-Mart van der Merwe, Tobie Cronjé, Dawid Minnaar en Marius Weyers. Vir hom is die skryf van ’n roman baie rustiger, sonder enige druk. Vir ’n televisiereeks moet ’n skrywer elke drie weke ’n draaiboek lewer. Dit plaas ’n mens onder druk – wat dalk ook nie ’n slegte ding is nie.

Amalia is Chris se sewende televisiereeks. Vir Amalia II is Chris aangesê om die liedtekste vir die reeks te skryf. Hennie Aucamp vertel dat hy as skilder, skrywer, dramaturg en televisiedramaturg moeiteloos in sy nuwe rol ingeglip het. En Aucamp sonder die teks van Die blou kafee as iets uitsonderliks uit.

Chris vertel aan Mariana Malan (Die Burger, 11 April 2006) dat die skryf van die tweede reeks van Amalia amper makliker was as die eerste een, “want ek het die karakters geken en kon so half in hul monde inskryf”. Katinka was ook die regisseur van die reekse en Chris erken dat hulle ’n baie goeie span is. “Sy meng nie in as ek skryf nie en ek meng nie met haar regie in nie.” In 2006 ontvang Chris as skrywer en André Scholtz as vervaardiger ’n ATKVeertjie vir die beste televisieprogram (musiek/verskeidenheid/drama) vir episode 13 van Amalia.

Illse Roose, aktrise en Amalia van die televisiereeks, se debuutsangalbum, Die blou kafee, waarop sy die liedjies van Amalia II sing, is in 2006 by die KKNK bekendgestel. Chris Barnard het die meeste van die lirieke op hierdie album ­geskryf, met Chris Torr, Mynie Grové, MD Greyling, Emile Minnie en Gian Groen wat die musiek geskryf het. Illse beskryf die eindproduk as “die voetpad van die liefde en die lewe”.

Vir die Aardklop-kunstefees skryf Chris in 2006 ’n opdragstuk, Die twaalfuurwals. Dit is opgevoer met Anna-Mart van der Merwe en Marius Weyers. Die stuk is deur die publiek aangewys as die gewildste stuk by Aardklop en Weyers het die prys vir beste akteur ontvang. Katinka was die regisseur. Dit was Chris se eerste toneelstuk in ongeveer 30 jaar.

Gabriël Botma (Die Burger, 9 Maart 2007) berig as volg oor die opvoering van dié stuk tydens 2007 se Woordfees op Stellenbosch: “Die liefde is ’n hoeksteen én ’n meulsteen, en dit is dikwels moeilik om die verskil te sien, verklaar die gevierde skrywer Chris Barnard en sy ewe gevierde regisseursvrou, Katinka Heyns, in dié donker ode aan verhoudings.

Die Twaalfuurwals vertel die verhaal van ’n (soveelste) krisismoment in die stormagtige huwelik van die rokjagter-dramaturg Paul van Heerden en sy ­aktrise-vrou, Nana. Antieke én onlangse geheime (wat ook nie só dig bewaar is as wat Paul aanvanklik meen nie en alles om sy kompulsiewe hoereerdery wentel) word in die loop van meer as ’n anderhalfuur se intense konfrontasie tussen ’n vyftal karakters onthul. Paul, vertolk deur Marius Weyers, herinner sterk aan ’n ander rokjagter van formaat, Pine Pienaar, ook gespeel deur Weyers, wat Barnard en Heyns in die TV-reeks Onder draai die duiwel rond in 1997 geskep het. Soos daar is die boere-Don Juan se manewales hier deels ­komies, deels tragies, met ’n soortgelyke kombinasie van pateties en heroïes op die koop toe. Weyers, altyd profes­sioneel toegewy en in beheer, kan dié ­karakter seker al met toe oë vertolk.

“Anna-Mart van Merwe se aanslag as Nana is egter totaal onverwags. Haar stem en houding is die van ’n ‘aktrieze’, ’n tipe Anna Neethling-Pohl-­parodie van ’n toneelspeelster wat nooit die masker afhaal nie. Nie net skep dit ’n verouderde indruk nie, wat seker pas by die generasie van Paul en Nana, maar dit raak hinderlik, al besef jy dat Van der Merwe baie lof en krediet vir haar tegniese vaardigheid en volgehoue konsentrasie verdien. As die bedoeling is dat dié uitbeelding van Nana empatie by die gehoor vir Paul ondanks sy rondlopery moet wek, is Van der Merwe se interpretasie in die kol.

“Voorts is dit maar moeilik om meer as net gedeeltelik te identifiseer met karakters wat hulself en mekaar só onophoudelik verniel, ten spyte van aansienlike (self-) kennis. Daarmee hel Barnard en Heyns beslis na ’n depressiewe stelling oor verhoudings oor. Die situasie word vererger deur die spannetjie sekondêre karakters wat Paul en Nana se lewe en huis bevolk. Drie (waarvan twee deur Rolanda ­Marais vertolk word en die ander een deur Hanli Rolfes) is vroue, uiteraard ­almal Paul se minnaresse. En die enigste ander man, ’n akteursvriend (Marcel van Heerden), het al sterk by Nana ­aangelê, kom dit ook aan die lig in ’n ­sekwens van onthullings waaruit niemand met skoon hande of ­gewete tree nie.

“Dis inderdaad ’n somber prentjie van verhoudings en vriendskap. Die vraag ontstaan egter ook hoe ernstig die kyker dit alles moet opneem. Hoe onaptytlik ’n egpaar en ontroue vriende se realistiese dermuitrygery oor ouer en jonger koeie in die sloot ook al kan wees, sorg Barnard se teks en die goeie tydsberekening van ’n talentvolle, ervare span tog vir talle vermaaklike kwinkslae. Die ou Griekse waarheid, so meesterlik ingespan deur onder andere Woody Allen, dat tragedie plus afstand die beste komedie uitmaak, word deeglik in Die Twaalfuurwals belig. (…)

“Hoewel die vinnige sikliese einde aan die lig bring dat Die Twaalfuurwals (ook) ’n Paul van Heerden-stuk is – werk dit eerder versluierend as verhelderend in op die gegewe. Die strekking is dat Paul ten slotte onderneem dat hy ’n stuk gaan skryf om nie net hom van sy verlede nie, maar ook sy lydende vrou van haar masker te probeer bevry. As hierdie Die Twaalfuurwals dáárdie einste stuk is, ontstaan daar groot twyfel oor die transformerende krag van Paul en Nana se huiwerige ­laataand-walsie.”

