
Gewoonlik as ek in die middernagtelike ure wakkerlê, klim ek die Bet-El-leer weens finansies of bendegeweldherinneringe, maar vannag sug my siel na my seun David se babalyfie wat saans teen my oprank. Ek mis sy hartklop teen my bors so intens dat ek wakkerskrik. Ek kyk my selfoon pap aan sy video’s en herleef elke oomblik opnuut.
Ek wil saam met Bob Carlisle sing-vra-bid “I must have done something right to deserve a hug every morning and butterfly kisses at night”. Maar waar’s my soen vanaand?
Die Here weet, ek geniet pa-wees met alles binne my. Dit is asof Hy in Sy almag geweet het ek’t David nodig om regtig te leef. Tog, nie alle pa’s voel so nie. Inteendeel, ons generasie is vol vaderwonde.

Susan Booysen en Deon Lampbrecht
“Vaders,” het Susan Booysen in haar gesprek met Deon Lampbrecht (Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so?) gesê. “Vaders.” Asof dit ’n vloekwoord is. Hoekom weet ek nie, maar ek hoor Churchil Naude se lirieke helder: “onse vader innie hemil kyk o’s liewe in ’n hel / onse vader miskien bid ek te sag / ek kan imagine hoe die dywil sit en lag”, en ek wil net gaan sit en tjank.
Dalk is dit toeval, maar “vaders” was die onderliggende tema tydens Innibos se eerste Boekenaweek te Kaapsehoop die afgelope naweek.

Ek dink aan my en Dana Snyman (Die binneland in) se openingsgesprek. Hoe hy as joernalis sy AWB-kapelaan-pa voor sy kollegas moes soengroet. Sy pa reis in elke boek saam met hom, asof Dana nog wag om die goddelike woorde “Dis my geliefde seun in wie ek ’n welbehae het”, waarna so baie seuns smag, wil hoor.
Het jy die woorde “Ek’s lief vir jou” by jou pa gehoor?
Hoe het die woorde, of die gebrek daaraan, jou lewe beïnvloed?
Belangriker: Sê jy dit vir jou seun? Én dogter, herinner vroue my gedurig.
Ek dink ook aan my eie dronkgatpa wie se tatoes ek nog wou inkleur, maar veral aan die vaderfigure daarna. Jan wat my in ’n moordmasjien omskep het, my ondersoekbeampte wat my help ruggraat kry het, my seksiehoof in New Lock. Pappa Red, die 27-tronkbende-Generaal wat hom oor my ontferm het, en De Kock wat my met vergifnis gehelp het. Altyd vaders, vaders, donnerse vaders.

Tom Dreyer en Johan Myburgh
Boeke met vaders as sondebok verskyn gou op blitsverkoperlyste, dink byvoorbeeld aan PP Fourie se ’n Hart is so groot soos ’n vuis en SJ Naude (wat ook op die fees was) se Van vaders en vlugtelinge. Nie altyd uit veroordeling nie, maar meestal uit soeke. Ons wil mos almal soos Tom Dreyer (Nou in infrarooi) saam met ons pa’s in ’n Land Cruiser tussen Haruchas se opgehewe riwwe ry.

Gert Vlok Nel
Alhoewel nie elke gesprek, soos dié van Carina Stander, Tony Park en Alita Steenkamp of Gert Vlok Nel se musiek, die tema onderstreep het nie, sal alle Innibos-boekwurms ná Sondag erken: Ons het platforms nodig waar ons oor vaderskap kan praat. Nie net ons seuns nie, maar ook vroue, susters en dogters om heling te bring.
Van alle boekfeeste wat ek al bygewoon en aangebied het, sal die een my ewig bybly. Nie net oor die tema nie, maar oor die hoeveelheid skrywers wat mekaar se gesprekke bygewoon het.

Skrywers wat na mekaar luister

Susan Booyens

Die Nagkantoor is ’n bekende watergat in Kaapsehoop

Binne die Nagkantoor
Foto’s: Annemarie van der Walt
Lees ook:
Lesersindruk: Swartz kloof sy siel soos die Rooi See in Kies die lewe oop

