
Foto van Carla van der Spuy verskyn met toestemming deur en erkenning aan Christine Oelofse van Maroela Media
Die uitvaart
Carla van der Spuy
Protea Boekhuis
SKU: 9781485315827
Carla van der Spuy praat met Naomi Meyer oor Carla se mees onlangse boek, Die uitvaart.
Carla, dink jy die sin van die dood is die lewe? Hoekom, of hoekom nie?
Naomi, ek glo die dood is die prys wat ons vir die lewe betaal. En ek is dankbaar dat die lewe my nie bloot verbygegaan het nie. Ek glo ook ons is met ’n doel of roeping op aarde geplaas. Mens se lewe moet op een of ander manier sinvol wees.
Wat lewe na die dood betref, dink ek baie na oor wat die soms omstrede predikant wyle Nico Smith destyds vir my gesê het, naamlik dat niemand nog in die hemel was en teruggekeer het om verslag daaroor te doen nie. Al wat hy weet, is dat mens na die “hart van God” gaan, en as hy dan na die hart van God gaan, is dit vir hom genoeg.
Ek vra jou oor jou boek, Die uitvaart. Dit kon die titel van ’n spanningsroman gewees het. Waaroor handel die boek? En waar het alles begin?
Ja, Die doodsengel sou dalk ook ’n gepaste titel gewees het, maar daar was reeds ’n boek met hierdie titel. Ek het ook gedink aan Klipengel, omdat ek in my kinderdae graag in begraafplase na die engeltjies op kinders se grafte gekyk het.
Kluitklap het byvoorbeeld glad nie met my dogter (41) geresoneer nie. Dis seker ’n outydse woord.
Op die ou einde het my uitgewer (Protea Boekhuis) op Die uitvaart besluit. Ek dink dit klink heel waardig en dis ook wat die Nederlanders ’n begrafnis noem.
........
Die boek gaan onder meer oor begrafnisse en sekere tradisies rondom die dood. Ek het probeer om dit so wyd as moontlik te dek – van my eie ervaring met twee heelwat jonger broers wat pynlik aan kanker gesterf het, gangsterbegrafnisse, begrafnis-TikToks, fotografie van stilgebore babas, en bystanddood, tot mense wat met die dood werk, soos predikante, doodsdoulas, ’n sielkundige, onkologiesusters, begrafnisondernemers en ’n balsemdeskundige.
........
Die boek gaan onder meer oor begrafnisse en sekere tradisies rondom die dood. Ek het probeer om dit so wyd as moontlik te dek – van my eie ervaring met twee heelwat jonger broers wat pynlik aan kanker gesterf het, gangsterbegrafnisse, begrafnis-TikToks, fotografie van stilgebore babas, en bystanddood, tot mense wat met die dood werk, soos predikante, doodsdoulas, ’n sielkundige, onkologiesusters, begrafnisondernemers en ’n balsemdeskundige.
Ek skryf ook oor begrafnisse wat in sirkusse ontaard, vreemde maniere van sterf, beroemdes se uitspattige roudienste, kreatiewe grafstene en begraafplase en hoe om iemand wat sterwend is, by te staan. Daar is altesame 23 hoofstukke.
Die gedagte het ontstaan nadat ek oor die jare as joernalis telkens met begrafnisondernemers te doen gehad het en besef het watter rol hulle werklik speel.
Jou boek handel oor iets anders as die feit dat elke mens op aarde sal sterf. Dit handel oor hoe verskillende mense afskeid neem, binne verskillende kulture, en tradisies. Wat was vir jou van die interessantste ontdekkings van afskeidneem met die skryf van die verskillende afdelings van die boek?
O aarde, die ekstreme balsemingspraktyke in die suide van Amerika is makaber. Die oorledenes word op so ’n wyse gebalsem dat hulle staande of sittend hul eie begrafnis kan bywoon. Een vrou sit by ’n dobbeltafel, skokpienk boa om haar skouers met haar dop, sigaret en kaarte. Hulle het altyd sonbrille op, want die oë kan nie eintlik lewensgetrou lyk nie. Een jongman sit op sy motorfiets, en dan is daar ’n groepfoto waarop die oorledene penregop pryk sodat ’n selfie/onsie geneem kan word. Van die mense op die foto lyk of hulle ’n laaistok ingesluk het. Skoon verskrik.
