Onbeskryflike genade deur Stefaans Coetzee: ’n resensie

  • 0

Titel: Onbeskryflike genade
Skrywer: Stefaans Coetzee
ISBN: 9780796323286
Uitgewer: Lux Verbi

...
Stefaans, brugbouer, gaan jou anders oor die lewe laat dink.
...

“In Desember 2022 het die opskrif ‘Bomplanter skryf resensie’ my op ’n geestelike reis gesit, op soek na myself.” So skryf Stefaans Coetzee in Onbeskryflike genade, uitgegee deur Lux Verbi. Maar Stefaans is verkeerd. Dis nie die opskrif wat hom op ’n geestelike reis gesit het nie, hy was alreeds op daai reis terwyl hy swart mense gehaat en aangerand het bloot omdat hul vel anders is as syne.

Ek onthou die opskrif. Teen hierdie tyd onthou seker net die skrywer van die boek en Stefaans self oor watter boek die resensie gegaan het, want vir watter onbegryplike rede die koerant besluit het om daardie opskrif te gebruik (sensasie, dalk?), die boek het agterweë gebly in die omstredenheid wat gevolg het. Vir boekliefhebber Stefaans moes dit op vele vlakke ontsettend ontstellend wees.

Met Onbeskryflike genade probeer hy sin maak uit sy lewe nadat hy op parool vrygelaat is, maar hy kyk ook terug op die omstandighede wat hom gelei het tot by ’n straat in Worcester waar hy op Oukersdag 1996 ’n daad pleeg wat sy eie lewe, asook die lewens van baie ander mense, omkeer. Sy ma verlaat hom en sy susters toe hy ses jaar oud is. Pa is ’n alkoholis. Jong Stefan, soos hy toe nog bekend staan, se lewe word ’n soeke na aanvaarding, enige plek, deur enigeen.

Die leser weet hoe die verhaal eindig, maar dit verander niks aan die gevoel van verdoeming wat veral aan die begin van die boek dreig nie. Waar Onbeskryflike genade werklik hierdie leser aan die keel gryp en nie laat los nie, is by die besef op bl. 46: “As jy jou nageslag regtig liefhet, bou jy nie vandag die brug nie. Jy word die brug. Tussen wit en swart... Ons was bereid om mekaar uit te moor vir hierdie land; hoekom nie liefhê nie? Ek sal offer wat jy vra, sluit liefde ook in.”

Coetzee kon so maklik in die tronk heeltemal verbitterd geword het, maar hy slaag daarin om iets positiefs uit die ervaring te haal. Hy word as tiener opgesluit en as man in sy dertigs vrygelaat. Wat beteken dit? Sosiale media maak hom aanvanklik bang, hy moet leer bestuur, die geregimenteerde bestaan wat hy vir die grootste deel van sy volwasse lewe in die tronk deurgemaak het, word nou vir vryheid verruil.

Maar hoe vry kan hy werklik wees wanneer hy sewe jaar ná vrylating, terwyl hy ’n resensie skryf, steeds nie die etiket wat hom in die eerste plek sy jong lewe gekos het, kan afskud nie? Hy beskryf sy worsteling, sy wanhoop, depressie met eenvoudige, gestroopte taal wat juis omdat dit só gestroop is, soveel meer impak maak. Die reis van rassis na brugbouer, ’n reis wat hom deur donker tye en diep genade bring, maak hierdie teks besonders.

Hy skryf met rou eerlikheid oor sy gevoel van ontoereikendheid, oor sy vrese en kommer oor die toekoms wat hy vir sy kinders bou. Terwyl Coetzee die teks waarskynlik bedoel het as verrekening van sy verlede en hoe hy sy toekoms wil sien, is dit tog ook ’n teks wat diep vrae vra oor manlikheid, oor pa-wees, oor kind-wees, oor die soeke na aanvaarding selfs wanneer dit toksies is. Dit vra ook vrae oor vergifnis en die integrasie van gevangenes in ons samelewing.

Hierdie teks wys op die vele maniere hoedat die persoonlike ook polities is, hoedat die indiwiduele ervaring ook universeel is. Nie almal het die ervaring van tronkdeure wat agter hulle toeklap nie, maar gaan ons nie almal gebuk onder een of ander etiket waarvan ons probeer wegbeweeg nie?

Onbeskryflike genade probeer nie antwoorde gee nie, maar tog slaag Coetzee daarin om ’n brug te bou tussen verskillende rasse, juis omdat hy bereid is om met skreiende eerlikheid sy eie weerloosheid bloot te lê.

Maak dit saak wat in sy verlede lê? Coetzee is duidelik hieroor. Hy wil van die haatlike etiket wegkom. Sommer in die proloog al sê hy:

Here, ek is moeg. Ek kan nie meer nie. Die skuldlas is te swaar. Ek wil nie meer ’n bomplanter wees nie. Reeds sewe en twintig jaar na die bomontploffings en sewe jaar uit op parool verkies mense steeds om my voor te stel as Stefaans Coetzee, bomplanter. Ek wil net Stefaans wees. Stefaans. Here. STEFAANS! Man. Skrywer. Resensent. Enigiets buiten bomplanter. Enigiets.

Verwag om te huil. Verwag om te lag, om kwaad te raak, om in verwondering by ’n sin of ’n gedagte stil te staan. Moenie verwag om onaangeraak deur hierdie boek te kom nie, want jy gaan teleurgestel word.

Bowenal, lees hierdie boek. Stefaans, brugbouer, gaan jou anders oor die lewe laat dink.

Lees ook:

Vaders, vaders: Stefaans Coetzee se oorsig van Innibos se eerste Boekenaweek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top