In November 2007 word Chris se Blindemol in Radio­teater op RSG opgevoer. Blindemol was ’n opdragwerk ter viering van ­Afrikaanse radio se 70-jarige bestaan aan Chris, wat vroeër verantwoordelik was vir meesterstukke soos Die rebellie van Lafras Verwey en Uitnodiging tot die dans. Margot Luyt, uitvoerende dramaregisseur by RSG, het die regie waargeneem. Chris ontvang die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiodrama vir Blindemol, ’n stemmingsvolle werk oor ’n blinde klavierstemmer, Dolf, wat vanuit die hiernamaals besin oor sy verhoudings met die kleindorpenaars, veral met die vroue wat hom liefgehad het.

Charl van Heyningen (Die Burger, 28 November 2007) skryf as volg oor die opvoering: “Luyt se kennis, ondervinding en sorgsame benadering van die ­medium het sedert haar aanstelling ’n tasbare verhoging in standaard teweeggebring en ’n uitstekende teks soos Blindemol is veilig in haar hande. Ek is altyd bang om te ­luister na iets waaroor vooraf ’n ­ophef ­gemaak word, want ’n mens word maklik teleurgestel, maar Blindemol was ’n kragtoer.

“Dit gebeur dikwels dat spelers met mooi stemme, soos Nic de Jager in die hoofrol van Dolf, verlief raak op die klank van hul eie stemme en dat goeie vertolkings as gevolg daarvan skipbreuk ly. De Jager se vertolking was briljant. Sy gestroopte en eerlike spel met ’n uitmuntende naby-mikrofoontegniek het die ­luisteraar aan sy lippe laat hang en die teks het behoorlik lewe gekry in sy mond. Sy vertellings was ’n goue draad wat van begin tot einde deurgetrek kon word.

“Die res van die rolverdeling – die 87-jarige Nerina Ferreira, Juanita Swanepoel, Susan Beyers, Johan Botha, Andre Rossouw, ­Joanie Combrink, Zenobia ­Kloppers, Shaun Arnolds en Martelize Kolver – was formidabel en ’n mens wil niemand uitsonder nie. Blindemol dien as voorbeeld van hoe ’n radiodrama optimaal kan werk. Die spelers het deurgaans kontak gemaak, geluister na en ­gereageer op mekaar en sodoende ’n fassinerende klankpalet geverf. Die samespel was baie goed en die karakters is duidelik gedefinieer en konsekwent deurgevoer. Die keuse van musiek was atmosferies in die kol. Die byklanke het nooit met die dialoog gestoei nie. Ai, as alle tekste maar so goed soos hierdie een kon wees ...”

In 2008 word Oulap se blou: veertig kort vertellings by Tafelberg gepubliseer. Hieroor skryf Annemarié van Niekerk in Die Burger (29 Februarie 2009): “Hierdie bundel verskyn 40 jaar ná Barnard se eerste en grensverskuiwende kortverhaalbundel, Dui­wel-in-die-Bos (1968) en sluit verhale in wat al in tydskrifte en versamelbundels verskyn het, maar hier onder een dak bymekaar gebring is. As dit ’n regte dak sou wees, was dit sommer ’n sinkdak. Soos dié van Ferdinand Bruwer se hartseer huisie op die voorbladfoto.

“Barnard is nie ’n ou vir fieterjasies nie. Met sy gestroopte stories vat hy jou sommer reg in jou maag met ’n half tevrede hartseer wat jou nie sommer loslaat nie – ons noem dit die blues. Daarom die titel, Oulap se Blou, wat sinspeel op: ‘’n Oulap se rooi maak mooi.’”

Barnard verklap nie die geheim oor wat verdigsel en waarheid is nie, "maar hy kry dit goed reg om ’n bestaan vas te vang wat byna nie meer is nie – daardie dinge wat in taal, woor­de en plekname nátril maar dreig om verlore te gaan.

“Oor die vrees van hierdie verlies sê Barnard in ‘Reise’: ‘Met ’n landkaart oop voor jou … lees jy in die plekname die verslag van ’n paar eeue se geskiedenis … jy probeer die lae bo-oor lae van daardie geskiedenis afskil en soos erosie … jou voorgeskiedenis blootlê. En jy kry maar min.”

“Maar met hierdie verhale en sy vernuftige dans met woorde en taal troef Barnard die einste verlies: ‘Taal is meer as wat dit op die oog of die oor af wil voorgee … taal help nie net ’n land skryf nie – op die duur skryf die land onvermoeid en baie geduldig ook die taal.’ Nostalgie word maklik stroperig. Tog kry Barnard dit meesal reg om veilig te speel. Sy geheim lê waarskynlik daarin dat hy dít wat vir hom na aan die hart lê ook naby aan jou as leser se hart bring deur sy verhale kort en sy taal eenvoudig te hou. Die ek-verteller vat jou vas in ’n direkte belewing en vermors geen tyd om sy saak jou saak te maak nie. Jy’t geen wegkomkans nie. Boonop is die karakters se behoeftes en drome daardie basiese hunkering wat ons almal ken. Jy staan in die skoene van die karakter en wil hê dat dinge vir hulle regkom. (…)

“En kort voor die einde van ’n verhaal gooi Barnard boonop daai patoswekkende draai van hom soos wanneer die arm en verwaarloosde Rooikoos tog die skoolresies wen; of Pietman uiteindelik met sy kaskar speel, maar teen sy pa se grein in speel dis sy bruidskar en hy die bruid; of wanneer Bets Brits se verrassingsnaweek sleg verkeerd loop. Dit alles doen Barnard met woorde wat soos perfek gepakte domino-blokkies netjies in mekaar se arms val. Hierdie stories help ons inderdaad onthou, al is dit dan ook dat ‘alles destyds soveel anders was’.

“Dit was wonderlik, maar dis so heeltemal verby.”