Gelukkig is ons Suid-Afrikaners nie so bisar nie. Wat wel in Suid-Afrika onder sekere kulture voorkom, is professionele roubeklaers. Dit is glad nie nodig dat jy die oorledene moes geken het nie. Jy moet net kan huil en jy is R500 ryker. As jy huil en skree is die betaling glo R1 000, en as jy letterlik na die graf toe kruip, kan jy ’n welverdiende R1 500 in jou sak steek. Dit kan dalk ’n winsgewende beroep vir werkloses wees, maar jy moet goed kan toneel speel.
........
Gelukkig is ons Suid-Afrikaners nie so bisar nie. Wat wel in Suid-Afrika onder sekere kulture voorkom, is professionele roubeklaers. Dit is glad nie nodig dat jy die oorledene moes geken het nie. Jy moet net kan huil en jy is R500 ryker. As jy huil en skree is die betaling glo R1 000, en as jy letterlik na die graf toe kruip, kan jy ’n welverdiende R1 500 in jou sak steek. Dit kan dalk ’n winsgewende beroep vir werkloses wees, maar jy moet goed kan toneel speel.
........
Jou eerste hoofstuk is soos The road not taken deur Robert Frost. Jy gaan moet kies, en jy weet nie wat die regte antwoord is nie. Begrawe of veras? Dis die vraag. Is jou boek iets wat mense wat dit lees, oor hul eie sterfte moet laat peins, of oor iemand wat hulle reeds verloor het?
Ek dink mens moet uitdruklik bepaal wat met jou oorskot moet gebeur, hetsy ’n waterverassing (die toestel daarvoor is peperduur), ’n teraardebestelling of verassing. Dit wil vir my voorkom asof verassing deesdae gewilder is, maar nie in alle kulture nie. Die meeste begrafnisondernemers met wie ek gesels het, wil self veras word. Dis deesdae te gevaarlik om ’n begraafplaas te besoek.
Verskillende godsdienste en begrafnisse: Is daar, benewens die verskille, ook raakpunte? Noem iets wat vir jou ooreenstem, maak nie saak binne watter godsdiens mense sterf nie, wat jy kon raaksien.
Ek dink nie die emosies van rou en verlies verskil van een bevolkingsgroep na die volgende nie. Dit wil tog vir my voorkom asof mense in ons swart kulture gemakliker met die dood omgaan. Die rouproses is ook veel langer. Miskien help dit met die aanvaarding van dood.
Hulle betaal mos lewenslank af aan die Funeral Society, wat vir hulle baie belangrik is.
Kos by begrafnisse: Is dit belangrik? Wil jy iets daaroor sê?
Dit verskil ook. In ons swart kulture word daar beeste geslag en almal is welkom om die begrafnis by te woon. Dis peperduur.
In ons susterskerke is dit dikwels nog die susters wat die tradisionele driehoekbegrafnistoebroodjies en koeksisters voorsit.
By my vriendin Maritha Snyman se roudiens is na die tyd op die kerk se perseel onder meer rooiwyn met ys saam met die versnaperinge bedien, want dit was haar gunstelingdrankie. Dit was vir my gepas.
Maar ek het ook van twee gevalle gehoor waar vyfgangmaaltye voorgesit is, en mense helder kleure moes dra en bloedrooi lipstiffie. Dit nogal in Pretoria. Amper soos ’n staatsbanket.
Ek dink kos by ’n begrafnis is belangrik, want party mense ry ver en is honger, maar dis seker nie nodig om oorboord te gaan nie. Alles hang seker maar van mens se begroting af.
Mens sien ook nie juis altyd dat verdriet die begrafnisgangers se eetlus demp nie.
........
Mens sien ook nie juis altyd dat verdriet die begrafnisgangers se eetlus demp nie.
.........
