Kaapsehoop-Natsteennaweek van nostalgie

  • 0

Marita van der Vyver (foto: verskaf)

Carla van der Spuy berig oor die fees wat sy onlangs bygewoon het.

Luidrugtig en uitbundig.

Dis hoe die joernaliste, oud-joernaliste en skrywers gedurende die Natsteennaweek op die skone Kaapsehoop gekuier het.

Daar was omtrent ’n gedreun op die berg. Geen wildeperd in sig nie. Hulle moes die berge ingehol het.

Die liewe Bertus de Bruyn van die Laevelder het vir ons goedkoop verblyf in ’n gerieflike huis binne stapafstand van Nagkantoor gereël, waar al die aksie plaasgevind het. Hy het ons boonop met eg Laeveldse gasvryheid uit sy eie sak op ’n braai en ontbyt getrakteer. Net omdat ons ook platsakjoernaliste is. Al het hy party van ons nooit voorheen ontmoet nie.

Ons het lekker gespot oor die feit dat ek en my vriendin Celia du Plessis, die 70-plussers en kandidate vir knievervangings, die steil houttrap na een van die boonste slaapkamers moes uitklim, terwyl die veel jonger getroude paartjie die wittebroodsuite op die onderste verdieping gekry het.

Nie dat hulle daaroor gekla het nie.

Digbundels het vanjaar baie aandag geniet en ’n hele aantal boeke is bespreek.

.......
Die gesprek met Marita van der Vyver oor haar jongste boek My jaar van vrees en vryheid was beslis die hoogtepunt van die fees. Hierdie reisverhaal was ’n dapper sprongjaar in haar en haar Franse man Alain se lewens.
.......

Die gesprek met Marita van der Vyver oor haar jongste boek My jaar van vrees en vryheid was beslis die hoogtepunt van die fees. Hierdie reisverhaal was ’n dapper sprongjaar in haar en haar Franse man Alain se lewens.

Dis mos gewoonlik jongmense wat die vreemde met die voortvarendheid van die jeug bestorm.

Hulle het die gewig van aardse besittings afgeskud deur hul huis op die Franse platteland te verkoop om hierdie avontuur aan te pak. Mens moet baie verloor, en ook bereid wees om self verlore te raak, was haar boodskap.

Alain sit aandagtig en luister na haar praatjie wat in Afrikaans gevoer word.

Marita groet my hartlik op my naam. Ons ken mekaar via Facebook. Sy het ook destyds ruim bygedra tot die Reading for redemption-veldtog wat boeke na gevangenes gebring het en waarby ek betrokke was.

Marita van der Vyver en haar man, Alain (foto: verskaf)

Alain is darem lojaal, sê ek agterna vir haar, aangesien hy die boekgesprek net in breë terme kon verstaan. (Hulle praat Engels met mekaar.)

“Ja, hy is,” lag sy.

“Hy is my lyfwag.”

Een wat geen mens kan miskyk in die bontste van bont hemde nie. Hierdie lyfwag sal nie kan lyf wegsteek nie.

Die kerk waar die boekgesprekke aangebied word, is stampvol. Ook met die gesprek met Barnard Beukman oor sy veelbesproke boek Die (vreemde) einde van ’n koerant. Die joernaliste daar spoel omtrent mond uit.

Dana Snyman spring op en praat van die kalkoene wat ons as Kersbonusse van Perskor gekry het.

“Nee,” help iemand anders hom reg. “Dit was nog erger. Dit was bevrore hoenders!”

Elzilda Becker, sinoniem met die glanstydskrif De Kat, waarvan sy die titel in 2002 gekoop het, het die gehoor op ’n andersoortige maar eweneens dapper reis geneem met 40 jaar se ryk geskiedenis van dié tydskrif.

Ek gesels agterna met haar. Sy is ’n hartlike mens en nooi my uit om my jongste boek Die uitvaart by haar huis in Johannesburg bekend te stel.