Vir Neil Cochrane (Rapport, 25 November 2008) "verplaas Chris deur middel van skerp karaktertekening, rasegte dialoog en sintuiglike beskrywings van fisieke ruimtes die leser moeiteloos na ’n plattelandse bestaan waarin groter-as-lewensgroot karakters in hul volle menslike mondering geskets word. Dit is juis laasgenoemde wat Barnard as ’n meesterverteller onderskei – sy vermoë om binne die bestek van enkele bladsye onthoubare karakters wat die volledige register van menslike strewes, oorwinnings en swakhede verteenwoordig, lewend te maak, want in die 40 vertellings waaruit Oulap se blou bestaan, tref ’n mens ’n uiteenlopende galery van menslike tipes aan – daar is die triomfantelike Rooikoos, wat hom op die lewe wreek deur soos ’n besetene om ’n atletiekbaan te hol, die enigmatiese Nelia Blom, wat ’n manier het om getrou te bly aan haar onopvallendheid en op ’n dag net spoorloos verdwyn, en die nimlike Tante Mathilda, wat altyd Engelse, Franse, Italiaanse of Duitse minnaars gehad het omdat die Noorde se mans ’n vrou se hart soveel beter deurgrond.

"Oulap se blou is ’n toeganklike en leesbare bundel wat veral by ouer lesers byval sal vind. Tog maak die algemeen menslike strekking van die bundel dit relevant vir almal wat die moed van sy/haar oortuiging het om die absurde, lagwekkende en tragies verganklike aard van sy/haar menswees in die gesig te staar. Barnard is ’n skrywer wat respek vir menslikheid (en die underdog) openbaar wat aan sy vertellings ’n universele karakter verleen wat wel die toets van die tyd sal deurstaan.

"Die bundel gaan nie noodwendig literêre grense verskuif of die gang van die Afrikaanse prosa in ’n nuwe rigting stuur nie, maar hierdie ís klassieke Barnard. Oulap se blou is ’n nodige en welkome bydrae deur een van Afrikaans se mees deurwinterde vertellers."

In 2009 het die Laeveldse Sakekamer Chris, ‘n gebore Nelspruiter, met die trofee vir leier van die jaar vereer vir sy besonderse leierskap en die vermoë om uit enige slegte saak iets goeds voort te bring. Hy is vroeër ook by die Innibos-kunstefees vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse literatuur vereer.

Ilse Salzwedel (Rapport, 18 Maart 2009) het met Chris Barnard gepraat oor inspirasie, maar dit is nie iets waarvan hy hou om oor te praat nie, want hy sou nooit iets geskryf het as hy dáárvoor moes wag nie. “Kyk, skryf is nie maklik nie. Dis ’n eensame werk wat baie eise stel. En ’n mens moet maar ’n dik vel ontwikkel. Ek sê altyd vir mense wat wil skryf om nie op te hou probeer nie, selfs al word jou werk hoeveel keer afgekeur. ’n Mens sal tog nooit ’n koordloper word as jy die eerste keer wat jy afval ophou probeer nie. Jy leer eers bo bly as jy lank genoeg afgeval het.

“As ’n mens skryf is jy heeltyd besig om onseker te wees oor dit waaraan jy op daardie oomblik skryf. Jy voel op dun ys, want laat ons eerlik wees: ’n skrywer skryf nie vir homself nie. ’n Mens skryf omdat jy in ’n interaksie met iemand wil wees, selfs al is dit ’n gesiglose leser.”

Op LitNet, met Chris se 70ste verjaardag, skryf Frederik de Jager oor Chris se skryfstyl: “Die hand van die meester is daarin sigbaar dat dit onsigbaar is. Daar is van Mozart se musiek geskryf dat dit van so ’n kristallyne aard is dat dit nie alleen deurskynend is nie, maar voorkom asof dit nie gemaak is nie maar in die ewigheid, noodsaaklik, bestaan. En so skryf die lang skraal man met die kennebaard. Jy kan sy hand nie sien nie, en die sinne, met hul rustig geskikte woorde, vloei saam tot riviere waarvan niemand kan dink dat hulle op ’n dag vir die eerste keer begin vloei het nie. En hulle vloei ál dieper en sterker in stories waarin jy jou net onder ’n waarskuwing behoort te begewe, want hulle lýk maar net so kalm, en hulle word verskuiwende massas water wat jy waaragtig nie met punte en kommas sal kan stuit nie.

“So kry die redakteur ’n insig in wat hom op universiteit geleer is van vorm en inhoud wat een is. Daar is nie dwang en magsmisbruik in Chris Barnard se skryfwerk nie, hoewel juis die afwesigheid daarvan dwang en magsmisbruik onder mense blootlê – net soos dit al die ander menslike giere sagkens sigbaar maak, die swakhede en die deugde, die dieptes van gevoel en die dwaasheid, die erns en die luim, en liefde en verlange. En die grootste hiervan is seker die verlange.

“Elke trein, boot, bus, lorrie of vliegtuig in Chris se oeuvre is ’n draer van verlange. En hy is een van daardie skrywers wat jou paragrawe en soms bladsye lank met ’n stuk masjinerie kan boei dat jy later die mense uit die pad wens sodat die lorrie kan begin praat. Die verflenterde lorrie wat in Moerland ’n medereisiger word op vlug uit Angola. Die onvergeetlike beskrywing van die vertrekkende stoomtrein in Voetpad na Vergelegen. Die Dakota in Boendoe wat homself as ’t ware uit sy los stukke in die oerwoud bymekaarskraap en ... kan jy dit uithou ... homself rakelings oor die boomtoppe lig. Die Jeep wat in Taraboemdery die hele tyd op die verhoog staan soos ’n stille getuie van: dwang en dwaasheid en erns en luim en magsmisbruik, die hele litanie, en altyd weer verlange. (...)

“Vroeër het hy ’n stukkie Hoëveld gehad wat hy Dwaal genoem het – ’n naam vir ’n tydelike staanplek. Die plaas waar hy nou al ’n jaar of tien in sy geboortedistrik boer, heet Thulani: stilte en rus. Daar staan vrugtebome in rye en wilde bome waar hulle wil. Hy ken elkeen se naam. Daar loop klompies wild en daar is ’n watertjie wat ’n klofie tussen die granietkoppe deurgeloop het. In so ’n kloof kan jy jou die man en die bobbejaan van Boendoe aan die teenoorgestelde kante verbeel – die herkenning tussen hulle, sáám met die ewige onbegrip.

“As ’n skrywer jou by só ’n plek uitgebring het, waar jy jouself in die onpeilbare gesig van jou eie natuur kan spieël, is dit regverdig om te sê ja maar hy het nooit politiek geskryf nie? Want Chris was nooit ’n ‘politieke’ skrywer nie; nie een met wapperende vlae nie. Hy het eenkeer gesê as jy trou bly aan die waarheid en die storie wat jy vertel, kan jy nie die politiek misskryf nie. En lees hom maar. By hom lê verwonding, of dit persoonlik is of politiek, aan die wortel van die menslike ervaring. Dalk is die ‘politieke’ Barnard net minder sigbaar omdat ook sy verwondering aan mense panoramies is en nie sektaries nie; almal insluit en nie net party nie. En omdat hy sy hand nie laat wys nie.