Maar daar is ook mense wat deesdae sê hulle wil nie ’n begrafnis hê nie. Hulle wil letterlik stil heengaan. Geen psalms en gesange of ophef nie. Ek dink egter daar kan steeds ’n eenvoudige seremonie met net die naaste familie en vriende wees, wat tog met die afsluitingsproses kan help.
Hoe het jy navorsing gedoen? Dit moet baie moeilik wees vir mense wat dalk nie wil praat nie. Of diegene wat nie kan ophou praat nie.
Ek het glad nie gesukkel om mense aan die praat te kry nie. Daar is talle mites oor die begrafnisberoep en die sterfproses, en die kenners was gretig om dit reg te stel en te verduidelik.
Die begrafnisondernemers met wie ek gesels het, hanteer hul werk met die grootste respek en deernis.
Die een hoofstuk het tot die volgende gelei, want die mense in die beroep ken mekaar en het my na ander verwys wat ander insette kon lewer. So het ek onder meer by die forensiese patoloog en die balsemdeskundige uitgekom.
Ek het ook uit die aard van die saak baie oor die onderwerp nagelees.
Wie se verlies is die swaarste? Het jy al by iemand gesit wat ’n ander verloor het en gedink: Hierdie is die ergste. Indien wel, wie was dit, as ek mag vra?
Beslis mense wat kinders/babas verloor het. Dit het met vier van my vriendinne gebeur. Die hartseer is onbeskryflik. Almal vertel dat dit jou nooit los nie, jy leer net om met die pyn saam te leef.
Ook hartverskeurend is die verlies van ’n baba tydens swangerskap, of wat stilgebore is, veral as die ma talle miskrame gehad het en steeds kinderloos is.
Dis waar die organisasie Now I lay me down to sleep wonderlike werk verrig en steun bied aan ouers wat babas verloor het nog voor hulle behoorlik kon leef.
Daar is fotograwe wat as vrywilligers optree om foto’s van die stilgebore babas op uiters sensitiewe wyse te neem sodat die ouers darem iets tasbaars het. En dan is daar die bruide wat hul trourokke skenk om versnipper te word vir “angel gowns” vir die gestorwe babas. Mense mag dink dis vreemd, maar dit beteken baie vir die ouers.
Mens kan aan niemand voorskryf hoe om te rou nie.
........
Mens kan aan niemand voorskryf hoe om te rou nie.
........
Praat met my oor lyksbesorgers en begrafnisdienste, diegene vir wie die ander se uitvaart “net nog ’n werk” is. Is dit egter waar wat ek pas geskryf het? Het jy mense teëgekom wat afgestomp was, of mense wat elke dood met die grootste eerbied hanteer?
Ek het nie mense ontmoet wat afgestomp is nie, maar ek was baie selektief oor met wie ek praat. Ons lees soms in die media van omgeruilde liggame wat in die verkeerde kis of graf geplaas word. Dan is daar ’n groot bohaai.
Goeie ondernemers het ’n aanvoeling vir die regte personeel. Dit moet ’n roeping vir hulle wees en daar moet respek wees.
Die skokkendste voorval waarvan ek gehoor het, is die stories oor nekrofilie waar die mense wat in die lykshuis werk, seksueel tot oorledenes se liggame aangetrokke voel of die oorledene se onderklere steel en huis toe neem. ’n Sielkundige vertel meer oor hierdie ontstellende afwyking.
Die probleem is net, wie gaan die oortreder aankla?
Die oorledene kan nie, en die familie sal net verder getraumatiseer word as hulle na die video-opname moet kyk.
Ek het wel gehoor dat mense wat in staatslykshuise werk, soms baie gevoelloos kan wees. Verskeie begrafnisondernemers het vir my vertel dat dit ’n nagmerrie is om ’n liggaam daar te gaan haal. Die liggame word nie altyd goed versorg nie. Mens wil nie hê dat jou of jou geliefdes se oorskot daar beland nie.
Soms is die dood ’n bevryding. Vir die een wat gesterf het, of vir naby familie of vriende. Om verskillende redes. Het jy sulke stories teëgekom?
