Oulap se blou herinner mens waarom die lees van Afrikaans ’n genot is in stede van ’n verpligting

  • 0

Titel: Oulap se blou
Skrywer:
Chris Barnard
Uitgewer: Umuzi

ISBN: 9781415200667
Aanbevole prys: R125

 

 

 

 

Voor ek na die teks blaai, tref dit my soos ’n voorhamer tussen die oë. Daardie foto van Chris Barnard op die binne-omslag van Oulap se blou, geneem deur Anneri van der Merwe. Dis maar net ’n klein blokkie van ’n foto. Volkleur. ’n Kiekie van Chris Barnard self. Bruingebrande bles. Kenmerkende kort wit bokbaard.

Maar, hei, hy lag.

Chris Barnard lag. Nou nie uitbundig uit die maag uit nie. Ook g’n buierige grynslag van die mondhoek soos wat stemmige moderne skrywers geneig is om in te neem nie. Maar Chris Barnard, hier in sy geruite kraaghemp, gee so ’n innemende vriendelike lag in die oog van die kamera in. Dis ’n kant van die skrywer, wat soms bra buierig lyk, wat ek nog nie gesien het nie.

Maar Meneer Barnard (noem ek hom van hier af) mag in jou oë in lag uit daardie foto uit. Maar wanneer hy sy pen optel, mik hy vir net een plek, en hy tref dit keer op keer: die warmte van die kloppende hart.

Oulap se blou is 40 kortstuks prosa, waarvan die meeste al verskyn het in tydskrifte, bloemlesings en ander publikasies. Maar hulle verdien een afsonderlike verpakking onder die Chris- (’skuus – Menéér Barnard-) naam. Want hierdie is een van die pragtigste versamelings Afrikaanse tekste wat ek in ’n vername tyd onder oë gehad het. Ek wil dit herlees. En koester. En oorvertel – wat nie heeltemal moontlik is nie. En aanbeveel. Want Oulap se blou herinner my waarom die lees van Afrikaans ’n genot behoort te wees, in stede van ’n verpligting.

Dis ryp, vet, smaaklike en bevredigende stories, vertel deur die meester van onopgesmuktheid.

Meneer Barnard se vertellings maak staat op een van die Afrikaanse skrywer se grootste bates en gewildste uitings, naamlik nostalgie. Nostalgie kan, natuurlik, erg irriterend wees wanneer soetsappige herinnerings van kamma verlore dae opgeroep word. Diegene wat hierdie tipe voorbeelde soek, hoef net in die Afrikaanse dagblaaie te blaai na die ruimtes waar blinkoog-joernaliste die geleentheid gegun word om kreatiewe skryfwerk te pleeg.

Nostalgie raak onontbeerlik wanneer nostalgie en herinnerings in ’n hegte stroom deur middel van vernuftige skryfwerk vloei, met nostalgie wat die middel tot die storie is, en nie andersom nie. Soos wat Meneer Barnard dit doen. Niks aansitterigs of geen poging tot die kunsmatige roering van hartsnare nie. Net die werklike storie van ’n intieme verlore tyd wat verdien om met die leser gedeel te word.

Ek voel bevoorreg dat Meneer Barnard hierdie verlore tye wat in Oulap se blou opgeroep word, met my wou deel. Natuurlik weet ek nie hoeveel van die stories waar is nie. Eintlik gee ek nie om nie. Want die aard van die vertelling, die raakvat-vertelstyl, die balans tussen vaartbelynde prosaskryf en die onverfynde rante van die plattelandse lewe is als oortuigend.

Vir diegene wat twyfel aan Meneer Barnard se status as een van die voorste en hipste vertellers in Afrikaans, kyk asseblief die storie “Wiele vir Pietman”. Hier het die Karooboer Groot-Gert Willemse te make met sy seun, Pietman, wat effe aan die verfynde kant is. Die aanloop en die ontknoping van die verhaal, soos als kort en kragtig in ’n duisend of wat woorde, is ’n komiese juweel wat universele temas bevat, maar waarvan die nadraai en die slot slegs in Afrikaans werklik oorvertel kan word.

Daar is armoede, gebroke harte en ánderse karakters wat gereeld hul plek na dié Meneer Barnard se vertellings oopskop. Hier is die eerste verhaal “Rooi Koos Hardloop die Myl” ’n klassieke samevatting van die outjie in die agterste ry wat jaarliks tydens die sportbyeenkoms sy een vaardigheid gebruik om sy plek in die wêreld af te kleim. Daar is die emosionele armoede van karakters, waaruit ’n emosiebelaaide verhaal gesmee word. Soos in die verhaal “Honger”, waar die koshuisseun se verlange na sy ma deur tuisgebakte koekies uitgeleef word.

Daar is jagstories – die baie snaakse en selfverwytende “Basilisk”, byvoorbeeld – waar die macho, luidrugtige manne hul, wel, sensitiewe kant ten toon stel wanneer ’n mamba hul spasie betree en iewers wegkruip.

Dis ’n ryk versameling karakters, plekke en gebeure. Die wêreld wat Meneer Barnard vir sy vertellings kies, wissel van die Bosveld tot Parys (Frankryk, neef), klein dorpies in die platteland en die busrit deur Italië.

Daar is nie een verhaal wat net daar is vir skryf se onthalwe nie. Elkeen kom tot ’n punt, het bestaansreg. Daarom word hulle verkieslik met tussenpouses gelees. Ek het aan die einde van sommige verhale die boek neergesit, my oor die inhoud bedink, en dieselfde verhaal van voor begin.

Die stories oor die Meneer se skoolvakansies in Mosambiek is veral treffend, onthou ek. Daar is een van ’n meisie vir wie hy nooit weer sou sien nie. En die lieflikste verhaal genaamd “Systrome”, oor die pa wat langs die kus van Mosambiek leer om vakansiemens te word – en saam met sy seun die eenvoudige plesier van in die see swem ontdek.

Meneer Barnard se skryfstyl is onflambojant. Gedistilleer tot net die regte, geurigste woorde oorbly: “Daardie tyd was die enigste tyd wat die wêreld ’n volmaakte plek gemaak het” (“Hond se gedagte”). Hy skryf in “Reise” soos volg oor die rol van taal: “In my verbeelding skil die land af. Skil op skil kom los en spoel in laagtes en spruite en riviere weg, lê die een verlede agter die ander bloot – tot daar waar taal nie meer kan bykom nie.”

Hier staan die siel van iemand verknog aan Afrika, ’n liefde wat in die bladsye geruik kan word. Maar ook ’n skrywer wat die hart van ’n ewige wêreldreisiger ontbloot: “Almal wat ek ken met ’n brein so groot soos ’n ertjiepit en ’n verbeelding die helfte kleiner het ’n stad van sy drome.”

Meneer Barnard haal Elsa Joubert aan wat meen die verste reis wat ons ooit sal aflê, is die een van hart tot hart. Tog lê hierdie pragboek, Oulap se blou, hierdie reis in stralertyd af.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top