“Hy is nie iemand wat jy met vlae in optogte sal sien loop nie. Hy betoog nie en skryf nie betogend nie. Hy stap nóg met swepe, nóg met rosette rond. Vertonerig is hy nie. Hy toon, maar vertoon nie, nee. ’n Beskeie mens wat weinig het om beskeie oor te wees. (...)

“Maar jy sal hom nie selfvoldaan betrap nie. Hoekom hou hy nie van pretensie nie, vra sy seun Simon hom in ’n nuwe dokumentêre film deur sy vrou, Katinka Heyns. Want as ek myself nie kan glo nie, antwoord hy, hoe kan ek verwag dat ander my moet glo?

“Wel, ander glo jou, Chris. En ek weet jy glo jouself. Maar wat moeilik is om te glo, is dat jy sewentig is. Want ek ken ’n seun genaamd Chris Barnard wie se verwondering aan die wêreld nog niks afgeslyt het nie. En ek ken ’n Chris Barnard wat met sewe maal sewentig jaar se inlewing oor mense skryf. En ek ken iemand wat vandag sewentig word, maar ek is jaloers dat ek jou nog net agtien jaar daarvan ken.”

Katinka Heyns se rolprent oor Eugène Marais, Die wonderwerker, is op 7 September 2012 vrygestel. Chris het die draaiboek meer as tien jaar tevore al begin skryf, maar Katinka het gesukkel om geld daarvoor in die hande te kry. Leon Rousseau se biografie oor Marais, Die groot verlange, is as basis gebruik vir die storie, wat gaan oor die gedeelte van Marais se lewe wat in die Waterberg afspeel toe hy siek was aan malaria. Dawid Minnaar het die rol van Marais vertolk en Elize Cawood en Marius Weyers was die egpaar wat hom versorg het. Anneke Weideman het die rol van Jane Brayshaw vertolk.

In 2013 het Chris die Golden Horn-toekenning ontvang vir die beste draaiboek vir Die wonderwerker en Ronelle Loots vir die beste redigeerder.

In September 2012 het Barnard in sy huis op die familieplaas Thulani gesit en televisie kyk toe vier mans inbreek en hom vasmaak aan ’n stoel, waar hy vir amper 12 uur lank moes sit voordat hy deur van sy werkers op die plaas bevry is. Daarna is daar nog drie keer by die plaashuis ingebreek, maar hy was gelukkig nie die ander kere daar nie. Sy kinders het voet neergesit en geweier dat hy weer alleen daar gaan bly. Sy rekenaar met 12 hoofstukke van 15 van sy nuwe roman het ook in die slag gebly.

Chris het aan Hanlie Retief in Rapport (9 Oktober 2012) vertel dat die plaas vroeg in Oktober 2012 verkoop is. "Ek was baie lief vir die plaas. Ek het dit opgebou van niks tot ’n boerdery wat neute en lemoene oorsee uitvoer."

Hy het aan Retief vertel van die jare wat hy op Thulani deurgebring het: "My hele lewe is daar. Dis vir my net ’n totaal onmoontlike ding om te moet aanvaar ek gaan die plaas moet verkoop. My brein slaan toe. Ek het gister vir Katinka gesê ek was die laaste tyd so hiperbewus van die voorreg om daar te kan bly. Die rus en vrede, die sebras wat voor my wei, die wildebeeste en rooibokke. En dat ek gesond is, in my gemoed vrede het, en dat ek kan skryf en musiek luister ... ek was elke dag só dankbaar daarvoor. En skielik, net so met een klap is dit weg. Alles.

“Jy weet, soos die kraai vlieg is my plaas sewe kilometer van die plek waar ek grootgeword het. So, dis dieselle bome en dieselle klipkoppe, dieselle grondreuk, gras, dieselle alles. Ek kry weer daar my jeug. Dit voel of ek weer klein en onskuldig is, soos toe ek vyf jaar oud was op Bossieskop.

“Ek dink in elkeen se lewe is daar ’n tydperk wat hy beskou as die volmaakte hoofstuk. Daardie jaar op Bossieskop was vir my so. Ons het nie lank daar gebly nie. Maar my pa was so volkome gelukkig dat ek as vyfjarige dit kon sien en my ma was so volkome gelukkig soos wat ek haar nooit daarna ooit weer gesien het nie. Dit was net so ’n ongeloof­like tyd van vreugde. Dis die jaar waarin ek vir die eerste keer besef het iets van die skoonheid van die aarde, van veldblomme, van voëls. Ek verlang nog altyd terug na daardie halleluja-jaar.”

Hy het ’n nuwe huis in ’n veiligheidskompleks in Mbombela (voorheen Nelspruit) gebou van waar hy kan uitkyk op sy oupa en ouma se plaas en Katinka het in Die Burger (6 September 2013) aan Murray la Vita gesê hy sal eerder in ’n tronksel in die Laeveld sit as om daar weg te gaan.

Barnard het na die plaasaanval nog nie weer sy hand aan sy roman gesit nie, maar dit beteken nie hy het ledig gesit nie. By die Innibos-kunstefees in Nelspruit in Mpumalanga in 2013 is sy nuwe drama, Tango, as die gewildste produksie aangewys en het dit die Innibos-prys ontvang. Katinka was die regisseur. Tango is ook by Aardklop as die gewildste produksie aangewys.

Tobie Cronjé, Marius Weyers, Cobus Rossouw en Tinarie Van Wyk-Loots het die rolle vertolk. Ná die plaasaanval het Chris besef dat hy iets sal moet skryf om hom te help om te fokus en oor die trauma te probeer kom. Toe wend hy hom tot iets wat hy nog nooit vantevore aangepak het nie, naamlik ligte komedie.

In Tango gaan dit oor twee oujongkêrels, Lappies en Daan. Hulle woon iewers in die platteland saam in ’n woonstel. Dan daag Daan se skatryk oom Kas onverwags by hulle op. Sy verlede is effe duister, maar hy het geen gebrek aan ondernemingsgees nie en het ’n voorliefde vir mooi meisies. Dan is daar ook nog Tillie wat uit haar woonstel gesit is omdat sy nie die geld vir haar huur het nie. Kas belowe hy sal vir haar sorg.