Ja, ek het dit met my jonger broers besef. Die een is in 2009 aan slukdermkanker oorlede na ’n maande lange lyding, en die ander een vyf jaar later aan melanoomkanker, ’n jaar nadat hy daarmee gediagnoseer is. Ek het soveel as moontlik van Gauteng af daar by hulle in die Kaap gaan kuier.
Dit was vir my ’n verskriklike ervaring. Geen mens behoort in hierdie moderne tydperk so te ly nie. (My mening.) Dit het ook my siening van bystanddood verander. Iemand het opgemerk dat lyding wreed is, God is nie wreed nie.
My broers se dood was tragiesmaar tog ook ’n verlossing van aardse pyn.
In Nederland, lees ek, het selfs depressielyers al vir genadedood gevra. Jongmense.
My energieke en talentvolle ma het ook sewe jaar lank aan Alzheimersiekte gely voordat sy oorlede is.
In haar geval het “genadedood” nooit in my gedagtes opgekom nie. Op haar sterfdag was die dood eintlik net ’n formaliteit. Ek het lank vooraf van haar as die mens wat ek geken het, afskeid geneem. Sy het egter geen pyn gehad nie en was om geloofsredes teen “genadedood” gekant.
Haar dood was ook op ’n manier ’n verlossing, omdat ek haar lankal reeds verloor het.
Wat van die onwettige dood? Iemand wat homself dood verklaar het net om ’n geldjie uit die saak te kry? Het jy sulke stories gehoor?
O ja, mense kan vreeslik onnosel wees in hul geldgierigheid. Dis blykbaar glad nie so moeilik om jouself dood te laat verklaar nie, maar dit sal jou inhaal. Of jy nou ’n gewete het of nie.
........
Een van die begrafnisondernemers het my vertel van ’n ou wat homself laat dood verklaar het. Sy polisse is uitbetaal, en toe verander hy van mening, daag by binnelandse sake op en verklaar homself weer lewend!
.........
Een van die begrafnisondernemers het my vertel van ’n ou wat homself laat dood verklaar het. Sy polisse is uitbetaal, en toe verander hy van mening, daag by binnelandse sake op en verklaar homself weer lewend!
Grafstene, begraafplase. Hoe lyk die situasie in die land? Wie sien om na die begraafplaas nadat die persoon nie meer daar is nie?
Baie van ons begraafplase is in ’n haglike toestand. Mense word beroof en plakkers maak hulle daar tuis want die misdaad is min en hul bure is stil.
Tog is daar begraafplase wat mooi opgeknap word, soos die een in Hartbeespoort, danksy Proudly Harties.
Troeteldiere (diere wat sterf en diere wat rou): Praat met my oor diere en verlies. Dis geen grap nie. ’n Dier kan ’n lid van ’n gesin word.
Ek het roerende verhale gehoor oor hoe mense oor hul troeteldiere rou en andersom. In Amerika is daar selfs begraafplase vir diere. Die fases van rou is volgens ’n sielkundige dieselfde as wanneer mense sterf.
Diere rou ook. So het ek gehoor van ’n man in Suid-Amerika wat so lief vir sy perd was dat hy self eerder honger gely het, maar kos vir sy perd gekoop het. Toe hy na ’n motorongeluk oorlede is, was die perd deel van die stoet en het kort-kort al runnikend sy kop na die kis toe gebuig.
Ek het ook gelees van ’n hond wat vir die eerste keer by die begraafplaas gekom het waar sy eienaar begrawe is. Hy het tussen al die grafte reguit na sy eienaar se graf toe geloop en daar begin grawe.
Wat van diegene wat gesterf het en nie wil gaan nie? Nabydoodervarings of spoke ... Is daar sulke hoofstukke in die boek, en wat het jy gehoor?
Karel Fourie, ’n pastoor, het vir my nogal vreemde dinge vertel. Hy beweer dat hy as kind deur bose geeste geteister is. Hy het as kind ’n seuntjie in sy slaapkamer “gesien” wat glo, volgens ’n begrafnisbrief, in ’n motorongeluk oorlede. Karel het in die seuntjie se slaapkamer geslaap. Self het ek in my 74 jaar op aarde nog nooit ’n spook gesien nie.