Dit sal my niks kos nie en sy gaan lekker brood bak.

“Jy klink soos ’n plaasvrou,” sê ek vir haar.

Maar sy is een, laat sy my weet.

Ek probeer kliphard om die ontwykende Dana in die hande te kry. Drie keer.

Maar elke keer is hy op soek na sy swart hond. Swart, die kleur waarmee sy gemoed ook sukkel.

Dis fourth time lucky en net voor ons vertrek pen ons hom vas.

Hy woon nou hier op Kaapsehoop waar hy ’n huis huur. Hy verhuur sy huis op die Weskus. 

Ek kuier ook saam met Wilma de Bruin uit my Volksblad-dae in 1974 en ons lag omdat ons “cool” genoeg was vir die donkerkamerpartytjies waar die fotograwe films ontwikkel en foto’s gedruk het. Na ’n halfeeu het sy min verander.

Ons loop ook vir Dries van Heerden, superslim politieke verslaggewer, na 50 jaar raak. Hy nooi ons vir ontbyt en ons skinder kliphard oor oorlede Oggendblad, waar ons kollegas was en die Perskorkarre altyd na knoffel en slaptjipsasyn geruik het. Een drywer het glo ’n dubbele lewe as ’n ANC-aanhanger gelei en sy kar na-ure vir ANC-byeenkomste ingespan. En dit tydens die tyd van hoge apartheid.

Die karre was rammelkaste. Ek onthou hoe ek destyds deur ’n venster moes inklim, omdat die deur nie kon oopmaak nie.

Dries was ook nogal polities verlig en is in die sewentigerjare deur regses geteer en geveer. Daarna het kollegas hom Liefste Veertjie gedoop na aanleiding van die Afrikaanse fliek van destyds.

Ek loop Nicol Stassen, grootbaas van Protea Boekhuis en Aristata Boekwinkels, raak en hy bestel die ene vrygewigheid vir ons gin en tonics wat per abuis met ’n swaar hand ingegooi is.

.......
Ons neem ons drankies na die kerk toe waar die volgende gesprek plaasvind. Dis die eerste keer in my lewe dat ek met ’n dop in die hand in ’n plek van aanbidding sit.
.......

Ons neem ons drankies na die kerk toe waar die volgende gesprek plaasvind. Dis die eerste keer in my lewe dat ek met ’n dop in die hand in ’n plek van aanbidding sit.

“Moet jou nie bekommer oor ’n betalery nie, ek trek dit van jou tantieme af!” laat Nicol hoor.

Dan maak ek ’n video-opname van De Wet Potgieter, gewilde eienaar van Nagkantoor, wat ’n halfeeu gelede my kollega was. Ek het glo vir hom, destyds, 21, gesê hy is ’n “snuiter”, terwyl ek ’n meer beleë 23 jaar oud was. Hy het nie daarvan vergeet nie.

Die tonge het geklap toe Isobel Jackson met die modellyfie sy wing lady geword het en by hom ingetrek het ’n ruk na sy geliefde vrou Alita Steenkamp se dood. 

De Wet was verby stukkend na Alita se dood.

Isobel woel en werskaf. Sy is die ene energie, reël funksies en het die verdriet kom verlig. Lewe in Nagkantoor geblaas.

Sy is ’n aanwins vir hom. Goed vir hom. En hy vir haar. Hulle lyk doodgelukkig.

Almal verdien immers ’n tweede kans en die liefde laat hom nie deur Vader Tyd voorskryf nie.

Lees ook:

Die uitvaart deur Carla van der Spuy: ’n onderhoud

Pasverskyn: My jaar van vrees en vryheid deur Marita van der Vyver

Persverklaring: Vriend van Nagkantoor-eienaar wen WAT se Borg ’n Woord-Sanlamprys

Vaders, vaders: Stefaans Coetzee se oorsig van Innibos se eerste Boekenaweek

Laaste kans deur Marita van der Vyver: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top