Chris Barnard het die hele komedie as ’n "waaghalsige koorddans" beskryf (Beeld, 14 Junie 2013). "In die proses het ek gou agtergekom daar is ’n baie fyn lyn tussen ‘snaaks’ en ‘laf’, en ek het te veel agting vir ’n goeie akteur om hom/haar te belas met lawwighede.

“Ek het geweet ek gaan vir Tobie en Cobus en Marius – drie ou teatervriende – skryf nog voordat ek ’n storie gehad het. Vir Tobie omdat hy ’n doodgewone sin kan laat snaaks klink; vir Marius omdat hy jare gelede al vir my gesê het hy wil eendag ’n gay-rol speel; vir Cobus omdat ek 40 jaar laas vir hom ’n rol geskryf het.”

Chris en Katinka het aan die begin nie baie nou saamgewerk aan die stuk nie. "Eerstens omdat ek nie graag enige onklaar werk vir iemand anders wys nie. Tweedens omdat ek met baie minder selfvertroue as gewoonlik die projek aangepak het. En derdens omdat almal om my gedink het ek is mal om in sulke omstandighede ’n ligte komedie te probeer skryf.”

Waarom sal hy die stuk aanbeveel? "Dis nie aldag dat jy hierdie drie akteurs saam op dieselfde verhoog sal sien nie. Trouens, ten spyte van al drie se lang professionele loopbane is dit die heel eerste keer wat dit gebeur.

In 2011 het Chris Barnard ’n SALA-toekenning (Lifetime Achievement Literary Award) vir sy lewensbydrae ontvang. In 2014 het hy ’n Fiësta-toekenning ontvang vir sy bydrae tot drama en skryfkuns, en by die Woordfees van 2014 is hy vereer vir sy lewenswerk op die gebied van woordkuns. In 2015 vereer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nog ’n maal vir Chris Barnard deurdat die Deleen Bekker-prys vir die beste rolprentdraaiboek in Afrikaans aan Die Wonderwerker toegeken is.

Chris Barnard is Maandagoggend 28 Desember 2015 in Pretoria in die Wilgershospitaal aan ’n hartaanval oorlede. Hy was 76 jaar oud. Hy was die vorige twee weke in die hospitaal nadat sy regterbeen op 16 November afgesit is en daar komplikasies ingetree het.

Frederik de Jager, wat namens die familie gepraat het, het gesê dat Barnard ná die amputasie na ’n rehabilitasiesentrum is vir arbeidsterapie en om ’n prostese te ontvang. "Sy toestand het sowat twee weke gelede begin versleg en hy is terug hospitaal toe, waar hy in die hoësorgeenheid opgeneem is. Hy het vermoedelik ’n infeksie opgedoen wat sy organe aangetas het," het De Jager verduidelik (Die Burger, 29 Desember 2015).

Chris Barnard word oorleef deur sy vrou van 37 jaar, die rolprentregisseur Katinka Heyns, hul seun, Simon, sy seuns Johan, Stephan en Tian uit ’n vorige huwelik, sy stiefseun, Reghard, en sy broer Sam.

Huldeblyke

  • Joan Hambidge: "Die dood van Chris Barnard is ’n groot verlies vir die Afrikaanse prosa. Veral sy roman Mahala (1971) en bundel kortverhale Duiwel-in-die-bos (1968) is twee uitstaande prestasies in enige letterkunde. In Mahala skep hy atmosfeer, op so ’n wyse dat die leser telkemale moet teruglees om te bepaal wat droom is of werklik gebeur het. In Duiwel-in-die-bos skep hy ’n bundel verhale wat telkemale op mekaar inspeel, ’n belangrike eenheidsbundel in Afrikaans soos Henriette Grové se Jaarringe. Soos in die fliek Otto e mezzo (uit 1963) van Fellini is die skakels subtiel tussen hede en verlede, droom en werklikheid. Daar was ook rolprenttekste, rubrieke, dramas en jeugverhale. ’n Uitsonderlik geskakeerde loopbaan, ’n Sestiger en veral ’n romanskrywer na wie ’n mens by herhaling kan terugkeer." (Die Burger, 30 Desember 2015)
  • Die Burger-hoofartikel, 30 Desember 2015: "Die Afrikaanse skrywer en Sestiger Chris Barnard (76) laat vir baie Afrikaanse lesers ’n klassiek geworde oeuvre agter, een wat deur die jare tot talle genres gegroei het. Sy gesamentlike werke bewys hom vandag as een van min skrywers van wie gesê kan word dat die gehalte van die skryfwerk niks ingeboet het as gevolg van sy veelsydigheid nie. Onder die genres waarin hy gewerk het, tel romans, novelles, rubrieke, jeugverhale, kortverhale, verhoogdramas, hoorspele, essays, filmdraaiboeke, radio- en televisiedramas. Sy jare in die joernalistiek het by hom ’n uitsonderlike taalvaardigheid gevestig.

Die skrywer van die gewilde Chriskras-rubrieke destyds in Huisgenoot is ook die skrywer van die klassiek geworde Mahala, van ’n jeugverhaal soos Danda, van draaiboeke vir die televisie soos Amalia en ’n rolprent soos Paljas. Laasgenoemde het aan Suid-Afrikaanse verhale op die Oscars die internasionale kollig gegee. En dat sy hoorspel Die rebellie van Lafras Verwey sy weg bly vind na luisteraars en gehore dekades ná die publikasie en uitsendings daarvan in Suid-Afrika en in die Nederlande wys die durende gehalte van sy skryfwerk. Ook uit sy pen het vertalings verskyn uit die wêreldletterkunde, waaronder werk van Ernest Hemingway en Chinua Achebe. Vir Barnard se rol in Afrikaans, sy talle bydraes sowel as bekendstellings, sal hy by uitstek onthou word.

  • Breyten Breytenbach: "Hy was die stil een. Die ou grote. Die man met die ruim hart en die werklike diepgaande bemoeienis met die aard en die kronkels en die vrese van menswees. Hy was die stilis, die skrywer wat met ekonomiese, maar treffende woordgebruik vir jou ’n situasie of ’n wêrelddeel kon oproep wat oënskynlik lokaal was – en hy was altyd gevoed deur sy wortels – maar in feite die condition humaine bestryk het. (...) Saam met Bartho Smit in die besonder – en ander stimulerende en simpatieke voorbeelde en verwysings soos Etienne Leroux, Jan Rabie, André Brink, Braam de Vries en verder ook Uys Krige, en later Dirk Opperman – het hy gesorg daarvoor dat ’n mens die vertroue ontwikkel om te glo dis die moeite werd om aan te hou skryf in Afrikaans.