Karel tref egter onderskeid tussen bose geeste en engele.
Van die sterwendes het aan hul sieleversorgers vertel dat hulle die mooiste musiek hoor wat ek aanneem ’n engelkoor is.
’n Begrafnisondernemer het my vertel dat die gesiggies van kinders wat tydens ’n plaasaanval vermoor is, vertrek was van die vrees.
Dit lyk nie asof ’n rustige dood almal beskore is nie.
Prakties: Wil jy raad gee vir elkeen wat hier lees – hoe maak mens gereed vir die dood sodat jou familie nie met ’n klomp administrasie sit nie?
Ek dink dis die toonbeeld van bedagsaamheid om jou familie in te lig wat na jou dood met jou liggaam moet gebeur. En ’n begrafnispolis uit te neem as daar nie genoeg kontant is nie. Anders is ’n graf vir armlastiges waarin naamloses saam met jou begrawe word, jou voorland.
Dieselfde geld jou besittings. Stel ’n geldige testament op.
Dit gebeur dat mense reeds voor hul geliefdes se dood by die sterfbed oor sy besittings baklei.
Maak vrede waar jy kan. Mens wil nie met onafgehandelde sake sterf nie.
Die lewe is ’n asem lank. Laat elke sekonde tel.
Die bekende begrafnisondernemer Sonja Smith van Rensburg beveel aan dat mense ’n “lewenslêer” aanhou, met altesame 42 dokumente wat nodig is om jou boedel af te handel. Ek skryf in die boek daaroor.
Lees ook:
Om ’n resensie te skryf: Is platvloers skryf dan die teenoorgestelde van "pretensieus"?


Kommentaar
Ek hou van die titel en sal waarskynlik die boek lees, al is ek so dik vir die onderwerp ek kan doodgaan. Iewers staan hy wat soek sal vind en find death before death finds you; maar ek begin vermoed mense verkies om 'die dood' as iets vreesaanjaend te beskou - veral die melodramatiese tipe wat identiteit kan vind uit iets wat ieder geval met almal gebeur.
Maar, nee, 'die dood' is eintlik die wenstreep, kyk maar hier: https://youtu.be/CRUlM-8k9oU?si=eWgufwINjh3kehp3
Selfdood of bystanddood sal my gekose manier wees om van frekwensie te verwissel en oor eersgenoemde het Karel Schoeman in 'Slot van die Dag' as volg verduidelik:
“As 'n mens besluit om jou lewe te beëindig, moet dit 'n oorwoë besluit wees, nie oorhaastig of in 'n opwelling van emosie nie, en behoorlik beplan: jou sake moet georden wees, die omstandighede moet so min moontlik ongerief of onaangenaamheid vir andere inhou, en bowenal meen ek dat mens niemand oor die besluit moet inlig nie, wat maar net te maklik in 'n opwelling van onoorwoë goeie bedoelings sou wil probeer ingryp en keer.
Nie in 'n gees van verslaenheid, moedeloosheid, vertwyfeling, verbittering, woede of wanhoop nie, en sonder verwyte, maar rustig, oorwoë, besonne en bowe alles verantwoordelik; met ligte weemoed miskien oor alles waarvan daar afskeid geneem moet word en wat agtergelaat word, soos daar aan die einde van die lewe meestal seker is, maar daarby met dankbaarheid daarvoor ‒ in 'n gees wat ek bowenal graag met die woord ‘sereen’ sou wil saamvat. Miskien is dit 'n ideaal; maar 'n ideaal wat mens te minste kan probeer nastrewe.
...
“Die sin van die lewe is die lééf daarvan. Maar as ook dit sy aantoonbare sin verloor het, wat dan? Dit moet elkeen self besluit.
...
“Dat jy wil óphou lewe omrede jy nie wil áánhou lewe nie, is vir my 'n geldige motief, maar een wat deeglik en rustig deurdink moet word voordat enige besluit aan die hand daarvan geneem word."
Ek het 'n hoofstuk oor bystanddood geskryf en met kenners gepraat. Dis maar 'n omstrede onderwerp.