"Chris Barnard en die ander het van die taal ’n soepel en moderne skeppingstuig gemaak en daarmee saam ’n ruimte van leefbaarheid geskep waarbinne jy met oortuiging kon verskil van die opinies en besluite van nie die bewindhebbers en stampriesters nie, maar ook van jou medeskrywers indien nodig. Hoed dra is ongelukkig nie meer gebruiklik nie. Ek wil egter die simboliese hoed lig vir hierdie Bosveldmens wat ons nou ontval het. Dankie, Chris, vir wat jy vir soveel van ons as mens beteken het. Mooi loop, en groete sê daar bo." (Die Burger, 29 Desember 2015)

  • Dana Snyman: "Op ’n dag in 1995 – of was dit ’96? – is ek en die fotograaf Nardus Nel in Nelspruit om ’n artikel vir Huisgenoot te doen. Laatmiddag, toe ons klaar is, sê Nardus: 'Kom ons gaan groet vir Chris.' Eers weier ek. Chris is my gunsteling Afrikaanse skrywer, maar ek is bang vir hom, en ’n bietjie skaam. Chris is hierdie Hertzogpryswenner, hierdie slim Sestiger, en hier daag ek, ’n ou joernalissie, by hom op.

"Dit gaan nie oor jou nie, sê Nardus, wat vir Chris toe reeds lank ken. Chris wag vir ons by sy plaas, Tulani, se uitdraaipad. Dit lyk belowend, dink ek, toe ek die ouerige, rooi Isuzu-bakkie sien. Ons skuif by hom in; en toe word my vrees nié waar nie: Chris neem ons nie na sy huis en lei ons by ’n statige studeerkamer in en begin met ons oor Derrida en Nabokov te gesels nie. Nee, Chris gaan wys vir ons die plaas, en sê nou en dan net die nodigste: Hier het hulle laasweek ’n mamba doodgemaak. Doer wil hy mango’s plant. Later hou ons by ’n lemoenboord stil. Chris pluk vir ons elkeen ’n lemoen en ons staan by die bakkie en skil ons lemoene en eet dit dat die sap onliterêr by ons kennebakke afloop.

"’n Jaar of drie later loop ek hom weer in die Laeveld raak, hierdie keer tussen ander mense. Laataand vertel ek vir hom ek het een keer ’n meisie suksesvol verlei deur vir haar sy kortverhaal ‘’n Man kom tuis’ laatnag by kerslig voor te lees. Hy lag en lag en sê dis ’n groot kompliment vir hom, en ek moet tog weer kom kuier. (Met party van Chris se stories kan jy selfs jou eie vrou verlei.)

"In 2005 kom ’n donkerte oor my gemoed. Ek woon toe nog in Pretoria. Chris sal meer as ’n sielkundige verstaan, redeneer ek. Op Saterdagoggend kom ek op Tulani aan. Ek kan nie onthou wat hy daardie dag vir my gesê het of ek vir hom nie. Ons het in elk geval nie juis veel gepraat nie. Ons het baie lank daar op die stoep gesit, en dit was vir my genoeg net om te weet hierdie stil man langs my weet van die donkertes en vrese en onsekerhede wat soms in ’n mens kan loskom. Sy skryfwerk sê dit vir jou – al van Delport in Mahala se tyd af. Toe ek die middag weer ry, sê Chris: 'Sien jy nou, dis nie so erg nie.'

"Ek kan nie daarop aanspraak maak dat ek Chris se vriend was nie, maar al het ons net daardie een lemoen saam geëet, sou dit ook al vir my genoeg gewees het. Nardus is ook al oorlede. Gisteroggend toe ek hoor Chris is dood, het ek dadelik aan Nardus gedink, en weer gehoor hoe sê hy: 'Kom ons gaan groet vir Chris.'" (Die Burger, 29 Desember 2015)

  • Abraham de Vries: "My goeie vriend was die enigste skrywer wat in daardie tyd oor die hart van Afrika geskryf het. Sy begrip en gebruik van Afrikaans was boonop byna abnormaal goed. Iets wat minder bekend is, is Barnard se belangrike rol in die moontlik maak vir Afrikaans om te ontwikkel. Hy en Bartho Smit was die twee stigterslede van die Sestigerbeweging; pas terug uit Nederland was ek saam in Bartho se Karmann Ghia Pretoria toe om te gaan geld soek vir die publikasie van die tydskrif Sestiger. Ook met die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde was sy kennis van uitgewery onmisbaar. Maar meer: dis Chris wat Breyten se Ysterkoei in Parys gelees en die manuskrip vir Bartho gestuur het, soos ook Katastrofes later, wat gedeeltelik ontstaan het met Chris as eerste leser. Ek weet dit omdat daar in Katastrofes ’n figuur is wat die hele dag huil – in die nieliterêre wêreld waar skrywers se idees vandaan kom, was dit Chris wat verkoue ­gehad het! Chris was benewens skrywer ook ’n leser wat kon raad gee soos min met ’n verhaal wat nie wou ‘werk’ nie. Ons treur oor jou, Chrisjan. Rus sag.” (Die Burger, 29 Desember 2015)
  • Dolf van Niekerk: "Tydens my laaste besoek aan Barnard in die hospitaal het ek die toegelate tyd ver oorskry met ons gesprekke oor die jongste letterkunde, die wese van skryfwerk as eensame ambag. Die afskeidsgedagtes het gegaan oor die misterie van die ­lewe en dat verwondering ons laaste wete is. Gegroet, my vriend. In lewe was jy ’n gunsteling van die muse; in dood is jy ’n gunsteling van almal wat jou en jou werk geken het.” (Die Burger, 29 Desember 2015)
  • Adam Small: "Barnard sal vir altyd voor in die ry van ons letterkunde staan. Sy woorde sal blý styg, soos ’n goeie vlieër, en hy hoef nie op sy pa te gewag het om dit vir hom te maak nie. Hy’t dit ­alles sélf gedoen. Dis hartseer vir my en Rosalie om te weet hy’s liggaamlik nie meer by ons nie. Ons diepe meegevoel met sy vrou: sy filmwerk in samewerking met haar, soos Fiela se kind, sal ons bybly." (Die Burger, 29 Desember 2015)
  • PG du Plessis: "Oor Chris Barnard is daar te veel om te sê vir ’n paar koerantwoorde. Hy was een van die kerns waarom Sestig gekristalliseer het. Maar as mens en vriend was hy selfs meer. En om die draer van soveel gedeelde herinneringe oor ’n halfeeu, soveel gedeelde vertroulikhede en vrese oor skryf en menswees te sien wegsterf uit jou late bestaan, is ’n hartseer wat jy nie kan deel nie. Vir Chris kon jy die seerste en die diepste vertel en dit sou daar bly, want hy’t jou menslike swakhede gerespekteer – soos jy syne. Al wat ek eintlik wil sê, is ‘Dankie, ou Chris. Dankie.’” (Die Burger, 29 Desember 2015)
  • Frederik de Jager: "Christiaan Johan Barnard was ’n man van min woorde, maar omdat hy hulle so versigtig gekies het, was hulle buitengewoon kragtig. Sodanig was sy taalvaardigheid dat sy skryfwerk ’n mens stilte, eerder as geraas, laat ervaar het. Daarom is enige poging om die man Chris Barnard en sy werk onder woorde te bring hubris. Buitendien is daar min mense wat sy ou skoene werd is, minste van almal die skrywer hiervan. Waarop ek wel die geringste aanspraak het, is die voorreg van vriendskap wat gevloei het uit die redigering en publikasie van sy laaste vier boeke, oor bykans 25 jaar. (...)

"Maar hoewel dit maklik gebeur dat romans tot maatstaf van ’n skrywerskap geneem word, was Chris veel meer produktief in die verskeidenheid ander genres waarin hy ewe suksesvol geskryf het: vier novelles, ses bundels kortkuns, vier jeugromans, agt verhoog- en radiodramas, vyf gepubliseerde TV- en filmdraaiboeke en nog drie filmdraaiboeke, vyf enkeldramas vir TV, vyf dokumentêre films en sewe TV-reekse. Die meester van iedere een. Hoe was dit moontlik? Hy was aan drie dinge trou: aan die taal as sy instrument, aan die vakmanskap van skryf, en aan die suiwere deurskouing van die menslike hart. Daar was geen plek vir valsheid nie – nóg in sy werk nóg in die mens Chris Barnard.

"Daar is goeie rede hoekom dit saak maak dat hy Afrikaans so goed beheers het. As Breyten Breytenbach se Afrikaans tuimelende witwater is waar elke moontlikheid van segging opborrel, is Chris s’n ’n stil rivier waarin daar drama onder die oppervlak afspeel. En as dit ’n rivier is, kan ander daarin swem soos in ’n werklike rivier en al die heerlikheid en risiko daarvan ervaar. (...)

"Jy kon met hom ernstige gesprek voer oor die ambag van sinne en paragrawe, aanvange en slotte, spoed en balans en kleur in sy skryfwerk. Hy was ’n vakman soos ’n meesterkabinetmaker een is. Wanneer jy sy voltooide werk lees, kon jy die nate nie sien nie. Ek het sy prosa altyd soos die musiek van Mozart ervaar, waarvan iemand gesê het dit besit die klaarheid van iets noodsaakliks, asof dit van altyd af bestaan het.

"En dan is daar die begrip van mense wat hy in sy verhale oopgeskryf het, sy dit vir die gedrukte bladsy of vir die silwerdoek. Nooit oordrewe nie, nooit hewig nie. Hy het die mens in al sy grootsheid en dwaasheid deurskou met die bestendige oog van die tyd. En hier is ’n voorbeeld van hoe vorm en inhoud een is in die werk van ’n vakman: Chris het hom met goeie rede die meester gemaak van die onhebbelike verledetydsvorm in Afrikaans deur die steurende het-ge-patroon slim te systap. Dit is betekenisvol dat soveel van sy werk in die verlede tyd geskryf is: wat is, was reeds, sal weer wees. Jy kan die lewe en die mens nie met ’n kort liniaal meet nie. Hy was nuuskierig maar onverbaas, simpatiek maar nooit sentimenteel nie.

"Dit verduidelik miskien waarom hy nie ’n meer openlik politieke skrywer was soos van sy tydgenote nie. Hulle, die Sestigers, het immers almal nuwe ruimtes téén die versmorende bestel van hul tyd probeer oopskryf. Maar ook politieke epogte, dinastieë, dwingelandye is verbygaande. (...) Hy het ’n groter prent en ’n dieper waarheid in die oog gehad.

"Hy was allermins ’n swaartillende skrywer – of mens – maar sy onderwerp het die gewig gehad van die aardbol op Atlas se rug. Hy het die mens en die aarde ernstig opgeneem – en juis opgeneem, om te dra en nie te laat val nie, wat die opdrag is wat elke groot skrywer aan hom- of haarself gee.

"Was Chris Barnard ’n groot skrywer? Sonder twyfel. Een van die heel grootstes. Hy het die verlange beskryf, die skoonheid en die vreugde. Hy het konflik en waansin soos vuur oor die verhoog geblaas. Hy het swakheid gestalte gegee, die mens op ons kwesbaarste wanneer ons die meeste liefhet, op ons mooiste wanneer ons speel, op ons boosste wanneer ons verleer om kinders te wees. Hy het die hart van ’n kind ewe goed verstaan as die siel van ’n bobbejaan. Hy het die aarde in stres gesien en sou, soos in Boendoe, ’n vliegtuig uit die oerwoud wíl om ’n handvol vasgekeerdes te red. Dit volg dat Chris erkenning sou kry. Hy is een van die mees bekroonde skrywers in Afrikaans en hy het pryse ontvang in elke genre wat hy beoefen het.

"Maar nou begin daardie lig uitdoof wat soveel bekronings geïnspireer het. Die Sestigers, wat Afrikaans vir ons almal oopgebreek het, verlaat ons. Ingrid Jonker, Bartho Smit en Etienne Leroux is lankal weg, Jan Rabie, Hennie Aucamp en André Brink meer onlangs, en nou Chris Barnard. Hierdie mense, in lewe en in dood, moet op die hande gedra word. Hulle gee ons lig waar ons nie kan sien nie, en hulle maak donker waar ons harder moet probeer kyk. En húlle, nie die gebabbel op Facebook in vertaalde Engels nie, skep vir ons Afrikaans as ’n medium om sinvol in te lewe. Vir ’n oomblik in die tyd. Chris het geweet die keerkant van elke wins is verlies. Maar jy moet eers die wins na waarde skat.

"Sy voorlaaste boek heet Oulap se Blou. In die hospitaal, toe sy asem begin opraak, het hy ’n vrou in ’n blou rok gesien. Sy dokter was ’n sorgsame swart man wat perfekte Afrikaans praat." (Die Burger, 30 Desember 2015)

Publikasies:

Publikasie

Bekende onrus

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

CNA-prys 1961

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die houtbeeld

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boela van die Blouwater

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1970
  • 1974
  • 1975
  • 1984
  • 1987
  • 1988
  • 1989
  • 2012

ISBN

0628007973 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel
  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

APB-prys vir Jeuglektuur

Vertalings

Nederlands vertaal deur Dieuwke Behrens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Man in die middel

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1967
  • 1975
  • 1979

ISBN

0628007841 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pa maak vir my ’n vlieër pa

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1969
  • 1971
  • 1975
  • 1979
  • 1980

ISBN

0624004691 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys 1991 vir hele drama-oeuvre

Vertalings

Engels vertaal deur Anthony Dawes, 1970

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dwaal

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die swanesang van Majoor Sommer

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duiwel-in-die-bos: Verhale 1963–1968

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1970
  • 1975
  • 1982
  • 1984

ISBN

  • 0624006506 (hb)
  • 0624016838 (hb)
  • 0624020754 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1968
  • Hertzogprys 1973 (saam met Mahala)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Stasie in die niet: ’n drama vir 4 volwassenes

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

Hertzogprys 1991 vir hele drama-oeuvre

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die rebellie van Lafras Verwey

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1974
  • 1977
  • 1980
  • 1983
  • 1986
  • 1986

ISBN

  • 0624001124 (hb)
  • 0624017591 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

  • SAUK/BRT-prys vir Hoorspele 1970
  • SA Akademie-prys vir Hoorspele

Vertalings

  • Nederlands
  • Frans
  • Italiaans
  • Tsjeggies
  • Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mahala

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1973
  • 1981
  • 1988
  • 2006 (Klassieke uitgawe)

ISBN

  • 0624004643 (hb)
  • 0624015734 (hb)
  • 0624026442 (sb)
  • 0624043894 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Hertzogprys 1973 (saam met Duiwel-in-die-bos)
  • WA Hofmeyr-prys 1974

Vertalings

Duits vertaal deur G van Schreven, 1984
Engels vertaal deur Luzette Strauss, 2009

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chriskras

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1983

ISBN

0624002632 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Danda

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1976
  • 1978
  • 1979
  • 1980
  • 1983
  • 1984
  • 1985
  • 1986
  • 2013

ISBN

  • 0624006077 (hb)
  • 0624007960 (hb)
  • 0624010678 (sb)
  • 0624022854 (sb)
  • 9780624055105 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Iemand om voor nag te sê

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1988

ISBN

  • 0624007278 (hb)
  • 0624026000 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys 1991 vir hele drama-oeuvre

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chriskras: ’n tweede keur

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1979

ISBN

0624009114 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Taraboemdery

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1983

ISBN

  • 0624010368 (hb)
  • 0624018563 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys 1991 vir hele drama-oeuvre

Vertalings

Engels vertaal deur Nigel Vermaas

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Man met vakansie

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1979
  • 1989

ISBN

  • 0624009386 (hb)
  • 0624028523 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys 1991 vir hele drama-oeuvre

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Danda op Oudeur

Publikasiedatum

1977

ISBN

0624010694 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Piet-my-vrou en Nagspel

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1987
  • 1989
  • 1990

ISBN

0624017850 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys 1991 vir hele drama-oeuvre

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

So onder deur die maan: Chriskras 3

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624022234 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

FAK se Kaaplandse Helpmekaarprys vir Ontspanningsleesstof in Afrikaans 1986

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voetpad na Vergelegen

Publikasiedatum

  • 1987
  • 1990
  • 1991

ISBN

0624025926 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1987–1989

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Klopdisselboom: die beste van Chriskras

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026086 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moerland

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031772 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Rapport-prys 1992
  • CNA-prys 1992
  • WA Hofmeyr-prys 1993

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Paljas en Die storie van Klara Viljee: die filmdraaiboeke

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036413 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Draaiboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boendoe

Publikasiedatum

1999

ISBN

0624037800 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Michiel Heyns, 2011

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Paljas

Publikasiedatum

2008 (Skooluitgawe)

ISBN

9780624046226 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Draaiboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Oulap se blou: veertig kort vertellings

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781415200667 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wonderwerker [draaiboek]

Publikasiedatum

2012

ISBN

 

Uitgewer

Johannesburg: Penguin

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Chris Barnard as samesteller en redakteur

  • Bartho by geleentheid van sy sestigste verjaardag. Johannesburg: Perskor, 1984 [ISBN 0628027664 (hb)]
  • Taalfees-album: GRA 14 Augustus 1875–1975. Kaapstad: Die Huisgenoot, 1 Augustus 1975
  • Die Transvaalse Laeveld: kamee van ’n kontrei. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [ISBN 062400614X (hb)]

Chris Barnard as vertaler

  • Achebe, Chinua: ’n Pad loop dood. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1966
  • Hemingway, Ernest: Vaarwel wapens. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1965
  • Penning, Louwrens: De held van Spionkop: een verhaal uit den Boere-Oorlog. Pretoria: Van Schaik, 1967
  • Penning, Louwrens: Die kolonis van Suidwes-Afrika. Pretoria: Van Schaik, 1967
  • Penning, Louwrens: Die leeu van Modderspruit. Pretoria: Van Schaik, 1966
  • Penning, Louwrens: Die oorwinnaar van Nooitgedacht. Pretoria: Van Schaik, 1967
  • Penning, Louwrens: Die verkenner van Christiaan de Wet. Pretoria: Van Schaik, 1967

’n Keur van artikels oor Chris Barnard op die internet

 Artikels deur Chris Barnard op die internet

Die vertalingslys kan onvolledig wees. Daar is ’n wye verskeidenheid biografiese artikels op die internet beskikbaar (te veel om hier te lys).

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Edith Muller.

    My hart is seer omdat Chris Barnard 'n mens-mens was en nou dood is. Dit was so lekker om my op te rol in die gentlemans' club chair en te lees en te weet die besondere skrywer sit iewers in die bos by sy bos-geselskap. Jy was die rykste man op aarde wat die rykdom van eenvoud geken het. Ons huil saam met die kinders en Katinka oor jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top